EK HET MY FLITSLIG.
Hierdie paartjie is betrokke by die Sondagskool van hulle gemeente. Hulle verantwoordelikheid was dan om die twee- en driejariges die Bybel te leer.
’n Bybelvers wat hulle die kinders geleer het was:- PSALM 56:4 Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
Hierdie paartjie se klein seuntjie , Mark, was ook in hulle klas en hulle het hom ook hierdie vers geleer.
Dit was een aand dat daar ‘n hewige storm was. Die blitse het geslaan en dit het gedonder terwyl die wind sterk waai en die reën val. Die volgende oomblik is die krag uit. Alles is stik donker.
“ Ek is nie bang nie!” het Mark dadelik gesê terwyl hulle vir die kerse en die vuurhoutjies soek.
Dadelik het daar dankbaarheid in die ouers se harte opgespring omdat hulle geglo het dat Mark sal die teksvers onthou. So het sy moeder hom dan aangespoor en met groot verwagting, dat hy die vers sal kwoteer, gevra:- “ En waarom is jy nie bang nie?”
Klein Mark het dadelik geantwoord:- “ Ek het my flitslig!”
Wie het die Here nodig as jy ‘n flitslig het?
Is daar nie so baie mense in die dag waarin ons lewe wat dieselfde uitkyk het nie? Ons het ons, pensioen, medies, huis, motor, bankrekening, gesin, werk, sekuriteits maatskappy, veilige omheining, veiligheidsdeure, alarm, ensovoorts, ensovoorts. Wie het nou die Here nodig?
Het dit nie weer tyd geword dat ons sal besef dat dit die God, van die hemel en die aarde is, wat ons nodig het nie?
PSALM 127:1 As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
GEBED
Ag here, ek stel my volkome vertroue in U en nie op die aardse waarvoor ek daagliks so hard werk nie. AMEN