GENESIS 2:4-17; OPENBARING 21:1-8; 22:1-5
DIE BYBEL BESKRYF VIR ONS DIE KOSMIESE DRAMA VAN DIE GEVALLE MENS SE REDDING deur die oneindig genadige God, soos dit deur die geskiedenis van hierdie wêreld afspeel. Maar voordat die drama begin, word die skepping van die onbedorwe mens en sy wonderlike woonplek baie kortliks beskryf. En as die drama in Op 20 afsluit, word dit in Op 21-22 gevolg deur ‘n ewe kort beskrywing van die selfs heerliker staat van die nuwe mens en sy woonplek tot in alle ewigheid.
Hierdie twee kort gedeeltes aan die begin en einde van God se Woord, is soos twee boekstutte wat ‘n ensiklopedie van baie volumes staande hou.
Nou kan mens jou lewe wy aan die bestudering van hiérdie “ensiklopedie”, maar as jy nie rekening hou met die twee “boekstutte” nie, kan die betekenis van alles tot ‘n groot mate by jou verbygaan. Die eerste twee hoofstukke van God se Woord, en die laaste twee hoofstukke daarvan, plaas die honderde hoofstukke tussenin in perspektief.
Hierbenewens vertoon hierdie inleiding tot en afsluiting van die geskiedenis ‘n wonderlike simmetrie. Temas in Gn 1-2 duik weer op in Op 21-22. En soos dit met boekstutte gaan, is die laaste twee hoofstukke grootliks ‘n spieëlbeeld van die eerste twee.
In Eden is daar geen sonde, dood of vervloeking nie, en ewemin op die nuwe aarde – maar die geskiedenis tussenin word daardeur beheers. Genesis vertel hoe die Paradys, God se intieme gemeenskap, en die mens se rentmeesterskap van die skepping te wyte aan sonde verloor word; Openbaring skets hoe hierdie dinge herstel is, te danke aan die oorwinning oor sonde deur die mens, Christus Jesus. In Eden vind ons die boom van die lewe (2:9); op die nuwe aarde kry ons hom weer terug (22:1-2; vgl. 2:7).
Daar is egter ook ‘n groot verskil tussen die twee boekstutte. Openbaring 21-22 skets ‘n veel heerliker toneel as Gn 1-2. Die drama tussenin het vir ‘n grootse stuk progressie gesorg.
Wat dit betref, is daar veral twee fokuspunte.
Eerstens, in Genesis woon God in die hemel en besoek Hy die mens. Maar op die nuwe aarde maak Hy Sy woonplek by die mens en is Hy vir hulle ‘n God, en hulle vir Hom ‘n volk (Op 21:3).
Tweedens, die mens in Genesis is nog onderworpe aan die proefgebod, hy is nog in staat om te sondig, en die uitkoms van alles hang nog van sy gehoorsaamheid af. Maar in Openbaring het die mens in die volste sin van die woord gearriveer. Daar is geen proefgebod meer nie, die mens kan nie meer sondig nie, en die boom van die lewe dra aanmekaar vrug en is voortdurend tot sy beskikking.
Hierdie twee voorregte mag vir die onkundige nie na ‘n wafferse voordeel bo die situasie in Eden klink nie, maar vir ons wat geen dieper verlange het as steeds intiemer gemeenskap met die Here, en absolute en finale oorwinning oor sonde nie, speel Op 21-22 wonderskone verlossingsmusiek.
VIER OPSTANDINGSBEGINSELS
Met bogenoemde kort oorsig oor God se grootse verlossingsplan om Homself te verheerlik as agtergrond, kan ons die res van hierdie lering wy aan vier groot beginsels wat hierdie drama beheers.
Die beginsel van volkome herstel met rente.
Tot in ewigheid sal die sondeval nie in die minste afbreuk doen aan God se eer nie. Dis voor die hand liggend, maar word tog deur talle vergeet. God sal op geen punt te wyte aan die sondeval enigsins iets inboet nie.
Niks is só deur Satan beskadig dat die Here dit nie meer kan gebruik nie en dus moet weggooi. Dit sou God se eer aantas deur te impliseer dat die duiwel punte teen God aangeteken het. Nee, God stel Sy eer daarin om alles wat deur die sondeval beskadig is tot in die fynste besonderhede te herstel. Trouens, en daarop kan ons peil trek, die laaste sal baie beter wees as die eerste. Ons opstandingsliggame sal wonderliker wees as dié van Adam en Eva destyds, en die nuwe aarde sal as ons woonplek dienooreenkomstig heerliker wees.
Die beginsel van die redding van die hele mens.
Die opwekking van die liggaam in heerlikheid is net so belangrik soos die redding van die mens se siel – trouens, sonder die ander, sou elkeen van hierdie twee komponente van ons verlossing ‘n mislukking wees.
Wat dit betref, moet ons twee Bybelse aksente goed raaksien.
Eerstens fokus die Bybelse verwagting oor die toekoms van diegene in Christus nie op die tussentoestand nie, maar op die opstanding.
Tweedens lê die Bybelse klem nie soseer op die onsterflikheid van die mens se siel of gees nie, 1 maar op die ewige voortbestaan van die hele mens, wat baie uitdruklik die liggaam insluit.
Die punt is dit: as die Woord van God praat oor die verlossing van die gevalle mens, het dit ‘n baie sterk aksent op spesifiek die opstanding van die liggaam as kulminering daarvan. Waarom? Omdat die mens se verlossing eers afgehandel sal wees wanneer die liggaam verheerlik opstaan – en die gees en die liggaam weer in volmaakte harmonie saamgevoeg is. Die oorspronklike skepping van die mens het immers eers ‘n werklikheid geword toe God twee dinge gedoen het: Hy het hom gevorm uit die stof van die aarde; én Hy het lewensasem in sy neus geblaas. So – en eers toe – het die mens ‘n lewende wese geword (Gn 2:7).
Te veel Christene het die heidense idee dat die liggaam bloot ‘n huis, selfs ‘n gevangenis vir die siel is, en dat die siel eintlik beter af is daarsonder. Ons noem die dwalingchristoplatonisme. Dis ‘n vermenging van die Bybel se boodskap met die ou Griekse filosofie van Plato. Dit is ook die beskouing van die Hindoeïsme en die Boeddisme.
Hier het ons die rede waarom Christene deur die eeue lykverbranding, oftewel verassing, met beslistheid afgewys het as ten diepste ‘n heidense praktyk. Nee, Christene het ‘n groot respek vir die liggaam van ‘n afgestorwe dierbare – in die wete dat God nie klaar is daarmee nie.
Dit laat mens dink aan die mooi praktyk van vroeër jare toe Christene hulle dierbares rondom die kerkgebou begrawe het – in die afwagting op die gesamentlike opstanding en in die wete dat ‘n “kerkhof” ‘n saadbedding van die opstanding is.
Dus, ja, die dood is ‘n onnatuurlike indringer. Dit skeur uitmekaar wat God saamgevoeg het. Maar – prys die Here! – dit sal nié die laaste woord spreek nie. En ook nie die Satan nie.
Die beginsel van ‘n woonplek wat pas.
Die liggaamlike opstanding noodsaak ‘n nuwe aarde as woon- en werkplek. Dis omdat die mens gemaak is om tot in ewigheid liggaamlik te leef.
Die bekende teoloog, Anthony Hoekema, stel dit só: “Resurrected bodies are not intended just to float in space, or to flit from cloud to cloud. They call for a new earth on which to live and to work, glorifying God. The doctrine of the resurrection of the body, in fact, makes no sense whatever apart from the doctrine of the new earth.” 2
Die beginsel van verlossingskontinuïteit.
Hierdie is ‘n wonderlik vertroostende waarheid: ek sal my identiteit tot in ewigheid behou.
Die Nuwe Testament leer onmiskenbaar dat die nuwe lewe wat ons as ware gelowiges nou reeds in Christus geniet, in beginsel presies dieselfde lewe is wat ons tot in ewigheid sal hê. Laat ons dit goed vasvat en altyd voor oë hou dat ons, al behels ons redding in Christus verskillende fases, deurgaans dieselfde persone bly.
Bruce Milne skryf: “We can banish all fear of being absorbed into the ‘All’ which Buddhism holds before us, or of being reincarnated in some other life form as in the post-mortem prospect of Hinduism … The self with which we were endowed by the Creator in his gift of life to us, the self whose worth was secured forever in the self-substitution of God for us on the cross, that self will endure into eternity. Death cannot destroy us.” 3
Hierdie verlossingskontinuïteit geld ook vir my liggaam. Die Here Jesus se vernederde liggaam is die liggaam wat verheerlik opgestaan het. Dis waarom die graf na die opstanding leeg was. Presies dieselfde liggaam wat gekruisig en begrawe is, het later, weliswaar verheerlik, aan die dissipels verskyn. Wat beklemtoon dit méér as die littekens van Sy teregstelling wat steeds sigbaar gebly het?Toe Jesus na Sy opstanding aan die dissipels verskyn, het hulle “geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. Hy sê toe vir hulle: Waarom is julle so verskrik … Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Lk 24:37-39).
Wat vir Jesus geld, geld tog sekerlik ook vir diegene wat met Hom verenig is. In Fl 3:21 skryf die apostel dan ook: “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Ook mý graf gaan leeg wees, omdat híérdie liggaam gaan opstaan. Verandering, nuutwording, transformasie, verheerliking, ja, maar nie vernietiging en vervanging nie!
Terwyl ons moet vashou aan identiteitsbehoud, moet ons uiteraard nie in simplistiese terme daaraan dink nie. Ons liggame sal ook radikaal nuut wees. Die Here Jesus het steeds die littekens van Sy wonde gedra, maar tog kon Hy in verskillende gedaantes verskyn (Mk 16:12), en Hy kon sonder meer Sy opwagting maak in ‘n vertrek wat gesluit was (Jh 20:26).
SLOT
Tyd laat ons nie toe om oor ‘n paar praktiese implikasies te besin nie. Maar ek is oortuig dat gereelde en gelowige nadenke oor dit wat ons nou aangesny het, diepgaande en permanente effekte op elkeen van ons wat waarlik in Christus is, sal hê.
Gaan dus en maak hierdie beginsels deel van die skering en inslag van jou diepste oortuigings, en saam met geloof en liefde sal ‘n lewende hoop aan jou ‘n koersvastheid en bestendigheid verleen wat jou seëvierend tot by die wenpaal sal deurdra.
Net ‘n laaste en fundamentele waarheid, ‘n allesbeheersende waarheid wat ons nooit mag vergeet nie: dis in verbondenheid met Jesus Christus dat die dinge waaroor ons nou gepraat het, ‘n werklikheid in ‘n mens se lewe word.
Is jy met Hom verenig – deur ‘n ware geloof ?
VOETNOTAS
1. In hierdie lering gebruik ek die twee begrippe uitruilbaar. Ek meen dat die Bybel die mens vir ons voorhou as ‘n tweedeling – die uiterlike mens en die innerlike mens – eerder as ‘n driedeling (liggaam, siel en gees), soos wat vandag algemeen onder invloed van die moderne sielkunde geleer word.
2. Anthony A. Hoekema, Heaven: Not Just an Eternal Day Off, Christianity Today (June 6, 2003).
3. Bruce Milne, The Message of Heaven and Hell, 194.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier