DIE VOORBIDDER – Johan De Bruin

TEMA:DIE VOORBIDDER

SKRIFLESING:       Neh.1:1-11

SKRIF VIR OORDENKING:

(Jak 5:16(b)-18)  Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.

INLEIDING

Ons verloor die krag om ware voorbidders te wees deur te redeneer en te sê dat hulle uitsonderings was en dan nalaat om die Skrif-heiliges se voorbeeld na te volg.

Hierdie Skrif-heiliges word aan ons voorgehou om ons aan te moedig om soos hulle toegewy te wees aan God en ware voorbidders te word.

Die Here ken ons as mens en weet dat ons hierdie verskoning sou aangryp en daarom geïnspireer deur die Heilige Gees skryf Jakobus “Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid…”

Daar is geen verskil tussen die Skrif-heiliges en ons as kinders van God se natuur nie, of tussen die genade wat in hulle gewerk het en in ons werk nie. Daarom is daar geen rede om nie soos hulle te bid nie.

Ons kan waarlik uit die hart uitroep tot God om ons die genade te skenk om te bid soos Elia, Moses, Jabes, Nehemia, ens.

’n Kind kan deur ’n onderwyser geleer word om te skryf maar as die kind nie wil nie en nie oplet en oefen nie, sal al die pogings van die onderwyser te vergeefs wees.

Plaas uself in die gebed-skool van God (Soos Andrew Murray dit noem) en laat u opvoed om ’n ware voorbidder te word.

HOE LYK DIE VOORBIDDER ?

HY/SY IS EERLIK.

Neh.1:4 En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel

Dit was die resultaat van ’n siel wat tot in sy diepste geroer was deur omstandighede. Hierdie was nie maar net ’n formele gebed nie.

Die wat nader aan God wil kom met die lippe terwyl die hart vêr verwyder is van God bereik niks as net ’n spottery van gebed nie. Spr 28:9  Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.

Jak 5:16(b)  Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

DAAR IS KENNIS/ HARTS-KENNIS MET BETREKKING TOT GOD.

Daarom kon hy met vrymoedigheid bid en sê: Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou—(Neh 1:5)”

Hy het geglo in God se grootheid, die gedugtheid van God, die getrouheid van God  en God se genade want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. Heb 11:6(b).

(Jes 62:6(b), 7) o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

Hoe kan ek God herinner aan Sy beloftes as ek nie Sy Woord ken en bid nie. Ons moet die Woord bid en bestudeer dan sal ons effektiewe voorbidders wees want ons God is ’n God wat hoor Jes 41:17(b) Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

Om God so te ken en te ondervind is om veel te vra en veel te verkry.

Hulle wat God ken  sal sterk wees en sal ontginnings werk en helde dade doen deur die gebed van geloof.

(1Sa 12:18)  Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel.

DAAR IS ’N DRINGENDHEID EN AANHOUDENDHEID AANWESIG OF TE BESPEUR.

Nehemia 1:6 “laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag,….”

Dringendheid is ’n belangrike element van aanhoudende/volhardende gebed. Dit was as gevolg die weduwee se aanhoudende en dringende oproepe tot die onregverdige regter dat sy oorwin het.

Bid sonder ophou. Ons moet nie moeg word nie

(Gal 6:9)  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.

DAAR IS BELYDENIS.

(Neh 1:6, 7)  laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie.

Die sonde om vals te handel met God is algemeen en baie gevaarlik.

Ons gee voor dat ons in Sy Woord glo maar tog lewe ons in vrees en twyfel; ons vra dinge van God wat ons nie verwag nie; ons verklaar ons trou en lojaliteit teenoor God en Sy saak en tog in die hart is ons besorg en bekommerd oor my eie persoonlike belange.

Hoe kan ons verwag om deur te dring in gebed tot God as daar geen belydenis is van ons bedrieglikheid wat ons lewens so dor en leeg gemaak het nie. Geestelike slawerny en waar ek misluk in my Geestelike lewe wys dat daar sonde in die laer is en vra vir self-ondersoek en belydenis.

DAAR IS GELOOF

(Neh 1:8, 9)  Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.

Geloof is vas op die gesproke Woord van God. Gebed wat gebou word deur geloof op die beloftes van God kan nooit omvêr gegooi word nie.

Die astrantheid van geloof is verbasend as ons na hierdie gedeelte kyk. Dit kyk op na die aangesig van God en sê: Daar is U woord van belofte, en daar in verlossing, is die bewys van U Almagtige liefde en die sterke hand van U reddende genade. Nou, daarom, doen hierdie ding vir ons.

(Heb 11:6)  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

DAAR IS TOEWYDING EN AFSONDERING IN GEBED

(Neh. 1:11)  Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees;”

As ons nie bereid is om onsself ten volle oor te gee aan God en tot verheerliking van SY Naam lewe nie sal ons altyd verkeerd bid en vra.

(Jak 4:3)  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Daar is drie tipe diensknegte;

Die slaaf wat dien uit vrees; die huurling wat diens doen vir ’n salaris en die seun wat uit liefde diens verrig. Dit is die gehoorsame en onderdanige seun wat guns en volheid van die vader verwag en ook verkry.

Dit is hulle wat hulleself as ’n lewende en welgevalle offer aan God oorgee.

(Rom 12:1, 2)  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Wie is tot hierdie diens instaat? Elke kind van God, of ek nou werk, of op pensioen is, of nog op skool, kan hierdie gaping vul as voorbidder vir God. Ek moet net bereid wees om myself oor te gee en afgesonder te wees vir God.

Gebed is die stem van ons lewe. Soos ’n man lewe, so bid hy. Andrew Murray skryf “Nie die woorde of gedagtes waarmee iemand besig gehou word by vasgestelde tye van gebed word deur God beskou as sy werklike gebed nie, maar die neiging van sy hart soos dit gesien word in sy begeertes en dade.”

Die binnekamer is die plek waar dit geleer moet word. Die môre-uur is die opleidingskool waar ons die genade moet beoefen wat ons kan bekwaam maak om te bid soos Elia, Nehemia ens.

(Jak 5:16(b)-18)  Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag

(Jes. 62:6, 7)  o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

(Eseg. 22:30)  En Ek (God) het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.

IS U GEREED EN GEWILLIG OM U PLEK AS VOOR BIDDER IN TE NEEM?

EK SLUIT HIERDIE REEKS AF MET DIE VOLGENDE DEUR ’n ANONIEME SKRYWER

“Last night I took a journey to a land across the sea, I did not go by boat or plane, I traveled on my knees.

I saw many people there in deep sin, and I did not want to send my prayers in.

But Jesus said I should go and see, how many I could win.

I said, “Jesus, I cannot go and work with such as these.”

He answered quickly, “Yes, you can by traveling on your knees.”

He said, “You pray, I will meet the need. You call and I will hear.”

So I knelt in prayer and felt at ease as I traveled on my knees.

I said, “Yes, Lord. I know I can do the job, and my desire is to please.

I will heed Your call, and I traveled on my knees.

OP MY KNIEË KAN EK NOOIT STRUIKEL NIE.

0:00
0:00