DIE TOEGEWYDE HART.  Joh. 20.

Die grootste gebeurtenis ooit in hierdie wêreld was toe die Seun van God, as Seun van die mens, aan die vloekdood vd die Kruis gesterf het aan die aan bloedbevlekte hande van sy moordenaars! Aan die einde van die drie uur duisternis … met die laaste uitroep van Jesus … met die aardbewing en met die skeur van die voorhangsel vd Tempel, was DIT VOLBRING!. Maar die grootste waterskeiding ooit was toe hierdie Jesus, wat dood was, wie se liggaam in linne toegedraai en in ‘n graf gelȇ was, uit die dood uit opgestaan, uit die graf uitgebreek en aan Sy eie mense verskyn het! Heel eerste aan ‘n vrou met die naam van: Maria Magdalena. Hoekom het sý die eerste prys gekry?

 

1.    Sy was ‘n verloste – 7 duiwels uit haar gegaan … 7 duiwels uitgedryf. (‘grimmigheid’ – Myrtle Ps.37:8). Maria het van elke ‘duiwel’ geweet wat haar eens verniel en misbruik en onder hulle ysterjuk laat ly het!

2.    Sy word ‘n getroue volgeling van Jesus: saam met ander vroue gevolg en Hom met hul besittings gedien.

3.    Sy was naby aan die Kruis; deurgedruk tot saam met Sy moeder en nog ‘n vrou – die ‘ander Maria’?

4.    Sy het seker gemaak wáár Hý begrawe is. Sy en die ‘ander Maria’ het daar gaan sit en toegekyk.

5.    Sy was die heel eerste by die graf – alleen, ‘vroeg, toe dit nog donker was’ het sy na die graf gegaan.

6.    Sy het gesien ‘die steen is weggerol’ en ‘gehardloop’ om hierdie éérste boodskap te gaan vertel.

7.    Sy het weer daarheen terug gegaan. Toe Petrus en Johannes loop, het sy enduit gebly en daar geween.

8.    Sy het eers gedink Hy is die tuinier en Hom heel eerste lewend herken toe Hy sȇ – MARIA … ? Dit is baie kosbaar HOE sy Hom juis dáár ‘gesien’ (v.18) het! Johannes het eers net by die graf ingeloer (‘blepo’ – net skrams gekyk, ingeloer) en Petrus het in gegaan en die grafdoeke gesien waar Jesus se liggaam gelȇ het. Toe het Johannes ook self ook in gegaan en die grafdoeke gesien (‘eidos’ – duidelike patroon vd ongesteurde grafdoeke, toe het hulle GEGLO en huis toe gegaan). Maar Maria het daar gebly totdat sy JESUS SELF gesien (‘HO-RAH–O’!!!) het. Hierdie Griekse woord vir sien beteken, die werklikheid, die helder beeld. Die ware beeld van JESUS SELF! Sy het Hom daar sien ‘STAAN’ … Sy het Hom daar lewend, regop, triomfantlik en vorstelik sien STAAN … ook sentraal in háár lewe sien sy Hom STAAN! … oorwinnaar oor die graf, die grafsteen en die grafdoeke waarmee die Satan en sy trawante vergeefs probeer het om Hom aan die graf te bind! Maar die Vors van die Lewe en die Lig het hier uitgebreek! Eens en vir altyd het Hy oor alle duistere magte geseëvier, om elkeen wat IN Hom glo, nie net van sy sonde te verlos nie, maar ook die verskrikking van die DOOD tot niet te maak en dit in ’n salige hoop en ’n vreugdevolle verwagting te verander! Nie soos Lasarus wat nog grafdoeke dra en nog sterflik is, het Hy uitgekom nie – Hý sonder grafdoeke, blakend en volkome gesond en beklee met ewige heerlikheid en die volheid van goddelike LEWE!

9.    Sy was die eerste en enigste om Hom dadelik ‘n ‘ere-titel’ te gee – Rab … Rabbi … nee!!! – RABBOENI!

10.    Sy word die eerste draer vd Evangelie (die helder beeld, werklikheid!). Haar boodskap was DUIDELIK!

 

    Só seker was Sy opstanding, dat paniek en vrees Sy vyande beetgegryp het en aanvanklik vertwyfeling ook Sy dissipels, maar toe verbasing en ‘n uitbundige vreugde by die wat Hom liefgehad en aan wie Hy persoonlik verskyn en vir wie Hy ‘n werklikheid geword het. En – so sterk en waar was die boodskap, dat dit ook vir almal was wat in Hom GEGLO het, al het hulle Hom nooit fisies gesien nie!

 

Albei hierdie 2 groot gebeure maak ‘n reuse verskil in elke ware kind van God se lewe! Die Kruis is die EEN plek waar die sondaar kan kniel en gered word, en die Opstanding die ANDER plek waar jy die sekerheid kry dat jou Jesus LEEF!  Miskien sȇ iemand nou – ek glo Christus het ook vir MY aan die Kruis gesterf … ek aanvaar dit en dank God selfs daarvoor,  maar hoeveel van ons kom ooit by JESUS SELF uit, soos ‘n Maria, vir wie Hy inderdaad LEEF omdat sy Homself persoonlik ontmoet het. “JESUS SELF” …  soos toe Jesus SELF nadergekom en saam met die Emmausgangers begin stap het; soos die dissipels toe Jesus SELF aan hulle verskyn het? Al wat ek vir u hoef te vra is – is ‘JESUS SELF’ vir jou ‘n werklikheid, ‘n noodsaaklikheid bo alle ander gebruike en gewoontes? Praat Hy met jou? Hy wil só graag met jou praat oor Sy liefde, Wie Hy werklik IS en wat hy doen, want Hy sȇ: My skape ken My stem …  luister na My stem. Of is jy maar net een een van die menigte saamlopers; dood tevrede met ‘n lewelose en dooie ‘vorm’ van godsdiens?

NOU word hierdie eenmalige slaaf van 7 duiwels in ALLES die eerste; (i) eerste by die graf … (ii) die eerste om Jesus Self lewend te sien … (iii) die eerste en enigste om Hom ‘Rabboeni’ (my groot Meester) te noem; ook (iv) die eerste draer van die blye boodskap, die Evangelie, dat Hy LEWE, want sy het Homself gesien!

 

 Hierdie gewese sondares met die rein en TOEGEWYDE HART kry die eerste prys!  Joh.20:18 is die laaste hoofstuk van haar lewe!  Op hierdie hoogtepunt was sy nog besig om te KLIM! (‘n welsprekende godloënaar het sy toespraak so oortuigend oorgebring dat daar niemand was wat dit gewaag het om daarteen te spreek op sy uitdaging nie.  Na ‘n doodse stilte staan  2 dogtertjies op en loop hand aan vorentoe. ‘Omie, ons kan nie iets sȇ vir Jesus nie, maar ons kan iets SING vir Hom’. Hulle sing toe, ‘Staan op, staan op vir Jesus! By die 2de vers staan die hele gehoor toe op, klap vir hulle hande en sing saam!)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00