DIE REIN HART - (vol lig) Mat.5:8 Pieter Scholtz

“Skep vir my ’n rein hart, o God …” Psalm 51:12; Jer.17:9; Hos.11:8. In hemelse taal is die woord ‘rein’ en die werkwoord ‘reinig’ van groot belang! Dit is Skriftuurlike terme en word toegepas op die Christin se innerlike geestelike welsyn of hart en hou verband met sy uiterlike wandel in ‘wit klere’. Dit help om die verskil te verstaan tussen vergifnis vir ons sondes en reiniging van die smet van díé sondé (‘wat in my woon’). Dr. A.M. sê, met vergifnis doen God iets vir ons, maar met reiniging doen Hy iets in en aan ons! (Iemand het aanhoudend gebid – ‘Here, verwyder tog die spinnerakke’ totdat iemand anders dit nie meer kon uithou nie en in sý gebed geantwoord het – ‘Here, maak tog asseblief die spinnekop dood!’ Daarom het Dawid, as ‘n gelowige, in Ps 51 en nádat hy reeds om vergifnis gesmeek het vir sy ‘oortredinge, in vers 12, verder gegaan en gebid– skep vir my ‘n rein hart, O God – want hy het besef dat hy, as ‘n kind van God, moes seker maak dat hy nou klaarkry met die sonde!

 

As ons die kern van hierdie gebed van Dawid reg wil verstaan, moet ons eers by verse drie en vier begin waar hy die volle oorsaak, die omvang en die tragiese gevolge van sy sondige dade ten volle besef en juis daarom het hy begin om dit met diepe berou te bely! Hy smeek om vergifnis vir sy ‘oortredinge’ wat te doen het met wetsverbreking; sy ‘ongeregtigheid’ met kwaad teenoor ander, en “ … my sonde …” met opstand teenoor God. In vers vyf erken hy dat hy eers tevergeefs probeer het om sy sonde te ontken en daarvan weg te vlug, want dit staan te alle tye lewensgroot en dag en nag vóór hom! Hy kan nie daarby en by God, verby kom nie (vgl. Ps. 32).

 

Van die onreg van sonde teenoor ander en God, sê Dawid ’n verbasende ding: “Teen U alleen …” wat verkeerd klink maar reg is, want sonde tref altyd eerste die hemel! Die berouvolle oortreder wéét altyd dat sy sonde nie net stukkende harte en verwoeste lewes veroorsaak het nie, maar bo alles vir Christus ’n gebroke liggaam aan die kruis en vir die God van die hemel, ‘n gebroke hart: Daarom sê Hy in Hos.11:8 “My hart is omgekeer in My …!”

 

Van die oorsprong van sonde wat ons in vers sewe ontdek, sê Dawid dat sy werklike probleem teruggevoer kan word na sy geboorte. Reeds dáár is hy – in sonde – gebore, wat daarna verwys dat hy reeds by geboorte iets geërf het wat hom drasties verkeerd en skeef getrek het. Self kon hy nie hierdie ‘erfenis’ verhelp nie, maar elke gruweldaad wat dit deur sy eie keuse baar, maak hom aandadig, verklaar hom skuldig en veroordeel hom! Wanneer God die oorsprong van sy sonde as die wortel van sy probleem sou uitwys en hoe om daarvan verlos te word en hy verkies om nogtans daarin voort te leef, maak dit hom dubbeld aandadig  (Romeine 6:1,2,15).

 

Vir die verlossing van sonde gebruik Dawid drie baie sterk en duidelike werkwoorde as hy bid: “Ontsondig my … was my … skep vir my …” (v.9-12.). “Ontsondig” beteken om dit te verwyder, net soos “onthoof” – om ’n hoof van sy liggaam te verwyder. “Was my … witter as die sneeu …” het te doen met sy vergifnis en reiniging.

 

Maar in v. 12 roep hy uit: “Skep vir my ’n rein hart, o God!” Die woord “skep” is dieselfde as die woord wat gebruik is toe God die hemel en die aarde ‘geskape’ het. God, in sy groot almag en genade, doen ’n splinternuwe skeppingswonder in die Christin se lewe naamlik, ’n rein hart wat vir ons so noodsaaklik en vir God se kosbaar is dat die Heilige Gees daarin kan woon! Jesus self het in Mark.7:21 geleer dat al die sondige verdorwenheid binne die mens is en nie verwyder kan word net deur ‘handjies te was’ en bekertjies en skotteltjies en selfs ‘beddens’ te was nie! Sonde sit nie so vlak nie! Dit is NIE iets uiterlik nie! Dit is IN die mens se HART gesetel … daaruit vloei dit voort… en daar uit moet dit verwyder word! Of dit moontlik is lees ons dat Jesus in Mat.5:8 (Ps. 73:1) uitroep: Salig is die wat rein van hart IS, want húlle sal God sien!’!

 

   Net voordat Natan die pyl na Dawid se hart afgeskiet het wat hom met dodelike oortuiging getref het, naamlik: “U is die man”, het hy gesê: “Dáárdie man móét sterwe!” (‘53 Vert). In hierdie onverbiddelike uitspraak was hy volkome reg. Ook vir hóm was daar géén versagtende omstandighede nie! As God hom dus nie genadig sou wees nie, was daar vir Dawid géén hoop nie, daarom pleit hy om genade en hy verkry dit! Die besef van hoe groot God se genade is, het Dawid se hart só verteder dat hy nie net in vers 12 bid vir ’n rein hart nie, maar in vers 19 begin hy praat van ’n ‘gebroke hart’ wat God nie gering sal ag nie. Só ‘n hart vind altyd by God ‘n wyd ope deur!

 

   As God Dawid se boetegebed om genade verhoor, is Sy volkome ‘genadepakket’ vir hom: herstelde blydskap (v.14), nuwe vrymoedigheid (v.15) en verlossing van bloedskuld (v.16). “U sal ’n hart vol ootmoed (’n ‘gebroke en verslae hart’, ‘53 Vert.) en berou nie gering ag nie, o God.” Dank God vir die kosbare bloed van Christus; die bloed wat ons van ALLE sonde en ALLE ongeregtigheid, volkome reinig; selfs ons gewete van ‘dooie werke’! (1Joh.1:7,9; Heb.9:14). “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Jesus het vir die melaatse gesȇ, ‘Ek wil, word gereinig!’ Só kon Dawid weer sy kop vrymoedig optel en so ook Petrus, nadat hy Christus verloën het. Romeine 8:1,2.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00