DIE EERLIKE HART – (vol waarheid)
‘Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste’ Ps.51:8
Ps 51 is welbekend as koning Dawid se boete-psalm, nadat hy, soos ons almal weet, ten minste twee ‘doodsondes’ begaan het naamlik, egbreuk en moord! Hy het die vrou van sy naaste begeer en Uria, haar man, onder die dekmantel van ‘oorlog’ laat vermoor en voorgegee dat hy self onskuldig is! Hy het gemeen hy kan as koning doen wat hy wil en hy sal daarmee kan wegkom! Vir hierdie gruwelike dinge en vir enige moedswillige sondes was daar in die Levitiese offerstelsel geen voorsiening gemaak vir versoening en vergifnis by God nie. Van egbreuk en moord het God dit duidelik gestel: ‘Die siel wat sondig, die moet sterwe!’
Al wat Dawid kon doen, was om tot God om genade te bid! Dit het hy gedoen en volgens Ps. 32 en Romeine 4, het hy wel van God genade verkry, maar volgens ons teks het hy dit slegs verkry toe hy so desperaat geword het dat, toe God Natan na hom toe gestuur het om te sê: ‘U is die man’, hy eerlik geword, sy skuld erken en sy sonde met hartgrondige berou bely het! Maar dis so jammer dat hierdie Godsman … die grootste held in die geskiedenis van sy volk en die een uit wie die Christus as Koning gebore sou word, sóó lank gewag het voordat hy, in sy verhouding tot God en sy medemens, so EERLIK en desperaat geword het dat hy met die waarheid vorendag gekom het!
Gedurende hierdie wagtyd van ten minste een jaar, is daar vir elke vyand vrye teuels gegee om onder mekaar te fluister en lustig te laster! God se vyande het gejubel! Baie was toe ook deur sy voorbeeld – en jammer om te sê, tot vandag toe – aangemoedig om aan dieselfde soorte losbandigheid vrye teuels te gee en te glo, God sal maar ‘vergewe’ … met die flou verskoning dat Dawid dan gesondig het en God het hom vergewe! Dink aan die ontsettende skade aan God se koninkryk, die smaad op Sy Naam en die smartlike pyn van baie gebroke harte wat Dawid se sonde en voorbeeld veroorsaak het! Dit was soos wilde vuur wat hande uitgeruk, vinnig versprei en ‘n spoor van verwoesting aangerig het! Die swaard sou sy eie huis ook binnedring en sy eie gesin en kinders verskeur en vermoor! Deur verbittering het een van sy beste en getroue raadgewers – Agitofel – ook teen hom gedraai en uiteindelik selfmoord gepleeg. Het jy geweet – hy was Batséba se oom!
Teen die tyd dat God vir Natan na Dawid toe gestuur het om vir hom te sê – ‘U IS DIE MAN!’ het dit wat met hom gebeur het, hom vir die eerste keer in sy lewe – met sielesmart en doodsbenoudheid – soos ‘n bom getref! Hy was deur God op heterdaad betrap en al uitweg was om EERLIK te word en voor die Regter van die hele aarde skuldig te pleit! Dit was sy redding. Hy het in alle eerlikheid sy hart voor God ontbloot en toegelaat dat die skerp lig van God tot diep in sy binneste skyn! So alleen kon hy nie net sy sondige dade nie, maar ook die oorsaak en die bron van sy probleem en behoefte ontdek, en daarmee handel.
Dawid se gebed tot God was nie ‘n oppervlakkige, opgemaakte rympie om tog maar ook ‘verskoning’ vir nog ‘n ‘glipsie’ as gevolg van sy ‘swakke menslikheid’ te probeer vind nie. Ná een jaar kon hy die volle omvang van sy gruwelike sondige dade, sowel as die volle omvang van die smartlike gevolge daarvan, begin peil! Maar net die feit dat God ‘n man soos Natan na hom toe gestuur het, het hom van absolute wanhoop gered en hom laat besef dat God tog nog met hom besig is, maar ook dat God se genade sy enigste hoop was.
Wat is die les wat ons vandag moet leer uit wat met Dawid gebeur het? a) Dat God soek na waarheid (eerlikheid) in die binneste. b) Dat God net sonde kan vergewe wat opreg en eerlik, met berou bely word. c) Dat geen mens – selfs nie die koning, met sonde by God sal verbykom nie! d) Dat God mag vergewe, maar dat die mens ook die gevolge sal moet dra van sy sondige dade. e) Dat God selfs die voorbeeld van genade wat Hý aan ‘n sondaar soos ‘n Dawid bewys het ten goede kan gebruik om vir die wêreld te sê en te bewys dat daar vir die grootste sondaar genade by God mag wees, mits daar eerlike belydenis en opregte berou is!
(Daardie Godsman – F.B. Meyer – getuig dat hy, in sy volle oorgawe, al die sleutels van sy hart en lewe aan God beloof het, maar toe God vir hom vra: is dit AL die sleutels ?, het hy geantwoord: Ja Here, buiten een ou kleintjie wat seker nie sal saak maak nie. Toe gee die Here die hele bos sleutels aan hom terug met die woorde: as Ek nie ALLES kry nie, wil Ek NIKS hê nie! Jesus het gesê: ‘Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe’.