DIE BRANDENDE HART- (vol liefde)  Lukas 24:29.

Hierdie verhaal van 2 bedrukte, bedroefde volgelinge van Jesus, is sekerlik een van die mooiste verhale ná Sy opstanding! Op pad huis toe van Jerusalem na Emmaüs (12 myl) en in gesprek met mekaar, het hulle mekaar ondervra, want hulle kon nie GLO dat Hy wat uitgeroep het, ‘Ek is die opstanding en die lewe’ en dooies kon opwek, nou self dood was nie! Droefheid het hoop in wanhoop omskep (v.21)!  


JESUS HET BY HULLE AANGESLUIT: 


Jesus Self het nader gekom (caught up with them) en begin om met hulle saam te loop (v.15)! Min het hulle geweet – dis dieselfde onmisbare ‘Een’ wat elke keer Self, en eerste, nader kom! Soos Hy in daardie donker nag … die vierde nagwaak –in die hewige storm – ook nader gekom en gesê het: DIT IS EK SELF … moenie vrees nie! Hý is altyd eerste; ons eerste opgesoek, eerste liefgehad! Daarom het daar toe Hy by hulle aansluit, met hulle begin saamloop en praat het (al het hulle nie geweet dit is HY SELF nie), iets met hulle begin gebeur – hulle harte het skielik brandend begin word! …’ was ons hart nie brandende in ons terwyl Hy op die pad met ons gepraat het nie! Sý woorde maak mense opgewonde, verwonderd, en verbaas! Dit wek hoop i.p.v wanhoop!


HULLE HET BY HOM AANGEDRING en gesê: ‘bly by ons, want dit is al aand!’ En Hy hét ingegaan om BY hulle te BLY! Waar JESUS ingaan om te BLY, verander die hele atmosfeer! Toe maak hulle Hom die Eregas – aan die hoof van die tafel … dis Sý voorreg om brood te neem, te dank en dit te breek! Hoeveel keer al het hulle die hande gesien wat die brood vir ander breek, maar nou gaan hulle oë eers regtig oop, want wát sien hulle? Daardie bekende ‘hande’ dra dan nou die spykermerke! Hulle wanhoop het reeds in hoop verander, maar kan u dink hoe ook hulle droefheid nou skielik in onbeskryflike blydskap verander, toe hulle HOMSELF herken! Sy ‘gesig’ was vir hulle verberg, maar toe het Hy Sy HANDE vir hulle gewys! Hulle verstaan toe skielik die ‘Skrifte’ wat Hy op pad verduidelik het! Nou wéét hulle – Hy leef … Hom persoonlik en eerstehands ontmoet! Jou kop gee jou insig, jou gees openbaring; dan eers kom jou hart agterna – hý gee die passie aan wat tot aksie oorgaan!


HY HET HULLE AANGEVUUR met die wete dat Hy leef!  Só ʼn openbaring vd werklikheid laat jou nooit weer twyfel nie, kan jou nie laat stil sit, of stilbly, of dit net vir jouself laat hou nie! Só ʼn liefde van ʼn Meerdere wat keer op keer eerste nader kom en jou ‘eerste liefgehad’ het … is aansteeklik! As ons nie vir mekaar kan sê, ‘KOM!!! Laat ons opstaan en GAAN nie, bewys dit ons harte het nog nooit vlam gevat nie! Dadelik opgestaan – met die 12 myl terug na Jerusalem dwarsdeur die donker nag, maar was hulle werklik toe alleen?  Duisendmaal NEE!!!  Dink u Hy wat INGEGAAN het om BY HULLE TE BLY sou hulle nou alleen terugstuur? Hom wel nie meer fisies ‘gesien’ nie (die les van geloof was klaar geleer). Juis op daardie donker pad was Hy nog altyd (en onsigbaar) naby! Hoe weet ons dit? Toe hulle daar aankom en die 11 vind en die wat saam met hulle was, toe STAAN Hy wat hulle vergesel het … dieselfde Jesus … nog altyd en weer by hulle en wéér sê Hy: Dit is EK SELF … voel aan My … nou selfs ʼn meer intieme verhouding! Selfs al sou Hy weer uit hulle SIG verdwyn, sou hulle vir altyd en onherroeplik wéét– Hý leef!


Die vraag is – kan Hý en sal Hy mý ook in staat stel om daardie brandende hart met sy passie en toewyding vir altyd te behou? Hier is ‘n paar voorwaardes en wenke om ‘n brandende hart te behou:


a.    Laat Hóm toe om nader te kom! (Mag Hy nader kom? Is daar té sensitiewe areas? Waar JESUS SELF ‘nader kom’ verlig Hy ons verstand, verruim Hy ons hart, verinnig Hy ons verhouding met Homself en verdiep/verbreed Hy ons begrip van die Skrif. Ingestel op die golflengte van Sy ‘stem’ (His Master’s voice) verdryf Hý alle wanhoop en vervang dit met hoop en geloof, gegrond op die FEITE van die Skrif!


b.    Bly self naby die Bron/die Vuur:  By daardie plekke waar vure van passievolle liefde vir Hom gevoed word – jou stiltyd … die Skrifte en die regte geselskap. Naby die ‘vuur’ vd H.G.-  (wat ‘n Petrus laat ‘opstaan’ het van die vure van die wêreld) – nie om homself daarby warm te maak nie, maar om self daar IN te spring en gedoop te word met die Heilige Gees en met vuur!


c.    Maak die vuur van jou brandende hart aansteeklik! (net ‘vuur’ steek vure aan!) ‘Gaan, het Jesus gesê (daar is baie droë hout in die wereld!) en vertel My dissipels; Thomas én Petrus)!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00