TAFELBERG GEMEENTE DAWID-REEKS NO 21: Ware of valse self-identiteit
2 SAMUEL 10-11
Selfs mense wat selde of ooit in ‘n kerk kom, weet van Dawid & Goliat en Dawid & Batseba. Dawid se konneksie met Goliat en Batseba is baie bekend – selfs by mense wat bloedweinig van die Bybel weet.
Goliat = ‘n demonstrasie van Dawid se omhelsing van/geloof in sy (Dawid se) ware self-identiteit.
Batseba = ‘n demonstrasie van Dawid se omhelsing van/geloof in ‘n valse self-identiteit wat nie bestaan nie.
Ongeloof is steeds geloof – maar dis geloof in ‘n leuen aangaande jouself en God. En dit het konsekwensies.
Was dit dan nie in die fliek LION KING wat die klein leeutjie na die weerkaatsing van sy eie gesig in die water kyk, maar toe sy pa se gesig sien nie? Hy sien sy eie weerkaatsing, maar hy herken sy pa se gelaat in sy eie gesig! En hy besef sy identiteit is dit wat sy pa is. En dit ontlok toe ‘n brul uit sy keel! Die brul ontwaak uit dit wat hy sien wie hy regtig is!
Dit is die besef en die sien van wat die waarheid aangaande jouself is, wat jou bevry.
Die gesig van die Here Jesus Christus is die spieëlbeeld van wie jy in werklikheid is! Soos wat Hy is, is ons in hierdie wêreld (1 Joh 4:17). Die gelaatstrekke van Christus wat jy in jou eie gesig sien is die perfektheid van jou oorspronklike ontwerp voor die sondeval! Christus het jou oorspronklike ontwerp verlos en vir jou teruggegee. Jy is glad nie meer ‘n verloorder uit Adam nie!
Solank as wat jy in die water kyk en ‘n sondaar sien, sal jy aanhou sonde doen en voortploeter.
Maar as jy in die water kyk en ‘n blaamlose geheiligde geliefde begunstigde kind van God sien – as jy na jou eie gesig in die water kyk en die Here Jesus se gelaat sien – sal jy só begin lewe.
‘n Mens lees 2 Samuel 9,10,11 en vra: Hoe op aarde kan Dawid die een oomblik só wees en die volgende oomblik só wees?
Kyk hoe verskil die Dawid van hfst 11 van die Dawid van hfste 9-10.
In hfst 9 sien ons hoe Dawid sy verbond met Jonatan eerbiedig het en aan Mefiboset – wie eintlik doodgemaak moes word omdat hy nageslag van Saul was – liefde bewys het en hom aan sy eie tafel laat eet het.
In hfst 10 betoon hy weer eens liefde en goedheid en reik hy uit na die Ammoniete. Weer eens ‘n vyand.
Maar in hfst 11 is daar nie liefde nie, maar wellus en moordlus. En dit is dieselfde Dawid! Maar skielik is hy so hard en tree op soos ‘n skurk.
In hfste 9-10 sien ons ‘n man wat ander mense (wat nie eens sy vriende is nie) in fokus het. Hy gee homself. In hfst 11 sien ons ‘n man wat net aan homself en sy eie selfsugtige begeertes dink. Eers SIEN hy. Dan doen hy NAVRAAG. Dan VAT hy. Dan LÊ hy met Batseba. Dit klop net nie met hoofstukke 9-10 se Dawid nie.
In die lig van hfste 9-10 is dit moeilik om vir koning Dawid in hierdie lig te sien, nie waar nie? Geen liefde nie. Net wellus. Nadat hy met Batseba klaar is, verstoot hy haar. Hy was net agter haar lyf aan. Maar sy as mens, as persoon, as beelddraer van God beteken vir hom niks.
Waarom is daar dan letterlik twee geestelik-skisofreniese Dawids?
Wel, waarom is daar twee ….. sit jou eie naam in ….? Jy het tog sekerlik al gewonder waarom jyself so geestelik skisofrenies is?
Alles gaan oor wie se gesig jy in die water sien. Want daarvolgens sal jou hele lewe wees.
Alles gaan oor jou sig op jou ware identiteit. Alles gaan oor hoe akkuraat jy SIEN/KYK. Wanneer jy die leuen omhels dat jy ‘n arme sondaar is – wie net-net vergewe is, maar wie se sondige natuur nog nie afgesny is nie (kontra Kolos 2:11), fasineer die Batseba’s van hierdie wêreld jou meteens weer.
Maar as jy in die water kyk en Christus se gelaat in jou eie gesig sien en jou ware identiteit omhels naamlik dat jou sondige natuur afgesny is en dat jy per definisie nie meer ‘n sondaar en Adamskind is nie en dat jy perfek geheilig is – dan beskik jy oor gesag en outoriteit oor sonde. Soos ‘n groot vragmotor tot stilstand kom wanneer hy ‘n ge-uniformde mannetjie sien wat wys STOP. In homself het daardie verkeersman nie krag of gesag nie, maar in sy uniform beskik hy oor hoër gesag en die vragmotor reageer daarop.
Dit is waarom 2 Samuel 11 ‘n mens bang maak. Want dit maak jou daarvan bewus hoe selfs iemand wat nie meer die identiteit van ‘n sondaar het nie en wie se sondige natuur op die kruis afgesny is, kan val. Hoe maklik jy ‘n valse self-identiteit kan omhels. En die misrabele gevolge daarvan. Adam het glad nie die identiteit van ‘n sondaar gehad nie, maar tog geval. En hier gebeur dit nou met Dawid.
Wat ons moet sien is dat dit nie ‘n kaal vrou was wat vir Dawid gepootjie het nie, maar sy vertroebelde visie van sy ware identiteit. ‘n Mens handel volgens wat jy van jouself glo – wat jou identiteit is – wat dit is wat jou as mens definieër.
Indien ek my ware identiteit as ‘n man omhels, sal ek nie vroue-klere aantrek nie, al sit u die mooiste vroueklere voor my neer. Jy kan vir my R2500 se Chanel No 5 persent gee, ek sal nie eens daarna kyk nie. Want ek weet wie ek is. Ek het in die water die refleksie van ‘n man gesien.
Waarom maak 2 Samuel 11 ‘n mens bang?
Want jy sien dat selfs die mees toegewyde gelowige kwesbaar is vir die verleiding van die roepstem van ‘n vals identiteit wat jou laat glo dat jy die wellus en slegte begeertes wat in jou binneste opkom IS – dis wie jy IS! Jy sien die naakte vrou wat bad, jy voel die wellus in jou opstoot en jy glo dat dit is wie jy is: jy is ‘n sondaar, jy het ‘n sondige natuur, jy is maar so ‘n swakke wellusteling. Sonde definieër jou. En daarom gee jy toe. Jy DOEN dit wat in lyn is met wat jy glo jou identiteit is.
Jakobus 1:13-15 > “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: Ek word deur God versoek nie, want God kan nie verlei word nie en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. As die begeertes bevrug geraak het bring dit die sonde voort en as die sonde ryp geword het loop dit uit op die dood.”
Versoeking opsigself is nie sonde nie. Versoeking = ‘n poging van die leuen om die Waarheid te onderskep.
Daar is ‘n leuen aangaande jou identiteit en daar is die waarheid aangaande jou identiteit. Elke keer wanneer jy versoek word, probeer die leuen die waarheid onderskep.
Versoekings probeer om Godgegewe edele begeertes op ‘n ongoddelike manier te vervul.
Sonde trek ons aan omdat dit ‘n Goddelike begeerte wil bevredig! Dit is begeertes wat deur die Skepper in ons geplaas is. Wat absoluut niks met sonde te make het nie. Maar sonde bevredig daardie goeie begeerte op ‘n ongoddelike manier en dit lei tot vernietiging.
Menslike seksualiteit is byvoorbeeld deel van die Here God se mooi skepping. Lank voordat daar so iets soos sonde was, moes die man en sy vrou een vlees word en vrugbaar wees. Geslagtelikheid op sig self is ‘n Gods gawe aan die mens. Maar goed soos owerspel, buite-egtelikheid ensovoorts, is die ongoddelike uitleef van dit wat goddelik is. Daarom vernietig dit die mens. Sonde = onnatuurlike vervulling van goeie Godgegewe begeertes en gawes. Vir die mens voel dit goed en reg, maar uiteindelik vernietig dit die mens.
Dit is waarskynlik teen hierdie agtergrond wat ons 2 Samuel 11 moet verstaan.
Die probleem was nie dat koning Dawid ‘n mooi vrou sien bad het nie. Ook nie dat sy naak was nie. Die probleem was dat, toe hy die vrou sien, toe bly hy op haar gefokus. Hy omhels ‘n vals identiteit. Hy beweeg nie weg nie. Hy verwerp nie die versoeking nie, maar koester dit en vertroetel dit. Hy oordink dit. Dit is nie versoeking wat die probleem is nie. Christus is self versoek. Dit is wat ons met die versoeking doen wat probleme kan skep.
Dawid se oë en gedagtes en hart bly vasgenael op hierdie mooi vrou. En dit vorm ‘n teëlaarde vir leuens. Indien hy die vrou gesien het, die feit dat hy ‘n geliefde, geheiligde, vergeefde, begunstigde kind van God is omhels het en van die versoeking weggeloop het, was daar geen probleem nie.
Maar toe gebeur wat Jakobus sê: Die ding begin sneeubal.
Koning Dawid was aan owerspel skuldig en ‘n mens wens mens kan sê dit is so ver as wat dit gegaan het, maar dit het nie. Batseba was ‘n getroude vrou en haar man was besig met oorlog. Hy was in die weermag. En nou laat sy vir Dawid weet dat sy swanger is.
Dawid is in ‘n hoek. Hy besef hy moet ‘n vinnige plan beraam. Onmiddelik laat hy Batseba se man, Uriah, uit die geveg roep. Nadat hy alte vriendelik met hom gesels het, gee die koning hom verlof om bietjie huis toe te gaan vir ‘n tydjie. Maar nee, hy slaap elke aand saam met die koning se slawe by die paleisdeur. Batseba se man vertoon 100X meer godvrugtig as die koning.
Toe Dawid hiervan hoor reël hy dat Uriah dronk gemaak word – met die hoop dat hy in sy besopenheid by sy huis sal gaan slaap. Maar Uriah gaan weer by die paleisdeur slaap.
Dawid besef dat hy drasties sal moet optree. Daarom reël hy dat Uriah binne die geveg in ‘n posisie geplaas word waar die kans baie goed is dat hy noodlottig getref kan word. Dawid reël dus eintlik Uriah se dood. Mens noem dit moord.
En so gebeur dit toe. Batseba se man sterf in die oorlog.
Oorgawe aan sonde/ die omhelsing van leuens en valse self-identiteit lei tot erger grade van boosheid. Kyk na ‘n kaal vrou, vertroetel die visuele beelde, koester die gedagtes, omhels die leuen, aanvaar die versoeking, owerspel, leuens, bedrog, moord.
Dieselfde man wat sy vyand Mefiboset aan sy tafel laat eet, stuur die regverdige Uriah na sy graf.
Sonde neem ‘n mens altyd verder as wat jy wil gaan, hou jou langer as wat jy wou bly en kos jou meer as wat jy verwag het om op te dok.
Kyk in vers 25 na Dawid se reaksie op die nuus dat Uriah dood is… “Ag moet jou dit nie te veel aantrek nie”.
Kort daarna laat Dawid vir Batseba na sy huis kom en hy het haar as vrou geneem en sy het vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Maar: “die ding wat Dawid gedoen het was verkeerd in die Here se oë.”
Dawid sê vir Joab aangaande Uriah se dood: “Ag, moenie dat hierdie klein terugslaggie jou te veel pla nie.” Maar dit pla die Here. Want Sy geliefde seun Dawid word vernietig. En die Here sê onomwonde NEE vir enigiets wat Sy droom vir die mens kan vernietig. Maar in daardie NEE ego die Here se JA vir Dawid. As iets “verkeerd” is in die Here se oë (vers 27) beteken dit
Hy is passievol gekant téén enigiets wat die mens kan vernietig of skade berokken – enigiets wat Sy droom vir die mens bedreig – enigiets wat die beeld van God in die mens kan vernietig. Hy is só passievol VIR die mens dat Sy toorn alles wil platvee wat Sy geliefde homo sapiens bedreig.
Omdat die Here ‘n ewige JA vir oorvloedige lewe, vreugde, liefde in/vir Dawid uitgespreek het, gaan Hy die sonde tegemoet met ‘n onverbiddelike NEE!! “NEE Dawid, Ek het jou nie geskape om in duisternis te sterf nie!!”
Gelukkig stop dit nie daar nie. Die hoop van hfst 12 word egter eers in ons volgende boodskap behandel.
Dit bring ons ten slotte terug by die gedagte waarmee ons die boodskap begin het:
Indien ek nie meer ‘n sondaar is nie, waarom kan ek dan nog steeds sondig? Indien die doodsvonnis op die kruis oor my sonde gevel is, kan ek dan nog steeds Dawid se paadjie loop? Of is 2 Samuel 11 nie meer relevant vir my nie?
Aan die een kant is die NT glashelder duidelik daaroor: Die kruisdood van Christus het klaargespeel met jou sonde-identiteit. Kolos 2:11 > Sondige natuur is deur Christus afgesny. Rom 6:2 > Hoe kan ons sondig as ons dood is vir sonde? Romeine 6:6 > Ons sondige bestaan is beëindig deurdat ons saam met (ingesluit by) Christus gekruisig is. 2 Kor 5:17 > Die ou dinge is verby. 1 Joh 3:9 > God se saad woon in jou daarom kan jy nie aanhou sondig nie. Die Here Jesus Christus het met EEN daad van geregtigheid die totale mensdom se sonde-identiteit eens en vir altyd vernietig.
Jy is nie ‘n verloste sondaar nie. Jy is nie ‘n vergeefde sondaar nie. Jy is nie half sondaar, half verlos nie. Jy het nie net objektief jou sondaar-identiteit verloor nie. Jy het dit werklik verloor!
Jy besit glad nie meer die identiteit van ‘n sondaar nie! Daar is geen konneksie meer tussen jou en Adam nie. Jy is deur die een enkele offer op Golgota vir eens en vir altyd perfek gemaak (Hebr 9:14).
Die probleem is dat ons in staat is om ‘n vals identiteit te omhels. Dit is waarom 2 Samuel 11 steeds vir ons relevant is.
Dit is moontlik om leuens te glo. Dit is moontlik om ‘n vals-identiteit te glo. Ons dink die feit dat ons allerlei versoekings so erg aan ons lyf voel en ons so aaklig voel en daar sulke verkeerde goed in ons harte opkom – dat dit die bewys is dat ons steeds ‘n sonde-identiteit het! En dan omhels ons die leuen. Terwyl die Here Jesus ook versoek is in alle opsigte (Hebr 4:15) – maar beteken dit dat Hy ‘n sonde-identiteit gehad het? Absoluut nie!
Mag die Here aan u & my ‘n stuk bekendmaking in ons binneste gee sodat ons sal SIEN wat presies met ons gebeur het toe ons 2000jr gelede – deur ‘n Godsdaad – saam met Christus gesterf het. Dat ons diep sal inkyk in ons ware self-identiteit. Want dit sal ons praktiese lewenswandel fundamenteel beïnvloed en verander.