LUKAS 15:17-24

ONS HET LAAS DIE SWARTSKAAP IN DIE VARKHOEK GELOS. Dit was egter nie die einde van sy lewe nie. Inteendeel, in sy ellendige toestand is hy op die drumpel van ‘n nuwe lewe. Spoedig gaan hy verstaan dat die heel beste ding wat ooit met hom gebeur het, sy varkhok-ervaring was.

As mens in armoedeland is, is dit bykans onmoontlik om te verstaan dat jy ‘n bevoorregte is. Dis eers ná die tyd, as jy terugkyk, dat jy dit sien.

Kom ons loop nou verder saam met hom.

DIE PAD VAN REDDING

Ons lees in v.17: “hy het tot homself gekom” (OAV). Hy kom tot sy sinne. Hy kry ‘n ware perspektief op sy situasie. As blinde oë begin sien, is dit die eerste tekens van genade in ‘n verstorwe lewe. Aangesien geloof inhoud het, gaan dit altyd gepaard met ‘n sekere begrip.

Wat sien die swartskaap? Hy sien dat die opwinding van die wêreld  –  wat hom sommer nou die dag nog so gefassineer het  –  bloot lugspieëlings is. Die bekoring van die ver land het oornag in die niet verdwyn. Dit wat hy gedink het so lekker gaan smaak, het nou soos aalwyn in sy mond geraak.

Gelukkig is die man of vrou wat verstaan dat die wêreld niks het om te bied nie  –  in elk geval niks wat standhou nie, niks wat regtig die moeite werd is nie, niks wat ewigheidswaarde het nie.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy ellende: “hier vergaan ek van die honger” (17b). Hy het alles verloor  –  sy erfporsie, sy onskuld, sy pa, sy menswaardigheid (stel jou voor, die ryk Joodjie moet varke oppas!). In vergelyking met hom, leef sy pa se slawe in oorvloed.

Om te weet dat jy verlore is, sonder God en sonder hoop, en dat die ewige verdoemenis jou voorland is, is ‘n wonderlike genade. Dit beteken dat jy op die drumpel van die ewige lewe is.

Maar ongelukkig is ‘n kwalifikasie, soos so dikwels, hier nodig. Daar is sondebesef én sondebesef. Lees maar Lk 18:9-14, die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Beide staan voor God. Beide het sondebesef.

Die fariseër is intens bewus van die mense om hom se sonde  –  veral die tollenaar se sonde. “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie … ook nie soos hierdie tollenaar nie.” Mense soos hy kyk na die wêreld om hulle en sê dan: “Ja, die mens is sondig!” In oomblikke van besondere vroomheid gee hulle selfs toe: “Ja, ons almal is geneig tot die kwaad  –  ek ook!” Maar natuurlik, wie is so veilig soos iemand wat in die massa wegkruip?

Die tollenaar is daarenteen beswaarlik bewus van die sonde van die mense óm hom. Hy sien niks verder as sy eie doemwaardigheid nie. Daarom het hy vrede met ander. Luister maar na sy gebed. Letterlik staan daar geskryf: O God, wees my dié sondaar genadig. Op hierdie oomblik is hy net van één sondaar bewus  –  hyself. En bowenal is hy van God bewus. Hier is ons by dié kenmerk van ware sondebesef  –  die wete dat jy met God te doen het.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy hulpeloosheid, sy magteloosheid, sy verlorenheid  –  sy algehele afhanklikheid van verlossing. Presies dit kry mens ook by die tollenaar. As daar staan, “O God, wees my, sondaar, genadig”, lees die Grieks letterlik, “O God, doen versoening vir my.” Duidelik soos daglig verstaan hy, as verlossing nie van buite af vir hom opdaag nie, is daar geen, maar geen kans dat hy uit sy toestand van verlorenheid sal kom nie.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy eie onwaardigheid. Hy weet dat hy nie meer werd is om sy pa se seun genoem te word nie. Daarom sou hy meer as bereid wees om ‘n dagloner vir sy pa te wees (19). Mens tref dit ook by die tollenaar aan. Hy het nie eers vrymoedigheid om na die hemel op te kyk nie. In die diepste van sy wese weet hy dat God niks aan hom verskuldig is nie  –  inteendeel.

Wat sien die swartskaap? Hy sien dat hy, ten spyte van sy magteloosheid, iets drasties sal moet doen aan sy situasie. Dis een ding om te verstaan dat jy in ‘n hopeloos verlore staat is. Dis iets anders om te verstaan dat jy iets daaraan moet doen. Maar hierdie kloof kry die jongman oorgesteek: “Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan …” (18).

Daar word gesê dat die pad hemel toe geplavei is met goeie voornemens. En dis waar. Hoeveel mense is daar nie wat gereeld besluit hulle moet iets aan hulle verlore staat doen nie! As dit by vroom besluite kom, is hulle voor in die koor. Maar, natuurlik, ‘n voorneme is een saak, die uitvoering daarvan is iets anders. Alles hang af van hoe eg en opreg die voorneme is  –  en of dit tot optrede lei.

Maar die swartskaap bedoel regtig besigheid. Hoe weet ons dit? Hy hét opgestaan en die pad gevat na sy pa toe  –  en ál die pad tot daar geloop.

‘N KLASSIEKE BESKRYWING VAN BEKERING

Verse 18-20a is ‘n presiese beskrywing van egte bekering  –  reddende bekering. Die begrip bekering dui ten diepste op ‘n gesindheidsverandering. En as dit enigsins eg is, kom dit noodwendig tot uitdrukking in ‘n lewensommekeer.

Presies hóé dit tot uitdrukking kom, verskil van persoon tot persoon. Soms is dit vinnig en dramaties, soos in Saulus se geval (Hd 9). Soms vind dit geleidelik plaas oor ‘n tydperk. Maar dát dit moet plaasvind voordat jy gered kan word, staan Bybels soos ‘n paal bo water. Dis nie dat daar reddende verdienste in sit nie. Maar die hartsverandering wat deur wedergeboorte te weeg gebring word, moet noodwendig in ‘n verandering van lewens- en ewigheidsbeskouing oorgaan. En dit kan nie anders nie as om ‘n ingrypende uitwerking te hê op jou lewensprioriteite, en dus op jou gedrag.

In die jongste seun se nuwe gerigtheid en optrede sien ons vier onmisbare en ononderhandelbare fassette van egte bekering.

Een, ‘n eerlike self-beoordeling en sondebesef.

“Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!” (18b). 

Daar is sondebesef én sondebesef. Dermiljoene woorde van sondebelydenis en berou is al ge-uiter  –  sonder die die nodige diepgang en opregtheid.

Judas Iskariot het besef dat hy gesondig het en dat hy ‘n onskuldige verraai het. Hy het probeer restitusie doen deur die omkoopgeld terug te vat vir die priesters. Tog het hy nie vrede met God gevind nie en homself opgehang (Mt 27:3-10).

Wat het geskort met Judas se sondebesef? Duidelik het hy verskriklik ellendig gevoel oor wat hy gedoen het. Maar hy was ontsteld oor wat hy homself aangedoen het. Na sy verraad het hy besef dat hy homself in die voet geskiet het. In die Bybel se beskrywing van sy berou, is daar geen aanduiding van gebrokenheid voor God nie. Die sommetjies wat hy gemaak het, het God en Sy eer nie verreken nie. Dit het alles gegaan oor eiebelang.

Presies hier lê ook die verskil tussen Dawid en Saul. Saul het inderdaad sy sonde bely (1Sam 15:24). Maar lees jy sy geskiedenis, is dit duidelik dat dit deurgaans vir hom gegaan het oor mense se dunk van hom. Hy het vir die pawiljoen gespeel. Daarenteen was Dawid (wat in terme van ons dag se oppervlakkige standaarde baie erger gesondig het!) diep onder die indruk daarvan dat sy sonde in die eerste instansie teen God was (Ps 51:6).

Ware sondebesef het dus alles te doen met ‘n diep bewussyn dat jy ‘n mislukking voor God is, en dat jy in terme van Sý standaarde niks minder as die ewige verdoemenis verdien nie.

Twee, openlike sondebelydenis.

“Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê …” (18a). 

Hier is geen sprake van verskonings en jakkalsdraaie nie. Hy het geen voorneme om te rasionaliseer, of om doekies om te draai nie. Openlik en eerlik sal hy bieg  –  presies net soos dit is.

Die feit dat die jongman van ‘n varkhok af wegloop, moet ons nie verlei om aan bekering te dink as net ‘n wegdraai van kru en morsige sondes af nie. Dit gaan oor álle sonde. Die Fariseër was respektabel, godsdienstig en geag in die samelewing  –  maar verlore. Sonde bly sonde, al is dit mooi geverf en met blomme opgemaak!

In die eerste instansie is sondebelydenis iets wat teenoor die Here gedoen word. Dis ‘n intens privaat gebeurtenis tussen die sondaar en ‘n heilige God.

Dikwels gaan dit wel ook gepaard met belydenis en restitusie teenoor mense. Maar dit is sekondêr; dit kom later.

Drie, ‘n diep nederigheid voor God en ‘n bewussyn van jou afhanklikheid van Sy genade.

“Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners” (19). 

Hier is geen sprake meer van die arrogansie wat destyds aangedring het op die erfenis nie. Hier is nie ‘n man wat wil beding vir die beste moontlike voordele uit die situasie nie. Genade is al wat hy vra  –  al is dit dan net die voorreg om die res van sy lewe as ‘n arbeider vir sy pa te werk. Net so het ware bekering alles te doen met ‘n nederigheid wat algeheel staat maak op die genade van God.

Maar tog is dit nie ‘n wanhopige toenadering tot God nie. Die jongste seun het darem geweet die man na wie toe hy op pad is, is sy pa. Sekerlik het hy met verwagting gegaan. En presies so gaan die sondaar wat die evangelie glo, na God toe. Hy verstaan dat Christus se versoeningswerk nie net genade moontlik maak nie, maar dit ook verseker.

Dus nederigheid, ja. Maar vrymoedigheid is ewe noodsaaklik  –  op grond van die oortuiging dat die Lam van God ‘n volmaakte offer gebring het.

Vier, ‘n besliste en doelbewuste lewensommekeer.

“En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan” (20). 

Toe hierdie jongman eenmaal besluit het om terug te gaan huis toe, kon niks hom stuit nie.

Net so is ‘n besliste besluit en daadkragtige optrede nodig om ‘n Christen te word. Sê die Here Jesus nie in Mt 11:12 nie: “… mense wat hulle kragtig inspan, kry dit (die koninkryk van die hemel) in besit.” Die OAV is eintlik nog nader aan die oorspronklike: “… bestormers gryp dit met geweld.” Laat ons dit nou eenmaal verstaan en ter harte neem dat die saligheid nie vir halfhartiges is nie.

Sien dit voorts duidelik raak, in die jongman se optrede sit twee dimensies  –  die een so noodsaaklik soos die ander. Hy het ná sy pa toe gegaan. En hy het wéggeloop van die varkhok af. Altyd, maar altyd behels bekering twee dinge: ‘n wegdraai van sonde af, en ‘n heendra na God toe in Christus. En tot die einde toe sal elke Christen hiermee besig bly  –  onophoudelik.

Is jy bekeerd? En leef jy ‘n bekerende lewe?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00