‘N HEMELSE BEITEL
‘n Bekende evangelis vertel dat hy ‘n vriend gehad het wat gedurende ‘n besigheidsressessie, sy werk verloor het. As gevolg daarvan het hy ook baie geld en sy pragtige huis verloor. Die onverwagte en tragiese verlies van sy dierbare vrou wat hy aan die dood moes afstaan, het sy hartseer nog verder vergroot. Ten spyte van al sy terugslae het hy die geloof behou – per slot van sake is dit al wat hy nog oorgehad het! Hy stap op ‘n dag deur die strate op soek na werk en bekyk ‘n paar mans wat steenbouwerk by ‘n groot kerk doen. Een van hulle was besig om ‘n driehoekige rots te beitel. “Waar gaan jy die rots plaas as jy klaar is, vra hy?” Die man wat besig was met die beitelwerk antwoord hom: “Daar heelbo in die punt van die toring. Ek is besig om hierdie stukkie rots te vorm sodat hy daarbo kan inpas!” Trane het my vriend se oe gevul terwyl hy verbystap, want die Here het deur ‘n arbeider gepraat wie se woorde ‘n nuwe betekenis vir hom gegee het in sy moeilike omstandighede.