GELOOF IN DIE NAAM VAN DIE ENIGGEBORE SEUN

GELOOF IN DIE NAAM VAN DIE ENIGGEBORE SEUN … Martyn Lloyd-Jones

Skriflesing
Joh. 3:11-18  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons [God, Seun en HG] spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.  As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?  En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie [perish], maar die ewige lewe kan hê.  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie [perish], maar die ewige lewe kan hê.  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie;  maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Inleiding

Teks:  v.18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie;  maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ons gaan hierdie mees belangrike vers oordink en die rede daarvoor is die uiterse belangrikheid en grootsheid daarvan.  Hierdie is deel van die verstommende gesprek wat plaasgevind het tussen ons Here Jesus Christus en hierdie man, Nikodemus, hierdie leermeester van die Jode, hierdie Fariseër.  ‘n Merkwaardige man.  Inderdaad ‘n groot man.  Ons onthou die gesprek wat plaasgevind het want Nikodemus het die Here Jesus in die nag kom opsoek om met Hom te gesels omdat hy die resultate waargeneem het van Jesus se wonderwerke wat plaasgevind het in Jerusalem.  Ons onthou sy stelling wat hy gemaak het en dat hy op die punt was om nog ‘n vraag te vra toe die Here Jesus hom onderbreek het met die woorde:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  Hy is dadelik daarop gewys dat sy hele benadering verkeerd was.  Indien hy nie weer van Bo gebore sou word nie, gebore uit die Gees, sou hy geensins eers die kans hê, om hierdie dinge te verstaan nie.  Eers hierna het die Here Jesus sekere positiewe stellings gemaak rakende Homself en die doel van Sy koms na hierdie aarde.  Hy bevestig en som dit vir ons op in v.16 

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Die vers wat ons almal dink ons so goed ken.  Die vers wat ons almal dink ons so goed verstaan.  Maar daar is nie ‘n vers wat so verkeerd verstaan word soos juis hierdie vers nie.  Daar is twee kante in hierdie vers – daar is dié wat gladnie die liefde van God enigsins raaksien nie sodat die Here dit nodig gevind het om v.17 hier by te voeg … Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.  Daar is mense wat nog nooit die liefde van God raakgesien het nie.  Maar aan die ander kant, soos die 18de vers ons herinner, daar is ander wat niks anders raaksien behalwe die liefde van God nie.  Hulle dink dat Jon. 3:16 slegs ‘n algemene verklaring/bekendmaking is dat God ‘n God van liefde is.  Almal sal gered word en ons het niks om oor bekommerd te wees nie.  Wel, v.18 maak dit eens en vir altyd baie duidelik dat dié gedagte in totaal verkeerd is.  Daar is twee kante in hierdie vers.  Daar is twee hy’e.  Hy wat glo en hy wat nie glo nie.  Die slenter hierin kom ooreen – word veroordeel en is alreeds veroordeel want hy het nie in die Naam van die eniggebore Seun van God geglo nie.  Kom ons kyk verder na hierdie groot en aller belangrike en gewigtige saak.  Soos ons deur die gedeelte in die Skrif gelees het, het u seker opgemerk dat daar een woord deurgaans voorkom.  Dit is ofskoon hierdie woord beheer uitoefen in die hele gedeelte beginnende by v. 14.  Kyk hoe stel die Here dit … Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie;  maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel – omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.  So, ons sien onmiddellik hierdie belangrike woord “om te glo” – hy wat glo of hy wat nie glo nie.  Dit is natuurlik die waarheid dat hierdie die woord is wat oral benadruk word reg deur die NT.  Dit is die karaktertrek van die Evangelie van die NT.  Die woord glo – daarom word dit oral voorop gestel.  Dit is inderdaad die groot woord van die Protestantse geloof.  Die groot ontdekking van Martin Luther was juis dat ‘n mens geregverdig word deur geloof – deur te glo.  Daarom moet ons baie goed aandag gee aan hierdie klein woordjie met sy uiterse groot betekenis.  Ons gaan deeglik daarna kyk deur op ‘n paar belangrike vrae te let.

WAT IS DIE ALLER BELANGRIKHEID VAN GELOOF?

Hierdie is die saak, volgens die lering van die Here, wat van uiterse belang is.  Hierdie is die saak wat ons ewige bestemming sal bepaal.  Daar is dus geen iets anders meer van belang waarna ons moet omsien nie.  Niks in die Bybel, as ons daar deur lees, tref ons so seker as juis hierdie saak nie.  Dit is die erns van die lewe op hierdie aarde.  Daar is verskeie maniere waarop die Bybel ons leer en daar is verskeie sake van belang wat ons daarin vind.  Wanneer ons van Genesis tot Openbaring deurgaan is daar een saak wat ons nie kan miskyk nie – die kinders van God was nog altyd daarvan bewus dat hul lewe hier op aarde ‘n baie ernstige saak is.  En hoekom is hul lewe so ‘n ernstige saak?  Hierdie lewe is as’t ware ‘n voorbereidingskool.  Dit is ‘n proeftyd;  ‘n plek van voorbereiding.  Om dit te sê is nie om die belangrikheid van die lewe af te gradeer nie.  Die Bybel doen dit gladnie.  Die Bybel met sy ernstige uitkyk op hierdie lewe – gesien van enige hoek of standpunt,  toon dat  ons lewe ‘n baie groot en gewigtige saak is.  Maar bo en behalwe enige ander saak, dat ons ons lewe hier op aarde ernstig moet opneem, is hierdie saak wat die Here Jesus hier aanraak, die allergrootste saak.  Ons is slegs hier vir ‘n kort rukkie en is eintlik maar net besig om verby te beweeg.  Ons is vreemdelinge en pelgrims op hierdie aarde.  Ons is op ‘n reis – soekers na ‘n ewigheid.  Dit is die prentjie wat ons voorgehou word.  As die Bybel die groot manne van geloof aan ons voorhou, vertel dit ons dat hulle almal ‘n stad verwag het met fondamente, waarvan God die boumeester en oprigter is.  Hiér word ons ewige bestemming bepaal.  Niks minder as dit nie.  Ons leer dat die mens ‘n siel ontvang het en dat wanneer die liggaam sterf hierdie siel voort bly lewe tot in ewigheid in.  Hierdie saak, die oomblik wat ons dit begryp,  maak ons lewe hier op aarde ‘n uiters ernstige saak van uiterste belang en van noodsaaklikheid.  Gedurende ons kort tydjie wat ons hierdie aarde bewoon, bepaal ons ons eie en ewige bestemming.  As dit dan waar is, sal die volgende saak net so noodsaaklik en waar wees.

WAT IS DIE MEES BELANGRIKE DING OM TE DOEN IN HIERDIE LEWE?

In hierdie wêreld is die mees belangrike ding om te doen juis dit waarmee ons op hierdie oomblik besig is.  Dit is maar net om na die Evangelie te luister.  Dit is eintlik wat Jesus aan Nikodemus gesê het.  Ons verhouding met Hom, wat dit ookal is, bepaal ons bestemming in die ewigheid.  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie.  Dit is sy ewige bestemming.  Maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel want hy het nie in die Naam van die eniggebore Seun van God geglo nie.  Ons bepaal dus ons ewige bestemming hiér!  Dit is ‘n ewigheid in heerlikheid of ‘n ewigheid van smart en ‘n gekners van tande.  En ons verhouding met die Here Jesus Christus bepaal hierdie ewige bestemming.  Daarom is niks op gans hierdie aarde van meer belang as juis waarmee ons op hierdie huidige oomblik mee besig is nie. 

Om na die Evangelie te luister.  Om na die woorde van die Here Jesus Christus te luister en ons reaksie daarop.  Dit is die grootste saak van belang in elke persoon se lewe.  Nie politiek en opstande, ekonomie of enige ander saak nie.  Baie kritiek word uitgespreek teen boodskappe soos hierdie – altyd maar net dieselfde tema!  Mense wil hoor van wêreldsake en wat die kerk daarvan dink.  Indien die kerk hom besig hou met sy uiters en belangrikste saak, sal daar nie tyd en plek wees vir iets anders as die Blye Boodskap nie.  Ons moet weet van ekonomiese en sosiale sake in ons land maar die Kerk van Christus het ‘n veel gewigtiger saak om haar mee besig te hou –  om te konsentreer op mense se ewige bestemming.  Alle aardse sake is van tydelike belang maar die saak van God is vir tyd en ewigheid.  Moenie die erns daarvan miskyk nie!  Die Here Jesus Christus het aan Nikodemus uitgespel dat hierdie saak die mees lewensbelangrike en ernstigste saak is waarmee ‘n mens hom gans mee kan besig hou.

Wat ek egter gretig is om aan u voor te hou is dit – is dit nie ons roeping om te besef dat mense ander sake so ernstig opneem en hierdie saak van uiterste belang maar sommer so ligtelik opneem nie?  Hoe kan mense nie opgewonde en entoesiasties raak oor aardse sake nie.  Hoe argeloos is hulle oor hul ewige bestemming?  Ek vra u ‘n eenvoudige vraag – Glo u die Evangelie?  Hierdie kosbare boodskap?  Besef u die noodsaaklikheid daarvan dat u weet of u dit glo aldan nie!  Hierdie is van ewigheids belang!  Die Here Jesus het self per geleentheid gesê “wees baie versigtig met dit wat julle hoor” [take head how you hear].  Besef u, dierbare vriende, dat ons in die ewigheid sal moet antwoord, hoe ons na hierdie woorde geluister het?  Dit is hierdie wat ons ewige bestemming sal bepaal.  Niks, niks is dus meer belangrik as om te glo nie.  Nou kan ons oorgaan na ons volgende vraag.

WAT IS DIE PRESIESE AARD EN INHOUD VAN GELOOF?

As ons Here Jesus dan hierdie een woord so baie herhaal, wat beteken dié woord dan?  As hierdie woord om te glo of dan nie te glo nie ‘n mens se finale bestemming bepaal, wat beteken dit dan nou eintlik.  Kom ons stel dit eerstens op ‘n negatiewe manier.  Om te glo is nie maar net om eenvoudig te sê dat ‘n mens in sekere dinge of goed glo nie.  Dit sluit dit in maar is nie slegs dit nie.  Daar is ‘n verskil tussen wat die Skrif as geloof definieer en wat ‘n mens gelowigheid kan noem.  Dit is baie maklik om te sê dat ‘n mens iets glo.  Dit is egter nie die geloof van die Woord nie.  Tweedens is geloof volgens die NT nie net om sommer intellektueel saam te stem met sekere stellings en bewerings nie.  Natuurlik sluit dit weereen dit ook in.  Dit eindig egter nie hier nie.  Dit is moontlik om teoreties in geheel met die Skrif saam te stem.  Daar is dié sulkes.  Dit het egter geen invloed hoegenaamd op hul lewens gehad nie. 

Dit kan intelektuel mense wees wat gladnie in so ‘n atmosfeer groot geword het nie en baie belangstel in hierdie dinge.  Hulle kan selfs die Bybel ken en selfs daaroor redeneer.  Die Bybel het egter geen invloed op hul gedrag en hul lewenswyse nie.  Dit het nog nooit enige invloed op hul gees uitgeoefen nie.  Dit is iets wat aantrek maar ‘n persoon kan waarlik intellektueel, suiwer objektief en en slegs ‘n belangstelling selfs in die Woord van God en in die Evangelie van die Here Jesus Christus hê.  So dit is ook nie dit nie.  Ons kan selfs ‘n stap verder gaan.  Geloof wat die Here Jesus hier bedoel is ook nie om maar sommer net sekere goed ivm Hom te glo nie.  Natuurlik is daar sekere goed wat ons van Hom moet glo maar ek wil graag aan u toon dat hierdie derde manier van glo ‘n groot mate van verstaan, insig en begryp inhou.  Dit sluit dus ‘n hele paar dinge in.  Sonder enige huiwering sal mense saamstem dat Jesus van Nasaret die beste mens was wat ooit hierdie aarde betree het.  Natuurlik is dit waar.  Hulle sal ook saamstem dat Jesus Christus die grootste Leermeester ooit was.  Weereens is dit absoluut waar.  Hulle sal selfs sê dat die Bergpredikasie die hoogste etiese waardes inhou waarmee die wêreld ooit gekonfronteer was.  En natuurlik is dit ook reg.  Maar om in die Here Jesus te glo is nie net dit nie.  Mense neem goed van Hom en sê hulle glo dit en dan dink hulle hulle glo in Hom.  Geloof moet egter verklaar word soos wat Jesus Homself dit verklaar het.  En Hy het dit hier perfek en eenvoudig en duidelik verklaar.  Kom ons kyk weer daarna.  Kom ons som dit op.  Wat presies is dit om in die Naam van die eniggebore Seun van God te glo.  Dit beteken dat ons hierdie spisifieke lering wat die Here Jesus aan Nikodemus gegee het, glo.  Dit sluit in ‘n totale denkwyse, ‘n geesteshouding en gemoedsgesteldheid.  Nou wat beteken dit alles?  Eerstens sal ons Sy lering omtrent die mens en sy sondigheid – die mens met sy aangebore sondigheid – as die waarheid aanvaar.  Die Here Jesus praat van die mens wat besig is “om verlore te gaan” – KJV sê:  “That who so ever believeth in Him should not perish.”  Hy praat daarvan in die 15de vers en weer in die 16de vers.  God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Om in die Here Jesus Christus te glo, sluit die volheid van hierdie vers in.  Ons kan nie praat van glo in Hom, sonder die volle implikasie van wat in hierdie vers vir ons uitgespel word nie.  Dit sou onvolledig en onvoldoende wees.  Hierdie moet dus die beginpunt van geloof wees.  Dit is dus enigsins netnie genoeg om slegs te sê, O, Ja!  Ek glo dat Jesus van Nasaret die Seun van God is nie.  Ek glo dat Hy wonderwerke kon doen en dat Hy ons sekere dinge kom leer het.  Ek glo dit alles.  Maar die lewensbelangrike vraag is dit:  Glo jy dat jy jouself besig is om verlore te gaan – besig is om te vergaan?  Wat is dit dan wat die mens nodig het? 

As jy dan glo dat Jesus van Nasaret die Seun van God is, hoekom het Hy na hierdie wêreld gekom?  Hoekom was dit ooit nodig dat Hy oes kom?  U sien, dit is deel daarvan om in Hom te glo en Hy het dit self perfek vir ons kom duidelik maak – Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so MOET die Seun van die mens verhoog word.  Die mensdom, elke een van ons, is van nature in ‘n verlore en verganklike toestand.  Glo ons dit?  Dit is nie genoeg om Hom as persoon te admireer en te sê ons dink dat Hy ‘n lieflike persoon was en dat sy lering goed en mooi was nie.  Dit is nie juis moeilik nie.  Wat moeilik is, is om die waarheid omtrent onsself te erken.  In wese het die mens nog altyd daarteen beswaar gemaak.  Dit maak steeds daarteen beswaar.  

Charles Wesley het ‘n groot goddelike lied geskryf:  “Jesus, this lover of my soul.”  Onder andere lees een sin “vile, and full of sin I am, Thou art full of truth and grace.”  ‘n Man het skriftelik hierop kritiek gelewer en gesê:  wat ‘n verskriklike ding om te sê.  Het jy al ooit van iemand wat vir ‘n pos aansoek doen, gehoor dat hy sou sê:  “I am vile and full of sin.”  Natuurlik nie.  En ‘n mens moet dit ook nooit sê nie.   Maar dit is presies ‘n essensiële deel van hierdie geloof wat Jesus van praat.  Jesus praat met Nikodemus en dit is presies wat Hy besig is om hom op die hart te druk – hierdie Nikodemus wat gedink het hy kan homself red deur ‘n goeie Fariseër te wees en deur ‘n goeie lewe te lei.  Nee!  Nee!  Sê Christus.  Jy kan nie.  Hoekom nie?  Kom, Ek MOET verhoog word soos wat Mosews die slang in die woestyn verhoog het.  Jy is verlore, jy is besig om te vergaan.  Jy kan nie jouself red nie.  Ek het gekom om jou te red.  Dit is ‘n essensiële deel van geloof.  Jy glo nie maar net in die Seun van God, die Here Jesus Christus, as ‘n vriend of ‘n helper of asof Hy iemand is wat op bystand is nie.  Jy glo in Hom as jou Redder en Verlosser.  Jy glo in Hom as die Een wat gekom het en sy siel geoffer het vir jou sonde.  Jy glo aan hierdie MOET van Hom.  Hy het self gesê as Hy dit nie sou doen nie was ons almal verlore.  Almal is verdoen.  Om te glo beteken ook dat ons dit glo.  Dit hou die wete in waarom Hy na hierdie wêreld gekom het.  Hierdie wete laat jou besef dat jy jouself en jou ewige toekoms in totaal op Hom sal werp en aan Hom sal toevertrou.  As ek dan sê dat ek in die Naam van die eniggebore Seun van God glo kan dit dus opsom deur te sê:  Ek is maar net ‘n Pelgrim op reis deur hierdie wêreld en dat ek te alle tye onder die oë van God is.  Ek weet ook dat wanneer ek te sterwe kom, ek saam met alle ander mense voor God op sy groot wit troon sal verskyn, die boek van die lewe sal geopen word en almal sal geoordeel word na wat in die boek geskryf is, volgens hul werke.  [Open. 20]  Ek is gedoem, ek is verlore.  Niks wat ek doen kan my ooit red nie.  Maar nou sien ek dat God my so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het om my sonde op Hom te neem asook die straf daarvoor.  Hy het Sy lewe vir my gegee. 

Hy het gesterf sodat ek vergewe kon word.  Hy het gesterf om my goed te maak.   Ek glo dat Hy reg uit die hemele gekom het na hierdie aarde om DIT vir my te doen.  Hy red van my die verskriklike gevolge van sonde.  Omdat ek dit insien, verlaat ek die lewe wat ek tot hier gelewe het, die wêreld waaraan ek behoort het en nou volg ek Hom.  Om te glo sluit al hierdie genoemde dinge in.  Jy kry nou ‘n totale prent van die lewe.  Jy besef dat jou ewige bestemming die grootste en belangrikste ding in hierdie lewe en in hierdie wêreld is.  Dit is ‘n saak van dringendheid en despirasie.  Die waarheid word in die oë gekyk en nou weet jy dat jy alles moet vermy wat die oorsaak was van die toestand waarin jy was.  Dit is wat dit beteken om in die Here Jesus Christus te glo.  Hierdie dinge neem nou die sentrale punt in jou lewe in.  Dit is die dinge wat jou lewe begin beheer.  Elke deel van my lewe word nou beheer deur hierdie oorheersende wete dat ek God as Opperwese bo my het en dat ek Hom eendag van aangesig tot aangesig sal ontmoet.  Ek is ‘n kind van God wat deur hierdie lewe beweeg.  Die Apostel stel dit so mooi in sy 1ste brief:  Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.  Glo jy in die Naam van die eniggebore Seun van God?  Is dit vir jou die grootste ding in jou lewe?  En is dit die wete wat jou hele lewe beheer?  Watse grootse ding is dit op te glo!  U weet, ‘n mens moet dit eers deurwerk, deurdink … en as ‘n mens dit eers gedoen het, dan kan jy jouself aan Hom toevertrou.  Om te glo is dus nie net om te sê ek glo nie;  net net sê ek glo sekere goed of dinge nie.  Dit is eintlik vir die mens ‘n Tuiskoms.  Hierdie waarheid het Jesus Christus by Nikodemus probeer tuisbring.  Dit is die betekenis van die woord ‘verlore’ of ‘vergaan’.  Dit is die besef dat ons almal hierby betrokke is en dat ons einde enige oomblik kan aanbreek en ons van aangesig tot aangesig voor Hom sal staan.  Dit is die besef van al hierdie dinge en ons oorgee van onsself aan Christus en ons toevertrou van onsself in totaal aan Hom.  Om te glo – dit is wat dit beteken.  God dank!  ‘n Mens kan dit in ‘n  oomblik besef.

DIE ONSAGLIKE AFGRYSLIKHEID VAN ONGELOOF
Ons het na die belangrikheid van geloof gekyk.  Ons het gekyk na die inhoud en karakter van geloof.  Nou gaan ons bietjie stilstaan by die teenoorgestelde van geloof – ongeloof.

V.18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie;  maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. Daar is geen groter sonde as juis die sonde van ongeloof nie.  Daar is geen sonde waar die woorde yslikheid of ontsaglikheid of afskuwelikheid so van toepassing is as juis by hierdie sonde nie.  Jammerlik tog hoe maklik ons op ‘n dwaalspoor kan kom.  Ons klassifiseer sonde mos.  Is dit nie so nie?  En dan is daar mense wat, in hul gebrek aan kennis, dink dat hulle nog nooit sonde gepleeg het nie, want hulle het sekere dinge mos nog nooit gedoen nie.  Ek wil beweer dat daar geen groter sonde is as ongeloof nie.  Dit is wat die Here aan Nikodemus gesê het.  Omdat Hy nie in die Naam van die eniggebore Seun van God geglo het nie, is hy reeds veroordeel.  Hoekom sou hierdie dan die grootste sonde wees?  Die grootste rede hiervoor is dat ons volhou met ons eie opinies teenoor God se waarheid en God se openbaarmaking van Sy waarheid.  Dit is die beginsel of oorsaak van ongeloof.  Elkeen van ons, soos wat ons hier sit, is in een van hierdie twee situasies – geloof of ongeloof.  Of ons aanvaar die lering van die Skrif ivm God en die mens en sy siel, sy lewe in hierdie wêreld, die dood en wat na die dood gebeur, en die ewigheid.  Of ons aanvaar die openbaring hiervan, of – en dit is die enigste alternatief – ons vorm ons eie gedagtes, idees en opinies.  Ons kan natuurlik ook die gedagtes en opinies van ander mense aanvaar indien ons so sou wou besluit.  Mense sê mos “dit is wat ek glo.’  Daardie man sê dit net beter as wat ek dit myself kan sê.  Daardie wetenskaplike of filosoof sê dit of dat – dit is wat ek glo. Wel, jy kies sy opinie, ‘n menslike opinie of jou eie opinie teenoor God se opnbaring of onthulling.  Dit is ‘n verskriklike ding om te doen.  As ek niks ander vandag doen nie, vra ek u om baie ernstig oor hierdie saak na te dink waaraan soveel mense hulself skuldig maak.  Mense wat die saak van God verwerp, selfs daaroor lag en dit afmaak as van geen belang.  Hulle besef nie dat hulle die openbaring van God verwerp en wegwerp nie.  Daar is net een woord om dit te beskryf:  Afgryse!  Kom ons kyk ‘n bietjie meer in diepte na hierdie saak.  Hoekom is ongeloof so ‘n verskriklike ding?  Dit verwerp eerstens die wet van God.  Ook God se oordeel oor ons en oor sonde.  Hierdie is nie my opinie nie.  Dit word verklaar en verduidelik in die Skrif.  Hul denke of opinie is dus eintlik teen die Woord van God.  Dit is in die Woord wat ons die wet van God vind.  Daar vind ek uitsprake aangaande my lewenshouding, my gedrag en eintlik oor alles rakende my lewe hier op aarde.  Indien ek dan nie glo in die Naam van die eniggebore Seun van God nie, is ek eintlik besig om die wet van God oor my lewe, te verwerp.  Die wet van God vra dat ek God sal liefhê met my hele hart, met my hele siel en verstand en met al my krag.  En om my naaste lief te hê soos myself.  Die wet van God vra dat ek absoluut en in totaal tot die verheerliking van God sal leef.  En dit sê ook baie duidelik dat indien ek dit nie doen nie, ek in ‘n staat van verlorenheid en onder die gramskap van God verkeer.  Om dus nie in die Here Jesus Christus te glo nie, is om hierdie genoemde dinge te verwerp.  Om dit af te maak en jou nie daaraan te steur nie.   Hoe moeilik is dit tog om te besef dat dit presies is wat ons doen as ons die Evangelie verwerp.  Dit is mos outydse dinge hierdie.  Solank ‘n mens ‘n goeie lewe lei, niemand kwaad aandoen nie, goeie maniere het en rustig lewe, is die saak mos reg.  My liewe mens, dit is net so goed ek vat die wet van God en ek gooi dit op die vloer en spoeg daarop;  of gooi dit in die vuur en verbrand dit. 

God se wet!  Weet u wat gebeur met die man wat die landswet vat en dit so behandel?  Well, vermenigvuldig dit met oneindigheid en jy sal weet wat met ‘n mens gebeur wat dit met God se wet doen.  Dit is presies wat ongeloof beteken.  Jy staan op en jy sê jy steur jou gladnie aan hierdie dinge nie.  Jy praat van sonde, jy praat oor die oordeel, jy praat oor die hemel en die hel en jy glo nie in enige hiervan nie.  Al wat ek weet – so ‘n persoon verwerp moedswillig God se Woord asook wat God oor Homself openbaar.  Ook oor God se verhouding met Homself en die mens.  Kan daar iets meer tragies wees?  Maar luister hierna.  Dit is iets ergers!  Om nie die Evangelie te glo nie beteken jy verwerp die getuienis van God oor Sy eniggebore Seun.  Dit is wat Hy hier vir Nikodemus sê.  Is dit nie?  Hy is alreeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die eniggebore Seun van God geglo het nie.  Ag, dat die Heilige Gees hierdie feit eenvoudig en duidelik sal maak.  Daar is een ding wat die mensdom nie begryp nie.  Iets unieks het in die geskiedenis van die hele mensdom plaasgevind – 2016 jaar gelede het dit gebeur.  Daar was ‘n geboorte in Betlehem.  ‘n Baba soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie, is gebore.  Dit was nie maar net nog ‘n baba wat gebore is nie – dit was die ewige Seun van God wat in tyd ingekom het;  wat vlees geword het.  Die Woord het vlees geword en tussen ons kom woon.  Hierdie is nie die woorde van ‘n edele en belangrike mens nie.  Die Seun van God, die eniggebore Seun van God, was tussen ons.  Hy het kom getuig en self vertel.  Dit is wat Hy aan Nikodemus sê.  Luister hoe Hy dit self sê:  Ons spreek wat Ons weet en Ons getuig van wat Ons gesien het, en julle neem Ons getuienis nie aan nie.  Nikodemus, jy is ‘n owerste van die Jode, jy is ‘n groot en godsdienstige leermeester.  Ja, maar sê vir My, was jy al in die hemel?  Het jy al oor God se skepping uitgekyk?  Het jy al in die Boek van die Lewe gekyk?  God se wetsboek?  Jy praat tweedehands.  Jy praat wat jy gehoor het?  Ek het gesien!  Ek is ‘n getuie!  Ek is ‘n direkte getuie.  Ek kom vanaf die hemele!  Ek is die Seun van die mens.  Ek is die eniggebore Seun van God.  En weet u?  Ek en u soos wat ons na die Evangelie luister, luister na Sy getuienis en sy verklaring van die dinge daarbo.  Maar luister net, aan die einde van hierdie hoofstuk stel Hy dit selfs nog duideliker.  Dit kom in die woorde van Johannes die Doper.  Luister na v.31  Hy wat van bo kom, is bo almal, hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde.  Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.  Sommige van Johannes se dissipels was eintlik ‘n bietjie jaloers namens Johannes oor al die mense wat eers na hom geluister het en nou almal oorgaan na Jesus toe.  Luister, sê Johannes, Hy moet meer word, maar ek minder.  Hy wat van bo kom, is bo almal.  Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 

Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy;  en niemand neem sy getuienis aan nie.  Wie Sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.  Kan dit enigsins meer duidelik aan ons gestel word?  As ons die Evangelie verwerp, verwerp ons die getuienis van die Seun van God.  Dit is ons verklaring.  Dit is nie godsdiens nie.  Godsdiens is iets wat deur die mens bedink is.  Hierdie is die Seun van God.  Dit is openbaarmaking!  God het baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek deur die profete, maar in hierdie laaste dae spreek Hy deur die Seun;  Hy wat die afskynsel is van Sy heerlikheid en die afdruksel is van Sy wese en alle dinge dra deur die woord van Sy krag.  Dit is die Een wat hier praat.  Sien u die afgryse daarvan om dit te verwerp?  By die verwerping hiervan, verwerp ‘n mens nie die woorde en teorieë van ‘n mens nie.  Ons gooi as’t ware Sy goddelike getuienis in Sy gesig terug!  Die getuienis van die eniggebore Seun van God.  Maar kom!  Daar is selfs nog iets ergers.  As ons Hom en Sy boodskap verwerp, as ek sê ek is nie hierin geinteresseerd nie, ek gee nie om nie – dit is presies wat ‘n man by implikasie sê wat nie ‘n Christen is nie – hy stel nie  belang in wat 2000 jaar plus gebeur het nie.  Hy glo nie in inkarnasie nie.  Hy ontken die mees gewigtige saak wat ooit in mense heugenis plaasgevind het.  Hy doen eintlik iets veel ergers!  Hy verwerp nie slegs die getuinis van die Seun van God nie, hy verwerp God se getuienis van Sy eie Seun.  Het u al hieraan gedink?  Hoor weer mooi na hierdie woorde:  Wie Sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.  Johannes die Doper sê dat die een wat in die Here Jesus Christus glo,  sy seël daarop sit dat God se getuienis oor sy Seun, die waarheid is.   Maar hoor hoe stel hy dit in ‘n negatiewe vorm – Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie [1 Joh. 5:10]  So, as jy hierdie boodskap verwerp, as jy die Seun van God verwerp – wat jy dan eintlik doen is dit:  Jy maak God tot leuenaar.  Wat ‘n vreeslike ding om te doen.  Dit is waarom ons hierdie term ontsaglike afgryslikheid gebruik.  Die afgryslikheid van sonde.  Dit maak God tot leuenaar want God het getuig aangaande Sy Seun.  Hoe het Hy dit gedoen?  Wel, Hy het dit op verskeie maniere en tye gedoen.  Onthou u die doop van ons Here Jesus Christus in die Jordaan?  Daar was Hy net ‘n mens en het Homself onderwerp aan die doop van Johannes.  Maar onthou u die Heilige Gees wat in die vorm van ‘n duif op Hom neergekom het toe Hy uit die water uitgekom het?  En die stem uit die hemele wat sê:  Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  God praat uit die hemele uit en getuig wie hierdie man is wat gedoop is.  Glo u dit?  Aanvaar u God se getuienis?  Hy sê:  Ek het My Seun vir jou gestuur.  Glo jy Hom of sê jy ook dat Hy ‘n leuenaar is?  

Maar Hy getuig nie net van Hom hier met die afdaal van die Heilige Gees en met die Stem wat gehoor is nie.  Hy het ook gepraat op die berg van verheerliking.  Selfs die verstommende wonderwerke is God se getuienis van Sy Seun.  In despirasie het ons Here Jesus eendag na die Jode gedraai en vir hulle gesê.  As julle nie in My glo nie, glo dan die werke wat Ek doen.  As julle dan nie my woorde wil glo nie, kyk na dit wat Ek doen!  Hy moes eintlik amper dieselfde aan arme Johannes die Doper sê.  Johannes was vir maande in die tronk en as gevolg van sy fisiese aftakeling en verskeie ander redes, het dit by hom opgekom om van sy dissipels na Jesus te stuur en te vra of Hy die Een is wie hulle moes verwag of moes hulle vir iemand anders uitkyk.  Onthou julle die Here se reaksie hierop aan die twee afgevaardigdes?  Gaan, gaan vertel vir Johannes van al die dinge wat julle sien en hoor.  Die blindes sien, die lammes loop, die melaatses is rein.  Die dowes hoor en selfs die dooies staan weer op.  Die Evangelie word gepreek aan die armes.  Dit is Sy getuienis.  Die wonderwerke.  Die tekens.  Dit was God se manier om te getuig van sy eniggebore Seun.  En dan natuurlik iets selfs hoër en groter as al hierdie dinge.  Die opstanding!  Hy was die eerste wat waarlik uit die dood opgestaan het.  Verklaar as die Seun van God met mag volgens die Gees van heiligheid by die opstanding uit die dode.  Dierbare vriende, ek hou dit aan u voor – God het getuig van Sy Seun van van Sy Woord.  Glo u dit?  Aanvaar u dit?  Dit beteken net dat as u dit nie glo nie, u God tot leuenaar maak.  Ons hoef eintlik nie eers hieroor te redeneer nie.  Die een wat God tot leuenaar maak is reeds veroordeel.  Die enormiteit van sonde word gesien in die mens wat nie in die  eniggebore Seun van God glo nie;  wat dit verwerp en as’t ware God se liefde en wonderbare weg van redding teruggooi in sy heilige aangesig.  God het die wêreld so lief gehad.  As jy Hom of Sy boodskap nie glo nie, dan draai jy jou rug op Hom en op Sy kosbare liefde.  Jy sê jy is nie geinteresseerd nie?  Dit maak niks saak nie.  Al het die Seun die hemele verlaat en Homself hier kom verneder – dit raak u nie?  Al het Hy die smaad en leiding van die kruis verdra – jy gee daar niks voor om nie?  Een ding is seker:  die kruisdood van die Seun van God is vir jou die grootste ding in jou lewe – of jy glo dit nie.  Om dit nie te glo nie, die uitstorting van God se ewige liefde – dan is daar niks om vir jou te sê nie.  Behalwe dat so ‘n mens homself verdoem.  Hy stel homself buite God se grootse liefde – die enigste ding wat hom kan red en hom verlos.  My dierbare vriende, het ek dit vir julle duidelik genoeg gemaak?  Die enormiteit en verskrikking van ongeloof.  Daar is niks ergers as dit nie.  U verwerp die grootste heerlikheid en mees wonderlikste.  Daar bly niks oor as net die gevolge te dra van hierdie verwerping nie.
Ek wil u egter nie op so ‘n lae noot laat nie.  Kyk na Hom!  Dink aan Hom!  Kyk na hierdie Persoon wat met Nikodemus gesels het.  Luister na Sy woorde.  Ervaar Sy outoriteit.  Luister na alles wat Hy gesê het.  Kyk op na die kruis en sien daar die eniggebore Seun van God besig om te sterf vir my en jou sondes.  Hy wat ons versoen het met God en die weg gebaan het na die hemele.  O!  Maar voordat u en ek by die hemele kom – Hy sal alles hier nuut maak.  Ons sal vir seker weet van die geseënde wedergeboorte.  Ons sal vir seker nuut word.  Alles sal nuut wees en ons sal die glimlag en die liefde van God smaak.  Mag God verhoed dat hier vandag iemand uitgaan in ongeloof.  

Amen.

0:00
0:00