JOHANNES-REEKS NO 46

Tema: Die donkerste uur in die geskiedenis

 

Skrif: Johannes 19: 16-42

 

Dis belangrik dat ons nie die kruisdood romantiseer nie. Ja, wat Christus gedoen het is groots. Wat Hy as ú plaasvervanger gedoen het is onpeilbaar & ewig. Maar ons moenie vergeet dat hierdie kruisiging die donkerste paar ure in die geskiedenis van die mens was nie. Só donker, dat daar letterlike duisternis in die middel van die dag oor Jerusalem gekom het terwyl ons Here aan die kruis hang. Daar was ook ‘n geweldige aardbewing wat die stad geskud het.

 

Indien ons Here Jesus nie werklik fisies gesterf het nie, dan het Hy glad nie gesterf nie. As Hy nie gesterf het nie, het Hy nie in ú plek ú dood as ú plaasvervanger gesterf nie. Dan het Hy nie ú verbintenis met Adam & die ou Adamiese bedeling verbreek nie. Dan het Hy nie jóú duisternis en hel binnegedring nie. Dan was u nog vanoggend in u sonde. As Jesus nie werklik gesterf het nie, het Hy nie voltooi wat die Vader Hom gegee het om te doen nie. Dan is die Bybel onder verdenking.

 

Maar Hy hét gesterf. In vers 33 rapporteer Johannes duidelik: “Hulle het gesien dat Hy dood is.” En dan word Sy begrafnis beskryf.

 

Opvallend dat die Heilige Gees vir Johannes verhoed om enige dramatiese detail van die kruisiging te gee – soos wat ons as mense dit sou doen. Hy gee absoluut geen beskrywing van die kruisiging self nie. Die vertelling is baie kort en baie sober. Maar tog gewigtig.

 

Johannes die Apostel is reeds ‘n ou man en hy dink terug oor wat gebeur het. En hy kies om vir ons 6 sketse te gee. Ses kort tekeninge van wat gebeur het. Ons taak is om dit te lees en dit te oordink en die H Gees te vertrou om vir ons insig te gee.

 

EERSTE SKETS: Verse 16-22 >> JESUS SE WARE IDENTITEIT WORD ERKEN > Pilatus het geweet dat Jesus onskuldig is en tog lewer hy Hom uit. Hy onderteken die magtiging. Net hy alleen het die outoriteit gehad om dit te doen. Hy wou dit nie doen nie, maar die Jode het druk op hom geplaas. Hy het voor sy siel geweet dat Jesus onskuldig was. Sy handtekening was egter op die magtiging. Hy het vir Jesus weg-geteken. En homself gekies.

 

Dan word die Meester weggelei om gekruisig te word. Ons het reeds gesien hoe Hy gely het, gekasty is, verrinneweer is, gebind is, geslaan is, gespot is, gegésel is. Hy was moeg sonder iets om te eet of te drink. Nou moes hy ‘n swaar houtkruis dra tot buite die stadspoort. Hy was so uitgeput dat iemand anders die kruis moes dra – Simon van Cirene. Só is Hy nog verder verneder. Dit was algemene Romeinse gebruik om misdadigers wat gekruisig sou word, deur die strate te laat stap – terwyl hulle hul eie kruis dra – sodat hulle gespot & gesmaad kon word en daar op hulle gespoeg kon word. Nou loop die Here van heerlikheid dieselfde pad. Om uiteindelik op die kruishout vasgekap te word.

 

Kruisiging was een van die ergste maniere van doodstraf wat nog ooit aan die mens bekend was. Soms het die mense vir lang periodes so in skroeiende hitte gehang. Daarmee saam die ontsaglike pyn om vasgekap (nie gebind) te word. Normaalweg het die mense se gewrigte uit lit geruk wanneer die kruis opgetel en die voetstuk in die gat laat val is.

 

Die grootste lyding was egter die versmoring. Want die liggaamsgewig wat afwaarts trek, het die borskas laat invou en om asem te kry moes die slagoffer homself heeltyd met sy bene boontoe druk. Maar hoe doen jy dit as daar penne deur jou voete gekap is? Waarop trap jy en hóé trap jy? Dit is eenvoudig ondenkbaar erg.

 

En om te dink dat twee opperste misdadigers ook nog weerskante van die Here gekruisig word. Wat ‘n belediging. “As Hy dan vir sondaars gekom het, laat Hy dan Sy laaste oomblikke in sulkes se geselskap spandeer”. Hulle het egter nie besef dat hulle die profesieë – wat meer as 700jr tevore uitgespreek is – vervul nie. Bv Jesaja 53:9 > onder die oortreders getel.

 

Pilatus het ook ‘n opskrif bo Jesus se kop geplaas. Bedoel as ‘n verwyt: “O, Hy wat van die veragtelike Nasaret kom, is die Kóning.. ag sjaaim.” Hy wou smaad ontlok. Wat goeds kan uit Nasaret kom?

 

Dit was dalk die enigste keer in die geskiedenis van die Romeinse Ryk, dat die inskripsie bó ‘n gekruisigde geen melding maak van die misdaad wat die betrokke persoon begaan het nie! Altyd is ‘n lys misdade en aanklagte bokant ‘n gekruisigde vasgekap. Maar híérdie opskrif beklemtoon net Jesus se onskuld! Hoewel Pilatus dit as smaad bedoel het, het dit eintlik die Here se koninklike eer bekragtig! Letterlik álmal kon dit lees, want dit was in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf. Dit was die drie tale wat almal kon verstaan. Die nasies.

 

So word die inskripsie ‘n profesie van wat 6-7 weke later met die uitstorting van die Heilige Gees gaan gebeur. Mense van alle nasies sal dan in hul eie taal hoor hoe hierdie Jesus as Koning gepreek word! En vandag, na meer as 2000 jaar, word hierdie Koning in bykans alle tale ter wêreld aanbid. Só het die Heilige Gees vir Pilatus in sy onkunde gebruik om met sy simpel bordjie ‘n groot profesie uit te spreek.

 

Die Joodse godsdienstige leiers het egter omtrent die stuipe gekry om te dink dat Jesus as hulle Koning verklaar is. Daarom storm hulle weg na Pilatus toe om die bewoording verander te kry. Maar Pilatus – ewe skielik ferm – antwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Hy weier om die bewoording te verander. En so sterf Jesus met daardie woorde bokant Sy kop: want dit was/is Hy regtig! Al die profesië oor Hom is in Hom vervul.

 

Dis die eerste skets: Jesus se ware identiteit word deur Pilatus erken.

 

TWEEDE SKETS: Verse 23-24 > JESUS SE KLERE WORD VERDEEL > Vier soldate was gebruik in die kruisigingsproses. Nadat hulle die Here gekruisig het en nadat hulle die kruis met toue opgelig het en laat inval het in ‘n gat in die grond, het hulle niks anders te doen gehad as om net daar te sit en te kyk hoe Hy sterf nie.

 

Wat hulle wél gedoen het, was om die Here se klere tussen hulle te verdeel. Want hulle het Hom nakend opgehang. Dit was deel van die skande van die straf – soos die Romeine dit ontwerp het. Alle misdadigers is só gekruisig. So het die Here Jesus ons skande op Hom geneem, toe Hy sonde vir ons gemaak is. In Hom hang óns daar en word ons skande vir ewig uitgewis en Sy onskuld word óns toegereken. Hy die skandelike skuldige, ú die onskuldige.

 

Die bo-kleed was eintlik ‘n priesterkleed, sonder nate van bo tot onder in een stuk geweef. Wat sou hulle hiermee doen? Hulle werp die lot om te sien wie s’n dit sal wees. Wat ook ‘n vervulling van die Skrif was. Psalm 22:19. ‘n Psalm wat Dawid 1000jr voor Christus se koms geskryf het. Dawid het dit o.l.v die Heilige Gees vanuit die gesigspunt van die Messias self geskryf. Gaan lees maar verse 14-16 – dis ‘n beskrywing van die presiese ervaring van ‘n gekruisigde mens.

 

Toe die Jode daar verbyloop en sien wat die soldate doen, moes diegene wat iets van hulle Bybel geweet het, aan Psalm 22 gedink het. Wat hulle sien, moes hulle in verband kon bring met hierdie aangrypende profetiese psalm. Maar hulle sien, sonder om te sien. Soos duisende vandag nog sien, sonder om te sien – blind vir die Here Jesus wat honderde profesieë letterlik in Homself vervul het. Baie mense kan nie sien dat die Bybel God se eie Woord is nie. Hulle staan in die oggend op en gaan slaap in die aand sonder ‘n dorstigheid om God se eie Woorde in te drink. Siende blind.

 

Psalm 22 kon slegs onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf word – 1000jr voor die vervulling daarvan. En dit geld vir elke woord in die Bybel.

 

DERDE SKETS > Verse 25-27 > MARIA WORD VERSORG > Onthou al die dissipels het gevlug. Behalwe Johannes en vier vroue soos geïdentifiseer in vers 25. Hulle identifiseer met hierdie Man van wie daar byna niks meer oor is nie. ‘n Mens wonder waaraan Maria gedink het toe sy daar staan. Heel waarskynlik het sy gedink aan die wonderbaarlike dag toe Gabriël aan haar die nuus gebring het dat sy deur die Heilige Gees die moeder van die Messias sal wees. Sy moes dink aan Simeon se woorde – ‘n swaard sal deur jou siel gaan. Sy het seker gedink aan Sy wonderlike lewe en woorde, sy bediening, Sy wonders.

 

Die Here sien egter vir Maria – sy eie moeder. Geen selfbejammering in Hom. Sy pa Josef is lank gelede reeds oorlede. Wat sal van Maria word? Veral in daardie eerste eeuse kultuur, waar daar geen toekoms vir weduwees was nie. Daarom verwys Hy haar na Johannes as haar seun en Hy verwys Johannes na haar as sy moeder. Hy dra Sy ma aan Johannes se sorg op. Ons moenie ons blindstaar teen die benaming “vrou” in vers 26 nie. In die eerste eeu se Palestynse kultuur was dit die manier hoe ‘n seun met respek en ontferming na sy ma verwys het. Die Here het haar gewoonlik só aangespreek. Hy het Sy moeder geëer en die 5de gebod in ons plek vervul. En Johannes, wat die groot apostel sou word, was nederig genoeg om iemand anders se ma in sy huis as sy eie moeder te neem.

 

VIERDE SKETS > Verse 28-30 > JESUS SE LEWE GEGEE > Jesus praat weer eens. “Ek is dors”. Geen wonder nie. Hy was die vorige aand reeds inhegtenis geneem. Deur die nag was Hy deur ‘n reeks onsinnige verhore. Hy is 9vm gekruisig en dit was nou byna 3nm. Weer eens Psalm 22. Maar die spesifieke Skrif waaraan die Here daar gedink het was Psalm 69:19. Sodat ook daardie Skrif vervul kon word, roep die Here: “Ek is dors.”

 

Digby die kruis was daar ‘n houer met suur wyn (asyn). Dit was die normale drankie van die soldate in daardie tyd. Nou word hierdie suurwyn op ‘n spons by die Here se mond gehou. So word die OT profetiese woord vervul.

 

Die belangrikste rede egter waarom Hy juis op hierdie punt sy lippe & tong moes natmaak, was sodat Hy in staat sou wees om die grootste woorde van alle woorde uit te roep: Vers 30 > “Dit is afgehandel. Dis is volbring. Dit is klaargemaak”. Die grootste aankondiging! Sy lyding is klaargemaak. Die taak wat Sy Vader Hom gegee het, is klaargemaak. Alles in die OT wat na Hom heengewys het, is vervul. Die skuld van die mensdom se sonde is betaal. Die hel is verslaan. Die hemele is oop. Sondaars is verlos. Jý is in/met daardie woorde BEVRY!

 

Toe buig Hy Sy hoof en gee Sy gees. Geen gekruisigde mens in die hele geskiedenis het só gesterf nie. Sonder uitsondering het álmal gesterf met ‘n laaste wanhopige poging om asem te krý. Maar Christus géé Sy gees. Hy kies Sy oomblik van sterwe. Hy bly in volle beheer. Hy het Sy menslike lewe bonatuurlik ontvang. En Hy het dit bonatuurlik gegéé.

 

VYFDE SKETS > Verse 31-37 > JESUS SE DOOD GEVERIFIEËR > Vers 31 is skokkend: Die een oomblik dink die Jode niks daarvan om hulle Messias te kruisig nie. Die volgende oomblik is hulle vreeslik besorg oor die Sabbatdag – dat Sy liggaam tog net nie op die kruis sal hang wanneer die Sabbat aanbreek nie (teen sononder die Vrydagaand). Geen probleem om ‘n onskuldige te vermoor nie. Maar net nie sy liggaam op die kruis laat wanneer Sabbat aanbreek nie! Dit is hoe verwronge godsdiens is!

 

Daarom moes Pilatus gevra word om sorg te dra dat die gekruisigdes se bene gebreek word. Dit sou verseker dat hulle onmiddelik versmoor omdat hulle nie meer hulself kon opdruk om asem te kry nie. Daarom was daar altyd hamers gereed om die bene te breek.

 

Voordat die soldate Jesus se bene kon breek, ontdek hulle egter dat Hy alreeds dood was. Maar om seker te maak druk hulle ‘n spies in Sy sy. En Johannes was daar en hy sien met sy eie oë hoe daar bloed & water uitkom. Dit was ‘n bewys dat die hart geskeur was. Wat ‘n vervulling was van Psalm 69:20.

 

Toe Johannes dit alles gade slaan, besef hy wat gebeur het. In die oënskynlike nederlaag wat Jesus ly, word die OT-Skrifte waargemaak. Wat die Heilige Gees 1000de jare te vore gesê het, gebeur nou voor hulle oë. Hy sien hoe die bloed en water uit Jesus se sy loop: Bloed = teken van die vergifnis van sonde. Water = teken van reiniging. Die kruis het met die mens se sondes gehandel. Die beloofde Messias het dit gedoen – gekruisig as plaasvervanger van ‘n verlore mensdom. Gekruisig om die mensdom se duisternis binne te dring en die mensdom terug te dra tot  binne-in die lewe van die Drie-enige!

 

Ook die Heiland se bene wat nie gebreek is nie, het die Skrifte vervul (Psalm 34: 19-20). Hoe maklik kon die soldate dit nie gedoen het nie. Maar hulle het nie. Want die OT Skrifte beheers hulle handelinge – sonder dat hulle dit besef. Geen paaslam dwarsdeur die OT geskiedenis se bene mog ooit gebreek word nie. Want Jesus sou die werklike Paaslam wees – wat die wêreld se sonde totaal vernietig het.

 

Sagaria 12:10 > Hulle sal Hom sien wie hulle deursteek het. Nie net Sy hande en voete deursteek het nie, maar nou ook Sy sy.

 

Daar is niks wat nie gebeur volgens die Raadsplan van God nie. Dwase mense het nie die hef in die hand nie!

 

Kan u sien hoe bou die kruisgebeure ‘n mens se geloofsvertroue op? Dit maak jou innerlik sterk. Veral as jy sien hoe dit alles met die OT Skrifte korrelleer? Hoe die lewende God werklik léef, hoe ‘n werklikheid Hy is? Wanneer ‘n mens sien hoe die Heilige Gees – deur die Skrifte – die hele kruisgebeure bestier – dan word jy oortuig: waarlik, dit is die ware Messias, die verlosser van mý lewe.

 

SESDE SKETS > Verse 38-42 > JESUS SE LIGGAAM BEGRAWE > Ons sien ‘n dood wat dood oorwin het. Ons sien ‘n graf wat die graf oorwin het. Tot op die oomblik van Jesus se begrafnis, was die graf altyd ‘n bedreiging vir die mens. Maar sedert Jesus se begrafnis was die graf nooit weer ‘n bedreiging vir Christusgelowiges nie. Christus het die angel uitgetrek.

 

Toe kom daar ‘n geheime volgeling van Christus na vore: Josef van Armitea. Skielik was hy nie meer bereid om ‘n geheime Christen te wees nie. Voorheen was hy bang vir die Jode. Maar nou staan hy uit vir die Here. Hy sal sorg dra vir Jesus se liggaam. Wat iets ongehoord was, omdat misdadigers wat gekruisig is, se liggame eenvoudig iewers in ‘n gat gegooi is. Die dissipels het nie ‘n kans gehad om Jesus se liggaam te bekom nie. Maar God het Sy man gereed: Josef van Armitea. Hy was in ‘n posisie van gesag en kon toegang tot Pilatus kry. En só stel Pilatus Christus se liggaam beskikbaar om apart in ‘n graf – waarvan die plek bekend was – neergelê te word – met die oog op die opstanding! Sy liggaam kon nie saam met ander liggame in ‘n gat gegooi word waar niemand weet waar dit is nie! Sy graf moes – deur betroubare getuies – leeg gevind word op die Sondagmôre.

 

En hier daag nóg ‘n geheime dissipel op. Nikodemus, met wie Jesus vroeër gepraat het. En hy voorsien mirre en alwyn om die liggaam te balsem. En ook dit vervul die Skrifte. Psalm 45:8.

 

Is dit nie aangrypend nie? Die eerste twee mense wat – ná Jesus se sterwe – hulle met die skande van die kruis vereenselwig – is Josef en Nikodemus. Die eerste twee wat bereid is om verbind te word met iemand wat gekruisig is! Die eerste van miljoene wat sou volg.

 

So word die Here van heerlikheid begrawe. Die Seun van God is onder die mag van die dood. En Hy word in ‘n tuingraf neergelê. Want dit was in ‘n tuin waar die groot val plaasgevind het en die dood as oordeel oor sonde aangekondig was. Nou word die dood in ‘n tuin oorwin. In ‘n tuin word die sondeval omgekeer. En ú was van die begin af daarby ingesluit!

 

En in die graf waarin Hy neergelê is, was niemand nog ooit te vore begrawe nie. Dit was ‘n nuwe graf. Sodat – ná Sy opstanding – daar geen twyfel sou wees dat dit werklik Hý is wat opgestaan het nie!

 

Maar omdat dit byna die aanbreek van die Sabbat was, was daar nie tyd vir ‘n begrafnis of enige seremonie nie. Hulle moes Hom neerlê en maak dat hulle wegkom. Ja, ‘n mens kan salig sterf sónder enige begrafnis, gebed, mooi preek of seremonie. Wat ná jou dood op aarde gebeur maak jou nie salig nie.

 

‘n Mens sterf salig indien jy vóór jou dood by die grootste ontdekking van jou lewe gekom het. Die geloofsontdekking: dat Jesus leef en dat Hy werklik jou verlosser is. Dat Hy jou gered het toe Hy op die kruis gesterf het. En jy jou vertroue op Hom mag oorplaas. Hy wórd nie jou Verlosser omdat jy Hom vertrou nie. Hy ís jou Verlosser reeds vir die afgelope 2000jr, juis daarom mag jy Hom vertrou!

 

Stel u voor ‘n kind raak op Nuweland weg tussen duisende mense. Hy weet nie waar hy is nie. Hy’s tot die dood toe bang. Hy loop in sirkels. Totdat hy meteens sy pa hoor en hoor hoe hy sý naam roep. Onmiddelik het hy rus en versekering.

 

So gaan dit met die mens. Hy loop in sirkels, bang en kyk na enigiets wat hom hoop en ‘n gevoel van behoort kan gee. Hy spandeer sy tyd om van die een ding na die volgende te hardloop. Hy is bang en onseker.

 

Totdat hy hoor hoe die Vader van Jesus Christus sý/haar naam roep. Dit doop sy siel met versekering en rus. ‘n Rus wat alle vrees vernietig en selfgesentreerdheid verbreek.

 

Kyk na die kruis en hoor hoe die Vader jóú naam roep.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00