JOHANNES-REEKS NO 44

Tema: Die grootste gebed ooit gebid


Skrif: Johannes 17


Ek herinner u dat dit steeds die Donderdagaand net voor die Here Jesus se inhegtenisname (daardie selfde nag) en kruisdood (die Vrydagoggend) is. Hy spandeer ‘n paar ure alleen met Sy 11 volgelinge. En óns word die voorreg gegun om ‘n vlieg teen die muur te wees & te hoor wat Hy sê.


Ons het die afgelope klompie boodskappe op hierdie aangrypende gesprek gefokus, toe ons Johannes 13-16 bestudeer het. Hy belowe: vrede, blydskap, ondersteuning, voorsiening, gebedsvreugde, gebedsverhoring, krag, die Heilige Gees, moeite in die wêreld, oorwinning…


En toe, terwyl die Heiland nog so met die Elf praat, kyk Hy na die hemel op en begin bid. Want dit álles wat Hy beloof het, moet deur ‘n aksie vd Vader gerealiseer word. Daarom rig Hy Homself tot die Vader. Hy maak nie Sy oë toe nie. Hy kniel nie. Hy staan sommer net daar in die straat waar hulle gestap het. Hy resiteer ook nie woordjies nie, maar Hy maak Sy hart oop soos ‘n kind teenoor sy vader. Dit wys vir ons hoe gebed ten diepste niks anders is as die beweging van die mens se hart nie.


Dit is ook nie ‘n baie lang gebed nie, want die waarde van gebed word nie aan sy lengte gemeet nie. By gebed gaan dit nie oor al die uiterlike doenighede nie. Wat ‘n verligting om dit te ontdek. En ons sien dit hier in die Here Jesus se eie gebed.


Wat uit die Here Jesus se mond gekom het, is die wonderlikste gebed wat ooit gebid is. En óns mag daarna luister. Jy hoor hoe die 2de Persoon van die Goddelike Drie-eenheid met die 1ste Persoon praat. En jy hoor hoe Hy vir jóú bid, wanneer Hy bid vir álmal wat deur die eeue tot geloof sou kom (v 20). Aangrypend om te weet dat Hy óns/jou geken het. Ons name was in Sy gedagte toe Hy daardie Donderdagaand voor Sy kruisiging hierdie gebed gebid het.


Die gebed self val uiteen in 3 duidelike segmente: 1) Vv 1-5 > Bid vir Homself, 2) Vv 6-19 > Bid vir die Elf, dié wat op daardie oomblik geglo het en by Hom gestaan het en 3) Vv 20-26 > Bid vir alle gelowiges van alle eeue – ook vir ons.


1 VERSE 1-5 > BID VIR HOMSELF > Kan opgesom word met die woord “verheerlik”. Dis die tema van vv 1-5. Jesus vra dat die Vader Hóm verheerlik sodat Hy die Vader kan verheerlik soos Hy die Vader verheerlik het tydens Sy gehoorsame lewe op aarde. Daarom moet Hy, noudat Hy by die eintlike doel van Sy aardse sending gekom het, verheerlik word met dieselfde heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld bestaan het.


“Heerlik” en “verheerlik” beteken: Om opgelig, verhewe, pragtig en briljant te wees.


Menslik gesproke sou die Here se vernedering/lyding/kruisdood ‘n geweldige skande & laagtepunt wees, maar dit was juis dít wat Sy verheerliking sou inlei. Dít is die éíntlike “uur” (Grieks: vers 1) waarvoor Hy na die wêreld gekom het: om die dood met Sy dood te vernietig, om met Sy dood die satan te vernietig, om die volmag te verkry om aan élke mens wat die Vader voor die skepping aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee (vers 2). Hy het die absolute volmag ontvang. As jy in Christus Jesus se kruisdood gered is, dan ís jy gered en niemand kan dit betwis of dit van jou wegneem nie. Hý het die volmag, niemand anders nie. Nie jou sondes, gevoelens, omstandighede of duiwel nie.


En daar is net Een Persoon wat dit alles tot uitvoer kan bring: die Vader. Hierdie groot verlossing is van A-Z ‘n werk van die Vader.


Dit was die Vader se intensie om vir Jesus op te lig tot die hoogste posisie sodat Hy – van daar af – die verlossing uitstort op die mensheid wat die Vader aan Hom gegee het.


U sien hoe verruklik dit is: Voor die skepping gee die Vader aan die Seun ‘n mensheid om te verlos, die Seun word self ‘n mens, Hy verlos hulle op die kruis, die Vader verheerlik Hom tot die hoogste posisie en van dáár stort Hy die verlossing op die mense uit.


Die Vader gee letterlik hierdie verloste mensheid aan die Seun as ‘n liefdesgawe. SES keer in hierdie gebed praat die Here Jesus van die gelowiges as God se liefdesgeskenke aan Hom. Jesus is God se liefdesgeskenk aan die wêreld. En die gelowiges is God se liefdesgeskenk aan Jesus!


Wat beteken dit alles vir óns wat in 2013 hier in die Kaap woon? Klink alles so ver en abstrak. Nooit! Dink wat ‘n diepte, sinvolheid, rykdom gee dit aan ‘n mens se lewe, jou siening van jouself, jou hele bestaan op aarde: Om te weet dat jy persoonlik in die hart van God bestaan het van voor die skepping reeds, dat jy deur die Vader aan die Seun gegee is, dat jy ‘n liefdesgeskenk van die Vader aan die Seun is, dat Sy kruisdood spesifiek vir jou onfeilbaar salig gemaak het.


Hierdie waarhede is suiwer goud! En om te dink die Here Jesus het dit met Sy Vader bespreek ‘n paar uur voor die kruisiging! Dit is ‘n saak wat binne-in die Drie-eenheid/Godheid bespreek, besluit en afgehandel is! En hier is vandag gelowiges in Christus wat die vrug/resultaat dáárvan is! Dit is eenvoudig wonderbaarlik!


Jy voel of jy lighoofdig wil word wanneer jy besef dat die Vader besluit het om jóú – as ‘n gebaar van Sy liefde – aan Sy Seun te gee! Só ‘n God wíl jy mos liefhê. Jy wíl Sýne wees. Jy wíl spontaan – sonder enige dwang/wet/reël aan Hom toegewyd wees. Spontane gehoorsaamheid begin net eenvoudig jou lewe kenmerk. Dit is die ewige lewe om Hom so te ken (v 3).


Wat die res van die gebed betref (verse 6-19 (Gebed vir die Elf) en verse 20-26 (Gebed vir alle gelowiges deur alle eeue), is dit niks anders nie as ‘n opsomming van die basiese kenmerke waaraan ‘n Christengelowige uitgeken word.


Ja, Jesus bid vír ons, maar ín Sy gebed sien ons wat die kentekens van ‘n Christen is. En dit is wat ek nou in ‘n soort samevatting aan u wil deurgee. Kom ons neem verse 6-26 as ‘n eenheid en ons fokus net op één aspek: Wat is die unieke eienskappe waaraan jy altyd ‘n Christen – in kontras met ‘n wêreldse mens – sal herken.


EERSTE KENMERK : Kyk mooi en sien hoe die Here Jesus self Sy eie mense kontrasteer met die wêreld. Die ganse mensdom bestaan uit slegs hierdie twee groepe: ongelowiges wat tot die wêreldsisteem behoort en gelowiges in Christus! Daar is niks tussen-in nie en geen 3de groep nie. Glashelderduidelik blyk dit uit die Meester se gebed dat Sy mense (nes Hyself) nie tot die wêreldsisteem behoort nie. “Die wêreld haat julle” (v 14, 16).


En tog is ‘n Christengelowige iemand wat ná die wêreld gestuur is (v 18). TWEEDE KENMERK. Jy behoort nie meer tot die wêreld nie, maar jy is ná die wêreld gestuur met die Goeie Nuus van jou Verlosser. Jy hoef nie ‘n spesiale roeping (stem/droom) uit die hemel te kry nie, jy ís gestuur. Jy hoort nie in die hemel nie, jy hoort in die wêreld, want dit is waar jou lig moet skyn en dít is waar die Here jou fisiese liggaam/gewone alledaagse menswees as tempel wil gebruik as Sy woonplek. Hy wil in jou gewone menswees Sý lewe uitstort. Dis waarvoor Hy jou oorspronklik geskep het!


Ons wil so graag “hemel toe” gaan & hê die wederkoms moet plaasvind sodat Hy ons kan kom haal, maar ons vergeet dat die Here die hemel leeggemaak het om na óns toe te kom! God het iets meer waardevol in jóú gesien as in die hemel. Daarom het Hy die hemel verlaat – om ‘n mens te word. Dis reg binne-in jou aardse menswees waar Hy wil wees. Dis Sy grootste begeerte & vreugde. Geen planeet of sterrestelsel wat Hy geskep het, is vir Hom so kosbaar as jou menswees binne die hart van Kaapstad in 2013 nie! Daarom bid Jesus dat Sy Vader ons nié uit die wêreld wegneem nie, maar liewer net van die bose bewaar (v 15). Óns wil hemel toe gaan, maar Hý wil ons in die wêreld hê sodat Hy binne-in die wêreld Sy eie lewe deur ons kan lewe.


DERDE KENMERK:  In ‘n neutedop word ‘n Christengelowige daaraan herken dat hy/sy iemand is wat: woorde ontvang, gehoor en aangeneem het (v 8). Dis die woorde vd Apostels (v 20) soos dit in die Bybel neergeskryf is. En deur daardie woorde het die gelowige tot ‘n oortuiging gekom oor wie/wat Jesus Christus is (v 8). Jy het ontdek dat jy deur Jesus aan God behoort (v 9). Deur aan Hom te behoort, verheerlik jou lewe Hom (v 10) en geniet jy Sy eie blydskap (v 13) (nie jou blydskap oor Hom nie, maar Sý blydskap) in jou binneste terwyl Hy jou bewaar (v 11) en beskerm (v 12).


VIERDE KENMERK:  ‘n Christengelowige weet met sekerheid dat die Here se Woord die Waarheid is (v 17). Dit bevat nie die waarheid nie, dit ís die waarheid. Die Bybel is nie woorde/getuienisse óór God nie. Dit is God se Woord. En dis die absolute waarheid. En deur daardie Waarheid het jy tot die ontdekking gekom dat Jesus jou op die kruis kant en klaar verlos het en dat God jou by Jesus ingesluit het toe jy nie ingesluit wou wees nie. Dit is déúr die Woord, wat jy tot hierdie insig/ontdekking/geloof kom (v 20).


VYFDE KENMERK:  ‘n Christengelowige is ook iemand wat leer om die Waarhede vd Woord in sy hart te oordink en dit in sy gedagtes vas te hou en daaroor te dink – pleks van om in jou gedagtewêreld net met sinnelooshede besig te wees. Sodoende maak die krag van die Waarheid jou meer en meer toegewyd aan God (v 17) – sónder jou inspanning. Die waarheid wat jy oordink, wérk met jou en maak jou toegewyd, sonder dat jy probeer om jouself toegewyd te maak.


SESDE KENMERK: ‘n Christengelowige se aardse lewe is opgeneem in die lewe van die Drie-eenheid. Ál lewe wat ‘n gelowige het, is die lewe verenig met die Vader, Seun, Gees. Binne-in die Drie-eenheid is daar kommunikasie, gesprek, liefde, vrede, krag, gemeenskap, Lewe, aktiwiteit. CS Lewis het gesê die onderlinge lewe tussen die Vader/Seun/Gees is ‘n dans.


En dit is in hierdie “dans” waarin die Christengelowige deel het. Dis waarvoor jy oorspronklik geskep is. Kyk na Jesus se gebed:


Verse 5,10> Die Vader verheerlik vir Jesus, Jesus verheerlik Vader, gelowiges verheerlik Christus.


Vers 8 > Presies dieselfde Woorde wat die Vader aan die Seun gee, gee die Seun aan die gelowige.


Vers 10 > Wie aan Jesus behoort, behoort aan die Vader, wie aan die Vader behoort, behoort aan Jesus.


Vers 11 > Net soos die Vader en Seun één is, is die gelowiges onderling een.


Vers 13 > Jesus se blydskap is in sy volheid in die gelowige.


Vers 19 > Jesus wy Hom aan die Vader sodat die gelowige deur Sy toewyding aan Hom toegewyd is.


Vers 21 > Gelowiges is ín die Vader/Seun.


Vers 22 > Dieselfde heerlikheid wat die Vader aan Jesus gegee het, gee Jesus aan die gelowige.


Vers 23 > Jesus is in die gelowige en die Vader is in Jesus – en dit bring volkome eenheid tussen die gelowiges.


Vers 23 > Jesus het die gelowige lief met dieselfde liefde as waarmee Sy Vader Hom liefhet.


Vers 24 > Waar Jesus is, is die gelowige en die gelowige sien Sy heerlikheid.


Vers 26 > Die liefde wat die Vader vir die Seun het, is in die gelowige en Jesus is in die gelowige.


Kan ‘n mens van enigiets anders seker wees as dat die Christusgelowige opgeneem is in die “dans van die Drie-eenheid”? Wanneer ‘n mens dit snap, móét dit ‘n totale lewensverandering tot gevolg hê.


Die SEWENDE kenmerk van ‘n Christengelowige: Vers 21: Álmal is één en dit stuur ‘n getuienis na die wêreld uit (v 23). Dit beteken nie dat daar net één wêreldkerk moet wees nie. Dit beteken nie dat daar nie verskille en verskillende standpunte mag wees nie. As dit so moes wees, was Jesus se gebed nog nooit verhoor in die afgelope 2000jr nie!


Hierdie eenheid is die eenheid wat daar tussen die Vader/Seun/Gees is (v 21). Dáárdie eenheid spoel oor in gelowiges onderling. Al behoort hulle aan verskillende kerkdenominasies of rasse of tale of kulture. Maar daar is ‘n besliste band en liefde. Wanneer twee mense – wat beide deur Christus se dood met God versoen is – mekaar ontmoet, is dit of die Christus in die een met die Christus in die ander bladskud. Daar is ‘n omhelsing wat jy nie kan ervaar met enige ander mens op aarde nie, selfs al is dit bloedfamilie. Daar is ‘n eenheid wat tussen Christengelowiges bestaan, wat nie menslik verklaarbaar is nie, want dit is presies dieselfde eenheid wat daar binne-in die Drie-Eenheid is. Dit is ‘n uitstaande kenmerk waaraan die wêreld weet dat mense aan die Here behoort.


Ons moet dit eers daar laat vir vanoggend.


Mag die Here hierdie waarhede in ons harte ingegraveer. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00