TAFELBERG GEMEENTE

Wie sit in die tempel?
DANIëL 3 (No 3 van reeks van 3)

Dis nie om dowe neute dat Daniël 3 ná Daniël 2 staan nie. In hfst 2 het dit gegaan oor ‘n beeld. In hfst 3 gaan dit wéér oor ‘n beeld. In hfst 2: ‘n beeld wat die HERE in ‘n droom aan Nebukadnesar wys, om aan te toon dat sy koningskap tot ‘n val sal kom en dat die HERE se koninkryk vir ewig sal bly.

In Daniël 3: ‘n beeld wat Nebukadnesar maak om te wys dat hy die Here se beeld verwerp en dat hysélf die groot koning is. Almal moet daarom voor sý beeld buig. Dis nie ‘n afgodsbeeld nie. Hy gaan plaas dit nie iewers in ‘n tempel nie. Dis ‘n beeld/teken van Nebukadnesar se staatsmag. Want onthou: Hy vrees die bedreiging van sy ryk. Daarom is hy so geweldig wreed omdat hy doodbang is sy koninkryk gaan val. Daarom dwing hy almal om hom te vereer. Daarom lewe hy in groot vrees.

Waarom? Omdat die HERE gepraat het in Daniël 2. Die HERE het gesê sy koninkryk sal vervang word deur ‘n ander een (dit sou die Persiese Ryk wees). Dink u Nebukadnesar sou vir een oomblik hiermee tevrede wees? Nooit!! Onthou: Sy hele lewe het net rondom homself gedraai. En nou: hierdie woorde van God. Daarom pak geweldige vrees en onrus hom beet. Onrus verteer hom : WIE is dit wat sy koninkryk omvêr sal werp? Daarom die stryd om lewe en dood om homself te handhaaf. En om te stry teen die Here se woorde. Dáárom maak hy ‘n beeld wat teenoor die Here se beeld (van hfst 2 se droom) sal staan. Sodat die mense nie God se beeld glo nie, maar sý beeld glo. Wie dit nie doen nie: word in die vuuroond gegooi. Die Here sê: die koninkryk van Christus kom en dít is die enigste toekoms wat die wêreld het. Nebukadnesar sê : Mý koninkryk sal ewig bestaan. Nebukadnesar verwerp die Here se beeld. Hy glo dit nie. Hy sê NEE vir die ewige koninkryk van Christus. Wat gaan die mense nou glo? Die onsigbare beeld wat die Here in ‘n droom gegee het? Of: die sigbare stralende goue beeld van Nebukadnesar?

Waaroor gaan dit alles nou eintlik ten diepste? Net ‘n bietjie interessante geskiedenis?? Spannende slaaptydstorie om vir kinders te vertel? Ek wil vra of u nie saam met my diep wil kom inkyk in die Here se Woord nie. Sien raak hoe werk die geestelike beginsels wat agter die skerms in die wêreld werk. Die wêreld waarbinne ons almal elke dag onwillekeuriglik moet leef. Want dit is wat ten diepste in Daniël 3 vir ons oopgemaak word. Daniël 3 wil ons oë oopmaak om die onsigbare te sien. Die onsigbare beginsels wat agter die skerms werksaam is in ons leefwêreld van elke dag.

Daniël 3 beantwoord ‘n lewensbelangrike vraag : Op watter terrein word die groot stryd van hierdie lewe uitbaklei? Wat sit ágter byna alles wat ons almal elke dag beleef? Waarom voel ons soms so bedompig en uitsigloos? Waarom voel ons soms asof daar, ágter die goed wat ons daagliks sien en ervaar iets onsigbaar skuil? Iets waarop ons net nie die vinger kan lê nie? Iewers is daar ‘n groot bakleiery aan die gang. ‘n Stryd. Waaroor gaan dit presies?

So wonderlik van Daniël 3 om dit vir ons te kom aantoon. Die groot stryd gaan oor die vraag wie in die tempel sit! Wie is werklik God? Wie verdien die aanbidding? Wat is die absolute Waarheid? Want: Hý wat in die tempel sit, ontvang die mag en die aansien. Dit begin egter nie by mag nie, dit begin by aanbidding. By geloof. Dáár val die groot beslissing. Nebukadnesar wou die mag hê, ja, maar hoe verkry hy dit? Hy weet hy moet éérs aanbidding verkry. Daar moet aan hom geglo word. Daarom plaas hy sý beeld téénoor die Woord van God. Hy weet: Díé god vir wie die mense erken, voor sý mag sal hulle ook buig. Sý woord sal aanvaar word. Ons sien dit presies so in die boek Openbaring: Byvoorbeeld in Openbaring 13: Dáár word weer ‘n beeld opgerig deur die Vals Profeet wat aanbid moet word sodat die Antichris die mag kan verkry. Weer eens: eers die aanbidding.

U en ek en ons kinders word elke dag onwillekeuriglik betrek by hierdie stryd. En dit is ‘n 24uur stryd – of ons dit wil erken of nie! Wanneer jy ‘n tydskrif deurblaai. Wanneer jy na gesprekke en argumente op die radio luister. Wanneer die moderne skool-leerplanne aan die orde kom. Ag, sommer net ons blootstelling aan die algemene gees van die wêreld. Of wanneer jy sin probeer uitmaak van die kompleksiteit van die lewe. Wanneer jy sin probeer uitmaak van die verskille tussen godsdienste en kerke. En jy besef: dit is nie waar dat almal wat “liewe Jesus” bely, die ware kerk van die lewende Christus is nie!! In ál hierdie sake gaan dit oor die een magtige vraag: Wie sit in die tempel? Wat is die ware geloof? Wat is Waarheid?

Moenie vir een sekonde dink dat dit in enige een van ons se murg sit om gou-gou as oorwinnaar uit hierdie stryd te tree nie. Ons dink mos: “Ag, as ek net ‘n bietjie kennis van die Evangelie het, sal niks my onderkry nie….. ek is te slim vir satan. Nee, die stryd is daarvoor net eenvoudig té subtiel en skelm en oorweldigend. Kyk na die sluheid van Nebukadnesar.

Daniël 3 kom breek dit vir ons oop, dat die Heilige Gees die enigste manier gee waarop die gees van die antichris geklop word. Kyk ‘n bietjie waar loop Nebukadnesar hom bloedneus. Kyk waar word Nebukadnesar se brandende vuuroond geblus dat dit so koud word soos ‘n vrieskas! Die Gees het in Daniël se 3 vriende se harte gewerk. Dit is wat gebeur het.

Wát het die Gees daar gewerk? Sadrag, Mesag en Abednego weier om die koning se beeld te aanbid. Hulle het skielik die brandende begeerte om aan die HERE getrou te bly. Dit maak nie saak of Hy hulle red uit die vuuroond of nie. Al sterf hulle dan ook in die oond. Hulle kies nie die God by wie hulle die beste kanse het om uit die moeilikheid te bly nie. Dit gaan nie vir hulle oor óf hulle sal bly lewe of nie. Dit gaan vir hulle oor wie die ware Here is. Wie is in die tempel? Hy dreig hulle nie om getrou te bly nie. Al vergaan húlle dan ook. Al sterf hulle na die liggaam. Dit is nie die saak nie. Die saak is: Wie is in die tempel?

U sien: Nebukadnesar het gedink dat hyself die ware aanbidding kry, maar hy het nie, want sy beeldaanbidders het hom aanbid om hulle eie basse te red. Hulle wou net ten alle koste uit die vuuroond bly. Selfsug dus. Maar dit is geen aanbidding nie. Dit is afgodsdiens. Daarom sal Nebukadnesar se koninkryk & mag nie bly staan nie. En dit hét ook nie. Want dis vals. Die HERE egter: rig geen sigbare beeld op nie. Geen sigbare manifestasies nie. Hy kom na ons net deur geskrewe & gesproke woorde. En Hy vra geloof in Sy Woorde. Niks sigbaar en sensasioneel nie. Hy dreig niemand met die dood nie. Hy dwing niemand nie, maar gee die genadevoorreg om Hom te mag ken. Hý ontvang daarom die WARE aanbidding. Daarom het Hy ook die ware mag. Daarom sal Sy koninkryk bly bestaan. Wie in die tempel sit, het die mag – vir ewig.

Die vraag mag egter by u spook: “Sal ek ook in staat wees hiertoe?” Gaan dit vir my in my lewe ook werklik net oor die Waarheid en die Ware Here?” Soveel so dat ek ook téén die Antichris kan staan?”

Ons moet een ding goed raaksien. Dit was nie Sadrag, Mesag en Abednego wat so sterk was nie. Hulle het oor geen vermoë beskik om wonderbaarlike keuses te maak nie – wat ánder mense nie gehad het nie. Nee, dit was die HERE wat besig was om Sy eie eer te beskerm – deur hulle. Dit was die Here wat – deur hulle – besig was om Sy woorde aan Nebukadnesar (soos in hfst 2 se droom gegee) stukkie vir stukkie waar te maak. Ons moet dus nie vra: “Sal ek die stryd wen” nie. Ons moet eerder vra: “Sal die Here wéér Sy eer handhaaf ook in mý lewe – omdat ek Sy kind is deur Jesus se verlossingswerk op die kruis? Is ek seker dat Hy wéér Sy eie eer sal handhaaf?”

Die antwoord op hierdie vraag gee die groot deurslag.

Dr. Chris Saayman

NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

Tel 0215516704

Sel 0832321817

Epos saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00