Tafelberg Gemeente Reeks oor die Modelgebed no 2
'n Christen is iemand wat begeer dat God se Naam geheilig word
Skrif: Matteus 6: 9-13, Johannes 21: 15-18

Vanoggend die 2de preek in ons reeks oor die ONSE VADER. Ons het verlede keer gesien dat – alhoewel dit hier oor ‘n gebed gaan – ‘n mens dit ook vanuit ‘n ander hoek kan bekyk en sien hoedat die ONSE VADER-gebed byna soos ‘n ID-boekie werk: dit sê iets van wie/wat die bidder/gelowige is – iets van sy/haar identiteit! Dit is wat ons in hierdie reeks preke probeer doen: Om die Onse-Vader-ID-boekie deur te blaai en te fokus op die 6 kenmerke van dié mens wat uit die Gees gebore is. Die ID-boekie bevat 6 bladsye. Verlede keer het ons op bladsy 1 gefokus en gesien dat ‘n kind van die Here iemand is wat God die Vader ás “hemelse Vader” leer ken het. Vanoggend die 2de bladsy: ‘n Gelowige het ‘n groot begeerte in sy/haar binneste: dat God se Naam geheilig sal word.

Let op: Dit staan voorop in alles. Primêr gaan dit oor God self en nie oor onsself nie. Dit is altyd die diepste intensie van ‘n ware gelowige se innerlike hart en deel van sy/haar identiteit as Christen: heel eerste: Die Naam van die Here. Nie “naam” soos ons aan “naam” dink nie. In die ou tyd was ‘n naam ‘n beskrywing van die persoon self. “Naam” is Hyself. Die Here self moet voorop in my lewe staan: Dit is die hartshonger van ‘n kind van God. Só word Sy Naam geheilig. Maar, wat beteken dit regtig??

Wel, die goeie nuus is dat dit ten diepste iets is wat die HERE self moet doen. Kyk mooi daarna: “Laat U Naam geheilig word”. Dis ‘n smeking dat die Here Sy eie Naam sal heilig. Dis nie iets wat aan die mens geadresseer is nie. Maar terselftertyd sluit dit ons nie uit nie. Want, wáár heilig die Here Sy Naam? Beslis tog in Sy eie mense. As die Here Sy Naam heilig, waar raak dit sigbaar? IN ONS. Hoe raak dit sigbaar? Wat bewerk die Heilige Gees in ons? Hyself kom staan meer en meer voorop in die totaliteit van ons lewens. Sy Naam is mos Hyself. “Heilig” beteken “OPSY GESIT VIR ‘N DOEL”. Iets sigbaars. Iets heel prakties. Nie net dooie teorie waarvan ons net kan kom kennis neem en weer huistoe gaan nie!! Dit is om OORWONNE te wees deur die Heilige Gees en om HOM bo alles lief te hê. Só heilig Hy Sy Naam in ons lewens – heel prakties.

Dit bring ons by ‘n groot kernvraag waaroor mense dikwels loop en wonder, naamlik: Wat beteken dit regtig om ’n Christen te wees? Is dit ’n kwessie van pligte nakom? Dat jy reëlmatig bid, Bybel lees, kerk toe gaan, jou bydraes gee en bo-gemiddeld goed probeer leef? Is Christen-wees ’n kwessie van ’n ordentlike lewe lei? Dat jy nie lieg of steel nie, en dat jy eerlik met mense is en hulle ordentlik behandel? Wel, indien dit só sou wees, wat is dan nou eintlik die groot verskil tussen ’n Christen en ’n nie-Christen? Wat is die verskil tussen ’n Christen en ’n ordentlike nie-Christen? Is die ordentlike nie-Christen nie dikwels juis ’n beskamende voorbeeld vir die Christen nie? Maak dit dan werklik so ’n groot verskil om ‘n Christen te wees?

Die diepste kern van Christenwees het niks te make met die uiterlike nakom van morele pligte nie. Dit het te make met die bonatuurlike innerlike greep wat die lewende God op ‘n mens kry & behou. Dit het te make met ‘n liefdesverhouding. Dit het te make met ‘n pad wat die Here met jou stap waar Hy algaande Sy Naam in jou lewe heilig en Homself eerste laat staan in jou lewe. En op ‘n dag lewe jy uiterlik meer ordentlik as wat die nie-christen kan hoop om te doen – omdat jy innerlik in ‘n greep is – die greep van die onweerstaanbare werking van die Heilige Gees. En dit slaan uit na buite.

Ons sien dit presies so in die lewe van Petrus. Waarom het die Here hom 3 maal gevra “het jy My lief”? Waarom het hy die 3de keer so hartseer geraak? Die Here was besig om Sy Naam te heilig in Petrus se lewe. Sy Naam herstel: beteken dat Hy besig was om Homself eerste te stel in Petrus se lewe. Hy was besig om Petrus se lewe deur die kragtige werking van Sy Gees te oorwin. Waarom? Omdat Petrus Hom 3 keer verloën het. Een liefdesverklaring vir elke keer wat Petrus Hom verloën het. “Ek ken Hom nie” X3. “Ek het U werklik lief” X3.

Sommige mense dink dat Petrus bewoë word omdat hy voel die Here glo hom nie en aanvaar nie sy liefdesverklarings nie. Nee, toe die Here dieselfde vraag die derde keer vra, besef Petrus presies wat die Heiland besig is om te doen. 3 Verloënings, 3 liefdesverklarings. Let op: Dit is die Here wat hom kom opsoek en met hom werk. As dit van Petrus moes afhang, sou hy oorwin gebly het deur die sonde & verharding. Maar, die Hére heilig Sý Naam in Petrus se lewe. Die Gees oorwin hom. En die uiteinde? Hy leef met sy hele hart met die Here. Dink maar aan die kwaliteit van Petrus se preek net ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Dink aan sy groot rol in die eerste kerk. Dink hoe bevoorreg was hy om die marteldood vir Christus te sterf.

Maar moenie dink dat Petrus nie werklik alreeds ‘n ware gelowige was toe hy Jesus 3X verloën het nie. Nee, hy was. Hy het nie eers ‘n verloste kind van God gewórd toe hy 3X sy liefde verklaar het nie. Maar, dit wys weer eens watter pad die Here met Sy bloedgekoopte kind stap. ‘n Pad van oorwinning. Al gaan dit ook deur die dieptes soos Petrus deur donker dieptes gegaan het. Algaande het Christus konkreet die eerste plek in sy lewe gekry. Algaande het Hy Sy Naam in Petrus se lewe geheilig. Kyk na die Here se oorwinning in Petrus se lewe. Sien u dat dit die sin van die lewe is?? Die heiliging van die Here se Naam in ons lewens, is die sin van die lewe. Dit bring ongekende blydskap. Kyk na die krág in Petrus se lewe ná hierdie liefdesverklaring. Die 3 verloënings is gekanselleer. Voorheen: was sy lewe meerendeels kragteloos omdat hy kompromieë gemaak het. Hy wou mos op 2 stoele gelyktydig sit. Dis seker die grootste ramp wat in ‘n gelowige se lewe kan plaasvind: om Jesus Christus te kompromiteer vir duisend ander goed. Om die haan dikwels te hoor kraai, maar net voort te gaan. WILLIE JOUBERT op TV: “Ek het by ‘n plek gekom waar ek ‘n definitiewe keuse gemaak het: om op te hou kompromieë maak.” Dink aan die maklike keusetjies wat ons elke dag maak :: So maklik om net téén Christus te besluit. ‘n Maklike besluitjie waaroor jy nie eens 2X dink nie. Indien ons nie eens vir Christus kan kies in sulke maklike omstandighede nie, hoe doen ons dit wanneer ons lewe op die spel is? Brandstapel?? As ons nie eens vir Christus kan liefhê as dit maklik gaan nie, hoe doen ons dit wanneer dit moeilik gaan?? Skotland: 9 Febr. 1555 : John Hooper word na brandstapel gelei : Hy was gereformeerd : ter dood veroordeel vir ware geloof. 7000 mense kyk. Kyk met glimlag na brandstapel . Kniel en bid vir 30 minute. Wys waar hulle hout moet pak. Bondel riete in elke hand : SOEN DIT Brand 45 minute. Met geswolle tong roep hy 10 keer : Jesus, ontvang my gees.

Maklike besluite teen Christus het vir Petrus duur gekos. Die Here se Naam was nie altyd eerste nie. Waarom? Kompromieë: “Ek sal Christus liefhê, en…..” Hoe dikwels is dit nie ék nie”: lewe met ‘n belydenis dat die Here Jesus my hart oorwin het. Maar, met die ander hand is ek met ‘n 1000 ander goed besig. Goedkoop keusetjies. Die haan kraai byna daagliks in my ore. Dalk hoor ek nie eens meer die haan nie. ‘n Lewe van kompromie.

Ons moet erken: diep innerlik is ons nie gelukkig nie. Daar is groot leemtes. Laat ons dit maar erken: Dis sleg om op só ’n manier ‘n Christen te wees. Waarom langer so voortgaan terwyl die Heilige Gees besig is om u & my hart te oorwin?? BID waaragtig: Laat U Naam geheilig word in my lewe. Dit beteken: Hou op om kompromieë te maak tussen Christus en 1000 ander goed. Laat Hy u bevry. Laat dit voortaan CHRISTUS ALLEEN wees in u lewe. Esegiël 11: 19 : “Ek sal julle EEN hart gee”. Geen verdeeldheid verder.

Dalk dink u: “maar ek het dan altyd gedink die heiliging van die Here se Naam het te make met die ydele gebruik van Sy Naam soos byvoorbeeld die oneerbiedige gebruik van Sy Naam. Nie net deur dit self te doen nie, maar ook probleemloos aan te hoor waar ander dit doen byvoorbeeld op TV, DVDs of in flieks”.

Ja, dit hét inderdaad alles daarmee te doen. Maar, dit is die vrug/resultaat van die Here se heiliging van Sy Naam in ons lewens. Dit begin nie by ons tonge nie. Dit begin nie by die afsit van die TV of die protesuitstap uit die fliek nie. Dit begin by die HART – dáár waar die Gees ons oorwin. Dáár waar Hy Sy Naam heilig en waar Hy eerste is. Dáár waar die kompromieë tot ‘n einde kom. Maar, wanneer die innerlike hart oorwin is, begin die tong om Sy Naam te heilig en sit die hand die TV af en loop die voete uit die fliek weg wanneer Sy heilige Naam net effentjies ontheilig word. Die innerlike heiliging van Sy Naam, loop onvermydelik uit op die uiterlike heiliging van Sy Naam in die praktyk van ons lewens.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00