TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 6
Skrif: Handelinge 5: 12 - 42
Tema: Die onstuitbare Woord

Indien die lewende God van hemel & aarde in ‘n saak betrokke & werksaam is, sal niemand teen Hom staande bly nie. Die werking van die Gees (deur die Woord) is letterlik onstuitbaar. Daarvan getuig die boek Handelinge in alle tale. Ons het in die vorige gedeeltes gesien hoedat die satan met aggressie toeslaan op die voortgang van die Woord, maar telkens verbreek die Here die aanslae sodat die evangelieboodskap kragtig voortgaan. Nadat Ananias & Saffira dood neergeslaan het, het die buitestanders baie respek vir die gemeente gehad en niemand het sommer probeer lidmaat word nie (v13). Nietemin het meer & meer mense het tot bekering gekom en is by die kerk gevoeg (v14). Skares het saamgekom om die Woord te hoor (v16) en siekes is genees (v15). So kragtig het die Gees gewerk dat mense gedink het dat net Petrus se skaduwee siekes sal genees (v15). Daarby is vele mense bevry van bose geeste en bindinge van satan (v16).

‘n Mens kan verwag dat hierdie magtige werkinge van die Gees, teenkanting sal uitlok. Nooit sal die sielevyand agteroor sit en toekyk hoe duisende mense die koninkryk van God betree – en niks daarteen probeer doen nie. En hoe dikwels vind die duiwel gewillige handlangers in sommige kerklui! Hoe dikwels is dit vrome kerkleiers wat direk in die hand van die vyand speel. Dit gebeur presies so in verse 17-42! Wie is dit wat met jaloesie vervul word? Wie is dit wat aggressief raak teenoor die apostels & hul prediking? Wie is dit wat hardhandig raak? Dis die hoëpriester & sy godsdienstige gevolg! Dis nie die drinkers in die kroeg nie! Dis nie die kerklos mense nie. Dis juis die kerklui – maar dan kerklui wat nie wedergebore is nie – wat Jesus Christus nie persoonlik ken nie. Sulke kerkleiers is altyd negatief wanneer daar ‘n egte werk van die Gees plaasvind. Dit was deur alle eeue so. Dit is in verse 17-42 ook so. Die hoëpriester & sy makkers storm in en plaas die apostels summier in die tronk (v17) terwyl hul vervul is met jaloesie. Hulle dink dat hulle God ‘n guns doen deur hierdie bedrieër, Jesus, se volgelinge te stuit. Hulle het egter nie besef dat hulle self lynreg téénoor die Here staan nie. Hulle het nie besef dat hulle die Waarheid beveg nie! Maar hulle het dit baie gou agtergekom, want die Here gebruik drie troefkaarte teen hulle om hulle te verpletter sodat die Woord onstuitbaar kan voortgaan.

Dít waarop die Heilige Gees vanoggend ons aandag wil vestig vanuit verse 17-42, is hierdie drie troefkaarte wat die Here teen die vyand gebruik om te verseker dat Sy Woord kragtig voortgaan – ten spyte van weerstand. Ons moet deeglik daarvan kennis neem, want dit is uiters aktueel ook vir onsself vandag. Die Woord is vandag nog onstuitbaar. Só onstuitbaar dat menslike weerstand daarteen amper irrelevant is! Maar, die Here gebruik troefkaarte om Sy Woord te laat triomfeer. Drie troefkaarte: Bonatuurlike ingrype, gelowiges se rotsvaste geloofsoortuiging en die ondersteuning van nie-Christene.

1. TROEFKAART NO 1: BONATUURLIKE INGRYPINGE: Vers 19: ‘n Engel het gedurende die nag die tronk se deure oopgemaak en die apostels uitgelei en hul beveel: “Gaan terug na die tempel en preek vir die mense die volle Woord van die nuwe lewe in Christus.” Sien u? Indien die Here wil, kan Hy bonatuurlik ingryp om Sy Woord te laat voortgaan. Hy kan engele gebruik. Toe die apostels in die tronk beland, was die eerste gemeente in ‘n krisis, want die apostels se prediking het die fondasie van die gemeente gelê. Indien húlle van die toneel verdwyn, sou die kerk byna tot niet wees. Skielik verskyn ‘n engel – wat die tronk oopmaak. Die Here maak van ‘n bonatuurlike ingryping gebruik om die apostels weer op die kansel te kry.

Dit mag dalk wees dat ons bietjie frons oor die verskyning van hierdie engel. Ís daar dan regtig sulke wesens? Is dit nie slaaptydstorietjies nie? Wel, as ‘n mens in gedagte hou dat Lukas ‘n baie noukeurige historikus was (vgl Luk 1:3), besef jy dat hy dit aangeteken het omdat dit werklik gebeur het. Tewens, die res van die Bybel is daaroor duidelik dat daar beslis ‘n orde van hemelse wesens bestaan en dat – van tyd tot tyd – veral in krisisomstandighede – die Here hulle op aarde gebruik as Sy dienaars. Sien bv Hebr 1:14. Ons moet waak teen twee uiterstes: 1) ons mag nie die bestaan & werk van engele afmaak as mitiese storietjies nie. Ons mag ook nie aan engele dink asof dit weerlose goedjies is, wat met vlerkies rondvlieg nie. Hulle is – vlgs die Skrif – uiters magtige wesens (sien Openbaring). 2) Aan die ander kant mag ons ook nie dink dat engele altyd oral teenwoordig is nie. Die Bybel is nie engel-behep nie. Dit is absoluut onbybels om te dink dat alle mense ‘n beskermengel het wat gereeld opwagting maak. Daar is vandag baie boeke en rolprente wat engel-behep is en allerlei onbybelse idees oor engele in mense se koppe plant. Dit is verkeerd. Volgens die Skrif ís daar engele (magtige wesens). Sommige (chérubs) se taak is slegs om God se lof te besing (Jes 6). Ander is diensknegte vir wie die Here van tyd tot tyd inspan om die voortgang van Sy Woord te verseker – veral in sekere sleutel-situasies. Byvoorbeeld híér waar die apostels – as sleutelfigure in die eerste kerk – in gevaar is.

Skielik lyk die Hoëpriester & sy gevolg baie simpel, want die tronk is leeg en die apostels preek weer dáár waar hulle die vorige dag besig was. Daar was uiterlik niks met die tronk verkeerd nie. Geen bomontploffing nie. Die wagte staan nog daar. Maar die apostels is skoonveld weg – terug op die preekstoel besig om Skrifonderrig te gee. Want onthou: Die eerste gemeente is gebou deur Skriflering en nogmaals Skriflering. Die fokus val glad nie op die bonatuurlike verskyning van ‘n engel nie, maar op die onderrig wat die apostels voortgaan om te gee. Lees verse 19-26 en u sal dit sien. Daar word géén ophef van die bonatuurlike gemaak nie. In die fokus, is die prediking wat voortgaan. En die inhoud van die apostels se prediking was nie: “O, hoe wonderlik het ‘n engel ons bevry” nie, maar: “kom ons maak ons Bybels oop en sien hoe dit van Jésus praat!!”

Sien u die eerste troefkaart wat die Here gebruik om Sy Woord onstuitbaar te laat voortgaan? Bonatuurlike ingrype. Natuurlik beteken dit nie dat Hy vandag steeds om elke hoek & draai engele sal inspan nie. Hy het dit ook in die tyd van die Bybel nie gedoen nie. MAAR: Hy kán dit steeds doen. Daarom moet mense wat die voortgang van die Woord probeer dwarsboom, lig loop. Maar óns, wat met brandende passie ywer om die Woord te laat voortgaan, mag moed skep. Ons is nie aan die verloorkant nie!

2. TROEFKAART NO 2: GELOOFSOORTUIGING VAN GELOWIGES: Verse 26-32. Ten spyte van die bonatuurlike bevryding van die apostels uit die tronk, gooi die godsdienstige Joodse leiers nie tou op nie. Hulle bring die apostels wéér voor die Hoëpriester vir ondervraging en bestraffing. En onthou: Dit was hierdie einste kerklui wat slegs enkele weke tevore die Here Jesus laat kruisig het! Hulle kon ongetwyfeld dieselfde met die apostels doen. Hoor wat sê hulle: “Julle het die hele Jerusalem met julle lering vervul! Het ons julle nie uitdruklik beveel om op te hou nie!?” En wat antwoord die apostels – vervul deur die Gees? “Ons moet Gód méér gehoorsaam wees as mense. Júlle het vir Jesus doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek. En nou sit Hy aan Sy regterhand en Hy géé bekering & vergifnis as gawe. En óns is getuies van dit alles en só ook die Gees wat Hy gee aan almal wat die evangelieboodskap gehoorsaam is.”

Sien u die Here se 2de troefkaart om Sy Woord onstuitbaar te laat voortgaan? Nou nie ‘n bonatuurlike ingrype nie, maar … die onverskrokke oortuiging van die apostels. Hulle is absoluut oortuig van hulle saak. Hulle is absoluut oortuig van die Waarheid van die evangelie, want dit is alles gegrond op historiese feite – op dít wat werklik gebeur het. Hierdie manne gló werklik wat hulle glo. Hulle is oortuig. En hulle oortuig ander. Hulle is passievol. Hulle loop oor. Hulle borrel. Waarom? Want hulle wéét dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy op die troon sit. Daarom krimp hulle nie ineen & kruip in hul dop & gaan sluit hulleself iewers toe – wanneer daar opposisie & teenstand kom nie. Daarom hoef nie een van ons inmekaar te krimp wanneer ons ‘n koue skouer kry omdat ons vir die Here probeer uitstaan nie. Oral waar enigeen van ons ‘n getuie vir die lewende Here probeer wees, sal ons teenstand kry. Al kry ons net ‘n bynaam. Ek onthou wat ‘n dame in Vredehoek my toegesnou het tydens ons CD-veldtog toe ek ‘n CD in haar posbus plaas. Sy het my goed vertel waarheen ek en my CD kan gaan. Ons sal oral teenstand kry. Maar ons deins nie terug nie, want die Here gebruik ‘n troefkaart: die oortuiging van die Waarheid. Die gloed- wat die Gees uit die Skrif gee.

3. TROEFKAART NO 3: ONDERSTEUNING VAN NIE-CHRISTENE: Verse 33-42. Kyk, toe die kerklui die apostels se oortuiging sien en hul gloeiende woorde hoor, word hulle briesend kwaad en wou hulle doodmaak. Hulle kón dit doen. Hulle het dit met Jesus gedoen. Dit is ‘n ernstige moment. En toe kom die Here se 3de troefkaart – uit die bloute. Hy gebruik ‘n ongelowige uit hul eie midde om hulle tot besinning te bring: Gamaliël – ‘n geleerde & gerespekteerde Fariseër, maar ‘n ongelowige. Iemand wat Christus as verlosser verwerp het. Maar juis hý word ‘n instrument in Gods hand. ‘n Troefkaart. Sy woorde red die apostels se lewens. Hoe wonderlik groot is die Here dat Hy enigiets/enigiemand kan gebruik om Sy Woord onstuitbaar te laat voortgaan – ook ‘n ongeredde mens.

Kyk net met watter wysheid praat Gamaliël. Onbewustelik bevórder hy die voortgang van die Woord. Hy sê vir sy kollegas: “Mense, ons moet versigtig wees wat ons met hierdie manne doen. Julle weet, as ‘n nuwe beweging nie van die Here kom nie, sal dit self doodloop. Kyk maar wat het onlangs met Theudas gebeur.. Hy het ook ‘n klompie volgelinge gehad en gesê dat hy ‘n man van God is. En nie lank nie, toe loop dit dood. Ek sê vir julle: as dit wat Petrus-hulle verkondig werklik van Goddelike oorsprong is, sal niemand dit kan stop nie. En op die ou end sal dit blyk dat ons teen God self geveg het. Kom ons laat hulle slaan en dan laat ons hulle vry.” Gamaliël se woorde vind inslag. So gesê, so gedaan. Petrus-hulle word geslaan en vrygelaat. En hulle is met blydskap vervul vir die groot voorreg om ‘n klein bietjie onreg te mag ly t.w.v. die Naam van Jesus. En daarna het hulle voortgegaan om onophoudelike Skriflering te gee en die Goeie Nuus te verkondig dat Jesus regtig die gesalfde verlosser is.

Moenie dink dat die Here nie ongeredde mense (“die wêreld”) kan/sal gebruik om Sy Woord onstuitbaar te laat voortgaan nie! Dit is ‘n troefkaart wat Hy dikwels gebruik. Ons mag ook bid dat Hy dit sal gebruik. Veral in ons situasie in die middestad – waar ons pogings wil aanwend om die Woord verder te laat uitkring. Maar ook in u persoonlike omstandighede. Die Here sorg vir verrassings. Uit die bloute gebruik Hy ongelowiges. Ook bonatuurlike ingrypings. Ook die gloeiende oortuiging in u hart. Dit is Sy 3 troefkaarte. Mag Hy ons aanvuur om sorg te dra dat Sy Woord onstuitbaar voortgaan. Mag Hy ons ook help om met blydskap enige teenstand te verduur. Dit word vertel dat Generaal William Booth (die stigter van die “Salvation Army”) eenmaal besig was om te preek. En toe spoeg iemand op hom. Een van sy offisiere kom toe met ‘n sakdoek om die generaal se uniform skoon te vee, maar Booth sê: “Nee, los dit daar, dit is ‘n medalje.” Die ou klein probleempies wat na ons kant kom, omdat ons oortuig is van wat ons glo, is nie iets om weg te vee nie. Laat ons daaroor bly wees en met alle mag voortgaan, want die Woord ís onstuitbaar! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00