DIE VERRESE LAM VAN GOD

SKRIFLESING  Johannes 20:1-10

SKRIF VAN OORDENKING 1Kor. 15:20 “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.”

INLEIDING

Soos Saul, die koning van Israel, van sy skouers af boontoe uitgestaan het bo die volk, so staan die Opstanding môre uit bo enige ander dag wat die kind van God kan herdenk. Want as “Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind” 1Kor.15:14, 15.

Dan was Christus se eie getuienis nie waar nie. Sy belofte was dat Hy weer sal opstaan. (Johannes 2:19)  Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.

As Jesus nie opgestaan het nie hoe kan Jesus dan sê: “(Johannes 11:25)  Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;”

Dan was die dissipels mislei want hulle vreugdevolle getuienis was gefundeer op die feit dat Jesus opgestaan het. (Handelinge 4:2) “en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.

Dan was die Kerk deur al die eeue heen een groot bedrog asook hierdie Organisasie wat al vir ongeveer 87 jaar die boodskap uitdra.

Dan was die ondervinding van elke kind van God een pragtige grootse misleiding en oëverblindery.

Dan sou ons die ellendigste van alle mense gewees het.

Maar en ek dank God die Vader vir die woord “maar” Christus is opgewek en sit aan die regterhand van God die Vader, want Hy het aan Petrus verskyn, daarna aan die ander dissipels, daarna aan vyfhonderd broeders gelyk, daarna aan Jakobus; daarna aan al die apostels en ook laaste aan Paulus. Maar ook omrede daar ’n leë graf bestaan.

Ons lees die volgende tydens die geboorte van Jesus in die Woord van God ten opsigte van die herders. “(Lukas 2:9, 10) “En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,”

Ons sien by die graf van Jesus ook weer ’n engel (Matthéüs 28:5) “Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.”

Wat ’n blye boodskap in beide gevalle maar veral in die laaste. Die Evangelie van die engel. Die Blye Boodskap, Jesus leef!

Die tragedie van die kruis is oor; die vroue by die kruis staar dalk nog steeds en staar na die lewelose liggaam van Jesus, dalk bang dat die liggaam van Jesus in die Tophet, die algemene graf vir die uitgeworpene, misdadigers en onreines gegooi sou word.

Hulle sien hoe Jesus se liggaam in die nuwe graf van Josef neergelê word. Vroeg die volgende oggend, die eerste dag van die week kom hulle met kosbare speserye om die liggaam te balsem. Vergete is die woorde van Jesus “breek ‘hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig. Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.”

Tensy Jesus se woorde nie in ons bly nie word ons oordenking daarvan ’n ywerige geesdrif sonder kennis!

Wanneer het hulle gekom?

Lukas 24:1 “EN baie vroeg in die môre, ‘op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom”.

Ons lees in die Skrif die volgende Amos 5:4 “Want so sê die HERE: Soek My, dan sal julle lewe!” Spr 8:17 “Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.”

As ons die Here soek sal ons hom vind. Watter tyd is die mees geskikte tyd om die Heer te soek as vroeg in die môre, elke môre. En veral die eerste dag van die week, Sondag. Die dag wat die nuwe begin vir ons as kinders van God inlei. Daarom moet die Sondag geheilig word en die voorskrifte soos in die Woord van God soos van toepassing op die Sabbat, ook nastreef.

Waarheen het hulle gegaan?

(Markus 16:5)  En toe hulle in die graf ingegaan het”.

Die wil voorkom asof hulle moes neerbuk om die graf in te gaan. Die KJV gebruik die woord, “they stooped down” (Johannes 20:11) “But Mary stood without at the sepulchre weeping: and as she wept, she stooped down, and looked into the sepulchre,”

Hier ondervind hulle die Opstanding krag van Jesus. Waar anders kan u en ek dit leer en ondervind as om neer te buk en in die graf in te gaan “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” Filip. 3:10

Ons moet neerbuk in die graf om gekruisig te word met Christus as ons verlang dat die verrese Christus in my moet leef en woon. “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” (Kolossense 3:1-3) 

Wat het hulle in die graf gevind

Hulle het kosbare skatte daar gevind as ek dit so kan stel.

Hulle het nie die dood daar gevind nie, maar lewe tot in alle ewigheid. Hier het hulle oorgegaan van ’n natuurlike, vleeslike lewe van begrip en verstand na ’’n geestelike lewe van geloof. O, as ons nie bereid is om te sterf in ons self nie, sal ons nooit hierdie lewe van geloof te volle kan besit nie. Gaan deur die geloof in die graf van Christus, sterf in die gekruisigde Christus en jy sal vernuwe word deur die Verrese Christus Jesus se lewe. Hulle het die volgende ontvang-

’N VISIE VAN DIE HEMELSE

Hier in die graf van Jesus is hulle in gemeenskap gebring met die gestuurde vanaf die hemel. Die heilige Gees was nog nie daar nie, want Jesus was nog nie verheerlik nie. Kan ons dan nie sien dat hierdie jongman volgens Markus 16:5 die tydige en tydelike plaasvervanger van die Heilige Gees se werk voorstel daardeur wat aan Jesus behoort te neem en aan hierdie vroeë soekers mee te deel nie of te toon nie. Joh. 16: 13,14

’N WOORD VAN BEMOEDIGING

(Matthéüs 28:5) “Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.”

Moenie vrees nie, hoekom? “want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.”

Angstige sondaars asook terug gevalle kinders van God soek Jesus waar hy nie gevind kan en sal word nie. Hulle soek Jesus tussen hulle dooie werke en soms in hulle ongeredde harte. HY is nie daar nie!

’N BEWYS VAN HEMELSE SIMPATIE

Dit moet bemoedigend gewees het om te weet dat hierdie hemelse boodskapper die dieper soeke van hulle siele geken het, deur die woorde wat hy gespreek het “want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.” Daardeur bewys hy ook dat hy een is met hulle soeke, begeertes.

Die Heilige Gees is dit alles en nog meer vir en in ons lewens.

(Romeine 8:26, 27) “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”

DIE VERSEKERING VAN OORWINNING

“En hy sê vir hulle: Hy het opgestaan” Mark 16:6

Die het alle verwagting van die vroue te bowe gegaan. Hy is nie gesteel nie, Hy het opgestaan! Hierdie boodskap word vir ons goed opgesom deur Petrus in sy sendbrief.

1Petrus 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,”

1Ko 15:55 “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”

’N BEWYS VAN JESUS SE OPSTANDING

“Hy is nie hier nie. Daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.” Markus 16:6

Die klere was daar, net soos dit was toe Jesus daar gelê het. Die doek wat op Jesus se hoof was, netjies opgerol en eenkant gesit. Wie kan twyfel aan die opstanding wat self deur die dood gegaan het tot die lewe “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,” (Filippense 3:10) 

DIE GROOT OPDRAG

“Maar gaan sê..” Markus 16:7

Getuienis vir Christus moet volg op die herlewend invloed van Jesus se opgestane lewe op my as kind van God.

Die Heilige Gees sê “Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” Handeling 13:2

“En julle sal my getuies wees…” Hand 1:8

’N KOSBARE BELOFTE

“Maar gaan sê…dat Hy voor julle uitgaan na Galilea.” Markus 16:7

Wat ’n geseënde en heerlike vooruitsig is dit vir elkeen wat gaan in Sy Naam dat Jesus vooruitgaan?

“Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het” Markus 16:7

Nadat hulle gestuur was, “gaan hulle haastig” Markus 16:8. Hulle was nie ongehoorsaam nie, maar gehoorsaam aan hierdie hemelse visioen. Gaan u gehoorsaam wees en haastig gaan want die tyd is min. Gaan en doen net so en ons sal Hom sien soos Hy is. (1 Johannes 3:2)  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00