Skrifverwysing: Mat. 10: 24 – 33
Die vrymoedige volger deur Victor Muller
Skrifverwysing: Mat. 10: 24 – 33
Baie Christene lewe ‘n lewe van versigtigheid wat bang is om te waag en onseker is oor die toekoms. Hulle mis só baie uit met dié tipe lewe wat hulle leef in vrees vir pyn, vervolging, teleurstelling of lyding.
John Wesley het eens gesê: “Vrees niks nie, behalwe sonde.”
Jesus het Sy dissipels hier geleer dat iemand wat in voortdurende vrees leef, nie Sy navolger kan wees nie. ‘n Vreesagtige lewe is geen volheidslewe nie. Inteendeel die vrymoedige volger is een wat:
1) Reken met die realiteite van ‘n gevalle wêreld (verw. v. 24 – 28).
a. Jesus het nie die feit van gevare en teëspoed ontken nie. Christene word nêrens in die Woord immuniteit van seer of kwytskelding van vervolging belowe nie.
b. Jesus het wel die sekerheid van oorwinning belowe en bevestig. Te midde van die feit dat ons dalk pyn, vervolging, teleurstelling, lyding en selfs dood in die gesig staar, sal Christus wel tog op die einde seëvierend oorwin.
c. Hierdie is geen vlakkerige optimisme of motiverende praatjie nie, inteendeel dit is ‘n werklike, onverskrokke en vrymoedige geloof.
2) Rus in die almagtige heerskappy van God (verw 29 – 31)
a. Die gevolge en gevare van ‘n gevalle wêreld is ‘n werlikheid, maar wel beperk. Niks kom verby God sonder dat Hy dit toelaat nie. (verw o.a. Job 1:12)
b. Aan die ander kant is die liefde en almag van God onbeperk. God se omgee strek selfs tot die kleine mossies en nie een van hulle kan eers iets oorkom tensy God dit toelaat nie. Hoeveel te meer gee hy nie om vir ons nie?
3) Reik na die loon in Christus Jesus (verw 32,33)
a. Ons pyn, vervolging, teleurstelling of lyding vir Christus sal beloon word. As ons nie sal toelaat dat die dreigement (selfs die werklike feit) van vervolging ons tot stilswye intimideer nie, sal ons, op Jesus se aanbevelling, in oorvloed vergoed word.
b. Die enigste ding wat ‘n Christen moet vrees is om ons Here Jesus teleur te stel. Hierdie vrees, wat vanuit ‘n besnyde hart van eerbied kom, behoort al die ander vrese uit te kanselleer. Veg dus vrees met liefde vir Christus!
Wanneer ons stop en daaroor nadink kom dit alles neer op hierdie slot gedagte. Een klein oulike vuilgesig seuntjie, met sy een vuis wat vasberade vasgeklou het aan sy pienk dinosourus, was een middag besig om my te bespring en te slaan. Ek was besig by my lessenaar met werk en sy soewereine wil was teen myne… ons moet buite gaan speel.
In daardie stadium het ek afgestomp teenoor hom reageer en gemaak asof hy niks doen nie. Tog het hy onverskrokke volhard in sy poging om my te stuur, maar sit het ek bly sit.
Toe spring die klein woelwater teen my op en beklouter my met pienk dinosourus en al… Vuil voete oor my broek, loop neusie teen my hemp en arms wat styf vasklou. Ek tel hom toe eenvoudig met een arm af en plaas hom op die grond neer en gaan rustig voort met my werk. Hy kyk my verleë aan… onseker… krap in sy neus en speel sy troefkaart met woorde wat, nou dat ek terugdink, ‘n onwillekeurige keurige gilmlag om my mondhoeke laat vorm:
“My pappa is tog sterker as jy.” Hy bestorm my toe weer.
Daardie middag het die klein mannetjie my een van die grootste lesse van my lewe vir my geleer: My Hemelse Pappa is sterker as enige beproewing wat my in die gesig staar.
Deur Victor Muller
Epos: vmul0702@gmail.com
Vir verdere tekspreke en inligting kyk gerus by:
http://www.preke.net/index.php/victor-muller