TAFELBERG GEMEENTE
7 PROFETE IN 7 WEKE - NO 2: OBADJA
Skrif: Obadja vv 1-21
Tema: Die boodskap van Obadja

Daar was eenmaal ‘n vrou, swanger met tweeling seuns. Selfs binne-in moederskoot het die 2 fetusse met mekaar gestry. Uiteindelik sou daar uit hulle 2 nasies voortkom wat end-uit teen mekaar sou stry. Die vrou was Rebekka en die 2 seuns was Esau & Jakob en ons lees dit alles in Genesis 25. Alhoewel Esau die oudste was, sou die Here se groot Belofte van ‘n komende Verlosser, deur Jakob se nageslag, vervul word. Esau was van die begin af negatief teenoor die Here en Sy saak. Soveel so dat Hebr 12:16 hom “goddeloos & sedeloos” noem. Hy het sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop vir ‘n bordjie sop. Hy het met heidense vroue getrou. Hy het in die gebied suid van die Rooi See gaan woon. Die gebied was bekend as EDOM. Sy nageslag was die Edomiete. Vir honderde jare het hulle stryd gevoer teen hulle broers, die Israeliete. Toe die volk uit Egipte bevry is en na die land Kanaän onderweg was, het die Edomiete hulle verbied om deur hulle grondgebied te trek. Só het hulle die heeltyd stryd gevoer teen die Jode. Toe die Here se volk in die jaar 586 vC in ballingskap na Babilon weggevoer is en Jerusalem vernietig is, het die Edomiete daaroor gejuig. 600 jaar later het Koning Herodes babaseuns laat doodmaak met die doel om die pasgebore Jesus dood te maak. En Herodes was ook ‘n Edomiet. Die stryd tussen Herodes & die pasgebore Verlosser, was dus steeds ‘n stryd tussen Esau & Jakob. Uiteindelik is die Edomiete deur die Romeine uitgeroei in 70nC tydens Jerusalem se val – soos die Here deur Obadja voorspel het.

‘n Mens moet hierdie stryd tussen Esau & Jakob (Edomiete & Jode) ook sien teen die breëre agtergrond van die Moederbelofte in Genesis 3:15, waar God – net ná die sondeval – beloof het dat daar vanuit Eva se nageslag ‘n manlike Persoon sal kom wat die slang se kop sal vermorsel alhoewel die slang die vrou se saad in die hakskeen sal byt. Die hele OT ontbloot hierdie stryd – hoe die slang probeer het om te verhoed dat God se belofte waar word en die manlike verlosser uit Eva se nageslag gebore word. Ons het dit alles verlede jaar breedvoerig beskryf in ons reeks boodskappe oor Ester. Net om te sê dat die Edomiete één van die slang se instrumente was om die koms van die Verlosser te verhoed. Daarom moes Jakob se nageslag uitgeroei word (so voel die slang), want God se belofte loop in die Jakob-lyn! Ons Here Jesus is uiteindelik uit die Jakob-linie gebore. Eintlik sit hierdie slanggif/arrogante-antagonisme-van-die-Edomiete, in ons almal se bloedstroom, vandaar ons almal se innerlike weerstand teen die Here en teen alles wat Bybels-geestelik is. Gelukkig hoef ons nie ad infinitum só voort te strompel nie. Dit is die blye boodskap wat Obadja verkondig.

Waarom hierdie allemintige inleiding? Dit is die agtergrond van Obadja se profetiese woord. Die Here praat deur Obadja om Esau se nageslag (Edomiete) te veroordeel én om ware hoop te gee aan die Israeliete, die ware kinders van die Here. Die tyd wanneer Obadja profeteer was toe die Here se volk in ballingskap weggevoer is na Babilon in 586vC en die Edomiete hulle daarin verlekker het & afsydig gestaan het.

‘n Mens kan Obadja se boodskap só opsom: Al verdien die Here se mense/kinders/gemeente somtyds Sy tugtiging, staan Hy vierkantig ágter/bý hulle wanneer hulle vyande naderkom. Die Here sê vir die Edomiete: “Ek het gesien hoe julle julle broers afknou, beroof en verraai. Toe hulle nood op sy grootste was, het julle julle verlekker in hulle swaarkry & afsydig gestaan. Julle het die Babiloniërs se kant gekies téén julle broers. Julle ag julleself so hoog en dink ‘wie sal ons van ons troon afkry’? Wel, ék sal julle grond toe bring. ” En dan draai die Here na Sy volk toe en sê vir hulle: “Ek staan by julle. Deur dik en dun. Julle sal weer terugkeer en Kanaän in besit neem. Op Sionsberg sal daar uitkoms kom. My beloofde Verlosser sál uit julle voortkom en Hy sal op die berg Sion verlossing bewerk. Daars hoop. Daar wag vir julle ‘n toekoms. Alles is nie so donker nie. Onthou: Die koninkryk/heerskappy behoort aan Mý, nie aan die Edomiete nie. Skep moed my volk. Mý lewe is sterker as die dood.”

Die Heilige Gees gebruik Obadja se pen om te druk op ‘n kardinaal-belangrike saak wat ons almal raak. Wát is dit wat ágter al die Edomiete se manewales sit? Wat dryf hulle tot hulle wangedrag & verwronge verhoudinge? Wat is die wortel van die kwaad? Want onthou, dit is ons almal se probleem. Die Edomiete verteenwoordig almal. Dit is mos belangrik om te weet wat die wortel van al ons moeilikheid is, want indien die wortel uitgetrek word, sal ons genesing, heling en oorwinning ondervind. Wel, wat was die wortel van die Edomiete se probleme? Was dit haat? Sonde? Gierigheid? Nee, die Here kyk diep en sê: dis hoogmoed. Trots. Vers 3 & 4: “Jy is deur jou vermetelheid mislei. Jy wie se woonplek hoog in die berge is. Jy wat dink: Wie sal my hier afkry grond toe? Al bou jy daar in die hoogte soos ‘n aasvoël, al sit jy jou nes tussen die sterre, Ék sal jou daar afhaal, sê die Here.” Sien u? Geen enkele mens het ‘n ánder wortelprobleem as dít nie – al is dit hoe moeilik om in te breek en dit te erken. Dit is die wortelprobleem agter al die komplekse waarmee ons loop – veral minderwaardigheidsgevoel. Vrese. Aggressie. Onthou vers 3: “Jy word MISLEI deur jou hoogmoed.” M.a.w. hoogmoed manifesteer nie as hoogmoed nie! Hy kamoefleer homself. Hy is skelm. Maar dit is die wortel van alle verhoudingsprobleme. Dit is die wortel van ons rassespanninge. Dit veroorsaak dat jy in die huwelik op jou maat se foute & tekortkominge fokus en tegelyk op jou eie begeertes & behoeftes fokus (die wenresep vir mislukking). Dit is hoogmoed wat veroorsaak dat ons eerste impuls áltyd is om onsself eerste te stel en keuses te maak in lyn met wat reg is vir onsself. En so kan ons voortborduur en talle voorbeelde noem. Die probleem is dat die wêreld waarin ons lewe áltyd ‘n hoë premie plaas op trots. Net die teenoorgestelde as die Skrif. Ons word heeldag & elke dag gebreinspoel met hoe belangrik hoogmoed is en hoe hoog koning mens is. Aan die ander kant praat die Heilige Gees ‘n ander taal. Byvoorbeeld Spreuke 16:18/ 21:24.

Dit is interessant dat die satan self tot ‘n geval gekom het a.g.v. hoogmoed. 1 Tim 3:6 sê dit eksplisiet. Onthou: die satan was nie altyd satan nie. Hy was oorspronklik geskep as ‘n pragtige engel / ‘n chérub genaamd “môrester”. Maar hy het hoogmoedig geword op sy skoonheid en was nie tevrede met ‘n posisie ónder God nie. Toe kom hy in opstand en was die Here gedwing om hom neer te werp en saam met hom ‘n derde van alle engele wat ook gerebelleer het. Sommige geleerdes reken dat dit die betekenis van Jesaja 14: 11-17 is: “Jy het met jou hoogmoed in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers en oortrek van wurms. Jy wat die helder môrester was, het uit die hemel geval. Jy wat ‘n oorwinnaar van nasies was, is in die grond verpletter. Jy wat gedink het: Ek klim op hemel toe. Ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre. Ek word soos die Allerhoogste self. Maar jy stort af in die doderyk, tot in sy diepste deel. Mense sal hulle aan jou vergaap en vra: Is dít die man wat die aarde laat bewe het en koninkryke laat wankel het?” ‘n Parallel vind ons in Eseg 28:13ev. V 17: “Jou prag het jou hooghartig laat word.” Dit moes plaasgevind het voor die skepping van die mens. Daarom het die satan – gekamoefleer in slangsgewaad – dieselfde met die mens probeer regkry in Eden. En dit inderdaad reggekry. Adam & Eva wil skielik bó God se troon uitklim. Maak nie saak wat Hy oor die vrug vd boom gesê het nie. Wie is Hy tog in elk geval?! Ek, koning mens, sal van die boom eet. En toe kom die duiselingwekkende val. Hoogmoed was die kern van alles. Hoogmoed is steeds die hartklop van alle probleme, sonde en verwoesting. Daarom val ons so bitter seer. Dít is wat verhoudinge vernietig en duisende spanninge veroorsaak.

Die Here het egter nie die situasie só laat staan nie. Dit is interessant hoe die Here Jesus Christus self op die agtergrond van Obadja teenwoordig is. Hý is die Een wat verneder is deur Sy vyande en weer deur Sy Vader verhoog is – soos Israel dit onder die Edomiete beleef het. Hy het die lyding van vv 10-14 ten diepste beleef. So-ook die heerskappy & glorie van vv 17-21. Hy het dwarsdeur Sy aardse lewe net mooi die teenoorgestelde geleef as die Edomitiese verwaandheid. Sy wederkoms sal die vervulling wees van die groot Dag van die Here soos voorspel in vv. 15-21. Sien u hoe Jesus self op die agtergrond van Obadja staan?

Ons Here Jesus het – met Sy koms na die aarde – alle hoogmoed in sy kern vernietig en oorwin. Hy het alles wat satan & mens onderstebo gekeer het, weer teruggedraai. Satan & mens was beeldskoon en geskep om ónder God se troon te leef. Toe kom die hoogmoed en satan & mens raak ontevrede en wil opklim bó God. Toe word hulle neergewerp tot in die dood. Opvallend dat ons Here Jesus net die teenoorgestelde doen. Hy was van alle ewigheid af heel bo – self ewige God op die troon. Maar Hy besluit om af te klim. Af en af en af. Tot by die vloekdood van die kruis. Toe verhef God Hom tot die hoogste posisie. En so oorwin Hy vir ewig ons hoogmoed. As ons aanhou om ons op Hom te verlaat, laat die Heilige Gees al hoe meer Sy ootmoed, nederigheid en oorwinning in ons lewens deurbreek. Dit staan opgeteken in Filippense 2: 5-11.

Nóú kan ons die diepte van Obadja verse verstaan. Verstaan dit in die lig van die komende Here Jesus wat klaar met ons wortelprobleem (hoogmoed) gehandel het.

1) Die beste ding wat met ‘n mens kan gebeur is dat die Here jou só skud, dat uit jou arendsnessie uitval. Hoe gouer dit gebeur, hoe beter vir jouself. En Hy is in staat om jou grond toe te bring. Dink aan Daniël 4:37.

2) Deurdat ons Here Jesus – wat van ewigheid af die hoogste posisie gehad het – vrywillig afgeklim het en neergedaal het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en ‘n vloekdood te sterf en Hy op grond daarvan verhoog is tot die hoogste eer – het Hy ons vrygemaak van ons wortelprobleem. Dit is nie ‘n verlossing wat nog moet plaasvind nie. Dit is reeds afgehandel. God het end-uit woord gehou. Daardie moederbelofte van Gen 3:15 loop ook deur Obadja. Sien v 17: Op Sionsberg sal daar uitkoms kom! Die slang se kop sal op die berg in Jerusalem vermorsel word. Die Edomiete kon dit nie verhoed nie. Jesus het dit vervul. Namate ons Hom doelbewus vertrou, breek Hy die bande.

3) Vir almal wat die Here Jesus Christus vertrou vir verlossing – is daar hoop vir die toekoms. Die Here se kinders sal die land besit. As ons vanuit die NT terugkyk na Obadja, sien ons dat dit nie net gaan oor ‘n klompie Israeliete wat uiteindelik ‘n stukkie land sal besit nie. Nee, álmal wat die Here Jesus vertrou, sal die aarde besit. Die nuwe aarde. Omdat die heerskappy aan die Here behoort (v 21). As jy aan Hóm behoort, behoort Sy oorwinning ook aan jou! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00