2de PORTRET – CHRISTUS MY GESINDHEID (2:5-9). Pieter Scholtz

As ons op die ontelbare seëninge let wat God ons uit genade en uit Sy warm hart van liefde meedeel, kom daar seker ook somtyds die vraag by ons op, soos Ps.116:13 dit stel – wat kan ék die Here vergeld vir al Sy weldade aan my? Dan sȇ hy: Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam vd Here aanroep. Ek sal my geloftes betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk. ’Hier (in Fil.2:5-9) kry ons die één antwoord – God vra dit, ja gebied dit selfs – en dit het één hoofsaak – dit is dat dieselfde gesindheid wat IN Christus Jesus was, ook IN ons moet wees. Watter gesindheid? – sekerlik bo alles die met die waarmerk van nederigheid! Want … Hy ‘weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade!’


 ‘Hierdie gesindheid’ wat in Hóm was, was só prakties sigbaar dat niemand daaroor hoef te raai nie! Dit gaan oor HOE Hy Homself, as die Seun van God, verneder het … van die hoogste plekke van eer en majesteit wat reeds in die hemel Syne was – vrywillig – tot die laagste plekke van smaad, pyn, veragting en vernedering hier op aarde. Sien hoe Hy by hierdie ‘LEER’ met sewe trappe, uit die hemel uit tot by ons sondaars AFGEKLIM het, met só ’n gesindheid van ontlediging en ware nederigheid!


1.  HY HET SY EREPLEK EN POSISIE VRYWILLIG PRYSGEGEE (v.6): ‘Hy, wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie’. Waar hoogmoed en eersug altyd na mag en aansien smag en daaraan vasklou, het Jesus Christus doelbewus van alle reg op Sy aanspraak en bestaan as God in die hemel waar alle mag en majesteit, eer en heerlikheid IN HOM gesetel was, afstand gedoen! Vrywillig het Hy alles uit eie keuse ‘gelos’ toe Hy as Gestuurde van Sy Vader (42 keer net in Johannes) na die aarde gekom en vir Sy Vader gesê het: “Hier is EK, stuur My!”    


2.   HY HET HOMSELF LEEG GEMAAK (v.7): ‘Het Homself ontledig …’. Die werkwoord ‘ontledig’ beteken heeltemal, tot die laaste druppel toe! Eerstens: Van Sy ereposisie as die Liefling van die hemel. Tweedens: Van al Sy rykdomme: (2 Kor.8:9). ‘Hy het, alhoewel Hy RYK was, ter wille van júlle ARM geword, sodat júlle deur Sy armoede ryk kan word’! Derdens: van Sy almag: Hy, aan Wie alle mag behoort het, het as Mens swak geword (‘n Baba in die arms van ‘n moeder), sodat Hy baie ander sterk kan maak (4:13). Vierdens: Van Sy heerlikheid: Hy, Wie só heilig en vol heerlikheid was dat geen mens Hom kon aanskou en bly lewe nie, het Sy heiligheid en heerlikheid so in sy menslike liggaam versluier dat eenvoudige, doodgewone, aardse mense Hom kon sien en aanraak! Op die aarde was Hy, soos alle ander mense, as volkome MENS, in alles diep van die Vader afhanklik. Al Sy wonderwerke het Hy alleen in geloof en deur die krag van die Heilige Gees gedoen.


3.  HY HET ‘N DIENSKNEG GEWORD (v.7): Hy wat in die gestalte van God was, het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en soos Hyself gesê het: ‘die Seun vd mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien …’ (Mark 10:45). Hy het die gestalte (posisie en houding) van ‘n slaaf (Gr ‘Doulos’ – ‘n ‘liefdeslaaf’; ‘Bondslave’ Eks.21:6 en Ps.40:7) ingeneem, selfs tot by die dissipels se vuil voete!


4.   HY HET VOLKOME MENS GEWORD (v.7):  ‘Aan die mense gelyk geword … en in gedaante gevind as ‘n MENS … ‘ Hy wat aan God gelyk was, het aan mense gelyk geword – in elke opsig – ‘net soos ons, maar sonder sonde …’ Sy voorkoms as mens was blykbaar nie baie indrukwekkend nie, want Jes.53:2 sê, ‘Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie!’ Tog het Sy innerlike reinheid, opregtheid, teerheid en liefde duidelik waarneembaar deur die ‘sluier’ van Sy menslikheid uitgestraal, sodat Johannes kon skrywe: ‘ons hét Sy heerlikheid aanskou!’


 5.   TOE (sê vers agt) HET HY HOMSELF NOG VERDER VERNEDER (v.8):  Soos water die laagste plekke soek om dáár te vloei – só soek die gesindheid van Jesus – van nederigheid, diensbaarheid en selfvernedering spontaan en doelbewus die laagste plekke uit om dáár te dien en te offer, want tot dáár – tot in die stof en tot in die modder – is die mens een tot die afgryslike, hoogmoedige, selfsugtige, skynheilige en wreedaardige monster wat hy in sy wese geword het, deur die sonde verneder! Maar in Hand.8:33 lees die N.V. ‘In Sý vernedering het daar nie REG aan Hóm geskied nie!’ Want, die sondige mens kan die beginsels van selfvernedering nie verstaan of aanvaar nie. Hulle beskou die feit dat Hy Homself nie verdedig het en Sy mond nie oopgemaak het nie – maar dat Hy soos ‘n lam (was) wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – as tekens van swakheid en lafhartigheid! Toe het hulle van hierdie lamgesindheid misbruik gemaak en Hom gegryp, verag, vertrap, bespot, verneder en selfs gekruisig … sodat húlle kan voortgaan om vir hul eie selfsugtige regte te veg en ander s’n te vertrap! Hierdie ander soort gesindheid maak dat mense hulleself nooit voor God en mens wil verootmoedig en verneder nie; nooit eerlik genoeg is en gewillig om die minste te word nie en nooit sal sê – ék is jammer of, ek is skuldig nie! Net hierdie gesindheid … wat ook in Christus Jesus was, kan harde harte week maak en trefhoue slaan vir waarheid en geregtigheid! Dís die geheim wat Christus ons leer van ‘wen deur te verloor!’ Die een kwaaddoener aan die Kruis het dit raakgesien en Hóm as sy ‘Wenner’ gekies!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00