Geskryf deur HEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
WIE ‘n OOR HET LAAT HOM HOOR!
Robert Kupferscmidh was al 81 jaar oud met geen vlieg ondervinding nie. 17 Junie 1989 het hy en sy vriend , Wesley Sickle 52 jaar oud , in Wesley se Cessna 172 gevlieg. Terwyl hulle in die lug was en rustig gevlieg het, het Wesley net vooroor geval teen die stuurstang van die vliegtuig. Hy het ‘n hartaanval gekry en is opslag dood. Die vliegtuig het skerp geduik en Robert het die stang geneem en opgetrek. Hy het ook op die radio na hulp geroep en twee vliegtuie in sy nabye omgewing het hom gehoor. Die naaste vliegveld is bepaal en die twee vlieëniers het vir Robert duidelik , kalm en stadig vertel hoe hy moet hoogte verkry, vlieg en dan natuurlik die moeilikste hoe om te gaan land.
Nood voertuie is na die lughawe gestuur en die ander twee vlieëniers het oor die lughawe gesirkel voordat hulle vir Robert die nodige instruksies gegee het hoe om te land. Onthou – Robert het nog nooit in sy lewe gevlieg nie.
Robert het met die Cessna ingekom, die neuswiel eerste op die middelstreep neergesit en toe het die vliegtuig ‘n paar keer gespring voordat dit in die gras langs die aanloopbaan tot stilstand gekom het. Robert was nie beseer nie – WANT hy het geluister na die instruksies van die ervare vlieëniers asook dit uitgevoer soos wat hulle dit vir hom gesê het.
OPENB. 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
Is jy ook een van die Kerkgangers wat week in en week uit luister na die boodskappe maar nie die instruksies volg nie? Hoe lank praat die Here nie met jou om jou te bekeer van jou verkeerde weë – maar jy volhard nogsteeds daarin? Wat moet God oor jou pad stuur? Wat moet Hy nog doen voordat jy gaan luister? Jou bankkrot maak? Jou geliefde neem? Jou kind neem? Jou werk verloor? Jou… ?
Luister NOU na die Heilige Gees en doen wat Hy van jou vra en ek verseker jou – met die beloftes van die Bybel – dat jou landing veilig sal wees.
GEBED
Vader, ek luister maar ek doen nie! Ek kom nou om my totaal aan U oor te gee en te doen wat U van my verlang! AMEN