Skrif: Johannes 1: 1-18

Die Apostel Johannes is ‘n bejaarde man en in sy gedagtes gaan hy terug na die meer as 3,5 wonderlike jare wat hy saam met die Here Jesus Christus spandeer het. En nou vertel hy ons daarvan. Die vertellinge van Matteus, Markus en Lukas was op daardie stadium alreeds op skrif en het in die kerk gesirkuleer. Johannes was op hoogte met wat hulle geskryf het. Hy het geweet hoe hulle geskryf het oor wat die Here Jesus in Galilea gedoen het. Toe skryf Johannes om te vertel wat Jesus in Jerusalem gedoen het en hy voeg baie detail by wat nie in Matteus, Markus en Lukas voorkom nie. Hy skryf en onthou van talle van Jesus se gesprekke – veral waar Hy van Homself as die groot EK IS gepraat het. Hy onthou hoe Jesus – net voordat Hy gearresteer was – intiem met Sy dissipels gepraat het. Hy onthou Sy onbeskryflike gebed. Hy onthou die Heiland se verskynings ná Sy opstanding. Hy onthou Sy groot wondertekens wat altyd ‘n dieper betekenis gehad het. En al hierdie dinge skryf hy in sy boek. Dit is waarom Johannes se beskrywing heelwat anders lyk as Matteus, Markus en Lukas.

Johannes sê ook baie duidelik wat die oogmerk van sy skrywe is. Kyk 20:31. Hy wil hê dat ons moet sien wie Christus werklik is. En dat dit geloof by ons sal skep wanneer ons dít sien wat Christus alleen kan gee, naamlik LEWE.

Die eerste 18 verse is op die oog af ‘n inleiding, maar dis ook baie meer as ‘n inleiding, want ál die groot temas van die res vd boek, staan reeds in kiemvorm in die eerste 18 verse. In die res van sy boek, kom Johannes weer en weer terug op wat in die eerste 18 verse staan en bring hy ons só naby die Here Jesus Christus. Want wat Johannes – as ooggetuie – sê, is só helder dat ons byna aan Jesus kan raak en elke woord wat Hy gesê het, indrink.

Hierdie 18 verse is kragtig, uniek en wonderlik. Iemand het gesê hierdie verse is werd om in letters van goud geskryf te word. Baie jare gelede was daar ‘n man met die naam van Francis Junius. Hy het gevoel dat die Christelike Geloof ver benede hom is. Hy wou lewe soos hy wou. Hy was selfgesentreerd en het ‘n lae vlak van moraliteit gehandhaaf. Eendag het sy pa die Bybel by Johannes 1 oopgemaak en dit iewers in die huis geplaas met die hoop dat Francis dit sal lees. Hy het dit gelees. Toe hy die goddelikheid van die eerste 18 verse voel en die majesteit van die skryfstyl sien, het hy letterlik fisies gebewe en was oorweldig deur verwondering. Onmiddelik het hy vrede in Christus ondervind. Wat ‘n geweldige krag!

Joh 1: 1-18 sê drie dinge: 1) Oor WIE die res van die geskrif handel, 2) Hoe hierdie Persoon in die wêreld aangekondig is en 3) wat die gevolge was van hierdie Persoon se koms in die wêreld. Onbeskryflik dat die bejaarde Johannes dit alles as ooggetuie vertel en dat ons dit 2000 jaar later in ons hande mag neem en lees – soos vanoggend in hierdie erediens.

Alles handel oor DIE WOORD (v 1). Wat ‘n vreemde manier om die Here Jesus Christus te beskryf. Nêrens in die hele Bybel word Christus ooit só beskryf nie. DIE WOORD. U sien, wanneer ‘n mens ‘n gedagte in jou binneste het, kom dit voort uit wie/wat jy ten diepste is en dit word uitgespreek in woorde. Die woorde is ‘n uitdrukking van jou gedagte en wie jy is. Indien ons perfek sou wees, sou ons woorde ‘n volmaakte uitdrukking van ons gedagtes wees. God is volmaak. En Hy het ‘n Woord. Daardie Woord is alles wat God is en ‘n volmaakte uitdrukking van wie Hy is. Daardie Woord is die Here Jesus Christus.

Dit is wat Johannes bedoel as hy sê dat sy boek handel oor Jesus as die Woord. Want Jesus is die volmaakte uitdrukking van wie/wat God die Vader is. Johannes se boek gaan oor die Woord, wat self God is – Jesus Christus.

Lees vv 1-2. Hierdie Woord is net so ewig as wat die Vader is. Die Woord was reeds vóór die skepping. Hy was bý God en was sélf God. Dis Jesus! Hy is waarlik God en tog ook onderskeie van die Vader. Vers 1 sê eksplisiet: Jesus IS God. Vers 3> Hy was betrokke by die skepping. Vers 4> Hy besit in Homself die LEWE. Ons ontvang die lewe van Hom, maar van wie ontvang Hy dit? Van niemand nie. Hy is God. Hierdie lewe in Christus is die lig vir die mense. LEES v 9 > Hy is die lig wat nooit aangesteek word nie nie, en tog vir ewig brand. ELKE ander lig wat daar is, is by Hom aangesteek. As jy enigsins geestelike lig het om -byvoorbeeld – te sien dat die geestelike realm bestaan, wáár kom daardie lig vandaan? Christus. As jy enige ander lig in enige ander area vd lewe het. Byvoorbeeld om waarhede aangaande die heelal, wetenskap, musiek, tale te bekom. Waar kom dit vandaan? Christus. Elke mens op aarde is sóveel aan Hom te danke. Meer as wat ons ooit kan peil. Die Woord, wat God is, is die ware lig…. WAT VLEES/MENS geword het!

Wat Hy van alle ewigheid was, hou Hy aan om te wees. Maar in Betlehem het Hy iets geword wat Hy nie voorheen was nie. Hy het op Homself iets geneem wat Hy nooit voorheen gehad het nie: ware/egte menswees! Die ewige en magtige Woord het vlees geword. Vers 14> en tussen ons kom woon. Hy het nie mens geword en toe ‘n miljoen km van ons af gaan woon nie. Nee, TUSSEN ons. Hy het in ‘n maagd se skoot gekom. In die dorpie Nasaret. Hy was in die Sinagoge-skool. Hy was ‘n skrynwerker. Hy het op die heuwels van Galilea geloop. Hy het die name van die diere, die blomme en voëls geken. Hy het gesien hoe die seisoene wissel. Hy het saam met gewone mense in ‘n gewone dorpie gewoon. Allerlei soorte mense het met Hom skouers geskuur. Hy het TUSSEN ons kom woon.

Grieks: “getabernakel”. Tent opgeslaan. Hy het tussen ons kom kamp. En ons kon Sy heerlikheid sien (v 14). Nie almal kon dit sien nie. Nie almal het oë wat dit kon sien nie. Sommige wel. Johannes het. Hy kon sien wie Jesus waarlik was. Johannes het sy arms om Hom geslaan. Om die lewende God in menslike gestalte! Want Jesus se heerlikheid was toegevou in die kleed van ‘n dienskneg. Maar jy kon Sy heerlikheid in Sy karakter sien (v 14). Álles omtrent Hom was genade. Hy het sondaars vergewe. Hy het diegene wat Hom gerkuisig het vergewe. Daar was hoegenaamd geen wraaksug in Hom nie. Geen trots nie. Geen eiewaan nie. Alles omtrent Hom was Waarheid. Hy was nooit verkeerd nie. Nooit nie.

Sy heerlikheid was nie sigbaar in een of ander uitstraling of stralende gesig nie. Ja, vir ‘n paar minute hét dit op die berg van verheerliking gebeur, maar mens kon deurlopend Sy heerlikheid sien in Sy karakter. LEES VERS 18.

Dít is die Een oor wie Johannes se boek gaan. Dit is geweldige belangrike onderrig, want dit is so belangrik dat Christene moet kan onderskei WIE Jesus werklik is – veral in vandag se wêreld waar daar soveel verwarring is. Daar is baie valse Christusse wat aanspraak maak op die egte. Maar dit is slegs die Skrif wat vir ons wys wie die ware Christus is. Alles opgesom in Joh 1: 1-18.

a) Hy is JESUS CHRISTUS (v 17) > Die Verlosser (Jesus) wat Koning (Christus) is.

b) Hy was van alle ewigheid BY God en was ook SELF God (v 1) > Daar is dus net één God, maar Hy bestaan uit meer as een Persoon. Jesus is self 100% God, maar tog is Hy iemand anders as God die Vader!

c) Hy is die Woord – die volmaakte uitdrukking van wie God self is (v 1)

d) Deur Hom het God alles geskep (v 3) tog is Hy deur niemand geskep nie. Absoluut niks wat bestaan het nie deur Hóm tot stand gekom nie.

e) In Hom is die ware LEWE en daardie lewe is die lig vir die mense (v 4)

En hoe is Sy koms aangekondig in die wêreld? Deur ‘n Godvrugtige man wat Hom vooruitgegaan het (v 6). In daardie dae was dit die gebruik dat ‘n baie belangrike persoon ‘n “voorloper” gehad het. Wanneer ‘n VIP ‘n dorp besoek het, het daar ‘n voorloper gegaan wat letterlik die pad gelykgemaak het sodat die koets nie stamperig ry nie.

Jesus het ook so ‘n voorloper gehad: Johannes die Doper. Aan sy klere, kos en blyplek kon jy dit nie sien nie, maar hy was ‘n buitengewone man. Hy het nooit ‘n wonderwerk gedoen nie, nooit in vreemde tale gepraat nie, nie visioene gehad of drome gedroom nie, nooit in ‘n trance gegaan nie. Maar, met gesag het hy teen sonde gepreek. Die mense se gewete het vir hulle gesê dat hy die waarheid praat en hulle het tot bekering gekom. En só het Johannes die Doper die mense voorberei vir Jesus se koms. Hy het as ‘n getuie opgetree (v 7). Nie een van die OT profete wat Jesus se koms voorsê het, was GETUIES nie, want hulle het Hom nooit gesien nie. Ná Maleagi was daar vir 400 jaar geen profeet nie. En toe, skielik, bars die buitengewone Johannes die Doper op die toneel. Hy was ‘n wáre getuie. Hy kon met sy vinger die Here Jesus aanwys.

In daardie dae het die mense nie alarms gehad wat hulle in die oggend kon wakkermaak nie. Daarom het hulle in elke dorp wagters gehad wat heelnag wakker bly en kyk wanneer die dag breek. Dan moes hulle deur die dorp gaan en die mense wakker maak en hard uitroep: “Dagbreek, dagbreek”. Ek kan my voorstel dat sommige mense deur die venster kyk en die naghemel sien en wonder hoe die wagter weet dis oggend. Maar hy weet dit, want hy kan dit sien! Hy sit op die stadsmure en sien die eerste lig vd nuwe dag!

Dit was Johannes die Doper. Die nuwe dag het gebreek en hy kon dit sien! Dis ‘n ware getuie! Hy het nie aandag op homself gevestig nie. Hy het nie geroep “ék is die wagter, ek is die wagter” nie. Hy het geroep “die dag het aangebreek, die dag het aangebreek”. Hy het ook nie geroep “ek is die voorloper” nie. Hy het gesê: “Kyk, die Lam van God.” Hy was nie sélf die lig nie (v 8). Hy het van die ware lig getuig. Eintlik was Johannes die Doper niks meer as ‘n STEM nie (v15). ‘n Stem wat in die woestyn roep. Net soos Jesaja gesê het hy sal roep. Só is die koms van Christus aangekondig.

Die resultaat van Jesus se koms? Verreweg die meeste mense het Hom verwerp. Sommige het Hom aangeneem. Dit was egter vir die duisternis onmoontlik om die lig uit te doof (v 5). Dink daaraan: die onbesoedelde, heilige, reine, volmaakte, perfekte, vlekkelose kom tot in ‘n sondedeurdrenkte wêreld. Die lig gaan helder aan. Met alle mag probeer die duisternis die lig vernietig – maar slaag nie. ‘n Sondelose lewe was geleef in die skoolklasse. ‘n Sondelose lewe is geleef in die timmermanswerkswinkel. ‘n Sondelose seun het tussen Sy ander broers en susters in een huis gewoon. En tog het niemand Hom herken nie. Vers 10> Hy was ín die wêreld, maar die wêreld het Hom nie herken nie. Dit is geestelike blindheid: Om Jesus nie te herken nie. Om met Hom skouers te skuur en nie te sien Wie Hy is nie. Die Jode het nie (v 11). Hulle was Sy eie mense. Hulle het die OT Woord gehad wat op byna elke bladsy van Hom praat. Tog het hulle Hom nie geglo/aangeneem nie.

Dit was egter nie álmal nie. Sommige het Hom wél geglo (v 12). En hulle het onmiddelik kinders van God geword. God self gee hulle die reg om kinders van God genoem te word. Dis nie verwaandheid om sekerheid te hê nie. ‘n Mens mag tog sekerlik jouself noem wat God jou noem.

En hoe word ‘n mens ‘n kind van God? Jy ontvang (Grieks – nie aanneem) Christus. Hoe? Hoe ontvang ‘n mens Iemand wat jy nie kan sien nie. Deur Hom te glo, staan daar. Jy vertrou Hom vir wie Hy sê Hy is en jy vertrou jou lewe aan Hom toe. Dis baie duidelik dat “ontvang” en “glo” sinonieme is. Jy ontvang Jesus deur Hom te glo/vertrou. Die Griekse konstruksie dui op ‘n aktiewe “commitment” aan ‘n ander persoon.

Maar moenie dink dit is ons as mense wat so oulik is dat ons kan glo nie. Vers 13 sê dit is omdat God self jou daartoe bring! Hy laat jou ‘n geestelike geboorte ondergaan. Jy word oorgebore – geestelik. En dis alles Sý werk. Nie op grond van die feit dat jy uit gelowige ouers of grootouers afstam nie (v 13). Nie deur jou eie wilskrag nie (v 13). Maar deur God self. Hý bring jou by die punt waar jou oë oopgaan, waar jy jou verlorenheid ontdek, waar jy Jesus sien vir Wie Hy werklik is, waar jy glo, vertrou en ontvang. Dis niks anders nie as ‘n Godswonder wat met jou gebeur wanneer jy ‘n Christen word. Net soos wat jy nie kan meewerk aan jou natuurlike geboorte nie, so-ook nie aan jou geestelike geboorte nie. By die tyd wanneer ‘n mens by ontvang-en-glo uitkom, het Hy jou alreeds innerlik verander. As dit nie so was nie, sou geen mens ooit tot redding kom nie. Dit is wat die Bybel met GENADE bedoel. Terwyl ons absoluut niks met Hom te doen wil hê nie, kom gryp Hy ons vas – net omdat Hy wil – en daaruit kom ons geloofsvertroue voort. Ons verdien presies die teenoorgestelde. Uit Sy oorvloed ontvang ons genade op genade (v 16). Wie Jesus ken sal weet dat Hy ‘n nimmereindigende fontein is. Hoe meer jy by dié fontein drink, hoe meer is daar om te drink. Want deur Jesus het genade & waarheid gekom – nie ‘n klomp nuwe wette nie (v 13). Ja, daar ís iets soos absolute Waarheid. Dis in Christus te vind. En in Sy Woord. En in Sy genade. Nie ‘n ekstra sterk Wet wat veroordeel en verdoem nie, maar genade wat vryspraak, vergifnis en léwe gee! Die Wet wys vir jou hoe verkeerd jy is, maar verroer nie ‘n vinger om jou te verlos nie. Maar Jesus VERLOS. Genade verlos.

“Apostel Johannes, oor wie gaan jou boek wat jy geskryf het?” Johannes antwoord: “Dit gaan oor ‘n wonderbare Persoon – God se Woord wat mens geword het. Wie se koms aangekondig is deur ‘n Godvresende man, Johannes die Doper. En wat was die uitwerking van die koms van die wonderbare Persoon? Verreweg die meeste mense het Hom verwerp. Maar sommige het Hom ontvang. Sy koms het die wêreld in twee verdeel. Maar, om ‘n aangenome kind van Hom te wees is ‘n enorme voorreg. En om te dink dit kom alles van Hom af. Hý open blinde oë om Sy heerlikheid te sien. Hý skep die geloofsvertroue waarmee ‘n mens sê: “Ek glo U is wat die Woord sê U is. Oorgelaat aan myself sou ek ewig verlore wees. Maar nou is ek aangeneem as kind van die ewige God.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00