Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

WATTER SOORT KERS IS JY?

 

Gisteraand toe die krag vir ‘n lang tyd af was, het ek eers op my rekenaar gewerk, maar sy battery hou deesdae net ‘n ½ uur en daarna het ek na’n preek geluister, maar toe is my mp3 se battery ook pap.  Ek weet nie hoe julle oues van dae by kersklig kon geleer het nie, want ek kan net mooi niks sien nie!

 

Ek sit toe maar en gesels met Vader en kyk na die kerse en kom op hierdie idee: Hierdie soort kers, is mooi vet en staan stewig, maar dit het `n probleem.  Hoe meer dit brand, hoe meer smelt die was in die middel en die vlammetjie is later diep onder in die kers.  Met dié brand die vlammetjie nie so duidelik soos die ander kerse nie. 

 

Later begin die kers so te lyk en daarom sny ek maar die boonste dele van die kers af.  Vir `n ruk is die kers se vlammetjie dan weer mooi duidelik en lyk die kers mooi, maar na `n ruk, soos die was begin te smelt, vervorm die kers en word die vlammetjie kleiner en dieper in die kers.

 

Die lang, goedkoper kerse, lyk nie so mooi soos die vet kerse nie, maar dit brand en brand en brand.  En die vlammetjie is altyd mooi helder.

 

Ek begin toe te wonder watter geestelike les kan `n mens uit die kers leer en kom toe op die idee:  Hoekom bly die vlammetjie van die lang goedkoper kerse altyd duidelik.  Wel, sodra die was smelt, gooi die kers die was buite uit, dit loop buite die kers af en daarom sit die vlammetjie nie in te veel gesmelte kerswas nie.  Die dik kerse doen dit egter nie.  Hulle sit in die gesmelte kerswas en die vlammetjie word kleiner en kleiner. 

 

Is jy `n lang goedkoop kers, wat as daar iets met jou gebeur, dit vir Vader gee en na buite gooi?  Met die raak dit jou nie so erg na `n paar dae of weke nie, want jy dra dit nie meer in jou nie.

 

Of is jy `n vet kers?  As iets met jou gebeur, hou jy dit vir jouself, jy dink daaroor, jy vertroetel die seer, die bitterheid.  Wat moet later gebeur?  `n Deel van die kers moet afgesny word, sodat die vlammetjie weer kan uitstyg.  As jou lewe soos die vet kers is, moet Vader ongelukkig party kere van jou kers afsny, sodat jou vlammetjie weer duidelik kan brand.  Dit maak o so seer!! 

 

 Dan kry ons ook ander kerse.  Verjaarsdagkoek kersies brand vreeslik gou uit.  Jy kan hulle defnitief nie gebruik om lig vir jou te maak nie.  Is jy dalk `n verjaarsdagkoek kersie.  Jy werk en werk so baie, dat jy baie gou uitgebrand raak.  O moet nie `n fout maak nie, jy doen goeie dinge, jy hou jouself besig met goeie dade, maar daar is nie veel tyd vir kwaliteit stiltetyd nie.  Jy is te besig om waarlik tyd met Vader te spandeer.

 

Dan kry `n mens ook lekkerruik kerse.  Hulle is heelwat duurder as die vorige kerse, met `n rede ook – hulle ruik sooooo lekker.  As hulle brand, gaan die geur uit en ruik die kamer lekker.  Hierdie kerse gee nie net lig nie, hulle kyk mooi, is in verskillende kleure en ruik lekker. 

 

Ek wil graag die lekkerruik kers wees.  Ek wil so graag Vader se geur versprei vir die mense rondom my.  Ek wil so graag dat Vader se Lig in my brand en ek wil so graag mooi lyk, nie vir myself, of in die oë van mense nie, maar mooi lyk van binne vir my Vader.

 

Watter kers is jy?                                                        OORSPRONG ONBEKEND

 

EFES. 5:2  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00