Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
WATTER PERD?
Daar was eendag twee perde-boere wat in ’n groot kompetisie betrokke geraak het , naamlik wie se perde is die beste.
Die is lente en die jaarlikse uithouren het aangebreek. Elkeen van die boere het sy beste perd ingeskryf en een van die boere het ’n professionele jokkie gehuur om sy perd te ry met die hoop dat die man se kennis van perdry hom die wedren sal laat wen.
Die twee perde het voor in die wedren gehardloop – kop aan kop. Dit was by die laaste hindernis dat alles net te veel was en albei die perde het gestruikel en hulle jokkies afgegooi.
Hierdie gebeurtenis het nie die professionele jokkie van stryk gebring nie en dadelik is hy weer op sy voete , op die perd en jaag vinnig om die wedren te wen.
Dit is by die wenners-sirkel dat hierdie jokkie vol van vreugde vind dat die boer wat hom gehuur het baie , baie kwaad is. Hy is soos ’n bul wat rooi gesien het. “Wat is die probleem?” het die jokkie gevra. “Ek het mos gewen, het ek nie?” “O, ja, jy het gewen , dit is verseker, maar jy besef dit nogsteeds nie!” “Nee , wat?” vra die jokkie.
“ Jy het die wedren gewen, maar dit was op die verkeerde perd!” Antwoord die boer.
Ons as mens het baie opsies in die lewe watter perd ons wil ry. Daar is die opsie van “sukses” , maar ook dit kan ons afgooi. Ander opsies wat daar is , is “ kwaadwilligheid” , “jaloesie”, “rykdom”. Hierdie opsies kan ook maak dat ons deur die lug trek soos ons afgegooi word.
Die vraag is, wanneer ons weer op ons voete is en terug in die saal klim om te ry , sal dit die regte perd wees?
MATT. 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
GEBED
Here, dankie dat ek U het om my te begelei om altyd die regte rigting te beweeg en nie uit my eie te handel nie. AMEN