Skriflesing: Hosea 11: 1-9
Titel: Wat God van jou dink
Het u al ooit gedink wat God van u dink? Doodeerlik, alléén, stilgesit en DINK. Weet u hoe moeilik is dit om vir jouself te vertel dat God jou onvoorwaardelik liefhet – en dit werklik te GLO!? Wat dink u: wat dink God van u? Hy, wat alles van ons weet. Hosea 11 antwoord hierdie vraag op ’n byna ongelooflike manier. Kyk, indien dit nie swart-op-wit in die Bybel gestaan het nie, sou ’n mens dit moeilik kon glo. Hosea skryf letterlik neer wat God dink. God dink hardop oor Sy gemeente, Hosea hoor dit en skryf dit neer…
Hosea hoor hoe die Here oor Israel dink: Soos volg: “Toe jy nog ’n kind was, ’n baba, het Ek jou al liefgehad. Ek het jou laat besny/doop en daarmee het Ek swart-op-wit gesertifiseer dat EK jou geheel en al van die slawerny van die sonde gered HET. Jy sou verdwaal het in die pikdonkernag van die sonde & verlorenheid, maar toe het Ek jou uit dié duisternis geroep na My wonderbare Lig. Ek het jou laat grootword met die geroep van jou besnydenis/doop in jou ore.
Maar, toe die versoekings van hierdie wêreld jou roep, het jy jou rug op My gedraai en die gode van die wêreld gaan dien. Selfsug, gemaksug, genotsug, eersug, geldsug, weeldesug, magsug, wellus, hebsug, grootheidswaan, wraaksug. En dit terwyl Ekself vir Israel en elke kind in die gemeente, leer loop het. EK het julle op My arms gedra. Maar julle wou My nie glo nie. Julle wou nie erken dat dit Ek is wat vir julle sorg nie. Met die mond ja, maar nie met die hart nie. Diep, diep, diep in julle harte het julle geglo dat julle sélf so goed is. Julle het dit ook gedoen met die tydelike dinge van die lewe – sport, erkenning, geluk, gesondheid. Julle het byna nie eens gedink aan die wonder van julle ewige verlossing wat Ek met julle besnydenis/doop gewaarborg het nie.
Tog het Ek julle met sorg en liefde gelei. Ek was vir julle soos iemand wat die juk oplig as dit die skof deurskaaf. Ek het na julle afgebuk en julle gereeld kos gegee : water uit rotse, manna in die woestyn, kwartelvoëls uit die lug. Op Kersfees het Ek julle die Brood vd Lewe gegee. Laag neergebuig tot by die krip. VERNIET. Ek kon dit net nie oor my hart kry om julle julle verdiende loon te gee nie. Want al wou júlle, wou Ék nie dat julle teruggaan Egipte toe nie OF dat Assirië oor julle moet heers nie.
Maar julle wou nie na My toe omdraai nie. Julle het gedraai na die gode toe. Om die waarheid te sê: Julle het net julleself liefgehad. Julle eie wil. Julle besittings en kamstige kultuur. Maar, julle het die nederigheid van hart, wat die self kruisig, gehaat.
Daarom sal Ek julle stede deur oorloë verwoes, Israel. Ek sal julle waarseêrs, julle okkultespeletjies met dooies wat geraadpleeg word en julle grootdoenerige deskundiges uitroei. En julle Skrifgeleerdes wat die Heilige Skrifte verdraai om hulle sak en bas te pas. Ek sal hulle uitroei en verteer. Omdat Ek julle verlos het, maar julle nie verlos wil wees nie. Daarom sal julle slawerny nooit beëindig word nie.”
Hoor u hoe dink die Here oor Sy kinders? Maar, nou moet u baie mooi kyk en oplet. Ewe skielik gebeur daar ’n merkwaardige ding in die Here se gedagtes. Hy bedink Hom! Kan u dit glo? Hy bedink Hom. Letterlik. Met alle reg het Hy gedink hoe Hy die ongelowige mense (kerk/gemeente) gaan vernietig. Hy het volle reg daartoe. Maar, toe ewe skielik kan Hy dit nie oor Sy hart kry nie. Want hulle is Sy kinders. HY het hulle eiehandig tot Sy kinders gemaak en dit met die besnydenis swart-op-wit verklaar. Hy het na hulle afgebuk en met die hand kosgegee. Met ’n lepeltjie gevoer. Maar hulle het Hom verraai en was ondankbaar. Nou word daardie selfde met-die-lepeltjie-voer die REDE waarom die Here dit nie oor Sy hart kan kry om hulle te vernietig nie.
“Hóé kan Ek jou prysgee Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar Israel? Hoe kan Ek jou vernietig? Hoe kan Ek met jou maak soos met Sodom en Gomorra? Ek kan dit glad nie oor my hart kry nie (v 8). My liefde brand te sterk.” OAV sê: My hart is omgekeer in My. Ek het jou dan uit Egipte, uit die slawehuis geroep. Toe jy nog ’n kindjie was het Ek jou in My jammerhartigheid laat doop. Ek het jou leer loop. Ek het jou op die hande gedra. Want Ek wou nie hê dat jy weer ’n slaaf van Egipte en die Farao en die sonde word nie. Ekself het jou My kind gemaak. Ek het sélf sake tussen jou en my reggemaak, omdat jý nie kon nie. Daarom kan Ek dit nie oor My hart kry nie! Daar is skoon ’n knop in my keel. Hóé kan Ek só praat van: vernietig?
Hoor u hoe dink die Here hardop oor Sy volk – en oor u en my. Hosea hoor dit en hy skryf dit neer. Hoe voel u wanneer u dit hoor? Voel u ook: Dit kan nie waar wees nie. Dit is te goed om waar te wees. EK het dan, in die aangesig van Golgota, die Here se liefdeswet oortree. Dit is so goed asof ek Christus in Sy gesig gespuug het . EK was aandadig aan Sy dood. EK is die ondankbare.
Maar, dit MOET waar wees. Want dit staan hier in die Bybel. Die Here sê so. Dit kan nie ’n vergissing wees nie. Want dit is nie maar net die opinie van ’n sekere Hosea nie. Dit is God self wat praat. Met Homself. Ons kyk in Sy hart. Ons hoor presies hoe Hy oor ons dink.
Dáárom het Hy 7 eeue later ons skuld op Golgota laat betaal. Omdat Hy dit nie oor Sy hart kon kry nie, het Hy ons van die hel gered met die vloekdood van Sy eie Seun. Ons word nie gered wanneer ONS wakkerskrik en ’n keuse maak nie. Hoe baie mense dink dat hulle eie keuse hulle redding was! O, nee. Ons redding het op die kruis plaasgevind, toe GOD ’n keuse gemaak het. ’n Wonderbare keuse. ’n Keuse wat óns maar net in die geloof moet/kan omhels/aanvaar.
Weet u, daar op Golgota, het die geméénte van die Here, die Here doodgemaak, terwyl hulle sê dat hulle net één koning het: die heidense Romeinse Keiser! ONS het het dit gedoen! Kyk, as daar óóit ’n rede was om die mensdom met een veeg van die aardbol te verdelg. Maar, toe het God met God gepraat en gesê: Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie. EN: DIT IS VOLBRING. Pleks daarvan om die mense (ONS) wat vir Jesus vermoor te verdelg met Sodom & Gomorra se vuur, gebruik Hy dieselfde moord om hulle almal te red! Hy neem die moordwapen uit hul/ons hande en maak daarvan ’n operasiemes wat die kwaad uitsny en genees. Hy red die moordenaars MET die moordwapen waarmee hulle Sy Seun vermoor het. Verstaan u? Hy het u gered met Golgota se kruis OMDAT Hy dit nie oor Sy hart kon kry om u u verdiende loon te gee nie. Hy het ’n koninklike mantel om u en my krom skouers gedrapeer – MAAR: Dit is dit ’n mantel geweek in Sy Seun se bloed. En indien u dit van harte aanvaar – word u ’n ánder mens. Daarom: GLO die evangelie – neem u bed op en loop. Moenie langer bly lê nie. Vee u trane af en sluk die bitter smaak weg. God kruip nie iewers weg totdat ú Hóm vind nie. Hy sit nie en wag totdat ú die pad met Hóm begin loop nie!
Hoe KAN die Here dit doen? Hoe werk dit? Hoe KAN Hy mense liefhê wat moordenaars van God is? Mense wat net hulleself liefhet. Soos ek wat hier staan? Hoe KAN die Here iets van ons dink? Terwyl ons NIKS is nie. Hoe KAN Hy getrou bly aan Sy belofte waarmee Hy Hom by ons doop aan ons verbind het, terwyl ons ons doop vertrap? Hoe KAN Hy ons ons aandeel aan die moord op Golgota vergewe met daardie einste moord? Hoe KAN Hy deur die bloed van Jesus ons sondeskuld geheel en al AFSKRYF. Ons die hel kwytskeld?
Daar is slegs één antwoord: Omdat Hy GOD is en nie ’n mens nie. God dink nie van ons iets omdat ons iets is nie – omdat ons vroom is nie – omdat ons die regte keuse gemaak het nie. God dink van ons iets, slegs omdat Hy liefde is. Omdat Hy jammerhartig is. Hy dink van ons iets om Christus se ontwil alleen. En, dit is eers wanneer hierdie oneindige boodskap tot ’n mens se hart en siel deurdring, en jou oë begin blink van opgewondenheid, en jou hart begin vinniger klop, jou bloedsomloop vinniger word en jy besef dit IS die waarheid, en jy begin dit dan hartstogtelik GLO – eers dán begin jy in ware Christelike vryheid lewe!
GLO u dit wat u nou gehoor het?
As gesant van Christus, smeek ek u om dit tog te glo!
Kom dan tot inkeer en draai om na hierdie wonderbaarlike God toe!