Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul … Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. (Deut. 11:18–19; lees ook Deut. 6:6-10)

My helderste en kosbaarste herinneringe is dié tye wat ek as seuntjie saam met my grootouers deurgebring het. Ek onthou Ouma se vol koekblik in die spens. Veral onthou ek hoe Oupa na aandete, nadat hy die Bybel van die rak afgehaal het, ’n gedeelte daaruit vir ons voorgelees het. Daarna het hy vir ons gebid. Vir hom was die Bybel die lewende Woord … 

Christene in wie se huise eens gesange en gebede weerklink het voordat hulle die dag aangedurf het, begin nou hulle dae met ’n stormagtige gejaag. Jare gelede het die Britse koningin onder meer aan haar onderdane gesê: Dit lyk my dat as daar in die jare wat kom opregte geestelike herstel moet wees, die vroue van ons volk ernstig by godsdiens betrokke moet raak. En ons huise is die eerste plek waar dit moet begin. As ons huise waarlik Christelik kan wees, dan sal die invloed van daardie gees sonder twyfel na ál die sfere van die gewone lewe versprei.

 

Hoekom is huisgodsdiens nog nodig?

 

God verwag dit van ons (Deut 11:18-21).

God gebruik dit om ’n terugval na sonde te voorkom (Matt 24:12) en sodat ons daardeur na ons geliefdes se geestelike lewens kan omsien (Spreuke 22:6).

Dit berei ons harte voor vir openbare aanbidding.

Dit lê die grondslag vir die volgende geslag gelowiges.

 

Vir die gesin het dit boonop sekere praktiese voordele:

 

Dit gee ouers daagliks ’n geleentheid om hulle nederige afhanklikheid van God te demonstreer.

Dit verseker daaglikse voorbidding vir die gesin se behoeftes.

Dit help met kinderopvoeding.

Dit verskaf elke dag die geleentheid vir lees en onderrig uit die Bybel.

Dit trek die gesin ten minste een maal per dag saam – iets wat in die hedendaagse gejaagdheid geen maklike taak is nie.

Dit gee jou ’n skoon gewete voor die Here betreffende die geestelike lering en welstand van jou geliefdes.

 

Die wortel van ’n gesonde geestelike lewe is ’n herlewing in die hart van ’n individu, wat dan ’n sigbare impak op die gesin het. As ’n gesin geestelik gesond is, lei dit spontaan tot groei in die kerk, en tot verdere geestelike ontwikkeling in die gemeenskap. 

So wonder ek dikwels of herlewing in die huis nie die sleutel tot herlewing in die samelewing is nie. Of ons nie dalk, in ons geestelike ywer, baie keer op die “verkeerde” plek werk nie. Vra die Here om herlewing in die huise van Christene te bring! As Hy dit doen, sal dit die kerk aansteek. En vandaar na die breër samelewing oorvloei.

Om te begin huisgodsdiens hou, kan nogal moeilik wees en sal jou dalk erg moedeloos maak, maar die seëninge is onmeetbaar groot. Ek glo dat herlewing in die huis die grondslag vir ’n nuwe toekomshoop in ons samelewing vorm.

Die grootste probleem is natuurlik om – in ’n lewe vol aktiwiteite en verantwoordelikhede – tyd te máák om as gesin bymekaar te kom. Die Here belowe dat Hy persoonlik betrokke raak by sy mense wanneer hulle sy gebooie onderhou en Hom dien. Sal jy dan nie jóú huis by hierdie belofte voeg nie – al is die uitdaging hóé groot?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00