TAFELBERG GEMEENTETema: Vir wie is ek ’n naaste?
Skrif: Lukas 10: 25-37
72 van Jesus se dissipels was besig om van dorp tot dorp te gaan en net een ding te doen: Vir die mense te sê: “Weet julle van die Man v Nasaret – Jesus? Wel, in HOM het die ewige lewe na julle toe gekom. Glo Hom. Draai na Hom toe. Julle ewige saligheid hang van HOM af…”
Maar, nou moet u goed onthou: Hierdie Man, Jesus, was ook waarlik eg-mens en daarom ’n doodgewone MAN! Met die blote oog kon jy nie in Hom iets anders sien as ’n gewone MENS nie. Daarom het die Joodse Wetgeleerdes en kerklui so tandeknersend-woedend geword. Dit klink dan nou asof hierdie kêrel van Nasaret daarop aanspraak maak dat Hy GOD self is!! Dat HY die EWIGE LEWE is! Dat HY sondes vergewe!! En, Hy’s net ’n gewone mens. Dit is tog Godslasterlik!! AFSKUWELIK!! So ’n man behoort nie ’n dag langer te lewe nie!!
Dit was juis toe hierdie 72 sendelinge terugkom van die dorpe waar hulle gaan preek het, wat een van hierdie woedende Wetgeleerdes maak of hy glad nie gehoor het wat gepreek is nie. Hy maak of hy nie gehoor het dat Jesus die ewige lewe is nie. Hy wil DIT juis NIE weet nie. Hy kan glad nie verstaan hoe ’n gewone man homself só kan aanmatig nie. Hy soek ’n rede om Jesus vas te trek sodat Hy doodgemaak kan word.
Daarom vra hy: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te kry”. Die 72 sendelinge het juis gepreek dat ’n mens niks moet DOEN nie, maar in Jesus mag glo. Maar, die Wetgeleerde wil DOEN.
Toe antwoord Jesus hom deur vir hom sy eie medisyne te gee: “Jy is mos ’n kenner vd Wet. Wat sê die Wet?” Die Wetgeleerde antwoord: “God liefhê en naaste liefhê” Moet GOD liefhê, nie ’n gewone mens wat daarop aanspraak maak dat Hy die ewige lewe is nie!! En, wie is die “naaste?” Moet net nie vir my sê U is my naaste nie!! Moet net nie vir my sê hierdie 72 sendelinge is my naaste nie!! Moet net nie vir my sê almal wat tot geloof in U gekom het, is my naaste nie!! Afskuwelik!! En hy dink by homself: “Kyk, nou het ek hierdie man van Nasaret in ’n hoek”. “Hy wil mos hê ons moet in HOM glo, terwyl die Wet sê ons moet GOD liefhê!! Hy wil seker ook nog hê Sy simpele dissipels moet my NAASTE wees…”
Maar toe, skielik, boul Jesus hom skoon. Met net een bal. “My vriend, jy verstaan die hele saak verkeerdom. Jy moenie rondkyk wie jou naaste is nie. Besef eers hoe armsalig jyself is EN hoe broodnodig jy dit het dat daar aan JOU medelye bewys moet word. DAN sal jy só dankbaar en nederig wees, dat jy sal rondsoek vir wie JY ’n naaste kan gaan wees. Rondsoek aan wie JY medelye kan bewys. Jou groot probleem is: Jy besef nog nie hoe nodig JYSELF ’n naaste het wat aan jou medelye kan bewys nie. Jy dink jy’s oulik. Jy dink JY is die grootmeneer wat moet uitkies wie JOU naaste is en wie nie.
Jy besef nie dat jy eintlik is soos ’n man wat vermink en byna dood langs die pad lê, nadat rowers hom getakel het nie. Jy besef nie dat JYSELF hulpbehoewend uitroep vir iemand om hom tog oor jou te ontferm nie. Iemand wat vir jou ’n ware naaste kan wees. Iemand wat medelye met jou kan hê.
Omdat jy nie besef dat JY DIE EEN IS wat so vermink en hulpbehoewend is nie, sien jy ook nie raak dat EK, JESUS v NASARET die Een is wat My oor jou ontferm en jou vir My rekening neem nie. Dat EK die Een is wat medelye met jou het nie.
Kyk net wat maak ek met al die mense van die omliggende dorpe. Siekes word genees, duiwels word uitgedryf, sondes word vergewe. Mense word splinternuut! Maar, omdat jy nie van My hou nie, sien jy dit nie raak nie. Jy vervloek My asof Ek ’n Samaritaan is. DIE MENSE vir wie julle Jode so intens haat. Julle Jode het mos die gewoonte om ’n Samaritaan te vervloek wanneer julle sien hy het seergekry. Julle diskrimineer mos so teen die Samaritane. Julle dink mos hulle is nie julle naaste nie …..
Maar, jy sien nie raak dat dit JUIS EK IS wat jou wonde kom verbind het nie. EK, vir wie jy so haat asof Ek ’n Samaritaan is. Jou eie mede-Jode en jou eie kollegas ( Priester en Leviet) stap by jou verby. Húlle het geen raad met jou nie. Húlle wat die Wet op die punte van hulle vingers ken. Húlle voel niks vir jou nie. Hulle is nie vir jou ’n naaste nie. Maar, EK ontferm My oor jou. EK verbind jou wonde met My eie wonde, die wonde vd kruis. Ja, met My eie bloed was ek jou skoon. Ek versorg jou en EK betaal die volle kostes.
Maar, nou is jy totaal blind daarvoor DAT jy so vermink en hulpbehoewend in jou sonde en ellende is. Daarom is jy blind vir die Een wat medelye met jou het, wat barmhartigheid aan jou bewys, wat jou wonde verbind. DAAROM kan jy nie ’n NAASTE vir iemand anders wees nie. DAAROM wil jy self uitkies wie JOU naaste is. Want, jy besef nie dat EK jou eintlike naaste is nie. EK wat jou wonde versorg nie. Omdat jy MY nie ken as jou eintlike naaste nie, hoe sal jy weet om ’n naaste vir iemand anders te wees?? Hoe sal jy weet om iemand anders se wonde te gaan versorg en nog self die kostes daarvoor te dra??”
Dit is waarom Jesus vir die Wetgeleerde vra, nadat Hy die gelykenis vertel het, WIE die man, wat deur die rowers vermink is, se naaste is? Die priester, Leviet of gehate Samaritaan? Antwoord: “Die een wat aan hom barmhartigheid bewys het”. Toe sê Jesus: “Gaan maak jy ook so”. Dit beteken: Besef dat JY die een is wat vermink is in sonde-ellende. Besef dat JY ’n slagoffer is. Besef dat EK die Een is wat jou wonde versorg het. Al hou jy nie van My nie. EK is jou eintlike naaste. Ek het jou vir my rekening geneem. Raak verkleef aan MY. En, gaan wees jy nou ’n naaste vir ander. Gaan JY nou en gaan betoon barmhartigheid SOOS Ek aan jou betoon het……
Gemeente, weet u wanneer sal hierdie gemeente v Tafelberg ’n relevante kerk wees? ’n Kerk wat ’n verskil maak in die samelewing, is ’n relevante kerk. ’n Kerk wat vra: Vir wie kan ons ’n naaste gaan wees? Aan wie kan ons barmhartigheid gaan bewys? Want, aan óns is barmhartigheid bewys deur ons naaste-naaste: Jesus v Nasaret. Waar kan ons nou ’n verskil in die samelewing gaan maak? Watter verminkte kan ons versorg en self al die kostes dra? Vir wie kan ek ’n naaste wees, deur hom/haar te beskerm deur net my TONG in toom te hou. Deur met my TONG barmhartigheid te bewys. Deur byvoorbeeld STIL te bly wanneer ek nie al die feite het nie. Selfs al het ek die feite, steeds stil bly omdat ek hom/haar wil beskerm. Wat ’n wonderlike dag sal dit wees: As ons hele gemeente ’n naaste sal wil wees vir ander. Sal dit nie die begin wees van die groot herlewing waarvoor ons bid nie?