Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

VAT WAT JY KRY!!!

 

Daar is talle wat nie die Bybel lees nie en vra jy hulle waarom, dan sal die antwoord wees, hulle verstaan nie sommige van  die dinge wat in die Bybel geskryf is nie. Daar word dan verder verduidelik dat hierdie dinge wat hulle nie verstaan nie, vir hulle ’n probleem is.  Natuurlik is hierdie maar net verskonings om nie die Bybel te lees nie.

 

Wat doen iemand, wat voor ’n heerlike bak Kentucky Fried Chicken stelling inneem en dan vind hy/sy uit dat daar bene in is wat hulle nie kan eet nie? Ek vra vir jou: Sal so iemand verskoning van die tafel vra en aanvoer dat daar bene is wat hy/sy nie kan eet nie en daarom kan hulle die res nie eet nie? Verseker nie!!

 

Die vleis sal van die bene geeet word en die bene sal verseker eenkant toe geplaas word. Hulle sal die vleis wat eetbaar is geniet!

 

Hoekom probeer hulle (jy) dit nie ook met die Bybel nie?

 

Iemand wat gered is het eenkeer gesê:- “ Die feit dat ek lewe en iewers heen oppad is het my baie benoud gemaak. Ek het die antwoord in die Bybel gekry en dit het gemaak dat ek toelaat dat die gestorte bloed van die Lam my reinig van sonde. God het my gered en my die sekerheid gegee en ek het die Bybel begin bestudeer. Die dele wat die Heilige Gees my geleer het, het ek ingeneem en dit my eie gemaak. Die res het ek eenkant geplaas totdat die Heilige Gees my oë sal oop maak om dit te verstaan. Soos God my oë oop gemaak het, het my aanbidding teenoor Hom spontaan vermeerder. “

 

Die Bybel is onontbeerlik!!

 

Ek wil jou vandag aanmoedig om die Woord te lees. Die wêreld lees nie die Bybel nie, hulle lees die kinders van God. Hoe sal jy dit reg kry om te lewe soos wat God dit van jou verwag as jy nie Sy handleiding lees nie?

 

Psalm 119:11  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

 

Psalm 119:12  Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!

 

Psalm 119:13  Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.

 

Psalm 119:14  Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.

 

Psalm 119:15  Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.

 

Psalm 119:16  Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.

 

GEBED

 

 Vader, dankie vir U Woord wat vir my rigting in my lewe gee! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00