Datum: 2006-06-02
Outeur: Dr Chris Saayman
Skriflesing: Eksodus 40: 34-38, Johannes 1:14
Titel: TABERNAKEL REEKS No 8 - Die Wolk van Heerlikheid
TABERNAKEL no 8
DIE WOLK VAN HEERLIKHEID
Skrif: Eksodus 40: 34-38, Johannes 1:14
Stel uself voor: Jy doen baie moeite om ‘n duur huis te bou. Maar dan sluit jy dit toe en gaan woon elders. Onsinnig. Net so met die tabernakel: Dit móés bewóón word. Die Here moes Sy intrek neem. Hy doen dit ook. Hy daal neer in ‘n wolk (die “shekinah”). Hy wou so naby en sigbaar moontlik aan Sy mense wees terwyl hulle in die onherbergsame woestyn loop met geen padkaart. Die wolk was bo die allerheiligste en het vooruit getrek wanneer die volk voortbeweeg. “Ek is hier. Ek deel in julle lot.” Hierdie wolk was dus ‘n aanduiding van die Here se konkrete teenwoordigheid en Sy leiding binne die woestyn.
Maar waarom dan juis ‘n WOLK? Waarom verberg die lewende God Hom in ‘n newel? Hy sou op geen ander manier kón verskyn aan mense nie! Sy heerlikheid was só oorweldigend. Geen sondaar sou ‘n sekonde kon bly leef in ‘n direkte ontmoeting met Hom nie. Eksodus 33:20: Moses moes Hom van agteraf bekyk. 1 Tim 6:16 – “Hy woon in ontoeganklike lig en geen mens het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie.” God is só indrukwekkend, gewigtig, imponerend groot en skitterend oorweldigend in heiligheid. Daarom verberg Hy Hom in ‘n wolk sodat Hy in Sy liefde Sy volk kon gerusstel met Sy sigbare teenwoordigheid SONDER dat hulle wegsmelt. Hulle kon Hom sien, al sien hulle Hom nie. En al sien hulle Hom nie regtig nie, kon hulle wéét dat Hy daar is. Sy bedekte verskyning gee die versekering dat Hy naby is – sonder dat hulle sterf en smelt. Al sien hulle Hom nie regtig nie, weet hulle Hy IS daar en Hy neem hulle mee.
Hoe verkeerdom is óns nie dikwels nie? “Hoe weet ek die Here is naby en dat Hy my lei? Ek sien Hom dan nie. Ek voel Hom dan nie. Kyk na al die ellende rondom ons. AS die Here dan daar is, WAAROM gebeur dit en dat?” So verkeerdom. Ons sleep dikwels voete in die warm woestynsand en smag na water en kla in selfbejammering – pleks dat ons iets van die WOLK verstaan!
Indien die PinksterGees my laat GLO in Jesus se kruis en opstanding en die Gees laat my my VERTROUE plaas op Christus alleen vir saligheid, dan IS die wolk daar. Al voel/ervaar ek dit glad nie. Al kies ek soms bitter verkeerd. Baie gelowiges is so angstig en bekommerd. “Hoe lei die Here ‘n mens? Sê nou maar net ek maak verkeerde keuses.” Die ANGS: “Alles sal verkeerd loop indien ek dalk verkeerd kies. Die Here sal my los as…… Ek sal aan myself oorgelaat wees met al die konsekwensies van my verkeerde besluite.” Terwyl die Here sê: “Los die angstigheid en sien die WOLK! Ek is in My heerlikheid so groot dat Ek nie afhanklik is van hoe reg JY kies nie. Ek lei jou nog steeds.” Die wolk omspan u en my met ons regte en verkeerde keuses. Die wolk het op die tabernakel neergedaal om permanent te BLY by die volk.
Wat maar altyd vir ons baie moeilik is, is die feit dat die wolk nie sigbaar is nie, dat daar nie manifestasies is nie, dat daar geen duidelike stem is nie. Dat dit ‘n bedekte heerlikheid is. Lukas 17: 20-21- “die koms van die koninkryk kan nie aan tekens herken word sodat mense kan sê: ‘kyk, hier is dit of daar is dit’ nie, maar die koninkryk is hier by julle.”
Tog het alle gelowiges deel aan hierdie wolk alhoewel daar geen aardse tabernakel meer is nie. 1 Kor 6:19- gemeente is tempel van die Gees. In Jesus Christus HET God in Sy heerlikheid neergedaal. Joh 1:14 (Tent opgeslaan). Ons Here Jesus Christus, deur die koms van die Heilige Gees, is die letterlike vervulling van die wolk in die allerheiligste van die tabernakel.
Dit skakel ten nouste met die betekenis van Pinkster, want nou het die gelowige die versekering: God is met my met Sy indrukwekkende majesteit om my veilig op my aardse woestyntog te lei. Dink maar aan daardie onvergelyklike Joh.14:23: “As iemand My woorde ter harte neem, sal die Vader hom/haar liefhê en Ons sal by hom/haar kom woon.” Die hele manier waarop God kom tent-opslaan by ons/met ons, is deur Sy Gees – die Heilige Gees. En die Gees LEI ons soos die wolk die volk deur die woestyn gelei het. En Hy lei ons deur Sy Woord – die Bybel waarin Hy Sy hele hart leeggepraat het.
Ons sou kon sê dat die BYBEL self ook so ‘n wolk van God se heerlikheid is. Want die Gees werk deur die Woord. Soms wens ons dat óns ook so ‘n duidelike wolk kon hê wat beweeg en stilstaan soos die wolk wat voor die Israeliete uitgegaan het. Dan sou ons altyd presies geweet het wat Sy wil is. Ons dink só ‘n sigbare teken sal ons baie beter baat as net letters op papier. En tog: al hét die Israeliete die fisiese wolk gesien, het hulle steeds getwyfel/gemurmureer/opstandig/vleeslik/ongelowig. Die SIEN van ‘n FISIESE wolk help dus nie regtig nie.
Daar is min twyfel dat ons béter af is sónder ‘n sigbare wolk – ná Pinkster. Die Gees is immers nader aan ons as wat ons aan onsself is. En sy Woord is baie beter as ‘n wolk, want Sy hele hart is in Sy Woord uitgepraat. Sy hart lê eintlik oop en bloot in die Woord.
Tog is die gelowige nie ‘n robot wat sekonde na sekonde beheer word deur die Woord nie. Die mens besit ‘n eie verantwoordelikheid. Daarom gee die Bybel nie altyd direkte antwoorde op alle alledaagse vrae en situasies nie. Soms moet ‘n mens gewoon keuses maak, maar ons moenie bang/angstig wees om te kies wat die beste lyk, wat die verstandigste is, wat inpas by die gees van die Skrif en wat ander gelowiges on aanraai nie. Ons sal baie gou agterkom dat die wolk van heerlikheid groter is as ons keuses en dat Hy ons steeds wonderbaarlik lei – al het óns dalk foute gemaak. Die belangrikste is nie of ons te alle tye regte keuses maak nie, maar of ons deur die geloof verbonde is aan Jesus se dood & opstanding. Dán het ons die sekerheid dat die wolk van heerlikheid met ons is.