Datum: 2006-05-31
Outeur: Dr Chris Saayman
Skriflesing: Levitikus 24: 5-9, Johannes 6: 25-35
Titel: TABERNAKEL REEKS No 5: Die Tafel met Toonbrode

TABERNAKEL no 5

DIE TAFEL MET TOONBRODE

Skrif: Levitikus 24: 5-9, Johannes 6: 25-35

Twaalf brode (2 stapels van 6) moes net daar lê… voor die Here. Letterlik: “brood van aangesig.” Ook: “vertoonbrode”. Dit word vertoon voor die Here. Die Here kyk daarna. Daarby moes ook wierrook gebrand word – as offer aan die Here. Elke sabbat, is die brood deur die priesters geëet en vervang met nuwe brood.

In die heidense godsdienste (in die antieke tyd en vandag steeds) speel brood ook ‘n groot rol, maar dan brood deur die méns aan hul god(e) gegee om díé aan die lewe te hou en te pamperlang. Die waarheid van die Bybel is net andersom: Die brood word deur die Here aan die mens gegee. Dit is ‘n teken dat die Here die mens aan die lewe hou. Die 12 brode verteenwoordig die 12 stamme van Israel = die gelowiges dus – die hele gemeente. Die Here gee aan hulle alles wat nodig is vir hul lewensonderhoud. Brood is immers ‘n simbool van ons noodsaaklike lewensmiddele. Die toonbrode is ‘n daaglikse herinnering: alle tydelike seëninge kom van die Here af. En let op: AL 12 stamme word verteenwoordig. Dus: die Here vergeet niemand.

Die 12 toonbrode dra ‘n wonderlike boodskap. Binne-in die heiligdom van God het die alledaagse stoflike dinge ‘n belangrike plek. Die konkrete materiële lewe van elke dag: eet/drink/klere/huis/inkomste/voertuie/gesondheid/besigheidsafsprake/besluite/

wasmasjien wat breek…

Met die 12 brode IN die heiligdom, wys die Here vir ons iets wat ons byna nie kan glo nie: Ons gewone daaglikse aardse stoflike lewe en bekommernisse het ‘n primêre plek binne die heiligdom/ gemeenskap met God. Ons is so geneig om die daaglikse stoflike sake LOS te maak van sogenaamde “geestelike” sake. Asof dit op ‘n hoër en laer vlak lê. Siel (belangrik) en liggaam (minder belangrik). Dan dink ons: Vir die Here maak die geestelike sake (hoër vlak) tog sekerlik méér saak.

Nee, hierdie brode bevind hulleself tussen die altaar, waskom, kandelaar en die voorhangsel. Gelowiges se daaglikse brood (materiële stoflike alledaagse aangeleenthede) is dus ‘n diep geestelike saak. Dit het alles te make met die versoening en die heiligmaking. Dit is die Here self wat Sy kinders in die lewe hou deur daaglikse lewensonderhoud. Dit is absoluut onwaar en onbybels dat ons in twee kompartemente lewe: Een kompartement: geestelike lewe waar God ‘n belangrike rol speel – my stiltetyd, gebedslewe, kerkdienste ens. Ander kompartement: aardse stryde waar ek self moet worstel en sukkel met brood en botter en bekommernisse – waarin die Here nie sóveel belangstel as wat Hy in die diep geestelike sake (hoër vlak) belangstel nie.

Kyk maar na die 12 toonbrode in die tabernakel. Dit is ‘n lus vir die Here se oë. Hy stel intens daarin belang. Die gelowige se totale stoflike en liggaamlike lewe is voor die Here se belangstellende oog. Hy gee dit en Hy stel belang in wat ons daarmee doen. Vanwaar het die meel gekom waarmee die brode in die woestyn gemaak is? Van die MANNA. Wie het die manna gegee? Dit was ‘n wonder van bó. Tog is dit nie die mánna wat in die tabernakel voor die Here se aangesig moes lê nie, maar BROOD. Daar moes dus iets met die manna gedóén word. Dit moes bewerk word. Die Here gee dus ons daaglikse brood, maar Hy geniet ook wat ons daarmee doen. Ons mag ons daaglikse lewe inbring in ons lewe met die Here. Dit is nie twee verskillende wêrelde nie. Dit is nie iets wat die Here se tyd mors nie. Dit is nie ongeestelik nie. Dit is ‘n lus vir die Here se oog: wat ek met my liggaam doen/ hoe ek geld bestee/ gesondheid/ hoe ek TV gebruik/

Dink aan die vreugde op die Here se aangesig wanneer Hy sien waarvoor die brood alles goed was.

Dit alles beteken NIE: dat ons maar net bid voor ete en nou en dan bietjie dankie-sê nie. As ons regtig besef dat ons daaglikse fisiese lewe voor Sy aangesig lê, beïnvloed dit álles. Ons kyk dan totaal anders na probleme/bekommernisse/krisisse. Die vraag is: GLO ons dit alles? Of hou ons tóg maar ons daaglikse brood en die heiligdom op ‘n afstand van mekaar? Redeneer ons op ‘n heidense manier dat ons liggaam nie só belangrik is soos ons siel nie. Solank dit met die siel goedgaan, kan ek maar met die liggaam doen wat ek wil!? Twee verskillende wêrelde – die Here is eintlik begaan oor die SIEL. Nee, dit is nie ‘n Christelik-bybelse manier van uitkyk op die lewe nie. Bybels gesproke is my grassnyery/skottelgoedopwassery net so heilig en geestelik as my kerkbywoning of gebede. Brother Lawrence: “Of ek nou in die klooser se kombuis help tussen die geraas van die mense en of ek by die heilige altaar kniel, is vir my ewe heilig.

Verder moet ons sien dat die toonbrode ‘n óffer aan die Here was. Letterlik: Gedenkoffer. Daarom het daar ook wierrook gebrand. Asof die brood IN die wierrook opgaan voor die Here. Met ander woorde: Uit dankbaarheid wy ek my stoflike aardse alledaagse lewe aan die Here toe OMDAT ek glo en weet dat alles van Hom kom, dat Hy daarin belangstel, dat dit net so belangrik is as geestelike/geloofsake. Nou kan ek dit ook aan Hom teruggee. Dit word ‘n offer. Omdat ek letterlik die hele aardse lewe aan Hom te danke het, mag ek dit ook teruggee aan Hom. Sodat ek begin besef: my alledaagse lewe is net vir een ding goed: om Hóm te behaag. Só word ek al hoe meer verlos van materialisme en kry die wêreldse breinspoeling nie so maklik ‘n greep op my gemoed nie.

Vanuit hierdie wierrookoffer-gedagte behoort ‘n gelowige hom/haarself af te vra: “My aardse stoflike lewe: het ek dit net vir myself gehou? Vir mý plesier/gemak/genot? Of gee ek dit terug aan die Here en gebruik dit om Hóm te dien? Is dit vir my belangrik óf my daaglikse lewe ‘n welriekende offer aan Christus is? Dit is eintlik ‘n baie moeilike vraag om te antwoord: “wat is die belangrikste in my lewe?” NIE: “wat BEHOORT die belangrikste te wees” nie. Glad nie so ‘n maklike vraag nie. U sien: ‘n mens verstaan alles presies verkeerdom indien jy nie besef dat ALLES by die manna begin nie – wat van die hemel kom – van die Here af. Dit is nie regtig óns wat so oulik is dat ons brood kan hê nie.

Ten diepste is Christus self die brood van die hemel. Joh 6: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” HY is die Een wat versadig. Hier sien ons weer die noue verband tussen die sogenaamde “geestelike” en “aardse” – dat Jésus (wie staan vir alles wat “geestelik” is) juis bróód gebruik om Homsélf te beskryf as die Een wat versadig. Dat HY die een is na wie die manna heengewys het. Dit is twee sake wat ons logika net nie bymekaar kan bring nie: JESUS en …… bróód! Hy is tog baie verhewe bó bróód. Dit is hoe ons koppe werk. “Die verhewe Christus kan tog nie Homself “brood” noem nie.” Na ons gevoel is dit twee wêrelde wat nie bymekaar hoort nie.

Wat ons moet sien is dat die Here Hom vereenselwig met ons gewone lewe. Indien ons in gemeenskap lewe met Hom as die brood van die lewe, kry ons aardse brood sy regte plek in ons lewens. Let op dat die 12 toonbrode op ‘n tafel geplaas was. ‘n Tafel is ‘n plek van “fellowship”/vriendskap/verhoudinge. Omdat ek met God versoen is by die altaar en daaglikse reiniging geniet en in Sy lig lewe – is die gemeenskap (tafel) tussen my en Hom (wat deur die sonde verbreek was) weer van krag. Dit is die tafel. En aan tafel met Hom, groei ek deur daagliks te eet van die Brood van die lewe (Christus self). Dit bring my verhouding tot aardse goed/ gewone lewe van elke dag, in die regte perspektief. Alles het met alles te make. Niks is meer geestelik as ander nie. Deurdat ek Christus as Brood eet, is die brood op my tafel ‘n lus vir die Here se oog en gee Hy om wanneer ek nie brood het nie. Omdat ek dít weet, kry my aardse brood nie ‘n plek wat bó Christus is nie – soos die wêreld vir ons voorskryf om wel te doen. Dan besef ek ook dat ‘n geestelike mens ‘n gewone mens is. Die Here bevry ‘n mens om ‘n gewone mens te wees. Iemand met wie die Here in verhouding staan, is ‘n gewone mens. Dit is die wonder waartoe die Here ‘n mens bevry.

Dit is interessant dat daar geen stoele in die tabernakel was nie. Alles moes staan-staan gedoen word. Die priesters moes die brood staan en eet. Hulle kon hulle nie daar tuismaak nie. Kon nie ure lank by die tafel aansit asof hulle vir ewig daar sou bly nie. O, as ons maar kan leer dat ons nie HIER ons tuiste het nie. Maar dit is mos juis ons aardse brood wat ons laat dink dat alles om die hier en die nou gaan. Daarmee breinspoel die media ons daagliks: hierdie aardse lewe is ál wat van belang is. Ons skatte is HIER. Ons leef op gemakstoele. Ons stáán nie. Hoe dwaas. Enige oomblik kan die basuin blaas en dan moet ons vertrek. Ons moet op ons voete leef. Nie op ‘n gemakstoel nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00