TABERNAKEL no 3
DIE BRANDOFFERALTAAR en KOPERWASKOM
Skrif: Eksodus 27: 1-8, 30: 17-21, 1 Joh 2:1, 3:6

In die gelowige se lewe is daar ‘n voortslepende konflik teenwoordig. EEN KANT: Glo & bely & weet ‘n gelowige: Op die kruis bevry van die heerskappy van die sonde. Christus het in my plek gesterf en sodoende het ek saam met Hom gesterf (Gal 2:20). ANDER KANT: Pynlik bewus van die voortslepende teenwoordigheid van sonde in my lewe. Ja, dit is waar dat ek nie meer ‘n slaaf daarvan is nie. Ek is nie meer onder die heerskappy/dwingelandy van die sonde nie. Maar tog… is ek steeds sóndaar. Hoe rym dit dan? Soms kan hierdie vraag só ‘n stryd in mense veroorsaak dat hulle in wanhoop verval.

Die brandofferaltaar en koperwaskom werp lig op hierdie probleem en gee die oplossing. BRANDOFFERALTAAR: Hier is die plaasvervangende offer gebring. ‘n Offerdier sterf in die sondaar se plek sodat die sondaar daardeur kan lewe en vrygespreek word. KOPERWASKOM: Hier vind die herhaaldelike wassing plaas.

‘n Man kom van die tente af na die tabernakel toe. By hom is ‘n skaap aan ‘n tou. Hy loop langs die heining af. Hy kyk nie na die wit linne nie. Hy is skuldig. Hy is onrustig. Iets is nie lekker nie. Dan kom hy aan die oostekant by die 4-kleurige gordyn wat oor die 10meter-wye opening hang. Hy buk deur die gordyn. Onmiddelik is hy in die Buitehof van die tabernakel. Daar is baie bedrywigheid. Offerdiere se bloed vloei vryelik. Die oomblik toe hy bínne is, loop hy hom vas in die ruwe, onaantreklike, bloedbesmeerde altaar. Hy sien niks van die pragtige goud aan die binnekant van die tabernakel nie. Hy sien net die ruwe altaar en die bloed. ‘n Grusame voorstelling van die prys en die gevolg & effek van sonde: dood en bloed. Maar ook ‘n heerlike plek van vryspraak, want die bloed getuig van ‘n LOSPRYS wat betaal is.

Hy kom by ‘n man in wit geklee. Dis die priester. Daar vind ‘n gesprek tussen hulle twee plaas. Die man praat oor sy sonde en skuldgevoelens. Dan stap hulle na die brandofferaltaar waar die vuur brand. Die priester sê, met die slagmes in sy hand: “Plaas jou hand op die skaap se kop.” Die man sê saggies: “Moet hy regtig sterf? Hy is so onskuldig.” “Nee, hy hoef nie te sterf nie”, antwoord die priester, “maar dan moet jy jouself hier op die altaar kom lê.” Dan lê die man sy hand op die skaap. Dit dui op die vereenselwiging met die offerdier. Wanneer die dier sterf is dit dus dieselfde asof die man gesterf het. Want sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie. Ná alles verby is, gaan was die priester sy hande en sy voete in die koperwaskom, namens die man.

Só werk dit in ons lewens. As verloregaande sondaars ontdek ons CHRISTUS as poort/deur. En ons ontdek die KRUIS as brandofferaltaar. En ons besef dat, indien HY nie daar in ons plek gesterf het nie, sou ONS daar moes sterf. Want die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23). Pleks dat ons sterf, sterf Hy. Die onus was op ons, toe doen Hy dit. En ons besef ook dat die Vader ons só by Christus ingesluit het in Sy dood, dat onsself óók daar aan onsself gesterf het en dood is vir sonde. Met die grootste verwondering ontdek ons hierdie blye evangelie. En dan lê ons ons hand op Hom. Ons gaan staan op Sy beloftewoord. Ons glo Hom wat dit alles sê. Ons sê: “Ek glo, Here Jesus, dat ek werklik saam met U gekruisig is en dat U my lewend gemaak het vir God en dood vir myself en die sonde.” U sien: Dit is die brandofferaltaar. Hy het in my plek gesterf en ek het saam met Hom gesterf. Dit begin ek nou glo.

Die brandofferaltaar is die hartklop van die Bybelse Christelike geloof. Soos u weet, ontlok dit baie antagonisme by die post-moderne mens. Die boodskap van die ALTAAR – die kruis – gee aanstoot omdat die gesofistikeerde opgevoede mens nie wil/kan aanvaar dat hy/sy só verdorwe en verlore is dat ‘n OFFER nodig was om versoening te bewerk nie. Onthou: die boodskap van die kruis dra die merk van die sonde en openbaar WIE die mens regtig is, naamlik ‘n hulpelose verdorwene wat slégs gered kan word deur ‘n offer wat Gód moes bring. Die boodskap van die kruis trek ‘n streep deur ons ingebore hoogmoed en arrogansie en dwing ons op ons knieë. Vir die moderne, opgevoede, trotse, hoogmoedige, selfversekerde westerse mens, is dit eens te veel. Dit word ervaar as ‘n belediging. Daarom liewer die toevlug neem tot die Okkulte en Oosterse godsdienste en filosofieë wat die mens op ‘n troontjie plaas. Tog mag ons nooit die boodskap van die altaar afswak en kompromiteer nie. Nooit nie. Want daar is geen ander toegang tot die saamwoon-met-God (ware vrede) ánders as deur die altaar/kruis/offerbloed nie. Kyk maar na die 4 horings op die punte van die altaar. Dit dui op krag en outoriteit en wys na die 4 windrigtings. In die kruisgebeure spreek God met gesag en dit is bedoel vir mense in alle windrigtings.

Maar ek het ook tegelykertyd die koperwaskom nodig om oor en oor en oor gewas te word. Waarom? Omdat ek nog steeds struikel en val. Die groot verskil is: Ek leef nie meer IN die sonde, in die greep van sonde en onder die heerskappy van sonde soos die ongelowige nie. Maar, struikel wel. Let op die “AS” in 1 Joh 2:1.

Die koperwaskom is geplaas ná die altaar en net voor die ingang tot die heiligdom. Dit is slegs deur die priesters gebruik op pad na die heiligdom om hulle hande en voete te was, baie keer per dag.

Die brandofferaltaar sê: Jy lewe nie meer onder die heerskappy van sonde nie. Jy is nie meer sy slaaf nie. Jy staan REG voor God, al is jy verkeerd. Jy IS versoen met God. Dit is afgehandel.

Die koperwaskom sê: Steeds onvolmaakte mens. Kán nog struikel. Mag weer en weer gewas word. 1 Joh 3:6 – kan nie aanhou sondig nie. 1 Joh 2:1 – AS ons sondig, reiniging.

Brandofferaltaar: Moenie te klein dink van Christus nie.

Koperwaskom: Moenie te groot dink van jouself nie.

Indien die altaar nie daar was nie sou ons ontmoedig word in die lewe. Sonde sou ons baas wees. Ons sou geen sekerheid van vergifnis en aanneming tot kinders gehad het nie. Indien die koperwaskom nie daar was nie, sou ons hoogmoedig en oormoedig geword het. “Ek het geen probleem meer nie. Ek is 100% die sonde se baas. Ek kan maak wat ek wil.”

U sien: Die altaar en waskom gaan sáám. Dit hou die balans. Dit bied die volle rykdom van die evangelie.

Indien ek leef vanuit die volle versekering dat God my verenig het met Christus op die kruis en dat ek met God versoen is en dat ek saam met Hom gesterf het, maak dit ‘n groot verskil in hoe ek met sonde omgaan in my lewe. Niks meer van die eindelose, moedelose probeerslae om sonde onder die knie te kry nie. Ek glo ek is nie meer onder sonde se heerskappy nie en klaar. Ek besef dat – nie ek nie – maar Christus wat in my lewe, sterker is as die greep van sonde. Indien ek dit glo – o.g.v. die Woord – hou ek nie op om self teen sonde te veg nie. Wanneer ek die suigkrag van sonde ervaar, ruil ek dit in by Christus. U sien: Op grond van die feit dat ek by die brandofferaltaar is en ek ingesluit is by Christus, kom ek nou na die koperwaskom toe: “Here, ek voel hoe trek die sonde aan my, maar ek glo dat dit nie meer nodig is om toe te gee nie, want die krag van U kruis het my uitgeruk uit die greep van sonde. Ek het gefaal, maar lê nie in die stof nie. Ek beroep my daarop dat U my weer en weer was en reinig.”

Sien u die koperwaskom? Op grond van my ingesluitwees by Christus, kom ek met spesifieke goed na Hom. Oor en oor en oor. Elke dag. Vanuit die sekere wete dat die spesifieke sondes my nie in die verderf dompel en God my vervloek, verlaat en verwerp nie, maar JUIS omdat Hy my NIE verwerp nie (o.g.v. die altaar) kom eer ek Hom vir Sy liefde by die koperwaskom: “Here, hierdie saak in my lewe doen U oneer aan – was my weer. Hierdie verslawing wat my so pootjie. Ek weet sy mag is gebreek, maar hy têre my nog. Hierdie tong van my. Hierdie selfgesentreerdheid. Hierdie TV wat my so aantrek ens.” By die waskom, kan ek reguit en op die man af met die Here praat oor myself. Opvallend: die waskom is van KOPER gemaak. Hy is gemaak van die mense se spieëls (Eks 38:8). Wanneer jy in die waskom inkyk, sien jy jouself – niemand anders nie. Dit wát jy sien, wat die spieël aan jou openbaar, dryf jou uit om weer vas te hou aan God se liefde en vergifnis in die altaar. Jy verval nie in ‘n hopelose en moedelose toestand nie. Jy ís vry en jy blý vry.

Dit is interessant: Die Here het vir Moses deurgaans AL die mates van al die materiaal van die tabernakel tot in detail gegee, maar niks van die waskom nie. Geen mates. Dit is asof die waskom grensloos groot is. Daar is geen perke aan sy groote en inhoud nie. Daar is dus geen perk aan die mate van reiniging wat die waskom bied nie. Sewentig maal sewe keer.

Laat ons gaan léwe met die Here – vanuit die rotsvaste versoening van die altaar/kruis en in die blydskap van die daaglikse vergifnis en reiniging. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00