TABERNAKEL no 2
DIE VIERKLEURIGE POORT
Skrif: Eksodus 27:16a

Gedurende die volk Israel se reis deur die woestyn, het die Here letterlik tussen hulle gewoon op ‘n afgebakende stukkie grond – in die tabernakel. (Later: Tempel in Jerusalem). Dit was ‘n prentjiesbeeld van die paradys wat herstel gaan word: God & mens wóón weer bymekaar. Die wonderlike is: Die tabernakel is ‘n profetiese prentjiesbeeld van wie Jesus is en wat Hy sou kom doen. Dit is waarna ons hierdie week wil kyk: hoe elke detail op Christus wys en wat dit beteken vir ons lewens.

Vanoggend het ons gesien dat die tabernakel slegs een deur het met die oordrewe breedte van 10 meter. Geen klein skeurtjie waar ‘n mens jou moes deurwurm nie. In Joh 10:9 sê ons Here Jesus van Homself dat HY die deur is. Hy is die enigste weg na die ware God (Joh 14:6).

Opvallend dat die ingang tot die tabernakel VIER KLEURIG was. Skarlaken rooi, Purper pers, Hemelblou en wit. Te same, sê hierdie kleure vir ons WIE Jesus Christus is binne die gelowige se lewe. En ons hoef nie te wonder wat die kleure beteken nie, want die Bybel verklaar homself. ROOI: Verlossing deur offerbloed. PERS: Koningskap. Purper is ‘n koningskleur in die Bybel. Byvoorbeeld: purperkleed wat die soldate Jesus aangetrek het toe hulle met Sy koningskap die spot gedryf het. HEMELBLOU: Hemelse afkoms van Christus. Joh 3:13 (“Niemand op aarde was al in die hemel nie, behalwe Hý wat uit die hemel gekom het die Seun vd mens”). WIT: Volmaakte perfekte geregtigheid. Wit linnekleed in Openb 19:8.

Hierdie 4 kleure beïnvloed ‘n mens se lewe direk indien jy op Christus alléén vertrou vir jou saligheid. Dit is onmoontlik om net op ‘n afstand te staan en hiervan kennis te neem. Beeldend gesê: Dit was destyds onmoontlik vir ‘n Israeliet om die tabernakel te betree en deur die gordyn te stap sónder om kontak te hê met die gordyn. Die gordyn “gee af” op die persoon – om dit so te stel. Daaroor is die Bybel duidelik: Wie tot geloofsvertroue in Jesus Christus gekom het, beleef die EFFEK van WIE Hy is, in sy/haar lewe. In die gestalte van hierdie 4 kleure, kom Christus na ons lewens toe. Kom ons kyk kortliks daarna.

1. SKARLAKEN ROOI – Verlossing deur die bloed. Kleur van sonde is ook rooi (Jes 1:18). Maar die kleur van verlossing is ook rooi. Byvoorbeeld: a) Verlossing uit Egipte deur die Rooi See. b) Ragab gered deur ROOI tou wat buite haar huis gehang het. c) Israel gered deur bloed van lammetjies wat aan die deurkosyne geverf moes word (Eks 12). d) In oud-Israel is ‘n ROOI koei se as gebruik in ‘n ritueel wat sondereiniging uitgebeeld het (Numeri 19). e) Belangrik: Jesaja 63:2. Hier word die komende Verlosser (Jesus) profeties voortuitgesien en word gesê dat Sy gewaad ROOI sal wees wanneer Hy stoksielalleen die verlossing sal bewerkstellig.

Dit is die eerste kleur waarmee Christus werksaam is in DIE mense wat (deur die Gees se werking) hulle vertroue op Hom gestel het, se lewens. Sy bloed het werklik die mag van ALLE sonde gebreek (Hebr 9:14, 10:14). Dit is nie maar net ‘n moontlikheid nie. Dit is ook nie ‘n aanbod nie. Dit is nie afhanklik van hoe sterk ONS is nie. Dit is GEDOEN. Dit is goeie nuus, nie waar nie. Verdere goeie nuus is: ALLE sonde is deur Hom verbreek. Ook dáárdie goed wat al oor jare heen só sterk gegroei het en wat onuitroeibaar lyk/voel. Letterlik ALLES wat ons buite gemeenskap met God wil hou. Daar is géén sonde, hoe hardnekkig ookal en hoe dikwels gedoen, wat ‘n mens se toegang tot die tabernakel (God se teenwoordigheid) onmoontlik maak nie. Sien Romeine 6 – ou mens het volledig gesterf saam met Christus. Daarom mag ons ook ontelbare kere weer terugkom na Hom toe met ons sondes. Ons mag dit op die naam noem. Ons mag eerlik en gebroke word.

Die groot fout wat ons maak is: ons dink éérs wanneer ek glo, verlos die bloed my en werk die krag van die bloed in my lewe. So asof ONS God se krag in werking moet stel voordat dit kan werk. Nee, die wonderwaarheid is: Omdat Jesus gesterf en opgestaan het, werk die verlossing kragtig. En, dit is juis DIT wat ons glo en toe-eien.

2. PURPER: Koningskap: Wanneer Christus met purper (koningsgesag) in ons lewens werksaam is, kom ons agter dat die vyand geheel en al oorwin is en dat hy definitief sy greep verloor het. Satan en die bose is NIE by magte om die ingang tot God se teenwoordigheid te versper nie. Efes 1:22 (Aan Hom het God alles onderwerp en Hom bo alles aangestel) en 1 Petr 3:22 (Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die bose magte aan Hom onderwerp het). Dit is ‘n realiteit dat die kettings en boeie afgeval het.

Verder eis Jesus se Koningskap ook gehoorsaamheid. Onthou: Sy Koninklike purperkleed beteken dat HY álle sê het. Omdat Hy Koning is, is ons eie-ekkies van die troon afgestoot. Dit gaan nie net daaroor dat ons in Hom glo nie, maar ook dat ons Hom begin VOLG. ‘n Koning word tog in gehoorsaamheid gevólg. En ons KAN Hom volg omdat Hy ons eie-ekkies van die troon afgestoot het deurdat HY Koning is. Al is ons vlees swak, is Hy magtig. Hy is dit, of ons dit voel of nie.

Laat ons prakties raak: Watter uitwerking het Christus se koninklike purperkleed op u en my wanneer ons in ons alledaagse lewe keuses moet maak? Of wanneer allerlei nare versoekings aan ons knaag? Byvoorbeeld wanneer jy ‘n besigheidstransaksie beklink of belastingvorms invul? Of ‘n keuse het om hierdie of daardie TV program te kyk of nie te kyk nie? Kan u sien hoedat hierdie saak tot ver buite die mure van hierdie kerkgebou gaan. Dit ráák ons lewens.

3. BLOU: Hemelse afkoms. Die hemelse afkoms en bestemming van Jesus Christus. Joh 3:13. Joh 13:2. In ander dele van die Skrif sien ‘n mens dat blou en purper sáám gaan wat betref koninklike status. Bv Ester 8:15: Mordegai se klere. Die blou dui egter meer spesifiek op hierdie Koning se hemelse afkoms en bestemming. Watter uitwerking het dit in u en my lewe wanneer Jesus met hierdie blou kleur in ons lewens werksaam is?

Efes 2:6 werp aangrypende lig hierop. Die Gees sê deur Paulus dat God ons ‘n posisie in Christus gegee het – Hy laat ons saam met Christus in die hemel sit. Hy het ons ‘n plek in die hemel gegee in/saam met Christus. Geweldig diepsinnig, nie waar nie. En onthou: hy praat nie van die ewigheid saam met Christus nie. Hy praat van ons lewens hier en nou.

U sien, uit God se oogpunt en deur Sy magsdaad, sit ons in ‘n hoër posisie as wat ons aardse stryde en kwellinge is. Ons kyk eintlik áf op ons probleme. En ons kan reken op Christus se trou. Of kan ons nie daarop reken nie? Ja. Soms voel dit seker so. Jeremia was op ‘n stadium so bang dat hy gevoel het die Here is soos ‘n bedrieglike rivier (Jer 15:18). Ken ú dit ook? Die beklemminge? Goed wat jou paniekerig maak. U sien, ons bely dat die Here ons veilig na die hemel sal dra, maar hoe benoud is ons dat Hy ons dalk sal laat val.

Wanneer Christus in ons lewens werksaam is met die blou van Sy hemelse bestemming, dan begin ons besef ons mag reken op ons hemelse sekuriteit en dat ons IN HOM uitgestyg het bó die dinge wat ons senuwees opvreet.

4. WIT: Volmaakte perfekte geregtigheid: ‘n Wit kleed dui deurgaans in die Skrif op ‘n posisie voor God – ‘n posisie voor Sy volmaakte Wet. Wátse posisie? ‘n Posisie van volkome REG-WEES voor Hom/Wet – al is ons in onsself NIE reg nie (Vergl Open 7:14). Ons weet voor ons siel ons is totaal NIE reg nie. Tog het ons sekerheid dat ons totaal reg IS, omdat HY ons reg verklaar het. Hoe kon Hy ons reg verklaar? Wéét Hy dan nie van al ons sondes nie? Wéét Hy dan nie hoe verkeerd ons is nie? Ja Hy weet. Maar, Hy het ons GEKLEE met Christus self. Sien 2 Kor 5:21. En Christus IS die 100% geregtigheid (reg-wees) voor die Wet. In Jeremia 23: 6 word die komende Here Jesus genoem: “Die Here ons geregtigheid”. Ek BESIT God se guns 100% omdat Jesus se spierwitte geregtigheid op my rekening oorgeboek is. Daarom hoef ek glad nie meer God se guns te verdien nie. Jesus se volpunte tel op mý eksamenvraestel. Dit is wat Hy aan my doen wanneer Hy met Sy WIT in my lewe werk. Hy maak ‘n einde aan my innerlike geneigdheid om God se guns te wil verdien.

Hoe dikwels betrap ‘n mens jouself dat jy dink jy moet vir God aan jou kant hou deur: te bid, Bybel te lees, Bybelstudies by te woon, getuig, meelewend te wees, geestelik te groei ens. AL hierdie dinge is natuurlik baie belangrik. Maar, ons is geneig om hierdie dinge te doen om vir God gunstig te stem teenoor ons. Dan dink ons: NOU sal Hy my sekerlik seën.

Kyk maar hoe maak ons. Wanneer iemand iets erg oorkom, dan vra ons: Waarom dan nou juis HY/SY? Hy/sy gee dan soveel om vir ander mense en is so getrou in die kerk! OF: Waarom gebeur dit of dat met my: Ek het dan soveel gebid en soveel dankoffer gegee. So redeneer ons van nature, maar Jesus werk met die WIT in ons lewens om ons te bevry van ons krampagtigheid om Sy guns te wil koop.

Gaan dink gerus weer na oor Christus se werk met die vier kleure in u lewe, en u sal die volle rykdom van die evangelie in u lewe prakties beleef en dat die Christelike Geloof regtig prakties wérk en dat dit lekker is! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00