1. HY MOET ONBERISPELIK WEES (1Tim 3:2; Tit 1:6)

1. HY MOET ONBERISPELIK WEES (1Tim 3:2; Tit 1:6)

 

Hy is nie sondeloos nie – natuurlik nie – maar streef om oor die ganse spektrum van sy lewe volgens God se Woord te leef. Sondes van sowel daad as nalating kenmerk dus nie sy lewe nie; inteendeel. En wanneer hy wel sondig, stel hy dit sonder huiwering reg met die Here en sy medemens. Kortom, hy leef altyd in die wete dat mense Christus aan hom sal meet. En dis sy gebed dat hulle inderdaad Christus in hom sal sien.

 

2. HY MOET DIE MAN VAN EEN VROU WEES (1Tim 3:2; Tit 1:6)

 

Oor die presiese betekenis hiervan is daar verskil van opinie. In die lig van die res van die Skrif kan dit nie beteken dat hy getroud móét wees nie. Hierdie kwalifikasie sluit veelwywers en rokjagters uit. En geskeides? Dis ‘n komplekse saak wat versigtige oorweging verg. Ten minste moet ‘n paar vrae gevra word: Het dit voor sy bekering plaasgevind? Is dit onherstelbaar? Staan sy Bybelse gronde daarvoor bo alle twyfel vas?

 

3. HY MOET NUGTER, VERSTANDIG EN BESKAAF WEES (1Tim 3:2; Tit 1:9)

 

Hierdie drie begrippe oorvleuel in betekenis en word dus saam gegroepeer.

 

Nugter sou kon betrekking hê op drankgebruik, maar aangesien dit vorentoe aangesny word, lyk dit of die apostel hier eerder praat van ‘n nugtere beoordeling van sake, ‘n voete-op-die-grond realisme. Verstandig dui op ervaring en wysheid, en beskaaf op selfbeheersing en goeie gedrag.

 

Hy moet dus intelligent en kalm wees, objektief en regverdig. Hy moet bo sy eie gevoelens en voorkeure kan uitstyg. Hy moet goeie oordeelsvermoë hê. Hy moenie maklik paniekerig raak nie.

 

Hierdie karaktertrekke van hom sal nie net in die gemeente tot uitdrukking kom nie, maar ook in sy huis en sy werk. 

 

4. HY MOET GASVRY WEES (1Tim 3:2; Tit 1:8)

 

‘n Ouderling werk met mense. Sy huis speel ‘n groot rol in hierdie bediening. Gasvryheid het nie net te doen met die akkommodering van reisende Christene nie. Dis ook om eensames iets van ‘n huislike atmosfeer te laat ervaar deur hulle oor te nooi vir ete, dis om jou huis te gebruik vir Bybelstudies, dis om buite-kerklikes iets te laat smaak van Christelike liefde en die geborgenheid van God se ordes, dis om ‘n hond uit ‘n bos te kuier saam met broers en susters.

 

Hier is een van die groot redes waarom ‘n ouderling se vrou so ‘n groot rol speel in sy werk. Dis dus onvermydelik dat ‘n potensiële onder-herder se huweliksmaat saam met hom geweeg moet word – wat egter nie beteken dat ‘n vrou wat minder as ideaal is ‘n man noodwendig sal diskwalifiseer nie. 

 

5. HY MOET VASHOU AAN DIE WOORD, VERAL AAN DIE SUIWER LEER – ASOOK IN STAAT WEES OM ANDER DAARIN TE ONDERRIG EN TEENSTANDERS VAN DIE GELOOF TE WEERLÊ (1Tim 3:2; Tit 1:9)

 

Al die kwalifikasies in hierdie twee Skrifgedeeltes behoort in elke volwasse Christen aanwesig te wees – met twee uitsonderings: die gawe om te onderrig en die vermoë om te regeer. Dis spesiale charismata wat nie almal ontvang nie.

 

Dit beteken nie dat elke ouderling ‘n goeie publieke spreker hoef te wees nie – hoewel dit gewis ‘n baie nuttige gawe is – maar ten minste moet hy in ‘n kleingroep of in ‘n een-tot-een situasie die grondwaarhede van die geloof kan oordra.

 

Na alle waarskynlikheid gaan dit ook hier oor die praktiese toepassing en uitlewing van Bybelse waarhede. Dit gaan dus daaroor dat die onder-herders manne moet wees aan wie die Here Sy nuwe bekeerlinge kan toevertrou. Hulle moet die kudde in die weë van die Here kan lei. 

 

6. HY MOENIE ‘N DRONKAARD WEES NIE (1Tim 3:3; Tit 1:7)

 

In die lig van die res van die Nuwe Testament kan dit nie hier oor geheel-onthouding gaan nie. Dit gaan oor vergryp, misbruik en verslawing.

 

In vandag se wêreld moet hierdie kwalifikasie sekerlik uitgebrei word tot ander dwelms – alles waaraan mense verslaaf kan raak. 

 

7. HY MOENIE ‘N EIESINNIGE EN OPVLIEËNDE RUSIEMAKER WEES NIE; HY MOET INSKIKLIK EN VREDELIEWEND WEES (1Tim 3:3; Tit 1:7)

 

Eiewillige, moeilike, arrogante en dwingende karakters is nie geskik vir hierdie lewensbelangrike roeping nie. Ongelukkig, omdat sulke mense oënskynlik sterk persoonlikhede het en omdat hulle voorgee dat hulle kompromieloos op beginsels staan, beland hulle maklik in die ouderlinge-amp. Maar dáár doen hulle oneindige skade. Want hulle staan nie regtig op beginsels nie; trouens, hulle major dikwels in minors. En van die hart van dissipelskap – liefde en gepaardgaande voetwassing – begryp hulle min. Nee, dit gaan in werklikheid om hulleself en hulle selfsugtige opinies.

 

‘n Man van God ag andere hoër as homself. Hy is ‘n dienskneg. Hy is welwillend, geduldig en gee as dit enigsins kan die voordeel van die twyfel. Daarom is hy tolerant en akkommoderend. Met homself is hy so streng moontlik, met ander so ruim as wat hy kan. Omdat hy die Bybel se absolutes begryp, weet hy wanneer om sy voet onwrikbaar neer te sit. Maar hy weet ook dat naïewe Christene ‘n duisend dinge tot die status van die ononderhandelbare verhef, maar dat dit in werklikheid nie ‘n duit werd is voor die aangesig van die Here nie. Hy verstaan en beleef Rom 14:17: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” 

 

8. HY IS NIE GELDGIERIG OF ‘N SOEKER NA ONEERLIKE WINS NIE (1Tim 3:3; Tit 1:7)

 

Geld en aardse besittings mag nie vir hom so belangrik wees dat dit hom daarvan weerhou om die Here met ‘n onverdeelde hart te dien nie.

 

‘n Ouderling mag sekerlik ‘n ryk man wees, maar hy durf nie ‘n slaaf van sy skatte wees nie. En ewemin mag hy hooghartig wees en sy hoop stel op die onsekerheid van rykdom. Hy moet weet sy besittings is ‘n gawe van die Here en verstaan dat dit as ‘n rentmeesterskap aan hom toevertrou is om daarmee te woeker tot eer van die Here en welsyn van sy naaste. Hy moet dus ryk wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam (1Tim 6:17-19).

 

Vermoënde mense kan ‘n wonderlike funksie in ‘n gemeente vervul – maar nooit mag hulle hul invloed gebruik om broers en susters daarmee te manipuleer nie. Daar mag, trouens, geen kunsmatigheid wees in hulle verhouding met armes in die liggaam nie. En as jy ‘n ryke se opregtheid en geskiktheid as ouderling wil beoordeel, kyk tot welke mate die eenvoudiges tuis is in sy teenwoordigheid. 

 

9. HY MOET DIE GEMEENTE VAN DIE HERE KAN REGEER (1Tim 3:4-5; Tit 1:6-7)

 

Hoe sal ons voor die tyd weet of ‘n man oor hierdie vermoë beskik? Ons moet kyk hoe hy sy huis regeer (indien hy natuurlik ‘n vrou en kinders het). Is daar orde en dissipline in sy huis? Vind sy vrou dit maklik om onderdanig aan hom te wees, aangesien sy sekuriteit en vergenoegdheid ervaar in sy koestering. Respekteer sy kinders hom? En hoe gedra hulle hul in ander lewensverbande?

 

Dit gaan nie hier oor ‘n volmaakte gesinslewe nie. Soiets bestaan eenvoudig nie. Talle tieners gaan byvoorbeeld deur hulle seisoene van rebellie. Die vraag is dan nie óf dit gebeur of nie, maar hóé die ouers – spesifiek die pa – dit hanteer.

 

Volgens Tit 1:6 moet ‘n ouderling se kinders gelowig wees. Dit kan ook vertaal word dat hulle getrou sal wees. Miskien is lg. die korrekte, aangesien Paulus in dieselfde asem die teenoorgestelde stel: hulle moenie “die naam hê dat hulle losbandig lewe, en teen gesag in opstand kom nie.” Lawrence R. Eyres stel dit só in sy boek, The Elders of the Church: “… we must guard against adding to God’s requirements as much as taking away from them. It is sadly true that the children of some very godly men grow to an adulthood of unbelief and rebellion against God. Is a man to be disqualified because his children have not been born again? I think not. God, not man, holds the key to the hearts of all who were born in sin… All that Paul requires is that these children, while in the home, are to be in submission to their father, and that they do not behave in the community so as to be a scandal against the name of Christ” (p.35-36). 

 

10. HY MOENIE ‘N NUWE BEKEERLING WEES NIE (1Tim 3:6)

 

‘n Nuwe bekeerling kan aan al die genoemde kwalifikasies beantwoord. Maar hy is nog onryp in die kennis en weë van die Here (die Griekse woord sê hy is nog ‘n nuwe plantjie). Nee, hy moet nog ervaring en geestelike spiere ontwikkel. Ouderlingskap kan soms robuuste eise aan ‘n mens stel! In elk geval, sonder die skandes en skades van ‘n lang pad saam met die Here is daar gewoon nog nie die sondebesef en gebrokenheid wat mens teen hoogmoed beskerm nie – wat dit uiters riskant maak vir ‘n man om té gou ‘n hoë profiel in die gemeente te kry. En dis eintlik Paulus se besorgdheid (v.6b). 

 

11. HY MOET OOK BUITE DIE GEMEENTE ‘N GOEIE REPUTASIE HÊ (1Tim 3:7)

 

Die ongelowiges het ‘n veel beter oordeelsvermoë as waarvoor ons dikwels vir hulle krediet wil gee. Hulle mag blind wees vir evangeliewaarhede, maar huigelagtigheid voel hulle met ‘n stok aan. En as hulle integriteit sien, herken en bewonder hulle dit. In elk geval is dit uiters noodsaaklik vir die Here se eer en die gemeente se goeie naam dat die onderherders die wêreld se respek afdwing.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00