'N NEUTEDOP-STANDPUNT
Omdat ek na tien ongemaklike jare in die charismatiese beweging teruggekeer het na die weë van die historiese reformatoriese geloof, word ek dikwels gevra na my standpunt oor die sg. openbaringsgawes. Hierdie wending in my lewe het oor baie meer gegaan, maar hieronder dus ‘n nederige, dog baie ernstige uiteensetting van die kernargumente waarom ek nie meer die pad van die gawes loop nie. Dis ‘n beleë slotsom, vertrou ek, wat volg na jare van talle skades en skandes in my opregte soeke na ware Nuwe Testamentiese (hierna ‘NT’) Christenskap.
Afbakening: Dit gaan oor die beoefening van ‘profesie’, ‘tale’, ‘uitleg van tale’, ‘woorde van kennis’ ens. Dit gaan oor daardie praktyke wat vandag daarop aanspraak maak dat dit voortsetting is van wat in Nuwe Testamentiese, oftewel Apostoliese tye gebeur het en dat dit, soos destyds, die direkte spreke van die Here in ‘n situasie deurgee. Dit gaan oor die beskouing dat hierdie dinge die alledaagse belewing van alle ‘Geesvervulde’ Christene en gemeentes behoort te wees en dat ‘n erediens daarsonder nie is wat dit moet wees nie.
Let op dat dit nié oor die volgende gaan nie:
• Die ‘charismata’ in die algemeen en die priesterskap van alle gelowiges.
• Uitsonderlike en abnormale ervarings wat gelowiges inderdaad soms het.
• Die Heilige Gees se toepassing van die Woord en die beginsels daarvan in ‘n Christen se hart, se denke, se gewete – as Hy nuwe insig gee, of lei, of bemoedig of vermaan.
• Die Skrifgebonde mededeling van laasgenoemde as ‘n getuienis, ‘n vermaning of ‘n bemoediging in gemeenteverband.
Die NT het geen uitdruklike uitspraak dat die openbaringsgawes sou ophou nie.Dit het egter wel talle uitsprake wat daarop wys dat God se besondere openbaring in die Persoon, prediking en werk van Christus tot kulminerende afronding gekom het. Die Grieks van Heb 1:1-2 is duidelik: dwarsdeur hierdie bedeling tussen koms en wederkoms (die laaste dae), spreek God op net één manier – deur Sy Seun. Wie wil, wie durf, wie kan by Hóm iets voeg? God se Woord is dus met die bediening van die apostels afgesluit – en as sulks is dit die kerk se genoegsame norm vir leer en lewe tot en met die wederkoms.
So verstaan die regsinnige kerk dit deur die eeue. Sola Scriptura! (die Skrif alleen!) was dan ook een van die wekroepe en hoekpilare van die Reformasie.
Die problematiek wentel om híérdie kernvraag: Wat is die kontinuïteit en diskontinuïteit tussen die apostoliese en na-apostoliese kerk? Sonder twyfel is die kontinuïteit oorwegend, maar dis wesentlik noodsaaklik om die uniekheidvan die apostels se rol in God se raadsplan te verreken. Wat was hulle roeping? Om as oog- en oorgetuies van Jesus Christus se persoon, lering en werk, onder inspirasie van die Heilige Gees, die Nuwe Testamentiese openbaring deur te gee, en om die kerk hierop en hierin te vestig. (Jhn 14:26; 15:26-27 16:12-15; Efe 2:20-3:5; Heb 1:1-4 ens.). Dit was ‘n eenmalige taak, en in hierdie klassieke sin kan daar dus nooit weer apostels wees nie.
Soos wonderwerke die Here Jesus se prediking bekragtig het, is die Goddelike mandaat van hierdie unieke apostoliese getuienis deur besondere werkinge van die Gees bevestig (Mrk 16:20; Han 14:3; 19:8,11; Rom 15:18-19; 1Kor 2:4-5; 2Kor 12:12; Heb 2:3-4). Dit het die openbaringsgawes ingesluit, wat nie net deur ander monde bevestig het wat die apostels gepreek het nie, maar sekerlik ‘n sinvolle funksie moes gehad het voordat die NT op skrif was.
Dis waarom dit simplistiese argumentasie is om bloot daarop aan te dring dat openbaringsgawes en wonderwerke vandag alledaags móét funksioneer, net omdat die NT daaroor skryf (toe ook nie só alledaags nie). Natuurlik sit daar in Skrifgedeeltes wat daaroor handel baie tydlose beginsels waaraan steeds behoorlike aandag gegee moet word, maar om die diskontinuïteite tussen apostoliese tye en vandag te ignoreer, is ‘n resep vir katastrofe.
Die Heilige Gees werk in alles wat Hy doen normaalweg deur die Woord (Jhn 17:17, 20; 1Kor 1:21; 2Tes 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23). Al wat my daarvan weerhou om te sê dat Hy áltyd so werk, is ‘n ontsag vir Sy soewereiniteit, asook die wete dat Hy soms in uitsonderlike situasies (soos op sendingfronte en in herlewings) los van die Skrif werk. Maar selfs dan werk Hy altyd in volkome harmonie daarmee.
‘n Vergelyking van die parallelle Skrifgedeeltes, Efe 5:18-19 en Kol 3:16, is betekenisvol. Paulus gebruik as’t ware die Gees en die Woord uitruilbaar – asof hy nie aan die een sonder die ander kan dink nie.
Op grond van wat hierbo gesê is, verstaan ek waarom openbaringsgawes al vroeg-vroeg in die kerkgeskiedenis opgedroog het. Daarom verwag ek ook nie dat dit in ons dag die normale ervaring van Christene sal wees nie. Wat meer is, omdat ek soveel vreugde, vervulling en lig uit die Woord put, het ek geen behoefte daaraan nie.
Dit beteken nie dat ek God probeer beperk, of ontken dat Hy los van die Woord kán werk nie, maar die Bybel en die kerkgeskiedenis gee my genoeg rede om te aanvaar dat Hy in na-apostoliese tye (ten minste normaalweg) nie so wíl werk nie. En gestel Hy sou in Sy soewereiniteit wel per geleentheid so met my wil werk, het ek geen twyfel nie dat Hy met liefdevolle geduld enige weerstand sal oorheers wat ek in opregtheid daarteen mag bied – soveel te meer as dit sou spruit uit ‘n hoë respek vir die genoegsaamheid van Sy Woord en ‘n weiering om alles vir soetkoek op te eet in ‘n wêreld wat deur misleiding geteister word.
Hoe ook al, dit is nóóit vir my van pas om enige werk van die Gees aanvullendtot God se omvangryke en alwyse besondere openbaring te verwag, te soek, daarop aan te dring of dit te probeer bewerkstellig nie. Dit sou, om die minste daarvan te sê, neerkom op ‘n geringskatting en miskenning van die heerlike erfenis wat ek in Sy genoegsame Woord het. En gewis sou dit my spoedig blootstel aan ernstige misleiding.
Sekerlik beleef alle Christene (alle mense, trouens) tot ‘n mindere of meerdere mate soms innerlike indrukke en aandrange, maar as hulle hoegenaamd eerlik en volwasse is, weet hulle dat so iets op sigself altyd vaag en onbetroubaar is. Omdat vals profesie volgens die Bybel ‘n gruwel voor God is (o.a. Deu 18:20-22; Ese 13), weerhou die vrese van die Here my dus om op grond van ‘n subjektiewe en persoonlike ervaring enige aanspraak daarop te maak dat die Gees direk deur my tot andere wil spreek. Afgesien daarvan dat so ‘n aanspraak, op die keper beskou, skokkend arrogant sou wees, word die ewige straf belowe aan elkeen wat byvoeg by (of wegneem van) wat God eenmaal geopenbaar het (Opg 22:18-19). Of dit net vir Openbaring geld, of vir die hele Bybel, wat twee verse later afgesluit word, verander niks aan die beginsel nie.
Dit is dus moeilik om te begryp hoe sommige charismaties-gesindes kan toegee dat baie van hulle ‘openbaringe’ oneg is, maar tog met die praktyk volhou, ‘omdat sommige eg mag wees en die Gees nie geblus mag word nie’. Sou God die Heilige Gees Hom met so iets ophou? Hoe op aarde kan mens, in die lig van bogemelde, iets in die erediens toelaat waarvan jy by voorbaat aanvaar dat ten minste ‘n gedeelte vals sal wees? Hoe kan herders toelaat dat ‘n gemeente blootgestel word aan iets wat potensieel misleidend is? En waar tog is die geestelike reus wat kan sê wat eg en wat vals is? [Die ‘beoordeling’ van 1Kor 14:29 was waarskynlik nie soseer ‘n beslissing of ‘n profesie van die Here was al dan nie, maar eerder ‘n besinning oor die betekenis en implikasies daarvan.]
Nee! Ek loof die Here vir Sy objektiewe, algeheel-betroubare, ewig-vasstaande en universeel-gesagvolle norm vir waarheid en gedrag, die geskrewe Woord!
Vandag weet ek dis futiel om op twee stoele te probeer sit: die Woord én die ‘openbaringsgawes’. Enige aanvaarding van laasgenoemde relativeer onmiddellik eersgenoemde se belangrikheid. Tot die mate waartoe ‘n gemeente ‘openbaringsgawes’ akkommodeer, tot daardie mate neem die Bybel en verantwoordelike Skrifuitleg ‘n mindere plek in. En tot daardie mate word lidmate se sekuriteit in die Here, hulle verankerdheid in wat hulle glo en hulle koersvastheid van lewe geërodeer.
Hoe kan ek ooit weer vanuit die heldere definisie en vredevolle sekuriteit van God se Woord gaan ronddwaal in die skemerwêreld van subjektiewe menslike indrukke, spekulasies en geestelike wild-goose chases? Dis ‘n wêreld besaai met die wrakke van mense, gemeentes en bewegings wat deur die eeue hulle heil in buite-Bybelse openbaringe gesoek het.
Vanuit bg. en vanuit persoonlike ervaring in Charismatiese kringe, oortuig vandag se stortvloed aansprake oor ‘openbaringsgawes’ my nie.
• Wat tale betref, was die Nuwe Testamentiese uitdrukking daarvan ‘n werklike, gesproke taal (weliswaar onbekend vir die spreker) met betekenisvolle inhoud (daarom kon dit uitgelê of getolk word). Daar mag uitsonderings wees, maar my indruk is werklik nie dat dit waar is van hedendaagse glossolalie of talespraak nie – inteendeel!
Wat dit verder onder verdenking plaas, is die feit dat dit normaalweg ‘n aangeleerde praktyk is wat na willekeur beoefen kan word – selfs deur mense wat die praktyk lankal gestaak het, omdat hulle nie meer glo dat hulle tale eg was nie.
• Wat uitleg van tale betref, manifesteer dit klokslag as ‘n spreke tot die mens, terwyl mens o.g.v. 1Kor 14:2 ‘n spreke tot God sou verwag.
• Wat profesie betref, het ek, benewens bg. besware, net te veel katastrofiese pastorale gevolge gesien om nog ontvanklik daarvoor te wees. Die voorbarige aansprake van sekere ‘profete’ en die gewetenlose wyse waarop hulle naïewe Christene met hulle ‘openbaringe’ manipuleer, skrei ten hemele. Dit is verder algemeen dat hulle voorspellings nie uitkom nie, maar selde indien ooit sal daar later ‘n haan oor kraai. Dat sulke mense los rondloop in hulle midde, is ‘n skande vir die Charismatiese en Pinksterbewegings.
Natuurlik duld nie almal so iets nie, maar waar trek mens die streep tussen ‘onskadelike’ en skadelike uitdrukkings van iets wat in beginsel verkeerd is?
Klinkklare beginsel-duidelikheid oor hierdie kwessie behoort júís, anders as wat sommige redeneer, vir elke lidmaat vrymoedigheid te gee om in byeenkomste te bid en te deel. Niemand hoef immers enigiets wat hy sê op een of ander ervaring te baseer nie – en allermins op eie gesag (want dis effektief wat gebeur as iemand voor ‘n gemeente staan met ‘n ‘woord van die Here’ wat hy sou gekry het). Dis gevolglik heerlik vrymakend. Nie die onsekere en subjektiewe ‘God sê hier en nou vir die eerste maal’ nie, maar die vaste, gesagvolle, eeue-oue en beproefde ‘God het eens en vir altyd gesê, en sê daarom stééds’. Nie, ‘Wat sê God net vir óns nie?’, maar, ‘Wat sê Hy nog altyd vir almal, en daarom ook vir ons?’
Nie, ‘Wat is God se unieke openbaring vir óns situasie nie?’, maar, ‘Hoe is God se universele openbaring van tóépassing, spesifiek hier in ons situasie?’
Dít is na-apostoliese profesie! En soos die Heilige Gees daardeur ons denke vernuwe en ons harte verander, word dit Sy nou-woord vir ons. As alle Christene maar só sou profeteer!
Niemand moet enige illusies hê nie: hierdie is ‘n fundamentele saak en die weë kan nie anders as om hier te skei nie. Die Bybel is genoegsaam, of dis nié genoegsaam nie. Wat die individu en die gemeente hieroor glo, is wesentlik bepalend. Dit bepaal hoe jy met die Skrif omgaan, asook die verwagtinge, gerigthede en prioriteite van jou Christenskap. Dit bepaal jou hele lewe en die karakter van die kerk. Dit lei op twee verskillende paaie – wat nie beide reg kan wees nie.
Laat elkeen wat oor hierdie saak standpunt inneem (en élke Christen móét in hierdie dae) twee dinge weet: Niemand kan die Sola Scriptura-beginsel geweld aandoen – en ongeskonde bly nie. Dit leer die kerkgeskiedenis. En niemand kan by God se geslote en genoegsame openbaring byvoeg – en skotvry wegkom nie. Dit leer die Woord.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier