Article Title

 

 

 

Wie kan die feit van sonde ontken? Wie kan stry dat hy of sy ‘n sondaar is? Elke mens ervaar dit, dwarsoor die wêreld, dwarsdeur die eeue. Daar is geen uitsondering nie. Ervaring en waarneming bevestig dit. En die gevolge daarvan kan niemand vryspring nie – allermins die dood, waarvoor ons almal toustaan.

 

Elke denkende mens weet dis ons heel grootste probleem, ons ellendigste dilemma. En die gevolge daarvan vir ons hiernamaals is dié verskrikking van alle geslagte.

 

Die ou aartsvader, Job, het al geworstel met die vraag hoe ‘n sterfling sonder skuld voor sy Maker kan staan (Job 4:17; 9:2). Niemand kan ooit ‘n belangriker vraag vra nie. En om die antwoord daarop te vind, is sekerlik kosbaarder as al die skatte op aarde.

 

Hierdie soeke lê aan die wortel van alle godsdienste. En omdat sonde wêreldwyd is, kry jy godsdiensbeoefening waar daar ook al mense is.

 

Mensgemaakte godsdiens kom tipies tot uitdrukking in mense se pogings om bo hulle morele verdorwenheid uit te styg deur ‘n duisend moets en moenies. In die proses hoop hulle dan om hulle Skepper tevrede te stel en sodoende die ewige lewe te verkry. Deur die eeue het dit gelei tot die verskriklike gebondenheid van biljoene – wat in kerkers van vrees vir die hiernamaals hulle lewenslank afsloof op trapmeulens van moralistiese verdienste.

 

Maar die sondige mensheid het net eenvoudig nie die vermoë om van sy verdorwenheid los te kom nie. Selfs in hierdie tyd van ongeëwenaarde wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling moet ons erken: moreel het ons sedert die vroegste tye nie ‘n sentimeter gevorder nie. Per slot van rekening kan niemand homself aan sy eie skoenveters optel nie! 

  

 

DIE VOLMAAKTE OPLOSSING

 

Die Bybelse evangelie dra nie die boodskap van die mens se religieuse verdienste nie. Die antwoord op ons verskriklike dilemma lê nie in ons opklim na God toe nie. Mensgemaakte godsdiens is ‘n leer wat nêrens heen lei nie. Nee, daar is maar één hoop – dat God na die mens toe afbuig. En presies dit hét Hy gedoen – in Christus Jesus, Sy eie Seun!

 

Hier, net hier, lê die diepste en wesentlike verskil tussen die Christelike evangelie en al die godsdienste van hierdie wêreld – insluitendechurchianity (wat deur Christelike goeddoen en rituele die saligheid wil beërf). God red sondaars, en Hy alleen. Hy deel Sy eer met niemand nie. Dis álles genade – of niks nie. Christus se volmaakte verdienste alleen is vir Hom aanvaarbaar. Slegs in Sy Seun kan ‘n sondaar gered word.

 

Die onderskeid mag dalk gering lyk, maar dit maak al die verskil in die wêreld – en in die hemel!

 

Deur geloof alleen

 

As alleenlik Christus se verdienste vir God aanvaarbaar is, ontstaan die vraag hoe dit op mý betrekking het? Hierop antwoord die evangelie dat sondaars net op één manier met Jesus Christus  verenig word – deur in Hom te glo. So ‘n persoon is dan in Christus. En in sy verbondenheid met Christus word die sondaar dan gered.

 

Regverdiging

 

Hoe red God ‘n sondaar wat met Sy Seun verenig is? Hy verklaar so ‘n persoonregverdig. Wat beteken dit?

 

Regverdiging is ‘n handeling van God met die doel om sondaars volgens Sy eie volmaakte standaarde te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid. Dit geld slegs vir diegene wat in Sy Seun glo en berus volledig op wat Hý – die Seun – gedoen het.

 

Aan die hart van regverdiging lê twee begrippe:

 

Die eerste begrip is plaasvervanging. Jesus Christus het mens geword om diegene te verteenwoordig wat deur geloof met Hom verenig was en sou word. As sulks doen Hý wat hulle moes doen. En Hý verduur wat hulle moes verduur. Hy is hulle Plaasvervanger.

 

Die tweede begrip is toerekening. So belangrik is dit dat die apostel Paulus die woord elf keer in die vierde hoofstuk van sy Romeinebrief gebruik. Dis ‘n boekhou-begrip en dui op ‘n inskrywing in ‘n rekeningboek – dus om te debiteer of te krediteer. Dit het te doen met die twee mees basiese probleme van die sondaarmens.

 

Enersyds het die mens se sonde hom in skuld by God gedompel. Elkeen wat waarlik glo se skuld word egter aan Christus toegereken (Hy word daarmeegedebiteer). En hierdie skuld betaal die Here dan as Hy mens word – in die besonder aan die kruis op Golgota.

 

Andersyds moet die mens aan God se volmaakte geregtigheidstandaarde voldoen om die ewige lewe te beërf. Hiervoor maak Christus se middelaarswerk ook voorsiening. As mens het Hy op aarde in volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader geleef. En hierdie gehoorsaamheid, Sy geregtigheid, word dan aan gelowiges toegereken (gekrediteer).

 

Regverdiging is dus ‘n dubbele geneesmiddel. Elkeen wat waarlik deur die geloof met Christus verenig is, het in “God se boeke” ‘n dubbele status – enersyds dat hy nooit gesondig het nie (want sy skuld is betaal), en andersyds dat hy God se wet volmaak onderhou het (want hy is gekrediteer met Christus se gehoorsaamheid). Dit is die hart van die evangelie. Maar, let op, dit geld alleenlik vir mense wat waarlik in Jesus Christus glo.

 

Nou is dit voor die hand liggend dat ons presies moet weet wat hierdie geloof is. En dit is waaroor hierdie boekie gaan. 

  

 

NIE SOMMER ENIGE GELOOF NIE

 

Iets baie spesifieks

 

Die Skrif is duidelik: God se vryspraak en regverdigverklaring word alleen deur geloof ‘n werklikheid in iemand se lewe. Maar dit geld nie van enige geloof nie. Daar is baie soorte geloof; trouens, daar is geen mens wat nie glo nie. Die lewe is ondenkbaar daarsonder. As ek geld in ‘n bank deponeer, doen ek dit in geloof – dat ek dit weer sal kan terugkry.

 

Saligmakende geloof is iets baie spesifieks!

 

Dis lewensnoodsaaklik om nie hier mis te trap nie. En omdat dit skrikwekkend maklik is om jou lewe lank in die waan te leef dat jy die ware Jakob het, terwyl jy dit totaal mis, waarsku die Bybel keer op keer dringend teen vals geloof, teen tevergeefse geloof. 

 

 

Geloof sonder goeie werke is tevergeefs

 

In sy tweede hoofstuk skryf Jakobus dat daar verskillende soorte geloof is, maar nie alles is saligmakend nie. Alles wat nie ook met goeie werke gepaard gaan nie, is nutteloos (Jak 2:14-26).

 

Dit is selfs moontlik, sê hy, om ‘n leerstellig korrekte geloof te hê – maar as dit nie uitmond in gehoorsaamheid aan Christus nie, is dit tevergeefs (Jak 2:19):  

 

“Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.”

  

 

Allerlei Christelike aktiwiteite sê op sigself niks nie

 

Die Here Jesus leer uitdruklik dat daar mense is wat Hom openlik as Here bely en geestelik baie aan die woel is, maar wat nogtans verlore sal gaan:

 

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mat 7:21-23).

 

Hierdie is ‘n skrikwekkende uitspraak. Dit is moontlik om in Christus se Naam te profeteer, duiwels uit te dryf en wonderwerke te doen – sonder om ware geloof te hê. Hierdie mense is aktiewe werkers – in die Here se Naam – maar hulle is nie gered nie! En hulle is vas oortuig hulle het die ewige lewe, want hulle is stomgeslaan as hulle op die oordeelsdag Sy verwerpingswoord hoor. En, let op, daar is nie net ‘n paar sulke mense nie, daar is baie. 

 

 

Die Gelykenisse

 

In Sy gelykenisse waarsku die Here herhaaldelik teen selfbedrog oor hierdie saak – teen die neiging om jouself wys te maak dat jy nie ‘n probleem het nie.

 

•        Voordat die storm van God se oordele die werklikheid blootlê, lyk geestelike huise dikwels presies dieselfde (Mat 7:24-27).

 

•        Koring en onkruid lyk soms so eenders dat die verskil eers

         te laat gesien word (Mat 13:24-30).

 

•        Tien meisies ontvang ‘n uitnodiging na ‘n troue. Al tien neem dit aan. Al tien wag vir die bruidegom. Net vyf word ingelaat (Mat 25:1-13).

 

•        Jesus sê dat baie mense positief op die prediking van die evangelie reageer. Maar met verloop van tyd blyk dit dan dat van hulle se geloof bloot ‘n namaaksel is – wanneer een na die ander onder vervolging swig of deur die verleidinge van hierdie wêreld verswelg word (Mrk 4:3-9; 14-20).

 

 

Die ware en die valse lyk bedrieglik baie na mekaar

 

Ware en vals geloof lyk verraderlik eenders. Dit is skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk – alles duskant Sy wederbarende werk. Het die Gees nie in en deur Bileam, Saul, Judas Iskariot en talle ander gewerk nie?

 

•        Ware geloof verlustig hom in Christus alleen; vals geloof is dikwels koorsagtig opgewonde oor Hom (Jhn 2:23-25).

 

•        Ware geloof word gewerk deur die Gees; vals geloof kan gepaard gaan met uitsonderlike innerlike en verligtende werkinge van die Gees (Heb 6:4-6).1

 

•        Ware geloof breek los uit die greep van hierdie wêreld se morsigheid; vals geloof kan dit ook vir ‘n tyd lank doen (2Pet 2:20-22).

 

Enige redelike mens moet mos nou saamstem dat dit lewensbelangrik is om te verstaan wat die wesenstrekke van ware saligmakende geloof is. Want dan alleen sal mens dit kan onderskei van al die namaaksels waarteen God se Woord ons so dringend waarsku.

 

Hoe kan ek dus seker weet ek het daardie geloof wat ‘n sondaar met Christus verenig?  

 

DIE ELEMENTE VAN WARE GELOOF

 

‘n Illustrasie

 

Jy beland vir die eerste maal in jou lewe op ‘n groot internasionale lughawe in ‘n vreemde land. Groot passasiersvliegtuie styg elke paar minute op na talle bestemmings regoor die wêreld. Jy moet halfpad om die aarde – New York toe. Heel eerste moet jy vasstel hoe laat jou vlug vertrek en deur watter een van die dosyne hekke jy aan boord moet stap. Noukeurig ontrafel jy dus die massas inligting op die groot elektroniese bord. En kort voor lank weet jy hoe laat jy deur watter hek moet stap.

 

Maar dan pak ‘n verskriklike vertwyfeling jou skielik beet. Vertolk ek al die vreemde syfers en afkortings reg? Sê nou ek stap deur die verkeerde hek en beland in Tokio? En al kom ek my fout weldra agter, gaan dit nie maak dat ek my vlug verpas nie? Soos ‘n gewone mens loer jy rondom jou. Die man met die strepiespak lyk darem vriendelik – en of hy weet wat aangaan. Sy Engels klink soos jou voorgeskrewe boek in matriek, maar belangrikste is dat hy jou verseker jy is in die kol.

 

Dankbaar loop jy met ferm tred reguit na hek 37 toe. Al wat oorbly, is om deur die hek te stap en aan boord te gaan.

 

As jy uiteindelik in jou sitplek agteroor sak en jou veiligheidsgordel vasklik, slaak jy ‘n genoeglike sug van verligting. Die verantwoordelikheidslas is weg. Salig is dit om jou toe te vertrou aan die loods – ‘n man wat presies weet wat hy doen.

 

 

Stem jy saam?

 

Jy sou nie in New York kon uitkom as jy nie geweet het deur watter hek om aan boord te gaan nie. Jy het dus kennis benodig. Wat meer is, jy sou nooit aan boord gegaan het as jy nie seker was dis die regte vliegtuig nie. Maar jy was oortuig van wat jy gedoen het. En let op, sonder die nodige kennis was daar geen sprake van enige oortuiging nie. Les bes, niks op aarde sou jou aan boord kon kry as jy geglo het die vliegtuig gaan in die see val nie. Jy was egter vol vertroue julle gaan jul bestemming haal – en dus het jy jou aan die vliegtuig en sy loods toevertrou.

 

 

Drie onmisbare elemente

 

Bogemelde illustrasie sou oor en oor gedupliseer kon word. So gaan ‘n mens byvoorbeeld deur dieselfde prosesse voor ‘n groot operasie. En soos klokslag bring dit die waarheid tuis: geloof – enige geloof – het drie noodsaaklike elemente: kennis, oortuiging en vertroue. En dit beteken dat vir saligmakende geloof drie dinge onontbeerlik is: waarheidskennis, hartsoortuiging en algehele vertroue in die enigste Middelaar tussen God en mense (1Tim 2:5).

 

GELOOF IS KENNIS

 

Geloof het inhoud

 

Kennis is nie geloof nie, maar daarsonder kan daar nie geloof wees nie. Geloof het inhoud! En hoe kan die geloof eg wees, as die inhoud vals is? Ware geloof het ware waarheid as inhoud.

 

    Dis waarom Paulus prediking so belangrik ag:

 

    “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?  … Die geloof

    kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor,

    is die verkondiging van Christus” (Rom 10:14,17).  

 

Hoeveel is nodig?

 

As die vraag gevra word hoeveel kennis nodig is, gee die Bybel nie ‘n duidelike antwoord nie. Hoeveel kennis het die misdadiger aan die kruis gehad? (Luk 23:42-43). Miskien kan dit só gestel word: daar moet genoeg waarheidskennis wees, hoe gering ook al, om ‘n persoon daartoe te bring om, in die lig van sy aanspreeklikheid en skuld voor God, homself algeheel aan die persoon en middelaarswerk van Jesus Christus toe te vertrou.

 

Drie elemente is noodsaaklik

 

So ‘n kennis het in beginsel ten minste drie elemente:

 

•        Eerstens is dit nodig om iets te verstaan van wie God is. Dit gaan veral oor Sy heiligheid en geregtigheid wat mense aanspreeklik hou, hulle oordeel volgens Sý standaarde en alle mislukking en rebellie met die ewige dood straf (Han 17:30-31).

 

Hierdie kennis lei tot die volgende element.

 

•        Tweedens moet ek weet dat ek ‘n skrikwekkende probleem het, omdat ek hoegenaamd nie God se standaarde kan slaag nie. Ek moet dus mysonde en skuld ken.

 

Waarom?  Daarsonder stel ek nie belang in God se oplossing vir my dilemma nie. Dis hiérdie kennis wat die evangelie werklik goeie nuus vir my maak. So lei dit tot die derde element – die kardinale een.

 

•        Derdens moet ek ‘n basiese kennis oor God se oplossing vir my probleem hê: Jesus Christus, wat as Middelaar my straf aan die kruis gedra het!

 

Christus is die hart van hierdie kennis

 

Hoewel bogemelde genoeg kennis is vir redding, ontstaan daar onmiddelik ‘n honger na meer begrip in elkeen wat waarlik wedergebore is. Niemand se geloof is behoorlik ontwikkel voordat hy of sy nie ‘n stewige greep op die Skrifopenbaring oor die Here Jesus se persoon en werk het nie. Nou verstaan mens waarom die apostels niks anders as Christus gepreek het nie – in sowel evangelisering as in gemeentelike opbou (1Kor 1:17 – 2:5, veral 1:17-18, 23-24, 30-31, 2:2).

 

•        Die evangeliewaarheid gaan oor Jesus Christus se Persoon – die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid wat mens geword het ten einde Middelaar tussen sondaars en God te wees (Jhn 14:6; Han 4:12; 1Tm 2:5; 1Jhn 4:2).

 

•        Dit gaan oor Sy lewe van volmaakte geregtigheid – wat aan my toegereken (gekrediteer) word sodat ek aan God se volmaakte standaarde voldoen (Rom 1:16-17; 4:1-5:21).

 

•        Dit gaan oor Sy kruisiging – waar Hy as strafdraende plaasvervanger my skuld voor God betaal het (Rom 3:25-26; 2Kor 5:21; Gal 3:13).

 

•        Dit gaan oor Sy opstanding – die Vader se verklaring dat Hy volmaak gehoorsaam gelewe het en Sy sending suksesvol afgehandel het (Han 13:32-35; 17:31; Rom 1:4; 4:25; 1Kor 15:12-23).

 

•        Dit gaan oor Sy wederkoms – wanneer hy my verlossing finaal sal afrond en my laaste vyand, die dood, sal vernietig (1Kor 15:24-26; 2Tim 1:10; Opg 20:14) deur my verstorwe liggaam in ewige heerlikheid op te wek (Rom 8:23-25; 1Kor 15:35-58; 1Tes 4:13-18). 

 

 

GELOOF IS OORTUIGING

 

Dis waar en dit geld ook vir my

 

Dit is moontlik om baie oor ‘n onderwerp te weet, sonder om oortuig te wees dat jou kennis die waarheid is. Neem byvoorbeeld ‘n sendeling se grondige kennis van die heidense geloof waar hy werk. Ware geloof behels dus meer as feitekennis. ‘n Diep oortuiging is ook nodig – en wel van twee dinge: dat dit wat ek weet waar is, en dat dit ook op my van toepassing is.

 

Die Heilige Gees se werk

 

Soos in die geval van waarheidsbegrip, is ook die oorgang van kennis na vertroue ‘n werk van die Heilige Gees. Wat die Here Jesus in Jhn 16:7-11 oor Sy oortuigingswerk sê, is uiters betekenisvol:

 

“Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is” (OAV).

 

Let wel dat Hy presies oortuig van daardie waarhede wat hierbo as noodsaaklike kennis bestempel is.

 

•        Die betrokke werkwoord dui op meer as blote beskuldiging; Hy oortuig die bepaalde persoon van harte, sodat hy in sy binneste weet dis wáár.

 

Dis hierdie oortuigingswerk van die Gees wat van blote kennis ervaringskennis, hartskennis maak – kennis wat in die soeke na sin, redding en sekerheid deur die hart gebrand het.

 

•        Hy oortuig van sonde – omdat die persoon nie in Jesus Christus glo nie(v.9). Dit bring dus die wete van persoonlik geestelike bankrotskap, van God se volmaakte oplossing daarvoor in die Gekruisigde, en van skuld aan die ergste van sondes, nl. verwerping van God se genade-aanbod in Sy eie Seun.

 

•        Hy oortuig van geregtigheid – omdat Jesus na die Vader teruggekeer het (v.10). Dit verwys na die opstanding en hemelvaart (14:12, 28; 16:28), en die Vader se gepaardgaande proklamering dat Jesus aan alle eise van geregtigheid voldoen het. Dit gaan hier dus om die wete dat my eie geregtigheid nooit God se toets kan slaag nie en dat my enigste hoop lê in die geregtigheid wat God voorsien – dié van Christus wat aan my toegereken word.

 

•        Hy oortuig van oordeel – omdat die Duiwel geoordeel is (v.11 en 12:31-33). Satan is gevonnis en wag as ‘t ware in die dodesel vir die poel van vuur (Opg 20:10). Dit gaan hier om die wete dat, as die owerste van die sondaars die oordeel nie kan ontkom nie, geen sondaar dit kan regkry nie – allermins ék wat skuldig is aan die ergste van sondes. 

 

 

GELOOF IS VERTROUE

 

Die element waarsonder die res tevergeefs is

 

Sonder kennis en oortuiging kan daar geen saligmakende geloof wees nie. Maar sonder ‘n derde element help selfs hierdie eerste twee niks nie. Die sluitstuk isvertroue.

 

Vals geloof kan kennis hê. Selfs demone het dit (Jak 2:19). Vals geloof kan selfs ‘n sekere oortuiging hê. Saul was oortuig (1Sam 15:24); en Judas Iskariot (Mat 27:3-4); en Feliks (Han 24:25). Maar ‘n oortuiging wat deur die Heilige Gees gewerk word, gaan altyd oor in vertroue. Dit gaan aan boord en bly nie by die hekke staan nie!

 

Niemand gryp gretiger as ‘n bedelaar nie

 

Die Here Jesus begin Sy Bergrede met die drumpelvereiste vir toetrede tot Sy koninkryk:

 

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mat 5:3).

 

In die oorspronklike taal praat die Here van geestelike bedelaars. Dis mense wat weet dat hulle totaal niks het om aan die lewende God te bied nie, en dat hulle algeheel aangewese is op Sy guns. Hulle weet dat hul patetiese pogings om God se standaarde te slaag nie net tevergeefs is nie, maar ook voorbarig.

 

Geloofsvertroue is om vanuit só ‘n geestelike bankrotskap God se aanbod van redding in Sy Seun te omhels.  Dis om die Christus van die evangelie aan te neem (Jhn 1:12-13). Dis om jouself aan Hom toe te vertrou om jou saak by God reg te stel. Dis om die evangelie-aanbod vir jouself persoonlik toe te eien.

 

Jesus Christus is ware geloof se alles

 

In sy Evangelie gebruik Johannes deurgaans ‘n unieke Griekse uitdrukking om die innige vertroue van ware geloof te beklemtoon. Hy praat nie net van geloof in Christus nie, maar van geloof in Hom in. Daar sit beweging in die uitdrukking. In Engels sou mens sê: to believe into Christ. Dis as ‘t ware ‘n handeling wat die sondaar uit homself en Adam uithaal – en in Christus inplant.

 

Saligmakende geloof kruip in Christus in – soos Moses in die rotsskeur moes skuil om nie deur God se heerlikheid verteer te word nie (Exo 33:18-23). Ware geloof gryp die Middelaar vas soos ‘n drenkeling ‘n lewensboei. ‘n Sondaar wat regtig glo, hang met sy hele gewig aan die Plaasvervanger – soos ‘n rotsklimmer aan ‘n enkele staalpen. Ware geloof is afhanklike vertroue!

 

Die lied van ‘n geredde sondaar

 

Niemand het dit mooier as Toplady (1740-1778) gestel nie:

 

  “Nothing in my hand I bring; 

simply to Thy cross I cling; 

naked, come to Thee for dress; 

helpless, look to Thee for grace; 

foul, I to the fountain fly; 

wash me, Saviour, or I die!” 

 

 

Die kyk van ‘n sterwende

 

Num 21:4-9 vertel dat God op ‘n slag giftige slange onder die volk ingestuur het as straf vir hulle sonde. Baie mense is gepik en is dood. Toe Moses vir die volk bid, sê God hy moet ‘n koperslang maak en dit hoog op ‘n paal sit sodat almal dit kan sien. Elkeen wat gepik is en na die slang opkyk, sou bly leef. En presies só het dit gebeur.

 

Dis vol betekenis dat die Here Jesus juis na hierdie gebeurtenis verwys as Hy met Nikodemus praat oor hoe mens die koninkryk van God kan binnegaan.

 

“Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê”  (Jhn 3:14-15).

 

Soos sterwende mense destyds net gelowig na die koperslang moes kyk om God se genesing te verkry, so is dit slegs nodig om vanuit jou magtelose bankrotskap jou oë in geloofsvertroue en -verwagting op die gekruisigde Christus vas te nael. Dis al wat nodig is vir God se gawe van vergiffenis en redding. Die Middelaar het alles gedoen – en deur jou geloof word jy met Hom verenig en word jy deel van die nuwe mensheid in Christus.

 

Waarom moes ‘n slang simbool wees van die komende Verlosser? Omdat die slang van die begin af simbool van sonde was en Christus as strafdraende plaasvervanger met ons sondeskuld toegereken is ten einde dit te betaal. God het Hom soos ‘n sondaar in ons plek behandel (2Kor 5:21; Gal 3:13-14). Natuurlik was Hy nie in Homself sondig nie. Nee, Hy is met ons skuld gedebiteer en moes vir die rekening instaan.

 

DIE BELANGRIKSTE VRAAG VAN JOU LEWE

 

Het jy ware geloof?  Is jou oë voortdurend vasgenael op Jesus Christus, die Begin en Voleinder van jou geloof (Heb 12:2)? Vul Hý jou hele blikveld?  Kyk jy elke dag, weer en weer – sonder om uitgekyk te raak? Is Hý jou enigste troos in lewe en in sterwe? Sal Sý Naam op jou lippe wees as jy sterf?

 

Elkeen sal sekerlik sy eie antwoord hê.

 

Sommige sal jubelend ja kan sê.

 

Ander sal diep onder die indruk wees van hulle kleingeloof

            en wonder of hulle durf ja sê.

 

En ander sal moet erken hulle antwoord is vir seker nee.

 

Hierdie laaste groep moet meer aandag kry, maar allereers moet ‘n paar baie belangrike dinge gesê word vir diegene in die eerste twee kategorieë.  

 

‘n Woord aan diegene wat dankbaar weet dat hulle deur ‘n ware geloof met Christus verenig is

 

Jy getuig dat jy God se genade in Christus vir jouself in die geloof toegeëienhet, dat jy jouself vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid aan Christustoevertrou het. Onthou net – en vergeet dit nooit nie – dit moet opgevolg word deur lewenslange toewyding aan die Here Jesus. Nóóit is dit deel van jou redding se fondament nie. Christus se verdienste alleen vervul daardie rol. Maar as jou geloofsvertroue hoegenaamd eg is, kan dankbaarheid mos nie uitbly nie. Jou integriteit moet jou mos daartoe dring, nie waar nie!

 

Aan die wat met kleingeloof worstel

 

Almal van ons moet onsself op die proef stel of ons ware geloof het (2Kor 13:5). Maar baie Christene loop met verkeerde idees – en onkunde is ‘n meedoënlose folteraar.

 

Daar is ‘n wêreld se verskil tussen swak geloof en vals geloof. Die Here beloof Hy sal die geknakte riet nie breek nie, die rokende lamppit nie uitblus nie (Mat 12:20). Sy beloftes word nie aan sterk geloof gegee nie, maar aan égte geloof. Al wat swak geloof hoef te doen, is om te kyk. Nie die geloof hoef sterk te wees nie, maar die Verlosser – en dit is Hy gewis!

 

O, wonder van wonders, die krag van ware geloof lê juis in sy swakheid, sy afhanklikheid, sy bankrotskap (2Kor 12:9-10)!

 

Dis die Evangelie: Kyk, kyk en bly kyk – en word gered! 

 

 

WAT MOET EK DOEN OM GERED TE WORD?

 

Allereers moet ons saamstem

 

•        Stem jy van harte saam dat jy ‘n sondaar is wat hoegenaamd nie aan God se standaarde kan voldoen nie – dat jy dus ‘n mislukking voor Hom is? Stem jy saam dat jy Sy wette weer en weer oortree – dat jy dus ‘nrebel voor Hom is? Stem jy saam dat jy eenvoudig nie het wat nodig is nie, al sou jy ook die volgende honderd jaar probeer?

 

•        Stem jy van harte saam dat jou beste pogings – godsdienstig, moreel, of wat ook al – jou nooit vir die lewende God aanvaarbaar kan maak nie? Stem jy dus saam dat jy op eie meriete nie ‘n kans het om die ewige lewe te beërf nie; dat jy, trouens, op pad is na die ewige verdoemenis as God nie in jou lewe ingryp nie?

 

•        Stem jy van harte saam dat Jesus Christus jou enigste hoop is? Verstaan jy hierdie boekie se boodskap? Maak dit vir jou sin?

 

•        Stem jy van harte saam dat die Bybel ‘n oop en ongekwalifiseerde uitnodiging rig aan elke sondaar om hom of haar met God te laat versoen (2Kor 5:20)? Die Here sê immers uitdruklik: “… Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie” (Jhn 6:37, letterlik).

 

•        Stem jy van harte saam dat jy nie maar op jou hande kan sit en wag dat iets gebeur nie – dat jy dus iets moet doen? Stem jy saam dat daar duisende opdragte in die Bybel is, en dat dit onontkombaar dui op jou en my verantwoordelikheid voor God? Stem jy saam dat jy ‘n kwaliteitsbesluit sal moet neem?

 

•        Stem jy van harte saam dat die Woord van God alle sondaars oproep – tewens, beveel – om hulle te bekeer en die evangelie te glo (Han 2:37-41; 16:30-31; 17:30-31; 26:16-18)? Stem jy saam dat jy sonde het om jou van te bekeer – en dat jy dit voor die Here sal moet bely? Stem jy saam mens maak van geloof ‘n klug as jy nie ophou om vir jouself en die waardes van hierdie wêreld te leef nie? Stem jy saam dis hemelskreiende huigelagtigheid as mense sê hulle vertrou Christus as Verlosser, terwyl hulle Hom nie as Koning dien nie? Stem jy dus saam dat dankbaarheid en integriteit van jou sal vereis om jouself lewenslank aan die Here Jesus Christus se regering te onderwerp?

 

•        Stem jy van harte saam dat niemand die vermoë het om hierdie dinge te glo, te doen en te bly uitleef as die Here hom nie help nie? Stem jy dus saam dat elke tree vorentoe in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees se werk gegee sal moet word?

 

Die uitnodiging van die eeue

 

As jy nog by my is – as ons nog eens is – wil ek die wonderlikste van alle uitnodigings tot jou rig. Dis die Bybel se vyfde laaste vers:

 

“Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Opg 22:17).

 

Hier is ‘n paar dinge wat mens nie moet miskyk nie:

 

•        Dis ‘n uitnodiging wat deur die Heilige Gees gerig word. Maar Hy doen dit deur die bruid, die gemeente van Christus. Elkeen wat aan die uitnodiging gehoor gee, word dus op sy beurt ‘n uitnodiger. En dis presies wat nou gebeur as ek hierdie uitnodiging aan jou rig.

 

•        Dis ‘n oop en ongekwalifiseerde uitnodiging – gerig aan elkeen. Die New International Version stel dit nóg duideliker: “Whoever is thirsty … whoever wishes …” Daar is dus geen twyfel hoegenaamd nie: hierdie uitnodiging word ook tot jóú gerig, geagte leser!

 

•        Dis ‘n uitnodiging om die water van die lewe – oftewel die ewige lewe in Christus – te kom kry. En dis verniet, kosteloos, gratis! Dis dieselfde uitnodiging as dié van Jes 55:1-3:

 

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk … Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.”

 

•        In die oorspronklike taal bevat Opg 22 se uitnodiging vier werkwoorde. Hulle beskryf ‘n opregte hart en die optrede van ‘n ware geloof:

 

~ So ‘n persoon het dors. Dit dui op ‘n diep begeerte, ‘n intense emosie. So ‘n maerte in die siel kan reddende geloof soms vir ‘n lang tyd voorafgaan. En dikwels weet so ‘n persoon aanvanklik nie eers mooi waarna hy of sy verlang nie. Algaande bring die Heilige Gees egter meer en meer klaarheid.

 

Hierdie dors is die verlore seun se verlange huis toe (Luk 15:11-24).

 

~ So ‘n persoon wil. Dit dui op ‘n besliste voorneme en ‘n doelgerigte besluit. Dit lê meer op ‘n verstandelike vlak. Dit gaan oor denke, oorweging, keuse en besluitneming.

 

Die verlore seun het nie net verlang nie, hy het tot ‘n defnitiewe besluit gekom om klaar te maak met sonde en sy rug eens en vir altyd op die varkhok te draai.

 

~ So ‘n persoon kom. Hy verskyn in nederige bankrotskap voor die Here om die saak uit te maak.

 

Die verlore seun het nie net besluit nie; hy het inderdaad opgestaan en na sy vader toe gegaan.

 

Hierdie is ‘n intens persoonlike saak en die grootste gedeelte van die ontmoeting – indien nie in sy geheel nie – sal in afsondering en privaatheid plaasvind. Dis ‘n saak tussen jou en die Here alleen. Die tydsduur is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat die transaksie deeglik en finaal sal wees. Berou, belydenis, oorgawe, toewyding en dikwels trane, is tipies van ware bekerings. In elk geval is dit níé ‘n ligtelike formaliteit volgens ‘n simplistiese en goedkoop formuletjie nie.

 

~ So ‘n persoon neem die water. Hy drink dit – met diep teue. Hy eien God se genadegawe in Christus vir homself toe. Hy vertrou homself toe aan die volmaakte Middelaar – vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Ook dit is ‘n intens persoonlike saak. Jesus Christus is nie net Middelaar tussen God en mense in die algemeen nie – Hy is ook mý Saligmaker, ja, mýne!

 

Die verlore seun was wel bereid om net ‘n huurling vir sy pa te wees, maar toe hy sy vergewende liefde sien, het hy homself in sy pa se omhelsing gewerp en hom in sy gemeenskap en geskenke verlustig.

 

•        Ten slotte net hierdie kardinaal belangrike opmerking: ál vier werkwoorde hierbo is ‘n werklikheid in elkeen wat gered word – nie net een, of twee, of drie daarvan nie! En vir seker moet mens by drink uitkom. Mens kan langs ‘n borrelende fontein van dors versmag as jy nie die water drink nie. En uiteraard, ‘n ware gelowige kry nooit klaar gedrink nie. Christenskap is nie ten diepste om op ‘n hoër morele peil as ander mense te leef nie, dis om weer en weer, en weer en weer, diep teue te drink uit God se fonteine van heil.

 

Wat maak jy met die Bybel se vyfde laaste vers?

 

‘N LAASTE BEDE

 

Ten slotte, vir elkeen wat die wonder van ware lewe in Christus leer ken het, ‘n seënbede:

 

“Aan Hom wat magtig is om jou van struikeling te bewaar en jou onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen” (Jud 24-25, in die enkelvoud).

 

  Voetnotas

1. Hierdie mense was nooit regtig gered nie. Hulle harte is immers nooit verander nie en is ten spyte van die reën van God se seën steeds so hard en wild soos die grond in v.8. Daarenteen sê die skrywer vir sy lesers, van wie hy aanvaar dat hulle wel gered is, dat hy oor hulle “van beter dinge oortuig (is), dinge wat saamhang met die saligheid …” (v.9, OAV).

 

 

 

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00