God se hand agter alles

 

 

 

Christene vind dit soms moeilik om aanhoudende beproewing gelate en sonder wrewel of opstandigheid te verduur. Vir diesulkes is daar groot troos in hierdie vry vertaling van ‘n uittreksel uit Broomhaal se biografie van Hudson Taylor, “The Man who Believed God”.

                            

Die geheim van sy (Hudson Taylor) se innelike rus, midde in sulke haat-aanvalle, was sy weiering om hom teen sekondêre faktore blind te staar. Hy het geweet sy lewe is in God se hand en dat hy met Hom, en met Hom alleen, te doen het. Dit kom treffend na vore in sy artikel, Geseënde Teenspoed. Met Job se ervaring as sy teks, skryf hy:

 

Selfs Satan was nie so voorbarig dat hy God se toestemming gevra het om self met Job te maak wat hy wil nie. In Job 1:11 sê hy:

 

“Maar strek net U hand uit en tas alles aan wat hy het …”. Hy het geweet dat God alleen hierdie reg het! En toe die Duiwel toegelaat word om hom te teister, het Job heeltemal tereg die Here self as die eintlike oorsprong daarvan gesien – met Satan as bloot ‘n pion wat nie ‘n fraksie verder kon gaan as wat God bepaal het nie.

 

Male sonder tal sal dit ons deurdra as ons onthou dat Satan dienskneg is, en nie meester nie; dat hy, en mense onder sy invloed, slegs kan doen wat God in Sy raadsplan verordineer het. Wat ook al oor ons pad kom – voorspoed of teenspoed – laat ons gelowig vashou dat dit ten diepste uit die hand van ons hemelse Vader kom.

 

Toe die Here Jesus verloën is, het Hy nie teen die verraaier vasgekyk nie, selfs nie teen die Bose wat Judas gedryf het nie. Daarenteen het Hy gesê: “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (Jhn 18:11)

 

As ons maar kan leer om ons skades en skandes uit die hand van die liefdevolle Vader aan te neem – en om dwarsdeur die instrumente te kyk waardeur dit kom! Hoe sal ons neiging tot verwyte, bitterheid en ontnugtering nie lamgelê word nie! Maak mos nie saak wie die posman is nie; dis die briefskrywer oor wie dit gaan. Die gestuurde is onbelangrik; dis God met wie ons te doen het.

 

Die slotsom is duidelik: Job was reg. En ook ons sal nie fout maak as ons God se voorsienigheid agter alles sien nie. Trouens, ons kan verseker wees dit lei tot uiteindelik seen, omdat God is wie en wat Hy is – en omdat Hy “alles ten goede laat meewerk vir diè wat Hom liefhet, diè wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom 8:28-30).

 

Volhard getrou en rustig

op jou pad van plig en daad

alles wat God doen

en besluit om toe te laat

sou jy presies net so wou, mits jy

die uiteinde daarvan kon sien

soos Hy.

 

 

 

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00