Irving was Presbiteriaanse predikant in London van 1822 tot 1834.
WAT 'N MAN!
Die eerste ses jaar van sy bediening was ‘n tydperk van uitnemende sukses. Met sy koms na die stad woon net 50 mense die dienste by. Maar binne 8 maande bars die gebou uit sy nate en talle moet teleurgesteld buite staan in die hoop dat hulle iets sal kan hoor. Kort voor lank is dit Sondae ‘n vertrappery in die strate rondom die gebou. En elke Maandag is die koerante vol oor gebeure by die kerk die vorige dag.
Talle vooraanstaandes uit regeringskringe het die byeenkomste bygewoon. Onder meer was Joseph Canning – wat binnekort Brittanje se Eerste Minister sou word – ‘n gereelde besoeker. In die Britse Laerhuis maak hy die stelling dat Irving die grootste redenaar van die dag is. Soms is selfs mense soos William Wordsworth en Sir Walter Scott in die dienste opgemerk.
Uiteindelik moet ‘n ander en baie groter byeenkomsplek gebou word – die National Scotch Church in Regent Square. Die gebou, wat deur sommige as Brittanje se mooiste beskou word, word in 1824 betrek.
Irving sou in enige era ‘n baie indrukwekkende en populêre figuur gewees het. Hy was lank – soos Saul bykans ‘n kop langer as die gemiddelde mens – maar het met ‘n gemaklike, vorstelike elegansie beweeg. Nie alleen was hy geniaal en dinamies nie, hy was ook ‘n man van inbors en integriteit – eerlik, onselfsugtig, vriendelik en opreg. En dan was hy ‘n prediker sonder weerga!
‘N SUG NA DIE SENSASIONELE
Helaas, was daar ernstige krake in Irving se persoonlikheid. Geneigd tot die eksentrieke en die ekstreme, en met ‘n voortdurende sug na opwinding, was die alledaagse en konvensionele vir hom onhoudbaar. Daarom was hy onvergenoegd met die gewone gang van sy bedieningslewe. Dit lei dan daartoe dat hy in 1824 begin preek oor die Bybelse profesieë. Hy gaan egter onverantwoordelik en sensasioneel om met Bybelboeke soos Daniël en Openbaring. Oor sake waaroor groot godsmanne en geleerdes na eeue steeds nie klarigheid het nie, waag hy dit om dogmatistiese en soms dwase standpunte in te neem.
Sy prediking – veral sy aanmatigende voorspellings oor die toekoms – het talle wat vir hulleself kon dink laat wegdryf. Maar die naïewes het meer as ooit toegestroom.
‘N SUG NA DIE BONATUURLIKE
Irving het ook in hierdie tyd begin preek dat die bonatuurlike gawes van die Gees steeds in die kerk moet funksioneer. Eintlik het hy die idee in 1828 of 1829 by sy jong assistent gekry, ‘n sekere A.J. Scott. Hy het Irving daarvan oortuig dat die kerk se afvalligheid en kragteloosheid grootliks te wyte was aan die verwaarlosing van hierdie gawes.
Scott het ook invloed gehad in ‘n sekere distrik van Skotland. Daar het ‘n tienermeisie, Mary Campbell, sy idees aangeneem – veral met betrekking tot genesing en die spreek in tale. Mary, ongeskoold maar intelligent, het ‘n sterk neiging tot die mistieke gehad. Saam met ‘n groep jongmense het sy aand na aand begin bid vir die gawe van tale. Sy was ook siek en het die Here vertrou vir ‘n genesingswonder.
Een rede waarom die groepie jongmense in glossolalie belanggestel het, was dat die meeste van hulle voornemens was om sendelinge te word. Op die manier, so het hulle gedink, sou hulle die gebiede waarheen hulle wou gaan se tale bemeester. Hulle het Christus se wederkoms binne vier of vyf jaar verwag en was oortuig dat die Here hulle só sou in staat stel om groot getalle heidene in ‘n kort tydjie te bereik.
Mary het dikwels in emosionele ekstase gebid. Elke keer was haar vriende vol verwagting dat sy op die punt is om die gawe van tale te ontvang. En toe, een Sondagaand in Maart 1830, begin Mary inderdaad onverstaanbare klanke uiter. Dat dit ‘n vreemde taal is – soos die van Pinkster en die Korintiërs – daaroor twyfel hulle geen oomblik nie.
‘n Gesin daar naby – ook onder A.J. Scott se invloed – het drie weke later ‘n soortgelyke ervaring. Twee broers, James en George McDonald, begin tydens gebed in tale spreek. Hulle jong suster, Margaret, was ‘n semi-invalide. James is egter oortuig dat die Here haar wil genees. Hy beveel haar dus om op te staan. Sy doen dit – en verseker hulle dat sy gesond is. Kort voor lank praat ook sy in tale.
Intussen raak Mary Campbell op ‘n soortgelyke wyse “genees”.
Die plaaslike predikant was oop daarvoor dat die “tale” van die Here kon wees, maar het op die uitleg daarvan aangedring. Hierop het James in tale gespreek en George dit getolk: “Kyk, Hy kom – Jesus kom!”
CHARISMANIA
Nuus oor die ervaring van buitengewone charismata in Skotland het Irving en sy mense in London met groot opgewondenheid vervul. Wat hulle betref was dit die begin van God se finale werk op aarde. En hulle het ernstig gebid dat Sy Gees ook in London só moes beweeg.
‘n Groepie word onder leiding van ‘n prokureur, J.B. Cardale, Skotland toe gestuur om die gebeure daar te gaan ondersoek. Hulle kom terug met ‘n gloeiende verslag. Dit wek ‘n innige verlange na soortgelyke ervaringe en gereelde gebedsbyeenkomste word op verskillende plekke gehou. Kort voor lank begin Cardale se vrou, wat ook Skotland toe was, in tale praat. Sy gee self die uitleg: “Die Here sal met sy kinders praat! Die Here bespoedig Sy koms! Die Here kom!” Enkele dae later begin nog ‘n vrou, ‘n sekere Mej. Hall, ook in tale praat en sing.
Van nou af word die gemeente se gebedstye deur die beoefening van tale, profesie en soortgelyke praktyke oorheers. Die ouderlinge is besorg oor die luidrugtige en hoogs emosionele gebeure, maar weet nie hoe om dit hok te slaan nie. Sê nou hulle sondig teen die Heilige Gees!
Spoedig begin die dinge ook in die eredienste posvat. Een Sondagoggend word juffrou Hall oënskynlik deur ‘n uitbarsting van klanke oorval. Sy hardloop na die konsistorie, maar almal in die ouditorium kan haar gekerm en onverstaanbare geluide hoor. Daardie selfde aand breek verskeie tydens die diens in tale uit. En om die rumoer nog erger te maak, is daar ‘n klomp kwaadstokers wat ook aan die skreeu gaan.
DIE WEË BEGIN SKEI
Soos te wagte kan wees, het baie lidmate en besoekers ernstig aanstoot geneem. Nietemin het sake eerder vererger as verbeter. Die talesprekers het daarop aanspraak gemaak dat hulle van Bo gedring en geïnspireer word. Die opregte, dog naïewe Irving aanvaar alles as eg – maar ervaar self niks daarvan nie. Hy voel geestelik minderwaardig en buig al hoe meer voor die leiding van “die begaafdes” (soos na hulle verwys is). Daar was veral ses wat as ‘n kerngroep uitgekristalliseer het: vier vrouens en twee mans. Hulle het dan ook tydens dienste bymekaar gesit in ‘n spesiale bank – vanwaar hulle toenemend die toon aangegee het.
Een van die kerngroep charismaties “begaafdes” – wat die gemeentegang toenemend beïnvloed het – was ‘n vooraanstaande prokureur, Robert Baxter. Hy het dikwels, soos dit genoem is, “onder die krag gekom”. Dan, so het hy vas geglo, het hy direk met God gekommunikeer en geïnspireerde boodskappe ontvang. Dit het hom soms gelei om die mees dwase dinge aan te vang. Daarbenewens het hy geglo dat hy na veertig dae ‘n geweldige ervaring sou hê – dat hy “met vuur gedoop sou word.” Ten spyte van sy koorsagtige verwagting het niks gebeur nie!
Dit was nie Baxter se eerste terleurstelling nie, maar hierdie mislukking het hom totaal ontnugter gelaat. Dit was egter meteen sy wendingspunt terug na nugterheid en regsinnigheid.
Nou het sy beskouing van die Bybel ingrypend verander. Spoedig het hy ‘n ware Bybelstudent geword. Sy intellek, vir maande onderdruk en vervang met allerlei mistieke en subjektiewe indrukke, het weer tot sy reg gekom. Sy opgeleide regsverstand het ywerig gevra na eksakte definisies en deeglik begin rekening hou met konteks en verband.
Soos alle gelowiges wat op ‘n verantwoordelike wyse met die Skrif omgaan maar te goed verstaan, het ‘n kosbare vrug nou in Baxter se lewe begin groei: die gedurige sug na ‘n geestelike euforie het verdwyn en plek gemaak vir ‘n Bybelsgebaseerde sekuriteit en beginselvastheid, met ‘n gepaardgaande vergenoegdheid en vrede.
Later het Baxter oor sy ervaringe geskryf. Hy was oortuig dat wat hy beleef het, óf psigologies óf demonies van oorsprong was. Sy grootste mistasting, het hy gesê, was om sy intellek te onderdruk. Teenoor die Skrif se beklemtoning van die verstand, het hy ingeval by Irving se geringskatting daarvan. Tewens – soos dit steeds gaan in kringe wat ervaringsbehep is – is denke antiteties teenoor geloof gestel. En dan is dit net ‘n kwessie van tyd voordat misleiding oorneem – van kwaad tot erger, en dikwels tot uiteindelike vernietiging.
Baxter het diep berou gehad oor sy dwaling. Iewers stel hy dit só: “The awful justice of our God, who, because of the craving after something more than the gentle dew of the Spirit, gave us indeed meat to our lust, by leaving us under a spiritual power, which was supernatural and sweet to the taste, but afterwards wormwood and ashes.”
‘N TRAGIESE EINDE
April 1832 bring ingrypende en pynlike wendinge vir Irving. Hy word geskors as predikant – oor sowel dwaalleer (m.b.t. die persoon en twee nature van Christus) as die charismatiese uitwasse in sy gemeente.
Agthonderd mense verlaat saam met hom die kerk en bekom ‘n saal vir hulle dienste. Nou gee die profete selfs meer as in die verlede die toon aan. Hulle beskou hulleself as die nuwe gemeente se alleengesag, besluit selfs wanneer Irving sal optree en huiwer nie om sy prediking met hulle profesieë te onderbreek nie. Moeilik soos dit vir hom is, moet hy dit aanvaar. Hy glo immers dat die profete God se direkte spreke deurgee.
In nog ‘n area van sy lewe begin Irving se charismatiese oortuigings hom in die steek laat. Reeds vir ses jaar preek hy dat alle siekte ‘n direkte aanval van Satan is en dat gebed en geloof die Christen se enigste verweer daarteen moet wees. In sy gesinslewe wou dit egter nie so uitwerk nie. Hy moes drie kinders aan die dood afstaan, en sy vrou is beswaarlik meer as ‘n invalide. Om alles te kroon begin sy eie gesondheid vanaf 1832 ernstig agteruitgaan. Al is hy ‘n skamele veertig jaar oud, lyk hy binne maande na ‘n stokou man.
Gedurende die herfs van 1834 besluit die profete dat hy in Glasgow moet gaan preek. Hulle verseker hom dat die Here hom kragtig gaan gebruik. Hy het egter gevorderde tuberkulose. Ten spyte van daaglikse gebed vir genesing gaan hy vinnig agteruit. As hy Skotland bereik, is hy so swak dat hy nie sonder ondersteuning kan loop nie. Binne dae is hy bedlêend. Tog bly hy vashou aan die oortuiging dat God genesend gaan ingryp, dat dit die hele Brittanje gaan skud en dat ‘n groot charismatiese bediening voor Christus se wederkoms op hom wag. Hy sink egter al hoe dieper. Tog kan omstaanders tussen tye van bewusteloosheid steeds sy prewelgebede om genesing hoor. Met sy laaste asem fluister hy: “As ek dan sterf, sterf ek in die Here.” Hy het twee-en-veertig jaar oud geword.
AS ONS MAAR DIE GESKIEDENIS SE LESSE WOU LEER
Edward Irving was ‘n goeie man – ‘n Israeliet sonder bedrog. Maar hy was naïef. Baie! As hy leerstellig op sy aanvanklike pad gebly het en sy briljante gawes reg aangewend het, sou hy bes moontlik een van die kerkgeskiedenis se reuse geword het. Maar hy het die regsinnige en beproefde weë die rug gekeer en nuwe en opwindende dinge gesoek. Die Woord was helaas nie vir hom genoeg nie. Hy wou nie verstaan dat God se openbaring met Christus en die Nuwe Testament tot ‘n finale en genoegsame afronding gekom het nie.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier