TAFELBERG GEMEENTE SPESIALE DOOP-PREEK

Galasiërs 3:27

Tema: Lewenslange waarborg

Ons wil graag vanoggend verstaan wat dit beteken om gedoop te wees.

Persoonlik dink ek daar is net één enkele rede waarom daar binne die Christendom soveel verwarring oor die doop bestaan: Die mens word in die sentrum geplaas in plaas van God.

Ons vermoed die doop het iets te sê oor die geestelikheid wat binne-in die mens teenwoordig is terwyl die doop in werklikheid iets te sê het oor dít wat God aan die mens toesê terwyl die mens nog innerlik bankrot is!

As ‘n mens mooi na die verskillende dooptekste in die Bybel kyk, sien jy hoe die doop elke keer die mens vasbind aan die werk wat alleen Christus op die kruis afgehandel het en dat dit vír die mens tel. Die doop sê presies dit: jý is daarby (wáárby? By Christus se heilswerk) ingesluit! Geloof vólg daarop. Dit gaan dit nie vooraf nie!

Voorbeelde:

1 Petrus 3:21 > Doop knoop jou aan die opstanding van Christus – wat (die opstanding) jou red

Kolos 2:12 > Die doop knoop jou daaraan dat jy ingesluit is by die begrafnis van Christus.

Hand 22:16 > Die doop knoop jou aan die afwassing van sondes (iets wat net God alleen doen en wat in Jesus se dood plaasgevind het)

In die ou taal van die kerk was die doop altyd ‘n “seël” genoem. Iets soos ‘n waarmerk/waarborg van iets.

Ons sê ons plak ‘n seël op ‘n brief. Daardie posseël is ‘n waarborg/waarmerk. Dit is die waarborg/versekering dat iemand ten volle vir die versending van die brief betaal het. Op grond daarvan moet die brief sy bestemming bereik. Dit is wat ‘n seël is.

In die Bybel word die besnydenis ‘n seël genoem (Rom 4:11). In die OT het dit beteken dat die besnydenis iets aan die besnedene gewaarborg het – aan die besnedene ‘n versekering van iets gegee het.

Wát het die besnydenis aan daardie mens gewaarborg? Waarvan was dit ‘n seël/waarmerk?

“Netsoos jou bloed gevloei het, sal daar ‘n Man kom wie se bloed vír jou sal vloei en Hy sal ten volle jou sondeskuld betaal en op grond dáárvan is jý nóú reeds met God reggestel. Glo dit asseblief.”

Die besnydenisbloed was aan die besnede persoon ‘n seël/waarborg van die Messias se bloed wat vír hom/haar sal tel.

Al was die persoon wat besny is net ‘n pap babatjie van 8 dae oud, was die besnydenis ‘n seël/waarborg/versekering van hoe ingesluit hy/sy alreeds by die toekomstige Messias se verlossingswerk is.

Die besnydenis was nié ‘n teken en seël van iets (‘n geestelike deug soos geloof of wedergeboorte) wat reeds binne-in die babatjie teenwoordig is nie. Dit was ‘n seël van iets wat buite die baba teenwoordig is (Messias se kruisbloed wat sou vloei) maar wat absoluut ten volle vír die baba tel.

Nou kan u verstaan waarom die ou kerk onmiddelik 2 by 2 getel het en besef het dat presies dít ook die betekenis van die doop is. Hulle kon darem somme maak.

Omdat Jesus se bloed nou klaar gevloei het, is die bloedvloeiing van die besnydenis nie meer nodig nie (net soos die bloed van diere-offers nie meer nodig was nie), maar verander dit in water wat afwas.

Waarom?

Omdat die bloed van Christus op die kruis die sondes van die wêreld (en daarom van die dopeling) weggewas hét (Joh 1:29; 1 Joh 2:2). Op die kruis het ‘n massiewe universele volmaakte wassing plaasgevind. Wat is weggewas? Die sonde en sondeskuld van elke mens wat ooit gelewe het en wat ooit sal lewe tot op die jongste dag. Dít word persoonlik aan die dopeling op sy/haar naam gewaarborg. Dis ‘n seël.

Baie gou het die ou kerk besef waarvan die doop ‘n seël is – wat dit waarborg. Dit waarborg nie die geloof wat in die dopeling is nie. Dit waarborg iets baie beter. Dit waarborg aan die dopeling dat die bloed van Christus op die kruis sy/haar sondes weggewas hét (volkome afgehandelde realiteit). Dis absoluut seker. Dis ‘n voldonge feit. Is dit ‘n werklikheid vir klein Leah ook? Ja! Omdat sy so ‘n onskuldige bloedjie is? Nee! Waarom dan? Omdat sy ingesluit is by Jesus se kruisdood!

Dít is nou juis die vaste basis waarop die geloof moet gaan stelling inneem.

Daarom is die doop ‘n seël. Soos ‘n seël op ‘n koevert: die seël waarborg: daar is ten volle betaal – dis ‘n feit! Die brief sal sy bestemming bereik.

Wanneer ‘n mens ‘n kar koop, ontvang jy ook so ‘n seël – ‘n waarborg. Die waarborg verseker jou van twee goed: 1) Die kar sal werk soos wat dit gemaak is om te werk en 2) Die vervaardiger sal instaan vir alle foute indien dit nié werk soos dit moet nie.

Belangrik: Dit moet ‘n fabriékswaarborg wees. Dis al wat regtig tel. Slegs die máker/vervaardiger kan die waarborg wees! Slegs die máker kan instaan vir foute wat mag opduik.

Die doop is die seël (fabriekswaarborg) wat waarborg dat die Drie-enige God vir Leah instaan en dat Hý ingestaan het vir alles wat met haar verkeerd sal gaan en dat Hy sál instaan vir alles wat met haar verkeerd gaan. Hý het haar sondeskuld klaar betaal en dit vernietig nog voordat daar ‘n sonde gedoen word. Die doop verseël die Goeie Nuus van die Bybel aan Leah: “Jóú sondes ís op die kruis uitgewis – God is nie meer in ‘n oorlog teen jou gewikkel nie. Hy het vrede gemaak – kant en klaar.”

Die ouers (Gershwin en Magdalene) is dus nie die waarborg nie. As jy ‘n kar koop dan is jý as koper nie die waarborg nie.

Die ouers staan nie vir die kind in nie. Die ouers gee/wy ook nie die kind aan God nie. Dit is God wat gee, nie die mens nie. Watter ouers kan die waarborg wees? Die doop is nie ‘n kinderwyding nie. Die doop is nie die toewyding van kindertjies aan die Here nie.

Kinderwyding beteken: Jý gee die kind aan die Here. Jý dra die kind aan die Here op. Die vraag is egter: Wie is die waarborg? Is dit die ouers? Nee. Kan die kóper die kar se waarborg wees?

Daarom mag daar nie so iets soos kinderwyding in die kerk van Christus plaasvind nie. Die ouers mag nie kom en sê: “Ons is die waarborg en ons gee vir God die teken dat ons vir die kind sal instaan” nie. Gershwin en Magdalene, julle is geen waarborg vir Leah nie. En julle kan nie instaan vir haar sondes en haar sondeskuld en haar ewige heil nie.

Maar waarom het ons die gebruik dat die ouers op vrae moet antwoord?

Wanneer julle netnou hier kom staan en op vrae antwoord, sê julle daarmee dat julle vir Leah sal laat diens. Net soos die koper die kar gereeld laat diens by die vervaardiger wat die waarborg uitgereik het. Julle sal vir Leah bring na die kerk waar die evangelieboodskap aan haar bedien sal word.

Maar sy kan ook goedskiks gedoop word sónder dat julle op enige vrae antwoord. Die doop het absoluut níks te make met die ouers se beloftes nie. Die doop verseël Gód se belofte aan Leah – nie die ouers s’n nie. Die ouers is buite die prentjie. Hulle beloof net om haar by die vervaardiger te laat diens – dis al.

Sy kry ook nie haar naam deur die doop nie. Sy het haar naam gekry ‘n paar dae ná haar geboorte toe Gershwin haar by Binnelandse Sake gaan registreer het. Die doop verseël nie ‘n sekere naam aan die dopeling nie. Die doop verseël God se belofte aan Leah.

Wat is daardie belofte nou weer?

“So seker as wat hierdie water jou was, só seker het Jesus Christus se bloed jou sondes op die kruis weggewas. Dit is totaal wég!” Die doop is ‘n pure versekering. Die Here bevestig Sy belofte met ‘n eed (Hebr 6:17) om alle twyfel uit die weg te ruim. Die doop funksioneer soos ‘n eedswering van God se kant af – “Ek sweer in my eie Naam dat jóú sondeskuld op die kruis afgeskryf is. Dus is daar niks wat jou verhinder om My te glo nie.”

U sien al die gebruikies en tradisies wat ons het, versluier die ware betekenis van die doop sodat mense dit nie kan verstaan nie. En as dit nie verstaan word nie, beroof dit ons van al die troos, versekering, die blydskap. En al wat oorbly is leegheid. Dis wat ons gebruikies aan ons doen.

Byvoorbeeld die gebruik wat ons het dat daar soveel klem gelê word op die ouers en die vrae waarop die ouers antwoord. Asook die gebruik wat ons het om van iets soos “doopname” te praat. Asof die doop ‘n naamgee-seremonie is.

Belangrik is ook om te sien dat die dopeling sélf ook nie die waarborg is nie!

Die kind (Leah) mag nóóit in die posisie geplaas word dat sy ooit sal vermoed dat sý die waarborg is nie. Dat sý die waarborg moet wees van haar geloof of die regmaak van foute nie. Sy mag nooit die indruk kry dat die onus op háár rus om haar saak met die Here reggemaak te kry nie. Die kar wat jy koop kan tog nie sy eie waarborg wees nie! Net so kan Leah nie self die waarborg wees nie. Die doopwater is dan juis die teken/versekering daarvan dat haar sondes op die kruis weggewas is. Dit is/word nie weggewas omdat sy eendag sal glo of op grond van haar keuse vir Jesus of haar bekering nie. Dit is deur Jesus se dood totaal weggewas. Dit is juis waarvan die doop haar verseker. Dit is presies ook waarop sy haar vertroue sal neersit!

Geloof en bekering beteken dat jy die verrassende ontdekking maak wát eintlik nog al die tyd joune was en dan jou vertroue daarop neer te sit. Jy maak die ontdekking wát die doop nog al die tyd aan jou gewaarborg/verseël het – naamlik dat Jesus se bloed jou blaamloos en sonder skuld voor God gestel het! En dan begin jy om DIT te glo! Wat ‘n ommekeer veroorsaak dit nie! Jy wórd ‘n bekeerde mens!

Die doop waarborg/verseker dus nie die feit DAT jy glo nie. Dit waarborg/verseker/verseël WAT jy glo – die inhoud van wat jy glo, naamlik die Bybel se belofte dat die bloed van Jesus jou sondes op die kruis weggewas het.

Ons sou dus kon sê ‘n mens glo op grond van (die inhoud van) jou doop. Jy word nie gedoop op grond van jou geloof nie. Die water wys nie op iets wat binne-in die mens teenwoordig is nie, dit wys op die bloed van die kruis. Daarom mag jou doop lewenslank jou anker en versekering wees.

Gershwin en Magdalene, julle moet vir Leah getrou inneem om by die kerk gediens te word sodat sy geleer kan word om lewenslank níé aan haar gelóóf vas te hou nie, maar aan die inhoud vd geloof: Jesus se kruisoffer wat haar blaamloos en skuldloos gestel het voor God – dááraan mag sy lewenslank vashou. Sy moet van die waarborg leer.

Oortuig uself uit Galasiërs 3:27: “Wie in Christus gedoop is, is met Hom aangetrek”. Nie die doop opsigsélf verenig ons met Christus nie (geen uiterlike ritueel of munisipale water het sulke mag/vermoë nie), maar die doop gee ons die versekering daarvan dat Gód ons by Christus ingesluit het toe Hy op die kruis gesterf het & uit die dood opgestaan het.

Die doop is soos ‘n pand/trouring wat versekering gee. Dis op daardie versekering wat ons vertroue/sekerheid gebou is. Die doop is niks anders as ‘n versekering nie. Juis daarom is dit so kosbaar.

Dis soos ‘n handtekening onderaan ‘n testament. Die handtekening gee vir die erfgenaam die sekerheid dat sy pa hom regtig ingesluit het by R10 miljoen erfenis – al kan hy sy ore nie glo nie en al was hy nog ‘n baba toe sy pa die testament opgestel het.

Presies so werk die doop.

Hoe sal ek alles in ‘n neutedop saamvat?

Die beste beste nuus beteken absoluut niks as jy daarvan uitgesluit voel nie.

Iemand kan op en af spring van vreugde omdat hy R2miljoen gewen het. Goeie nuus, nie waar nie? Nee dit is nie, want jy deel nie daarin nie.

Goeie nuus is nie goeie nuus indien jy nie daarby ingesluit is nie.

Wat maak die goeie nuus van die Evangelieboodskap GOEIE nuus?

In hoe Gód sake sien, word jý ten volle deur Jesus Christus verteenwoordig. Jy is ingesluit.

God het Sy “mind opgemaak” oor jou – deur dit wat Jesus gedoen het en wat Hy is. Hy is jou verteenwoordiger. Of jy dit glo of nie glo nie.

En dit is wat die doop aan jou verseël/waarborg. Die doop verseker jou dat jy ingesluit is. Juis daarom mág jy glo. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00