Skriflesing: Matteus 24: 1-31 (27)

Titele: Soos weerlig slaan van oos na wes

Gebed: Hemelse Vader, U is groot in heerlikheid en majesteit en in alles wat U doen. En tog sien U ons raak in ons kleinheid. En hoe klein voel ons nie ook weer vanoggend nie. So absoluut nietig. Ons kan nie en wil nie in ‘n grootheidswaan voor U lewe nie. Maar juis met ‘n deeglike besef van ons kleinheid. Mense wie se lewensduur maar heel kort is. Ons is daarby ook sondaars wat uit onsself uit nie U kinders genoem kan word nie. Hoe groot & geweldig is U goedheid dat U vir ons almal, wat die dood verdien, die lewe kom gee het deur U kruisdood en opstanding. Deur U wonde het daar vir ons genesing gekom. Hoe dom/dwaas is diegene wat dit nie hartstogtelik glo en omhels nie. Wil U nie die bediening van U Woord vanoggend gebruik om heldere en sekere geloofsekerheid by ons te kom skep nie? Veral as ons vanoggend in die Woord sal sien dat U U Woord sal waarmaak, tot by die wederkoms van ons Here Jesus op die wolke vd hemel. U is getrou. U is ‘n waarmaker van U Woorde. Dit bring by ons diepe ontsag en eerbied vir U, die drie-enige God. Ons wil ook nou heel stil word voor U geopende Woord. Maak U Woord vir ons helder en lewend deur U Gees se werking in ons. Gee aan ons andermaal ‘n leerbare en ootmoedige gees om te wil buig voor die Woord. Spreek U tot die hart van ons elkeen. Gee ons die vermoë om verder te kyk as U eerste koms na die aarde en om ook die werklikheid van U tweede koms na die aarde raak te sien. U persoonlike wederkoms. Laat daar tog in ons ‘n verwagting en verlange ontbrand na U koms op die wolke vd hemel. Gebruik ook vanoggend se Woordverkondiging daartoe. Sodat U Naam daardeur grootgemaak mag word. Amen.

Tradisioneel word daar in die kerk tydens Kerstyd ook klem gelê op die wederkoms (tweede koms) van ons Here Jesus Christus. Met Kersfees dink die kerk dankbaar terug aan die eerste koms van Christus na hierdie aarde. Daarom is dit heel vanpas dat die kerk juis ook tydens die Kerstyd met ‘n verwagting sal uitsien na die tweede koms van Christus na die aarde. Die dag vd persoonlike wederkoms van ons Here Jesus.

Die Here se eerste koms was wonderlik en heerlik gewees. Die Kerswonder: Dat Hy bereid was om die boesem vd Vader te verlaat, Homself leeg te maak, en mens te word – tussen ons. Sy tweede koms sal baie anders wees. Maar, net so heerlik en wonderlik. Die HG sê in Hebr 9:28: “Hy sal ‘n tweede maal verskyn, aan die wat Hom verwag het tot saligheid..”

Dit is die enorme gevaar in ons lewens vandag: Die malle gejaag, die tyd wat soos ‘n gedagte verby vlieg, lewenstoestande wat ons krampagtig maak, veroorsaak dat die sielevyand ‘n meester-truuk speel: Hy wil hê ons moet glo dat alles net om hierdie aardse lewe draai. Daarvoor gee ons ons tyd & kragte. Dan vergeet ons van die grootste krisis wat hierdie aardbol & sy bewoners voor die deur staan: Die persoonlike wederkoms van Jesus Xp. O, hoe koud, yskoud, is jou liefde vir die Heiland, as jy nie daarna verlang om daardie oë van Hom te sien, Sy stem te hoor, Sy hoof waarop die doringkroon gedruk was, die spykermerke in Sy hande & voete. Daarom moet ons daarteen waak om nie so opgeslurp te raak in hierdie lewe, dat ons nie ‘n oog het vir die komende Here Jesus nie.

TEMA: geformuleer uit vers 27: Soos weerlig uitslaan van oos na wes

1. Die tweede koms van Jesus bepaal die kerk se toekoms

2. Die tweede koms van Jesus sal skielik wees

3. Die tweede koms van Jesus sal nie weggesteek kan word nie

1.Die tweede koms van Jesus bepaal die kerk se toekoms. Hoe baie gebeur dit nie dat ons gedeeltes vd Bybel wat oor die wederkoms handel, met nuuskierigheid lees nie. So asof die Here vir ons in daardie Skrifgedeeltes ‘n video gee van presies hoe die wederkoms sal plaasvind. En, elke keer is ons teleurgesteld. Want, die Skrifgedeeltes oor die wederkoms is nie videomateriaal van dít wat in die toekoms gaan gebeur nie. Dit wat presies (in detail) in die toekoms gaan gebeur word nie in die Bybel vir ons oopgemaak nie. Dit is ‘n verrassing wat vir die gelowiges wag.

Neem nou ‘n gedeelte soos Matt. 24 as voorbeeld. Dit is nie die Here Jesus se bedoeling om hier toekomsvisioene te gee om ons nuuskierigheid te bevredig nie. Elke keer wanneer die Bybel oor die wederkoms praat, praat hy daaroor met ‘n sekere doel in die oog. In die geval van Matt 24 wil die Here Jesus vir ons wys dat die bedoeling vd wederkoms sal wees om die kerk/gemeente se toekoms te verseker. Die wederkoms is nie iets waarmee mense bang gemaak moet word nie. Dit is nie die geheimsinnige & misterieuse element vd toekoms waaroor topverkoper fiksieverhale geskryf moet word nie. NEE!!

Onthou: Vir die Jode was die fisiese tempel in Jerusalem alles waarom dit gegaan het. Hulle het geglo dat die Here nooit Sy tempel sou verwoes nie. En, toe die dissipels sien hoe hulle (saam met Jesus) teenstand kry vd Joodse leiers, toe sê hulle: “Ag, gelukkig is die tempel nog hier, dit is ons sekuriteit”. Asof hulle met oogklappe na die toekoms kyk. Die tempel, die tempel. En toe Jesus se skokkende woorde wat hulle laat terugdeins het: “Hierdie tempel gaan totaal verwoes word”. Moenie dink EK is aan die tempel gebonde nie. My toekoms met julle lê oneindig dieper en verder as die tempel. Sien u hoe korrigeer Jesus hulle beperkte toekomsvisie?? Uit skok & verbasing vra die dissipels toe: Maar, wanneer sal dit alles gebeur? En dan antwoord Jesus hulle met trooswoorde. Trooswoorde van hoe die Messias se verheerliking gaan plaasvind SODAT Sy volk ‘n toekoms sal hê vir ewig..

Wat ONS moet bly maak, is om raak te sien dat die verheerliking van Jesus by Sy wederkoms GEEN bangmaakstorie is wat gelowiges in twyfel & depressie dompel nie. Maar dat die wederkoms JUIS daarop gemik is om die kerk/gemeente finaal te versamel. Gewaarborgde toekoms te gee. DIT is die TEMPEL wat ‘n toekoms het. Die hemelse tempel/heiligdom vanwaar ons Here Jesus weer sal kom om Sy bloedgekoopte gemeente by Hom te versamel! Weg met die oogklappe waarmee ons na die toekoms kyk!! Kyk en sien die verheerlikte Christus wat kom op die wolke vd hemel.

2. Die tweede koms van Jesus sal skielik wees. Die Skrifte is daaroor erg duidelik: TERWYL die mense druk besig is met hulle besige lewens, oorval die Here se koms hulle so skielik soos geboortepyne ‘n swanger vrou. VERS 38: Soos in die dae v Noag : eet, drink, trou. VERS 40: Twee op die land, twee by die meul maal … VERS 44: Kom op tyd wat dit nie verwag word nie.. Dit is soos weerlig werk: Jy weet nie wanneer en waar hy sal slaan nie.

Wat vooraf sal gebeur is dat die ganse wêreldarena voorberei word soos deur ‘n onsigbare hand. Soos ‘n dekor vir ‘n konsert. Aardbol in tregter ingeforseer. In hierdie fase is daar talle misleiers wat valse christusse en valse profete is. Doen groot tekens en wonders. So subtiel dat selfs die uitverkorenes byna mislei word.

Hierdie dinge sien ‘n mens reeds vandag oral waar jy kyk. Gaan kyk bv. op Internet na “Lord Maitreya” se webblad. U sal sien hoe lyk ‘n valse christus. Geweldige wonderwerke wat deur hierdie man gebeur. Hy maak daarop aanspraak dat hy die verlosser is op wie alle godsdienste wag. Gaan wêreldvrede tot stand bring. Hierdie “Lord Maitreya” is die wêreldchristus wat die New Age Beweging na vore gaan bring. Hulle wil ‘n wêreldchristus na vore bring wat vir alle godsdienste aanvaarbaar sal wees. Hulle sê Lord Maitreya sal telepaties kan praat sodat elke mens op aarde sy stem in hulle ore sal kan hoor. Hy sal die gedagtes van alle mense kan oorskadu soos ‘n wolk. Hierdie Lord Maitreya en die New Age Beweging oefen reeds ‘n ontsettende klomp invloed uit binne in Christelike kerke. En die mense besef dit nie eens nie. Sien dit veral in Charismatiese beweging met sy ontsettende klem op wonderwerke en ervaringsgodsdiens.

Dit is slegs die mens wat die Woord ken, wat kan onderskei wat aan die gang is. Dán weet jy dat die wederkoms van die ware Christus totaal anders sal verloop as wat die New Agers beplan. Geen wêreldvrede vooraf. Geen wêreld-utopia. Groot verdrukking (v 41). Bring nie harmonie tussen mense, maar skeiding. Belangrikste van alles: daar is iets wat satan nie kan naboots nie. Sy koms sal wees soos weerlig. Terwyl die mensdom dink dat die New Agers se leier die christus is, want hy doen mos wonderwerke, hy praat met die hele mensdom….. …sal almal meteens WEET dat hulle mislei was wanneer die ware Christus verskyn. DAN sal almal weet wie God is en wat namaaksels was. Vir die meeste egter: TE LAAT!!

So ‘n heerlike verskyning: Die hele aardbol sal Sy koms meteens beleef. Soos magtige weerlig wat slaan van Oos na Wes. Die sterkste, gesondste, rykste, geleerdste, mees invloedryke man – is soos ‘n strooihalm teen weerlig.

Die Here se koms sal vir Sy uitverkore gelowiges wees soos die aanbreek vd Somer. Soos Ps 72:6 sê: “Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos ‘n swaar reën op aarde.” 2 Samuel 23:4: “Soos die morelig by sonsopgang, ‘n more sonder wolke..” Maleagi 4:2: “Die Son van geregtigheid met genesing in sy vleuels”. Die uitroep sal vol blydskap wees: “Kyk! Die Bruidegom kom!”

Soveel anders vir die ongelowiges. Amos 5:18: “ Weë die wat na die dag vd Here verlang. Hoe sal daardie dag wees? Dit sal duisternis wees, geen lig nie. Die dag sal brand soos ‘n oond. O, ‘n mens kan nie met weerlig speel nie. So-ook nie met die evangelie vd komende Here Jesus nie. Die groot verskil tussen die New Agers se christus en die koms vd ware Christus is: VALSE: Alles is mooi, alle mense word een, Utopia breek aan. WARE: Die kerk/gemeente/ware gelowiges bereik hulle bestemming. Skeiding tussen mense: geloof en ongeloof – hemel en hel. DAN moet jy nie huil oor manlief of vroulief wat in ongeloof onverskillig leef nie. Jy moet NOU huil.

3. Die tweede koms van Jesus sal nie weggesteek kan word nie. Almal sal dit sien op dieselfde moment. Die boer op die ope veld, die huisvrou in haar kombuis, in Kaapstad, ook in Amerika en die Noordpool. Almal sien die verblindende lig van Sy heerlikheid. Ja, ook die oog wat Hom nooit wou sien nie, sal Hom dan sien. Openb. 1:7: “Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Al die mense op aarde sal oor Hom rou bedrywe..” Dit is iets wat nie weggesteek kan word nie. Sooswat weerlig nie iewers in ‘n hoekie uitslaan nie.

Gemeente, waarom sal die koms vd verheerlikte Here Jesus nie weggesteek kan word nie? Omdat Hy kom met die een groot doel – om Sy uitverkorenes BY HOM te versamel. Uit alle nasies, volke en tale. DIT sal sigbaar wees vir almal wat Hom nie wou ken nie. Vandag versamel Hy Sy kerk IN alle nasies. Dan sal Hy hulle UIT alle nasies byeenbring tot EEN volk, by/rondom Hom. Die hele wêreld sal dit sien. Die hele wêreld sal dan skielik besef dat die doel van die geskiedenis het al die tyd oor die KERK gegaan. Die gemeente, wat altyd so weggesteek was. Geminag was. Buite rekening was. Sal DAN versamel word. Wat ‘n ondenkbare onvergelyklike voorreg om nou reeds met sekerheid te mag weet dat EK daarvan deel sal wees. Dit is voorwaar iets om na uit te sien.

GEBED Here, vir almal wat U ken, is dit ‘n groot troos om te mag weet dat U die geskiedenis in U hand hou. Dat U kerk se wel en weë nie bepaal word deur omstandighede of noodlot en toeval nie. Ook nie deur duistere magte wat agter die skerms aan die werk is nie. Daarom het ons geen vrees nie. En ook geen bekommernis nie. Tewens, ons het die blye verwagting dat U U bloed vir die kerk gestort het en dat U ‘n toekoms vir U gemeente het. Daarom sal ons so graag wil sien dat almal tot geloof en bekering kom. Dat almal die evangelie van hulle redding sal glo. Dat almal tot die geloof sal kom dat hulle deur U wonde genees is. Hier in die Kerstyd hoor en sien ons weer hoedat die gedagte van Kersfees op almal se lippe is en Kersliedere word oral gespeel. Maar, verstaan ons mensdom werklik waaroor dit gaan? Kom daar geloof en bekering? Kom daar ‘n toekeer tot U? Ons is so geweldig bevoorreg om hier die ware Woord te hoor. Maar, dit maak ons verantwoordelikheid soveel meer om werklik anders te gaan leef as die wêreldse mens. Sterk ons daarin met die krag van omhoog. Tot U eie eer alleen. Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00