BELYDENIS EN WEGDRAAI (VAN SONDE) IS ‘N VERANDERDE LEWENSTYL

Suid-Afrika beleef tans ‘n besonderse tyd waarin letterlik duisende mense opgewek word en stroom na die stadion dienste van Angus Buchan, asook die Esther en Daniel konferensies vir vroue en mans. Die Here is besig om diep in die harte van Sy kinders te werk en ’n honger na geestelike dinge is ooglopend sigbaar.  Gemeentes is betrokke en reik uit na behoeftiges, asook verskeie korttermyn sendinguitreike na alle nasies.   

Nietemin, terselfdertyd staar ons ‘n tydperk van morele en geestelike verval in die gesig. ‘n Verval wat moontlik vinniger en wyer verspreid is as ooit tevore in ons geskiedenis.  Die apostel Paulus verwys na hierdie verval in 2 Timotheus 3:1-5, en praat  van mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën.  Timotheus en almal wat die sendbrief lees word gewaarsku om sulke persone te vermy.  Sommige van die sondes wat Paulus noem, is onder andere:   liefhebbers  van hulleself, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God, ens.

 Dit is alles duidelik sigbaar in die gesindheid en gedrag van nie-Christene, gesinne, gemeenskappe, die regering, die lewens van Christene en aktiwiteite van kerke.  Ons word gebombardeer met verskillende tipes vermaak en sondige praktyke in alle vorme  deur middel van die multimedia wat ons lewens beïnvloed en onheilige lewenswyses afdwing.  Dit blyk ‘n broeiplek te wees vir die vlees en sondige praktyke.  Geloftes en beloftes word aan God en aan mekaar gemaak maar word nie nagekom nie.

Baie Christene dink dat solank hulle op Sondae kerk toe gaan, hulle maar vir die res van die week hul lewens kan inrig en lewe soos wat hulle wil.  Hulle probeer om God te dien terwyl hulle terselfdertyd vashou aan die sondes en sienswyses van die wêreld.  Dit is nie ongewoon om te sien dat belydende Christene sondige aktiwiteite en gesindhede deel maak van hulle lewens nie. 

Wanneer ons van God af wegbeweeg, plaas ons gewoonlik ‘n plaasvervanger of ‘n afgod in Sy plek.  Wanneer ons ons nie meer tot God bekeer nie, vervang ons Hom, Sy doelwitte en Sy weë met iets anders en normaal weg iets vanuit die wêreld.  Die feit is dat God se mense eerder bekend raak vir die dinge waarheen hulle hul bekeer, as vir die dinge waarteen hulle hul bekeer.  Een goeie manier om te bepaal wat plaasvervangers vir God geword het, is om jouself af te vra of daar enige iets is wat jou van God laat vergeet.

“Dit is ‘n hartseer feit dat Christene in gewone tye vasklou aan dié dinge wat herlewing van hulle af sal wegruk.”   Brian Edwards

Iets ernstig skort by God se mense.  Ek glo dat God in Sy heiligheid bedroef word deur die afwesigheid van reinheid en heiligheid in ons.  In ‘n tyd wanneer ons aanbidding en gesinslewe geherdefinieer word vir ons persoonlike gerief, sou ons maklik kon aanneem dat solank as wat God nie ‘n oordeel oor ons fel nie, dinge seker maar reg is.  Solank ons nie sleg voel nie, is dit nie so sleg nie – solank ons net goed voel daaroor, kan ons voortgaan en aanhou om dit te doen. 

Kan dit wees dat ons as Christene, alhoewel ons dit bely en die Here volg, ons ons vrees vir God verloor het?  As ons God nie vrees nie, vrees ons nie sonde of die gevolge daarvan nie.  Ons moet na sonde kyk, nie vanuit ‘n humanistiese oogpunt nie, nie vanuit die leringe van ons geestelike leiers of doktrine nie, maar vanuit God se Woord en Sy perspektief.

God het ‘n perfekte plan en ‘n volmaakte lewe vir ons ingedagte.  God se Woord het ‘n antwoord vir ons.  God het Homself en Sy weë oor die eeue heen openbaar soos Hy met sy mense gewerk het.  Hy het baie duidelik gepraat oor Sy verwagtinge en standaarde.  Hy het beginsels geopenbaar en voorbeelde omskryf.  Hy staan gereed om tye van verkwikking en vernuwing oor ons dorre en dorstige lewens uit te stort.  Maar, Hy wag op ‘n mensdom wat gewillig is om die prys van oorgawe en gehoorsaamheid aan Sy wil en Sy weë te betaal.  Hy wag op ons om te bely en ons heelhartig na Hom te bekeer.

Belydenis van ons sonde is nie genoeg nie.  Dit beteken bloot dat ons saamstem met God dat ons ‘n fout gemaak het.  Ons moet ons oortredinge en vergrype bely.  As ons bely en na God terugkeer, sal ons lewenswyse en gedrag die verandering weerspieël.  Om te bely beteken en weg te draai van sonde beteken dat ons harte, gesindheid en optrede verander.

Verandering van gesindheid

Ons moet met God saamstem oor die waarheid wat Hy pas aan ons harte geopenbaar het.  Ons moet saamstem dat wat ons gedoen het verkeerd is.  As ons nog wil stry, analiseer of dit probeer regverdig of ons wel verkeerd gedoen het, het ons nog nie berou gehad nie of toon nie berou nie.  Ons het ‘n verandering van gesindheid nodig. Dit gebeur wanneer ons ophou verduidelik en saamstem met God (oor ons probleem of sonde).

Verandering van hart

Ons moet saamstem met Hom en besef dat ons sondes Hom bedroef het en Hom terleurgestel het.  In plaas daarvan om te verduidelik, te regverdig en selfs ons sondes te geniet, moet ons op die plek kom waar ons berou het oor ons sondes en verkeerde dade.  As Christene draai ons weg van God wanneer ons ‘n verandering van hart ondergaan – deurdat ons ons eerste liefde verlaat.  Wanneer ons teruggekeer het, sal ons bereid wees om weer te gehoorsaam.  Ons het ‘n verandering van hart nodig.

Verandering van optrede

Belydenis dui op die heelhartige wegkeer van ons sondes en lewenstyl na ‘n intieme liefdesverhouding met God.  Te dikwels probeer ons om so naby as moontlik aan die wêreld te wandel sonder om toe te gee of om sonde te doen.  Ons flankeer met versoeking wanneer ons daarvan weg behoort te vlug.  Dit vereis ‘n radikale wegkeer van die sonde, om ontslae te raak van alle afgode, die afbreek van alle vestings en om onsself te verwyder van alle sondige of verleidelike situasies.  Dit vereis egter ‘n verandering van wil, optrede en dade.  Ons moet ons lewenstyl verander en ‘n lewe in die volheid van God leef soos God dit bedoel het.

Belydenis kan nie as opreg beskou word as daar nie uiterlike getuienis daarvan is nie – ‘n verandering van gesindheid, hart en optrede sal lei tot ‘n verandering van gedrag.  Dit sal en moet sigbaar wees.  Om belydenis te verander van gewoonweg bieg, na ‘n veranderde lewenstyl of gedrag, moet jy:

–          Deurlopend die Woord van God bestudeer en jou hart daarmee vul.

–          Sensitief wees vir die influistering of oortuiging (van sonde) deur die Heilige Gees.

–          Onmiddellik in gehoorsaamheid op Hom reageer.

Die rol van belydenis is sigbaar in elke herlewing wat plaasgevind het in die geskiedenis van die kerk.  Miskien is dit tyd vir Christene en kerke om die volgende stap te neem en nie by bieg, erken of bely te stop nie, maar te bekeer en hulleself van nuuts af aan die Here toe te wy sodat hulle ‘n veranderde lewenstyl kan ervaar weens ‘n volkome wegdraai van sonde.  Nie meer net lippetaal nie, maar verandering. Ons kan kies hoe heilig ons wil leef.  Ons kan kies om weg te stap van sonde.  Ons kan kies om tyd te maak vir God. Ons kan kies om ons beloeftes en geloftes na te kom.   

Roep God jou om die rug te keer op ‘n spesifieke sonde in jou lewe?  Om te reageer op God is belangriker as enige iets anders in jou lewe of wat jy beplan het om volgende te doen.  As God met jou praat, is die tyd om te reageer nou.  Onthou,  Hy het jou lief en wil jou seën met Sy Volheid en Hy begee net Sy beste vir jou. Verander jou lewe vandag deur jou gesindheid en jou hart te verander en begin om iets daaraan te doen.  Dis is nou tyd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00