“SIMON, SEUN VAN JONA, HET JY MY WAARLIK LIEF?

Het u al ooit gewonder waarom dit vir Jesus, na Sy opstanding, nodig was om vir Petrus by die viswaters herhaaldelik te vra, nie of hy Hom liefhet nie, maar of hy hom wáárlik liefhet … en hom aan te spreek – nie as Petrus (die rots) nie, maar as Simon (die riet), die seun van Jona? Daardeur lê die Here Jesus die vinger op Petrus se grootste probleem waarvan hyself nie bewus was nie – want Petrus kon sweer hy het Jesus lief, maar hy het self nie geweet HOE lief hy Hom werklik het nie! Dat hy Hom wel lief gehad het, ly geen twyfel nie – het hy dan nie ALLES verlaat om Hom te volg nie? Was dit dan nie hý wat gesê het: Here, na WIE toe sal ons gaan, U het die woorde van die Ewige Lewe, toe baie Hom verlaat en gesê het, ‘hierdie woorde is hard, wie kan daarna luister?’


MAAR … Petrus se probleem met sy ‘liefde’ was dat sy ‘Galilea-‘liefde’ grootliks verskil het van sy ‘Judea- liefde! Dáár in Galilea het dit nog goed gewerk, maar nie hier in Judea nie! Dáár was dit makliker – dáár tekens en wonders, skares, populariteit, beskerming en voorsiening. Dáár kon elke dissipel ook nog sy politieke ideale van grootheid en roem nastreef – maar nou hier, in Judea, het die atmosfeer skielik totaal verander – hier in Judea en Jerusalem is teenstand, vervolging, gevaar, smaad … en selfs dreiging met die dood! Toe ‘Petrus, die rots’ hier in Jerusalem SKRIK, lyk hy skielik weer na ‘Simon’ (die riet). Nou word sy dapper beloftes net ‘lippetaal’; nou volg hy Jesus van vêr, gaan sit hy tussen Jesus se vyande en maak hom by húlle vure tuis en warm! Wat help dit hom – uiterlik warm, maar innerlik koud! Toe die diepte en kwaliteit van sy liefde getoets is, het dit hier ‘nie die mas opgekom’ nie! Ná 3 en ’n halfjaar saam met Jesus is daar in ‘Petrus die rots’– nog steeds iets van ‘Simon die riet’ – wat hom innerlik verdeeld en verlam, en geestelik verstomp maak – onbekwaam om geestelike waarhede te verstaan en onwillig om te aanvaar dat Jesus in Jerusalem gekruisig moes word, al het Jesus hulle dit uitdruklik en herhaaldelik geleer!


Is dit nie treffend nie dat – toe die hoëpriester in Joh.18:19, die Here Jesus ondervra het oor sy dissipels en sy leer – Jesus hom wel geantwoord het aangaande sy leer, maar niks gesê het van sy dissipels nie? Wát kon Hy ook van hulle sê? Toe baie vals getuies gestaan en teen Hom en getuig het, was Hy daar alleen! Nie één van húlle was daar om vir Hom te getuig nie! Maar toe húlle … Sy eie dissipels … Hom verlaat, verloën en verraai, het God ‘van die strate af’ twee getuies vir Jesus ingeroep! Die een ‘kwaaddoener’ en … die soldaat by die kruis! Geen wonder nie dat Jesus vir Simon Petrus – die leier – waar hy al weer by die viswaters besig was – moes aanspreek ­- nie as Petrus (die rots) nie, maar as: ‘Simon (die riet) – seun van Jona’ en hom herhaaldelik en persoonlik vra: ‘het jy My waarlik lief?’ Waarmee was Jesus hier besig – nie om Petrus se liefde te betwyfel nie, maar om hom bewus te maak van die feit dat Jesus die ware egtheid, diepte en kwaliteit daarvan aan hóm wou openbaar en dit verander en verhoog tot ’n vlak van Sy eie – om soos Hy, eerste en waarlik lief te hê … om nie net bereid te wees om jou lewe vir jou vriende te gee nie, maar dit soos Hy te bewys, daardeur dat jy dit vir jou vyande aflê en vir sondaars sterf! Want Jesus wéét – NIKS minder as dit sou enige dissipel ooit laat kwalifiseer of slaag nie! 


MAAR God sy dank – hierdie ‘Riet’ is besig om drasties te verander! Vir die eerste keer sien hy hoe Jesus – by die plek van sy mislukking – na hom KYK! Dáár, nadat die haan gekraai het, KYK hy vir die eerste keer tot binne in Jesus se hart … en hy sien daar net tere liefde, sonder verwyte! Vir die heel eerste keer breek dit Petrus se hart en bars hy – met bittere berou – uit in trane! Want … in die LIG dáárvan en toe ook op Jesus se herhaalde vraag of Petrus Hom waarlik liefhet, ontdek hy die nood van sy eie hart … die gebrek aan die passie en vuur van Goddelike (agape) liefde! Daarsonder is dit moontlik dat ook ek en jy – soos Petrus – vir langer as 3 jr. net kan saamdryf agter Jesus aan waar die meeste van ons woorde net lippetaal is en die meeste van ons diens vir Hom net in kragtelose ‘eiekrag is! Maar daardie DAG as God met jou besig raak … soos met Petrus … jou liefde toets omdat Hy dit wil louter, jou hart wil besny en met die vuur van Sy liefde doop, en met liefde oorstroom, verander Hý ook vir jou … soos vir Petrus … in ’n ROTS – Sy regterhand en staatmaker … Sy lewenslange Beminde … Sy gestuurde liefdeslaaf en vrywilliger! 


Tydens die laaste wêreldoorlog het Japan duisend vrywilligers gevra om hulle selfmoord bomdraer-vliegtuie te beman. Skaars was die uitdaging bekend, of duisende het aangemeld! Dit het hulle gedoen uit liefde vir hulle land en volk. Sal ons dan nie soveel te meer aanmeld by Christus Jesus as Sy vrywilligers wat ook óns lewens tot die dood toe nie liefhet nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00