DEEL 4 GEREGTIGHEID VERBEUR   (Romeine 9 - 11)

       Dit gaan hier hoofsaaklik oor ISRAEL as ‘n uitverkore volk, deur wie God heidense volkere bereik, en NIE oor absolute, onvoorwaardelike uitverkiesing van enige individu of volk, óf vir die hemel, óf vir die hel nie! Paulus, as die gehate en vervolgde Apostel na die heidene, verseker sy volksgenote na die vlees (v.1-3) van sy opregte liefde en bekommernis oor hulle geestelike verhouding met God. Hy stel dit só sterk as moontlik – tot so ‘n mate dat hy selfs in húlle plek veroordeel en verlore sou wou gewees het, as húlle net daardeur gered kon word. Paulus se hart bloei in emosie vir sy volk!

Hoofstuk 9 handel oor Israel se verlede en historiese verkiesing. Hoofstuk 10 oor Israel se hede en huidige verwerping, en Hoofstuk 11 oor hulle toekoms en herstelde verwagting. Hierdie studie verdedig God se karakter t.o.v. Sy getrouheid, regverdigheid en genade teenoor Sy volk in die verlede. Ook Sy wysheid in soewereine verkiesing (Hfst 9); Sy regverdigheid in menslike verantwoordelikheid (Hfst 10); en Sy onveranderbare einddoel van genade vir alle volkere (Hfst 11). Só wonderlik is hierdie waarhede dat DEEL 4 eindig met ‘n LOFSANG! (11:33-36)

4.1  ISRAEL SE HISTORIESE VERKIESING  (Hfst 9)

4.1.1 VERKIESING TOT GENADE  – uit húlle sou die MESSIAS kom!

4.1.1.1  God se spesiale weldade  (9:4,5).  Nie minder nie as AGT weldade of waarborge uit Israel se verlede word genoem om hulle as volk van God se verkiesing te verseker! Die aanneming tot kinders; die heerlikheid (wolk, vuur, verlossing uit Egipte en al Sy wonders en openbaringe); die verbonde (met aartsvaders en profete byv. Jer.31:33); die wetgewing (deur Moses); die erediens (tabernakel en tempeldiens); die beloftes (Sy verbondsbeloftes, veral aangaande Messias); die vaders (hul geëerde voorvaders); en die Christus na die vlees – Hy wat oor ALLES is – GOD . . . (v.5b). Al het húlle dit nie besef nie omdat hulle dit nie wou glo nie, was HY God se grootste Gawe of weldaad aan hulle!

4.1.1.2  God se sonderlinge wysheid  (v.6-13). Hier is ‘n baie belangrike waarheid in God se verkiesing van dié volk waardeur Hy al die ander volkere wou seën – dat nie almal “Israel” is, wat uit Israel is nie! Die ware uitverkore volk het in die ware sin van die woord nooit net in hierdie nasie, selfs nooit in die hele nasie gelê nie, maar in ‘n “oorblyfsel” wat bestaan het uit regverdiges. Dit was gewoonlik die klein minderheid wat aan God getrou gebly het, terwyl die meerderheid Hom verwerp het! (Vlg Jes.1:9; 10:21,22; Rom.9:27; 11:5 ens).

 Paulus se eerste stelling in v.6 is dus dat die hele volk op geen stadium uitverkore was nie – daar was altyd net die gesifte “oorblyfsel”. Om dit te bewys gebruik hy twee voorbeelde uit die DRIE eerste en vernaamste voorvaders: Abraham se eerste twee kinders na die vlees was NIE albei kinders van die “belofte” nie. Slegs Isak, die tweede geborene, word gereken as die kind van die belofte en voorvader van Israel uit wie die Messias sou kom (v.7-9).

·    

·    Maar die Jood kan dan nog redeneer dat dit so was omdat Ismael uit ‘n slavin gebore was en Isak uit Abraham se wettige vrou. Daarom neem Paulus ‘n verdere voorbeeld van slegs één moeder nl., Rekekka. Háár seuns was boonop ‘n tweeling. Wéér kies God net één – en weer die tweede geborene en voeg daar by dat, soos dit die algemene gebruik was om die eersgeborene te kies, hiér ook die verdienste van werke (v.11) uitgesluit is. Dus speel “werke” of verdienste uit afkoms, ook hier geen rol nie!

·    4.1.1.3  God se soewereine wil  (v.14-24): “Is daar dan miskien onreg by God?” (is dit dan billik van God om sommige uit te laat en ander te verkies?). Hier gebruik Paulus dan ‘n argument wat ons verbyster – HY IS SOEWEREIN – Hy kan doen soos Hy wil! Die wonder is dat Sy soewereine wil in die verkiesing van ‘n NASIE, nie Sy reddende en vrye genade aan enige individu of persoon uitsluit nie! As persoon het Esau tydelike voorspoed gehad (Gen.27:39; 33:9) en hy het selfs vir Jakob vergewe! As persoon kon hy selfs by God genade vir sy siel gevind het, maar sy “eersgeboortereg” i.v.m. met die BELOFTE van die komende Messias, het hy verwerp!

– 26 –

 Die Hebreeuse woord vir “verhard” in Exodus 7:3, beteken letterlik om hard en onvatbaar te maak. In Exodus 10:1 beteken dit swaar en onbeweeglik. In 14:4 beteken dit ferm, styf en onbuigbaar. 20 keer lees ons dat Farao se hart verhard was. 10 keer het hy self sy hart verhard en 10 keer – vanaf die sesde plaag in 9:12 – en omdat hy volhard het om sy hart teen God te verhard, het Gód toe sy hart verder verhard. Die “laaste” keer wat hy self nog iets daarmee te doen gehad het was in 9:34. Let a.u.b. op die verskil tussen “voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei” is en “voorwerpe van Sy barmhartigheid wat HY voorberei het tot heerlikheid” (v.22,23).

4.1.1.4  God se spesifieke Woord  (v.25-29. In v.25,26 beklemtoon Paulus die feit dat die heidene, net soos die Jode, ‘n voorwerp van God se genade is! Hy haal aan uit Hosea 1:10 en 2:22. Die Jode het die Heidene “honde” genoem, maar Jesus gebruik ook dieselfde term teenoor ‘n heidense vrou aan wie Hý genade bewys (Mark.7:24-30). In Christus word beide Heiden en Jood verenig in Sy Kerk of Gemeente en verhoog Hy dit bo enigiets wat Israel as VOLK ooit geken het! Dan volg ‘n aanhaling uit Jesaja oor ‘n “oorblyfsel” uit Israel wat gered word.

·    

4.1.2  VERBEURING VAN & VERKIESING TOT GENADE  (9:30-33).

4.1.2.1  Vryspraak vir die Heidene  – húlle het die geregtigheid wat uit die geloof is verkry, al het hulle dit nie met werke nagejaag nie! (v.30).

4.1.2.2  Veroordeling van Israel  – húlle het die geregtigheid uit die geloof NIE verkry nie, al het hulle dit nagejaag deur die werke van die wet (v.30,31)! Christus, wat vir hulle die trap tot God moes wees, word sodoende vir hulle die “steen van aanstoot” en die “rots van struikeling.”

·    

4.2  ISRAEL SE HUIDIGE VERWERPING  (Hfst 10)

4.2.1  REDES VIR VERWERPING  (10:1-7)

4.2.1.1  Gebrekkige ondervinding  (v.2). “Ywer sonder kennis.” Sedert hulle terugkeer uit ballingskap was hulle van afgodery genees en was hulle só streng godsdienstig dat hulle nie net die hele wet met groot ywer en dissipline probeer onderhou het nie, maar selfs nog self talle ander wette en voorskrifte daar bygevoeg het! Hulle besonderse ywer vir die wet was – tragies – sonder kennis van God!

4.2.1.2  Gebrekkige onderwerping  (v.3). Eiesinnigheid en hoogmoed het hulle verhinder om God se weg van geregtigheid deur die geloof te ken en te verstaan. Eie pogings, self probeer en goeie werke i.p.v. slegs in die genade van God en die verdienste van Christus te GLO en dit met leë hande, as ‘n vrye gawe te ontvang, is die bewys van die sondaar se hoogmoed en onafhanklikheid van God!

4.2.1.3  Gebrekkige oorgawe  (v.4). Christus ALLEEN is die vervulling van die hele wet. Deur Hom NIE in geloof te aanvaar nie, is hulle oorgawe aan God altyd nog gebrekkig, halfhartig, onseker en onvolmaak want die WET vind hulle altyd maar weer en weer skuldig!

4.2.1.4  Gebrekkige onderskeiding  (v.5-7). Tot vandag toe bevraagteken hulle nog altyd Christus se menswording en opstanding uit die dood. Hulle soek na nog meer bewyse en tekens!

4.2.2   REGSTELLING VAN VERWERPING  (10:9-14)

4.2.2.1  Die woord van geloof  (v.8-10).  Hierdie “woord” van geloof is NABY elke mens – “in jou mond en in jou hart!” Wat jy moet doen is – BELY die Here Jesus met jou mond, en GLO met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal jy gered word!

·    

4.2.2.2  Die wonder van genade  (v.11-14). “Elkeen” wat Hom ervaar deur die geloof (v.11), en “elkeen” wat Hom aanroep om genade (v.13), sal gered word! “Almal” – Jood en Griek – wat Hom aanroep, vind ook genade, sonder enige onderskeid (v.12)! Dit is dus nie die WERKE wat jy doen nie, maar die NAAM wat jy aanroep, wat jou red!

4.2.3  RESULTATE VAN VERWERPING  (10:14-21)

4.2.3.1    Die Evangelie verkondig  (v.14-21). Die aanhaling uit v.15 is uit Jesaja 52:7 en Nahum 1:15.

– 27 –

 Laasgenoemde was die boodskap – 150 jr nádat Jona na Ninivé gegaan het – dat God Ninivé wel gaan oordeel! Die “boodskapper” met hierdie “goeie tyding” vir Israel, se voete was lieflik! Net só word die hoorders van die Evangelieboodskap gered wat die boodskap HOOR en GLO!

·    

4.2.3.2  Die Evangelie verwerp  (v.16-18). Israel het God se goeie nuus – die Evangelie – verwerp. Hulle het en wou Christus – God se Messias vir hulle – nie aanvaar nie, daarom het God húlle verwerp!  Israel het gesoek na ‘n “leeu op die troon” wat hulle van hul politieke oorheersers sou bevry, maar God hulle toe ‘n “Lam aan die Kruis” gee wat hulle van SONDE kon bevry, het hulle Hom verwerp!

·                                                                       

4.2.3.3  Die Evangelie verbreed  (v.19,20). Dit word hier duidelik dat God dit toe aan die klein “oorblyfsel” van die Joodse volk toevertrou het; hulle wat wel geglo het en deur húlle het Hy dit ook aan die heidense nasies gegee.

4.2.3.4  Die Evangelie volhard  (v.21) om God se hande van genade “die hele dag” uitgebrei te HOU na hierdie ongehoorsame en teësprekende volk! Genade vir Israel is dus nie heeltemal en onherroeplik verlore nie, soos ons weldra in Hoofstuk 11 sal sien.

4.3  ISRAEL SE HERSTELDE VERWAGTING  (Hfst 11)  

In hierdie hoofstuk roep Paulus VYF getuies in om te bewys dat daar vir Israel wel ‘n toekomsverwagting is en dat God wel ‘n toekomsplan met hulle het:

4.3.1  Die Apostel Paulus self  (v.1).  Die oorgrote meerderheid van die eerste gelowiges was almal Jode, soos Paulus self ook. Dit bewys dat God se redding ook vir Israel bedoel was. In profesieë soos Sagaria 12:10 – 13:1; Handelinge 1:11 en Openbaring 1:7 wil dit deurskemer dat Israel as ‘n nasie, moontlik tot bekering sal kom net vóór of tydens Sy wederkoms – moontlik net so drasties, dramaties en skielik soos Paulus op die Damaskus pad! Hulle kan egter slegs gered word deur geloof in Jesus!

4.3.2  Die Aanklag van Elia  (v.2-10).  Lees v.2-6 weer noukeurig! Weer is dit die gesifte “oorblyfsel” of deel van die volk wat GEGLO het, wat deur genade alleen gered is. Die wat genade verwerp en werke aangehang het, is “verhard” (v.7). ‘n Mens verwag verharding eerder by die heidense koning Farao, maar NIE by die “volk van God” nie!

4.3.3  Die Ander nasies of heidene  (v.11-15). Deur Israel se “val” of verwerping van Christus, het die saligheid tot die heidene gekom, maar dadelik sê Paulus dat die geestelike rykdom vir die heidene, juis nou vir Israel jaloers moet maak! Dan gaan hy voort om te sê dat as die ramp van hulle val en tekort soveel seën na die heidene kon bring, sal hulle herstel, volheid en aanneming op God se tyd, soveel meer seën wees – soos “lewe uit die dood.” Is dit moontlik ʼn profesie van ʼn algemene herlewing?

4.3.4  Die Aartsvaders  (v.16-24). Die “eerstelinge” van die deeg en die “wortel” van die olyfboom – die aartsvaders – is heilig en hulle bly dit nog altyd. Die wortel maak uiteindelik ook die “takke” heilig – maak nie saak of hierdie takke Jode of heidene, of albei is nie. As die “wortel” Christus is, word almal deur Hom gered. Let a.u.b. op die twee keer waar die belangrike woord en voorwaarde ‘AS’ gebruik word – om die heidene te vermaan dat hulle gered sal word AS hulle die genade aanvaar en in die goedertierenheid bly (v.22), en die Jode te bemoedig dat hulle weer, en selfs makliker as die heidene, “ingeënt” sal word AS hulle nie in ongeloof bly nie (v.23)! Baie teoloë is blind vir hierdie feite.

4,3,5  Die Almagtige onveranderlike God  (v.25-36). God se tydsberekening (v.25), belofte (v.26), verbond (v.27,28), genade (v.30-32) en alwysheid (v.33-36), hou die deur oop, nie slegs vir enkelinge uit Israel nie, maar vir die herstel van Israel as ‘n nasie, d.w.s. “AS” hulle God se voorwaardes nakom. Hierdie DRIE wonderlike hoofstukke gee sekerheid en ‘n groot verwagting in die harte van alle gelowiges en veral vir sy volk ISRAEL. Dit eindig ook met ‘n LOFSANG!

·    

·    

DEEL 5   

·    

GEREGTIGHEID VERTOON  (Romeine 12-15:7)

– 28 –

 Tot hiertoe in die Sendbrief, het Paulus leerstellige beginsels deeglik en omvattend gegrondves. Nou behandel hy die praktiese uitwerking daarvan in lewe en diens. Die “nuwe mens” met sy nuwe lewe wat deur God se volmaakte verlossing tot “meer as oorwinnaar” (8:37) gevoer is, moet dit nou in praktyk uitlewe en bewys deur:-

·    

 5.1  DIE OFFER VAN DIE ‘MENSLIKE’ LIGGAAM  (12:1,2)

 Die gelowige in Christus loop nie net met sy “kop in die wolke” terwyl hy nog op aarde lewe nie. Hy het ‘n roeping/sending wat hy moet vervul. Hy is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie! Die voorpos van sy kontak met hierdie wêreld, is deur sy menslike, natuurlike liggaam. Deur sy liggaam moet sy godsdiens, tot by sy vingerpunte, prakties uitwerk! Die liggaam is die vertoonvenster waardeur die vrygemaakte gelowige in Christus, die HEERLIKHEID en krag van die nuwe lewe moet uitstraal. As dit ‘n vrygemaakte, onderworpe, beskikbare en goed gedissiplineerde werktuig en ‘n heilige woning, bewoon en beheer deur die Heilige Gees is, sal God se heerlikheid uit hierdie voorwerp van klei uitstraal, totdat die sterk familie-ooreenkoms met die Here Jesus, duidelik deur alle mense gesien kan word!

Die dringende oproep van Paulus dat die gelowige sy liggaam STEL (aoristus tyd en imperatief/bevelende wys) as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige OFFER, is dus baie belangrik! Dit word gelyk gestel aan die OFFER wat ‘n priester moes bring, daarom het dit ‘n besondere betekenis! Die rede waarom Paulus hulle dit hiér beveel – ná die “stel julle SELF” van 6:13, is omdat dié “self” se liggaam ook, as deel en vrug van sy volle oorgawe, as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige OFFER, tot God se beskikking moet wees!

·    

 “Stel” (Gr paristémi) beteken letterlik om langsaan te plaas, te staan en tot iemand se beskikking gestel te word (vgl Hand.23:33; 2 Kor.11:2; Luk.2:22). Volle oorgawe moet só volkome en finaal wees dat dit NOOIT weer oor hoef gedoen te word nie. Daaglikse toewyding is die lewenslange proses daarná.

 In Romeine 6 is die sonde voorgestel as ‘n wrede slawemeester wat oor die sondaar – in besonder oor sy liggaam – HEERS. Hierdie slawerny word verbreek (6:12,17,20) deur die Een wat die slaaf vrygekoop het tot eienaarskap én vrygemaak het om vrywillig te KIES om nou ‘n “slaaf van die geregtigheid” en van God te word (6:18,22). Onder die heerskappy van die sonde was daar geen onderskeid tussen eienaarskap en diensbaarheid nie, want eienaarskap was ‘n feit en diensbaarheid ‘n plig, sonder enige keuse. Onder Christus egter, is eienaarskap ook die logiese gevolg van ʼn feit – die feit dat Christus ons vrygekoop hét, maar diensbaarheid is nou deur eie keuse! Elke gelowige is God se slaaf in terme van eienaarskap, maar hy/sy is dan nog nie noodwendig diensbaar nie – hy is vry om self te kies om te dien, óf nie te dien nie!

 As slawe van die sonde gee elke mens verpligte diensbaarheid, maar as slawe van God is daar dikwels weinig sprake daarvan! Paulus roep hulle hier op tot die slawerny van vrywillige liefdes-diensbaarheid of gemotiveerde liefdediens! Volgens wet was elke Israelitiese slaaf in die 7de (jubeljaar) vrygemaak (Ex 21:16), maar indien hy – soos dit dikwels gebeur het – NIE sy vryheid wou aanvaar nie en uit EIE KEUSE vir die res van sy lewe by sy baas as “liefdeslaaf” wou aanbly, moes sy oorlel as bewys daarvan by ‘n deurkosyn, voor getuies, met ‘n els deurboor word. Daardeur het hy sy eie vryheid/soewereiniteit of reg op homself, vrywillig en vir altyd, AFGETEKEN!

·    

 Presies dieselfde gebeur met die gelowige wanneer hy die reg op homself – sy eie soewereiniteit, wat hy wederregtelik, deur die sondeval in Adam, vir homself toegeëien het – vrywillig aan God TERUG GEE, daarvan afstand te doen en Hy dit dan so aanvaar! In hierdie krisis ondervinding word hy dan ‘n “doulos” (liefdeslaaf), net soos Christus, toe Hy eers by Sy Vader die “gestalte van ‘n Dienskneg (doulos)” aangeneem (Fil 2:7) en by Sy Vader se “deurkosyn” gaan staan het om te sê, “ore het U vir My gegrawe … ” (Ps 40:7; Heb 10:5-10) en toe by die opdrag om “vlees” (diensbaar) te word, om te sê: “‘n “liggaam” (offerliggaam) het U vir My berei”. Dít vra God van ons in 12:1, ná die oorgawe van 6:13!

 5.2  OFFERVAARDIGHEID VD ‘MISTIEKE’ LIGGAAM   (12:3-21)

 Deur ‘n veranderde denkpatroon wat steeds “vernuwe” word en ‘n nederige gesindheid (v.3), kwalifiseer die gelowige nou om sy plek as lid van die liggaam (die ‘Ecclesia’) van Christus in te neem.

·    

Die wonderlike samestelling van die menslike liggaam, die verbasende eenheid, samewerking en diensbaarheid van al die lede teenoor mekaar en die wonderlike koördonasie onder die Hoof, met die

– 29 –

spiere, senustelsel, bloedvate en selle – is ‘n pragtige voorbeeld wat Paulus meer as een keer gebruik ten opsigte van Christus en Sy Kerk. Dit werk prakties uit in volkome harmonie deur:-

a) Genadegawes  (v.6-8). Al SEWE die genadegawes wat hier genoem word, het te doen met die verkondiging van die Woord en die uitbreiding van die Koninkryk. Elke gelowige HET een of meer daarvan, soos die Heilige Gees dit gee, met die doel om die Woord uit te dra en die Koninkryk uit te brei! Daarom moet ‘lede van die een liggaam’ seker maak watter genadegawe/s elkeen ontvang het en dit dan nederig en met ywer beoefen tot opbouing van die liggaam, waarvan Christus die Hoof is. Baie belangrik is dit om te let op die gesindheid waarmee elk van hierdie gawes beoefen moet word!

·    

b) Godsvrug  (v.9,10).  In v.9-16 word die manier van optrede teenoor medegelowiges, of in v.17-21 teenoor ongelowiges – selfs vyande – bepaal. In v.9,10 onderskei die LIEFDE tussen goed en kwaad en stel ‘n godvrugtige voorbeeld in sy hartlike, vriendelike eerbetoon aan alle ander mense.

      c)  Geesdrif  (v.11)  “Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees, dien die Here.” Dit is ‘n kenmerk van gemotiveerde liefdediens! Die elemente van verwondering en bewondering vir die Persoon en werk van Christus, mag nooit by ons ontbreek nie! Die bevel – “dien die Here” en “wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol 3:23) – is die geheim waarom geesdrif NOOIT gedemp hoef te word nie. “Verbly julle in die hoop” spreek van heilige optimisme deur geloof. “Vurig” word afgelei van water wat opborrel wanneer dit kook!

d)  Geduldig in verdrukking  (v.12. Vgl Rom 5:3-5). Verdrukking is deur Jesus vir Sy volgelinge voorspel en is een van God se louteringsmiddele. Dit is die gelowige se geleentheid om die heerlikheid van God te weerspieël onder die moeilikste omstandighede (1 Pet 4:12-16; Jak 5:10,11).

·    

e)  Gebed  (v.12). Die Geesvervulde, toegewyde dissipel is geensins onafhanklik van God nie, daarom gebruik/hanteer hy hierdie magtige, beproefde wapen van gebed gelowig, volhardend en getrou! Dit is soos die “asemhaling” van sy siel in die vars suurstof van God se teenwoordigheid.

·    

f)  Gasvry  (v.13). Die gelowige se eerste plig en verantwoordelikheid is teenoor die “behoeftes vd heiliges” en juis teenoor húlle moet daar besonderse gasvryheid en hartlikheid bewys word – soos Abraham die drie manne tegemoet gehardloop het en soos die Emmaüsgangers by die Here Jesus aangedring het om by hulle oor te bly (Heb.13:2).

·    

e) Grootmoedig  (v.14-21). Hier kom die grootmoedige gesindheid van die Geesvervulde “liefdeslaaf” van Christus in Sy oorwinningskrag en genade duidelik na vore in sy verhoudinge, reaksies en optrede teenoor ander gelowiges, of ongelowiges wat hom mag vervolg en kwaad aandoen. Dis voorwaar die “tweede myl” saamloop en die “ander wang draai” as ander slaan, maar hierdie is God se beproefde metode om ‘n vyand te oorwin. Dit kan ‘n harde mens in ‘n tere, nederige kind van God verander!

Ná die VOLKOME OORGAWE wat die liefdeslaaf in 12:1,2 maak, wys die res van die hoofstuk die kanale, d.w.s. die rigting, metodes en gesindheid aan waardeur hierdie Goddelike liefde na ander mense kan vloei, in die vorm van baie “MOETE” soos ons so pas aangetoon het. Daar is egter tenminste ook 7 “MOENIES” wat hierdie stroom van liefde eg en suiwer sal bewaar en beveilig! Lees dit ook in die Nuwe Vertaling (v.2,11,16,17,19,21). Deur eerlik hierop te let, kan enige Christen ‘n moontlike kortsluiting, verstopping, vernouing of lekkasie van DIE LIEFDE ontdek en voorkom sodat dit prakties, ongehinderd en onweerstaanbaar kan UIT vloei na mense wat dit nodig het!

 5.3  GEREGTIGHEID VERTOON IN ALGEMENE SAKE  (Romeine 13)

·    

Hierdie baie praktiese hoofstuk handel oor baie belangrike sake soos onderwerping aan gesag, die uitvoering van die hele wet, waaksaamheid met die oog op Sy koms en ‘n welvoeglike en onberispelike lewenswandel.

·    

a)  Ordelike beheer  (v.1-6). God wil en beveel ordelike regering in die huis, die Kerk en die regering van ‘n land. Ordelike owerhede het gesag om die gemeenskap teen wettelose oortreders te beskerm (v.2) en om erkenning te gee aan wetsgehoorsame burgers (v.3). Ongehoorsaamheid aan landswette raak die Christen se gewete (v.5). Dit verdien die “swaard” (v.4). Owerhede het die reg om te straf en belasting te

– 30 –

 vorder (v.4,6). Daar is GEEN gesag wat nie van God kom of wat God nie toelaat nie, want die owerhede wat daar is, is deur “God ingestel” (v.1). Selfs met die goddelose, onregverdige owerhede het Hy ‘n doel, soos dit dikwels in die O.T. toegelaat is en soos dit onder die heerskappy van die Keisers en die Pous van Rome die geval was wat miljoene Christene wreed gemartel en gedood het! Landswette, behalwe dit wat verbied om God te dien, moet eerbiedig word as ‘n voorbeeld aan mense.

b)  Onoortreflike beginsels  (v.7-10). Vir die Christen in wie die nuwe wet van LIEFDE woon, wat daardeur beheer word, is daar geen probleem om die HELE WET van God (v.9) te hou nie, want die LIEFDE is die vervulling/uitvoering van die wet teenoor sy medemens. Die liefde doen die naaste GEEN KWAAD nie en kan nie ophou om aan sy naaste goed te doen nie (v.10).

c)  Ontwaakte bevrydes  (v.11-14).  Die gelowige het reeds ontwaak omdat hy bevry is van geestelike dood en waaksaam omdat hy bevry is van geestelike duisternis. Te midde van die “nag van sonde” sien hy uit na en wag hy op die dagbreek van die heerlike koms van sy Heiland en Koning! Vir hierdie lang nagwaak is daar die wapens van die lig om aan te gord en te gebruik sodat hy/sy welvoeglik kan wandel en lewe soos dit in die daglig hoort – VERLOS en ver van die werke van duisternis, soos beskryf in v.13b. Om “beklee” te wees met die Here Jesus Christus, beteken Hy word deur ons uitgeleef. HY het ons stryd oorgeneem en vir ons oorwinning verseker!

·    

d) Oordeel oor ‘swak’ broeders  (Rom 14).  Dit gaan in hierdie hoofstuk oor die “swak broeder” wat blykbaar altyd sekondêre (minder belangrike) dinge eerste stel. Die reg of verbod om sekere voedselsoorte te eet en die onderhouding van sekere dae en geleenthede is vir hom van die uiterste belang. Almal wat nie saamstem nie, is volgens hom, NIE Christene nie! Hierdie mense is van die moeilikste om te hanteer en mee te handel, maar Paulus gee ‘n paar breë beginsels waarvolgens die Christen teenoor hulle moet optree nl. :-

·    

1. Elkeen moet toegelaat word om te lewe volgens die lig wat hy besit.

2. Elke daad of handeling wat ander mag laat struikel, moet vermy word.

3. Die gelowige moet nie ander wat van hom verskil t.o.v. sekondêre dinge veroordeel nie.

4. Eenheid t.o.v belangrike, noodsaaklike of primêre dinge, is altyd moontlik.

Weer eens moet die maatstaf van LIEFDE (v.15) gebruik word wat ander gelowiges respekteer, al stem jy nie in alles met hulle saam nie, en waak oor hulle belange en geestelike welsyn, selfs ten koste van eie gerief, smaak of minder belangrike oortuigings (v.21). Geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees is die fondamentstene van die koninkryk van God (v.17) en die enigste resep vir ‘n gelukkige, oorwinnende en vrugbare geestelike verhouding met die KONING van die KONINKRYK!

e) Onfeilbare beloftes  (v.15:8b) In Romeine 15 en 16 is die God van die Christen die Een wat hom bystaan, bemoedig en ondersteun in die stryd: “die God van lydsaamheid en bemoediging” (15:5), “die God van die hoop” (5:13) en “die God van vrede” (5:33; 6:20)! Paulus se onvermoeide ywer in diens van hierdie God is duidelik sigbaar, tot die end!

Paulus sluit die Sendbrief in Hfst 16 af met persoonlike groete aan al die beproefde heiliges en medewerkers in Rome. Onder hulle is welbekende name wat ‘n belangrike rol gespeel het as voorbidders en helpers in die verkondiging van die Evangelie. Die groot Apostel na die heidene het alles onthou wat elkeen gedoen het en elkeen se bydrae opreg waardeer!

–  –  –  –  –  –  –  –  –  –  –  –  –

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00