Rus van Sondelas

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtighede te reinig”. (1 Johannes 1: 9)

George Müller

George Müller was bekend vir sy werk as leraar en stigter van die kinderhuise in Bristol, Engeland. Hy het nagenoeg 2 090 kinders daagliks onderhou en vir meer as 10 000 oor ’n periode van 65 jaar gesorg.

Hy het opgegroei as die seun van ’n Prussiese belastinggaarder. Hy was reeds op sestienjarige ouderdom ’n dief, leuenaar, swendelaar en dronkaard met ’n kriminele rekord.  Hy was onder andere eenmaal vier-en-twintig dae in die tronk.  

Müller het ingeskryf as teologiese student, maar sy lewe van bedrog, leuens en drank het voortgeduur. Hy het een Saterdagaand na ’n biduurdiens gegaan.  Die biduur het ’n enorme indruk op hom gemaak.  Almal teenwoordig het gekniel toe hulle gebid het. Die eerbied teenoor God het hom so skuldig laat voel dat hy selfs om verskoning gevra het vir sy teenwoordigheid. Hierdie was die keerpunt in sy lewe. Op pad terug vanaf die biduur het George erken dat al syreiservaringe en selfs sy sondige praktyke nie naastenby so genotvol soos die biduur was nie.

Hy was nou diep gelukkig, alhoewel hy nie geweet het wat met hom gebeur het nie.  Daardie Saterdagaand in November 1825, het George sy lewe met God reggemaak.  ’n Diepe rus en vrede het van hom besit geneem en sy sondelas het van hom afgeval.  Sy lewe het radikaal verander.  Hy het meer tyd aan Bybelstudie spandeer, daagliks gebid, kerk toe gegaan en Christus Jesus openlik bely en verkondig.  Die sondelas en sy soeke na vreugde en geluk is vervang met ’n diepe rus en vrede in God. 

Sonde

God het in die begin vir Adam en Eva na Sy beeld (Genesis 1:27) van ware geregtigheid en heiligheid geskep (Lukas 1:75); dus sonder sonde en gebrek.  Weens die sonde van ongehoorsaamheid van Adam en Eva het God hulle uit die tuin van Eden weggestuur. 

Adam en Eva het kinders gekry. Sedertdien word alle mense gebore na die sondige beeld en gelykenis van Adam en nie meer na die beeld van God nie (Psalm 51:7).  Weens die sonde van Adam het daar sonde in die wêreld gekom, en daadeur die  dood.  Daar is dus niemand regverdig nie, selfs nie eers een nie (Romeine 3:10). 

Sonde moet gestraf word.  Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus (Romeine 6:23).  Hy het ons so liefgehad dat Hy besluit het om Sy Seun te gee en te laat sterf in ons plek (Johannes 3:16); om vergifnis en ware rus te ontvang.   (Romeine 5:8, 18-19).

Sy vergifnis bring ware rus en vrede in ons gemoed. Hoe vind dit plaas? 

Dit vind plaas deur die wedergeboorte, wanneer ons Sy uitnodiging aanvaar en Hom toelaat om in ons te kom woon. 

Wedergeboorte

Dit bestaan uit die volgende eenvoudige stappe:

Ontwakingsproses

Die Here God praat met ons op verskeie maniere soos byvoorbeeld ’n boodskap, radio-uitsending, televisieprogram, traktaatjie, of boek wat ons lees.  Hy praat met ons en ons begin daaroor na te dink.

Sonde-oortuiging

Die Here Jesus openbaar aan ons ons eie sondigheid en geestelike toestand van verlorenheid sonder Hom. Ons besef dat as ons in hierdie toestand te sterwe sou kom, ons nie by die ware Rusgewer sal wees nie.

Bekeringsproses

Ons erken dat ons ’n doemverlore sondaar, oppad na die ewige verderf, sonder hoop en sonder God is en dat selfs al ons goeie dade niks help nie.  Ons kom tot die oortuiging dat ons met ons sondige lewe moet breek. Dit bring ’n verandering teweeg in ons gemoed wat lei tot ’n verandering in ons hart.  Ons neem dus die besluit om weg te draai van ons sonde en keer ons tot God.

Belydenis en aanneming

Ons erken en bely ons sondes in opregtheid en diepe berou voor God.  Ons vra Hom om ons daarvoor te vergewe; en dat Hy ons Sy kind sal maak en in ons hart sal woon. 

Geloofsekerheid

Ons het na die Here Jesus in opregtheid gekom, vergifnis gevra en Hom as Verlosser en Saligmaker in ons hart ingenooi. Hy kom woon nou in ons hart en gee ons Sy Heilige Gees, wat getuig dat ons Sy kind geword het. Die vrede en rus wat ons ervaar, is die sekerheid van geloof dat ons sondelas weg is en dat ons reg is met Hom. Ons het ware rus ontvang by die Rusgewer.

Nikodemus

Nikodemus was ’n belangrike leier in die Joodse gemeenskap en ’n lid van die party van die Fariseërs.  Al was Nikodemus ’n geestelike leier en leraar moes hy ook nog weergebore word.  Die feit dat hy in die kerk gewerk het, het nie beteken dat hy geestelik wedergebore is nie. (Johannes 3).

Maria van Magdala

Maria was ’n bekende, of ‘n berugte vrou in die streke van Galilea, want almal het van haar geweet en van haar gepraat.  Sy was ’n bekende prostituut van Magdala. Jesus kom verwyder haar verlede en sondelas en bring vir haar rus en vrede. Dit maak nie saak wie u is of wat u gedoen het nie.  U kan ’n prostituut, dwelmslaaf, dief, leuenaar of selfs ’n moordenaar wees, maar Jesus kan rus bring.

Die uitnodiging

Die ware Rusgewer staan vandag by die deur van u hart en klop en nooi u uit om Hom toe te laat om u sondelas weg te neem.  Wanneer u reageer op die persoonlike uitnodiging van die Rusgewer, u sondes voor Hom erken en bely, en Hom innooi en aanneem as u eie persoonlike Verlosser en Saligmaker, ontvang u ware vrede en rus.  Die Here Jesus word dus nou jou Redder, Verlosser, Saligmaker en Rusgewer.  Reageer vandag en aanvaar Sy uitnodiging!  

U kan nou die volgende bid.

“Here Jesus, baie dankie dat U met my gepraat het.  Baie dankie dat U ook vir my en my sondes aan die Kruis op Golgota gesterf het. 

Baie dankie dat U aan my nog ’n kans gee om met U reg te maak.  Ek erken dat my lewe nie reg is met U nie.  Ek besef ook dat as ek vandag sou sterf,  ek nie saam met U sal wees nie.  Ek erken dat ek ’n doemverlore sondaar is, op pad na die ewige verderf, sonder hoop en sonder God.  Ek kom bely my sonde voor U en vra dat U my sal vergewe.

Vergewe my sonde van ongeloof. Die sonde om nie in U te glo nie en U nie te  aanvaar en deel te maak van my lewe nie. Vergewe my asseblief.  

Ek kom vra nou vir U: ‘ Here Jesus, kom woon in my hart en maak my U kind’.

Dankie dat U nou in my hart kom woon het. Dankie dat ek kan weet dat U my sonde vergewe het en dat ek nou U kind is.  Amen”. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00