JAKOBUS-REEKS NR 1 Jakobus 5: 7-12
Tema: Die Gees gee volharding

‘n Christen se lewe is aan ‘n geweldige spanning onderworpe: hierdie lewe & toekomstige lewe. Spanning: wat ek alreeds het & wat ek nog nie het nie. Byna soos ‘n bruid in die verlowingstyd. Of soos lig voordat die son heeltemal opgekom het. Besit rééds die volheid van die Gees, maar het terselftertyd nog nie alles nie. Besit deposito, maar het nog nie alles ontvang nie. ‘n Christen lewe in die middel van hierdie spanning: alreeds & nog nie.

Iets hiervan wil Jakobus beklemtoon. Die sekerheid van die toekomstige wederkoms van ons Here Jesus Christus (sekere hoop), gee my die genade om nou met geduld te volhard soos een wat die onsigbare sien te midde van spanninge & krisisse. Dit is geen vae, onduidelike, onsekere toekoms nie. Vir die gelowige, is die lewe-hierna ‘n realiteit & rede tot opgewondenheid & blydskap. Soos die naderende huwelik ‘n groot opgewonde realiteit is vir die paartjie in die verlowingstyd. Die boodskap van die wederkoms & lewe-hierná is nie leë trooswoordjies soos “hou moed”, “sterkte”, “elke donker wolk het ‘n silwer randjie”, nie. Dit is die werklike Persoon van die Heilige Gees wat die ewige lewe nou reeds vir my lewend maak. Dit is ‘n totaal ander tipe lewe as wat die verloregaande mense ken.

Nietemin sweef die gelowige nie ‘n meter bo die grond nie, maar het daagliks te make met die harde werklikheid van die realiteit van die aardse lewe. Daarom die pyn van die “nog nie”. Besit alreeds die volheid van die Gees, maar het nog nie die volle heerlikheid in besit geneem nie. Daarom dat die mees toegewyde Christen dikwels soveel beproewinge en probleme ervaar. Soms selfs in erge sondes val. Twyfels en kwellinge. Daarom is Jakobus se woorde so aktueel en noodsaaklik in 2008. Noodsaaklik vir ons almal om wéér te hoor.

In hierdie tyd – waar ons nog nie die volle heerlikheid besit nie – wat is die wagwoord? Waartoe bekragtig die Pinkstergees ons? Jakobus sê wat die wagwoord is: GEDULD. Om te WAG. Iets wat baie moeilik is vir die gevalle menslike natuur. Die moderne mens van die 21ste eeu sukkel om te wag! Maar Jakobus sê: Boere weet wat dit beteken om te wag (vv 7-9). Wanneer die reën wegbly en uiterste geduld verg. Die boer doen sy deel om te sorg dat daar ‘n oes sal wees. Hy doen wat hy kan en hy doen dit betyds. Hy plant, bemés, bestry plae en wag vir reën. Maar: op die ou end kan hy niks doen nie. Hy moet wag en weet dat die seisoen sy loop moet neem. Hy weet dit help niks om haastig te raak nie. Dit help niks om opstandig te raak nie. Dit werk ook só met ons lewens: ons doen wat ons kan, so lank ons kan. Oestyd sál kom. Dit is die Here se werk. Geduld en nogmaals geduld. Besef u dat oesdag sál aanbreek? En watter boer sal maar onverskillig wees in die wagperiode? Ondenkbaar! Net so, sê Jakobus, kan/mag/sal geen Christen onverskillig leef in die wagperiode nie. Daarom herinner hy ons dat Hy wat kom, ook Regter is (v 9). Geen gelowige sal deur die Regter veroordeel word tot die ewige verdoemenis nie, maar wel beoordeel word met die oog op lof. Dis opvallend in vele van Jesus se gelykenisse wat inspeel op die finale koms van Here, dat hy rede soek om Sy dienaars lofprysing toe te swaai voor die ore van almal teenwoordig (Mat 25: 21, 23, Luk 19: 17-19). Hy soek na iets wat Hy kan aanprys. Sommige gelowiges sal ongetwyfeld lofprysing uit die mond van die Here verbeur – alhoewel hulle die ewige heerlikheid ingaan. Dit is hierteen wat Jakobus waarsku. Daarom sê hy: terwyl julle uitsien na die koms van die Here en julle nog nie die volle saligheid deelagtig is nie, moenie dat julle aardse stryde & moeites julle ongeduldig en onverskillig maak nie. Wéét dat julle lofprysing gaan ontvang uit die mond van Hom op die troon. Kyk dáárna! Sien wat voorlê! Die grootste beloning wat jy ooit kan ontvang is om uit die mond van die God van hemel en aarde te hoor: “Mooi so!”

‘n Terrein waar Christene so maklik onverskillig & ongeduldig leef is onderlinge verhoudings met mekaar. “Moenie oor mekaar kla nie. Verdra mekaar.” Hier raak Jakobus ‘n baie teer punt aan. Só teer dat sommige van ons dalk eerder wil wegvlug as om dit aan te hoor. Mense met wederkomsverwagting, moet mekaar verdra en geduld met mekaar hê. Begrypende, vergewende gesindheid van Christus. Dink maar hoe baie kla ons oor mekaar se foute en tekortkominge! Waar iemand anders verskil van mý idees en opinies. Spanning en geïriteerdheid. Mag die Gees van Pinkster ons harte/lewens skoonmaak/louter/reinig. Ten spyte van verskillende opinies/geaardhede/benaderinge. Die Regter – met ‘n hart vol aanprysinge – is voor die deur. Daarom ook, behoort die Here se mense die waarheid lief te hê en behoort daar nie sprake te wees van die goedkoop aflê van ede nie. Dit het niks te make met die aflê van ‘n eed in die hof, waar dit juis gaan oor ‘n maatreël om die praat van die waarheid te verseker, nie. Jakobus het dit juis teen die goedkoop manier waarop mense so maklik voorgee dat hulle waarheid praat (ja-sê) terwyl dit ‘n leuen is (nee-sê). Sê JA terwyl dit eintlik NEE is. Waarteen Jakobus dit waarskynlik het, is dat mense hulle so maklik op die Here se Naam beroep vir die waarheid wat hulle kwansuis praat, terwyl hulle weet dit is ‘n leuen. Hoe maklik word die Here se Naam nie misbruik in ons alledaagse manier van praat nie. Dit is ‘n onbeskryflike gruwel. Soms voel dit asof ons Afrikaners voorbokke is met hierdie euwel. Die ander ding waarop Jakobus dalk sinspeel is die manier waarop mense geloftes aan die Here maak wanneer hulle swaarkry. En dan, wanneer die son weer skyn, kan hulle daardie geloftes nie nakom nie. Dit alles, sê Jakobus, vlam so maklik op wanneer ‘n Christen ongeduldig raak met sy/haar lewensomstandighede en nie vorentoe kyk na die nabye koms van die Here nie.

Die vraag is natuurlik of Jakobus hom nie so ‘n bietjie misgis het met sy verwagting dat die Here se terugkeer voor die deur is nie!? “Dit is nie meer lank nie, dan kom die Here” (V 8) ”Die Regter staan al voor die deur” (v 9). En tog: nou, ná 2000 jaar, het daar nog niks gebeur nie. Was Jakobus dalk verkeerd? Het hy hom misgis? Het hy dalk sy eerste lesers mislei ten einde hulle op hulle tone te hou? Die gesaghebbende antwoord op hierdie vraag word deur die Apostel Petrus gegee in 2 Petrus 3, waar Petrus dit juis het oor mense wat spot met die hele gedagte van Jesus se terugkeer juis omdat dit so lank neem. Petrus gee ‘n drieledige antwoord op die probleem: EERSTENS: God is níé traag om Sy belofte te vervul soos die spotters dink nie. Hy sál dit vervul. (2 Pet 3:9). TWEEDENS: Dit wat óns as ‘n “lang tyd” sien, is in werklikheid so lank omdat die Here lankmoedig is oor mense en nie wil hê dat hulle verlore sal gaan nie. (2 Pet 3:9). DERDENS: Duisend jaar is vir die Here soos een dag en een dag soos ‘n duisend jaar. (2 Pet 3:8). Die tydlose sfeer waarin God lewe verskil effens van ons aardse tydsones. “Laat die spotters maar spot”, sê Petrus, “die dag sál kom” (2 Pet 3:10). En dit is hierdie groot dag, wat die gelowiges se vreugde is.

Nog twee skitterende voorbeelde van geduld en wag: Profete van die OT en Job. By uitstek is hulle die mense wat sou kon gedink het dat húlle lyding en ongerief en swaarkry sou kon vryspring. Hulle was immers mense wat naby die Here geleef het. Tog was dit juis hulle wat swaar gekry het! Maar hulle was geduldig. Elia moes vir sy lewe vlug. Jeremia was meer in die tronk as op die kansel. Amos is gedeporteer. Johannes die Doper het begin twyfel in die Here en later is sy kop afgekap. Elia het depressief onder ‘n besembos gesit. TOG: Volhard en deurgedruk. En wie kan vir Job vergeet? Min mense voor hom en ná hom is só beproef. Job was allermins volmaak: opstandig, driftig, emosies, wens homself dood. TOG: Geduld en volharding. Job 19:25: “Ek weet my Verlosser leef.”

Jakobus sê vanaand vir ons: elkeen van ons: Kýk wat het die Here met Job gedoen. Job het volhard en geduldig gebly. Kýk waarop het die Here dit alles in Job se lewe laat uitloop. Die beproewinge in Job se lewe was nie sinnelose toevallighede (“die verloop van die lewe”) nie. Die Here is ryk aan ontferming. Hy wou groot diepte/ volwassenheid/ Geesvervuldheid in Job se lewe inbou. Hy het selfs die satan gebruik in hierdie plan.

Hoe dankbaar behoort ons nie te wees vir die realiteit van die Heilige Gees nie? Hý help die kind van God. ‘n Mens kan Hom regtig elke dag ken en beleef. Dít moet ons soek en najaag. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00