JAKOBUS-REEKS NR 6 Jakobus 3: 1-12
Tema: Die ontembare dier
Ware geloof mond uit in lewenswandel (vorige paragraaf). Nou: praktiese toespitsing > dit wat ons praat. Hoe dieper die Here met jou werk, des te meer word jy ‘n mens van integriteit, jy word al meer verlos van dubbelslagtigheid. ‘n Boom wat 2 soorte vrug dra word al hoe meer ‘n boom wat 1 soort vrug dra. Hierdie integriteit word verbind aan dít wat ons praat. Die tong verklap jou innerlike hart – jou identiteit. Uit Jesus se eie prediking leer ons dit: Mat 12:34, 12:36. Ook Mat 15:18. Ons het ook in Jak 1: 26 gesien dat geestelike groei meebring dat die gelowige al hoe meer na sy/haar Vader begin lyk en één kenmerk van God se wese is Sy “prate”. Daarom is dit ook ‘n kenmerk van die Vader se kind: beheersde tong. In hoofstuk 3, belig Jakobus nou hierdie aspek meer volledig.
Ons is geneig om te dink dat díé groot kenmerk van ‘n Geesvervulde lewe is om te PRAAT. Hoe meer ek praat, hoe meer ek vertel/getuig, hoe meer geestelik is ek. Natuurlik is dit opsigself nie verkeerd nie. In die boek Handelinge sien ‘n mens dat die werking van die Gees die tonge losgemaak het. Stilswye is nie altyd ‘n goeie teken nie. Dit kán die teken wees van ‘n morsdooie siel. Sommige hét nie iets om te sê nie! Jakobus wil nie sê dat ons nie mag praat nie. Wat hy wél sê, is dat die tong deur die Here se Gees beheers moet word. Dit is wat hy bedoel as hy sê: “moenie te graag leermeesters wil wees nie.” Moenie te gou wees om te wil praat nie. Ons is geneig om te wil dink dat ons top-geestelik is wanneer ons ‘n “praat-bediening” het. (Bid vir mý wat baie móét praat. Ontsettende verantwoordelike taak. Hoe meer jy praat, hoe makliker kan jy struikel.) U sien wat Jakobus bedoel? Hy sê nie dat ‘n gelowige “terug op die brug” moet wees nie. Sy woorde beteken gewoon dat die tong onder beheer van die Gees moet wees. Wat is meer eenvoudig as dit?
Ons kan sonder vrees vir teëspraak sê dat verreweg die meeste skade binne verhoudings en in ‘n gemeente, deur tonge aangerig word. Ontsaglik baie seer word veroorsaak. Ons dink ons is oulik, baie reguit, baie eerlik. Hoeveel keer vertrap ons ons medemens in die naam van : “ek praat openlik. Ek is nie skynheilig nie..” Eintlik gaan dit oor ‘n totale gebrek aan liefde alhoewel so ‘n persoon waarskynlik ‘n ware gelowige is! Dit is juis die ding wat Jakobus sy brief laat skryf het: die dubbelslagtigheid/inkonsekwentheid wat hy by homself en by ander gelowiges opgemerk het. Teenoorgestelde is natuurlik ook baie waar: Mense met wie dit opsigtelik goedgaan, wat straal, wat visie en hoop het, wat selfs uiterlik goed lyk : kyk maar – iewers is daar iemand wat seën in sulke mense se lewens inpraat. Ánder se positiewe opbouende inspraak. Daarom is daar ‘n paar gewigtige redes waarom die kwessie van die tong aangespreek moet word:
1) SLEUTELPOSISIE IN ‘N MENS SE TOTALE GEESTELIKE LEWE / GROEI IN HEILIGMAKING (vv 2-5): ‘n Sleutel veroorsaak dat ‘n mens óf buite bly óf binnegaan. “As iemand nie struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om sy hele liggaam in toom te hou.” “Volmaak” beteken: geestelik volwasse. Baie diep waarheid. Dit is waar dat álle gelowiges dikwels struikel. Jakobus sluit homself daarby in. Veral wat betref die tong: ‘n haastige onderdagte woord/ iets wat net half-en-half waar is/ skinder & praat van ander/ sluwe suggestie/ onreinhede ens.
Tog, sê Jakobus, het die Here vir ons ‘n belangrike oorwinningsmeganisme gegee: Die beheer oor jou tong is die manier waarop jy geestelik volwasse word. Indien jou tong onder die Here se beheer kom, kry jy beheer oor ál jou begeertes en drifte. Moenie éérs oor die groot goed probeer oorwinning kry nie. Moenie éérs oorwinning soek oor eetlus, humeur, vuil gedagtes, verslawende gewoontes nie. Gee éérs die tong oor aan die Gees. As jy dáár oorwinning kry, is jy in só ‘n magtige oorwinningsposisie dat al die ander dinge byna vanself regkom. Dit sien ‘n mens by ‘n perd en ‘n skip, sê die Gees deur Jakobus. Die groot/kragtige perd word beheers deur iets klein = stang. Die groot skip word beheers deur ‘n roertjie. Indien jy beheer oor die roer het, het jy beheer oor die skip. Dit is byna soos die hoofskakelaar op jou huis se elektriese bord. Dit is ‘n klein meganisme en maklik om te hanteer, maar dit gee jou eensklaps beheer oor álle elektriese ware in die huis. Net so het jy beheer oor jou hele menswees – ook oor die baie sterk kragte & magte in jou hart, wat jou tot sonde dryf – indien jy beheer oor die “skakelaar” (tong) het. Dit geld natuurlik nie net vir die hoorbare woorde wat ons uitspreek nie, maar ook vir die woorde in ons kop, wat ‘n baie groter % is as dít wat ons hardop sê. Eintlik is dit onmoontlik om enigsins te dink, sonder om woord-prente te teken! Al ons gedagtes word in woorde geformuleer. Ons kan nie eens onsself bejammer sonder om te luister na ‘n stemmetjie wat vertel hoe swaar ons kry nie! Dis ons eie tong wat só praat! Dieselfde geld vir vuil gedagtes, beelde van wellus, gedagtes van wraak, woede, bitterheid ensovoorts. Die fout wat ons maak is om die SIMPTOME te beveg, terwyl die wortel/hoofskakelaar (tong) onaangeraak bly. Daarom sukkel ons so in ons geestelike lewe, nie waar nie. Laat die Here Jesus Sy heerskappy voer oor jou tong/woorde, en daar sal oorwinning kom oor die groot goed.
2) DIE TONG BESKIK WERKLIK OOR BOSE MAG (vv 5-6): Dis nie net ‘n storietjie nie. “Groot mag” (v 5) = geweldige potensiaal. Kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ‘n vuur, sê die Gees deur Jakobus se pen. Eers het hy die tong vergelyk met ‘n stang & roer, nou ‘n vuur. Net soos ‘n skip se roer, is ‘n vlam ook aanvanklik klein, maar dit kan verwoestend groot word. Dit besmet letterlik die hele mens en word uit die hel aangesteek, m.a.w. dit neig altyd pro-verderf. Dit is ‘n baie goeie ding as ‘n Christen nou en dan tot stilstand kom en weer besef watter mag in die tong sit. Dit behoort ‘n mens tot groot versigtigheid te maan. Die mag van die wêreld (wat in opposisie teen God leef) sit letterlik binne-in ons. Die draer van sonde / die wiele waarop sonde ry (infrastruktuur). Selfs al praat ons net met onsself. Het die potensiaal om die hele lewe aan die brand te steek met verderflike dinge. Jakobus is daaroor eksplisiet: Dít is waar die verderf sy aanknoping probeer vind in ons lewe: tong. Ook natuurlik positief: spreek LEWE in ander mense se lewens in. Spreek seën uit. Woorde het enorme lewegewende skeppende krag. Positiewe, Bybelgevulde woorde.
3) MOEILIK OM TE TEM (vv 7-8): Jy dink hy is getem, dan breek hy weer uit. En dit, terwyl die mens in staat is om wilde diere te tem, maar sy eie tong, kan hy nie tem nie. Wanneer jy dit die minste verwag, kom hy soos ‘n leeu uit ‘n hok. Uitoorlê net eenvoudig enige menslike wilskrag en planne. Wanneer die tong dus wérklik beheer word, moet dit uit bonatuurlike oorde kom. Dit is onmoontlik uit menslike pogings en besluite. Slegs die opgestane Christus kan dit beheers. Die Here Jesus se eie perfektheid was juis geleë in Sy volmaakte tong (Jes 53:9/ 1 Petr 2:22). Dit is die magtige goddelike krag in ons – doen iets wat menslik nie verklaar kan word nie. Dít is wat die wêreld nodig het om te sien!
4) DIE EINTLIKE BEWYS VAN DIT WAT IN DIE HART IS (vv 8-12): ‘n Vyeboom wat olywe dra? ‘n Druiwestok wat vye dra? Woorde is soos vrugte van ‘n boom: dit verraai wat se soort boom dit is. Matteus 12:34: Uit die oorvloed van die hart, praat die mond. Die tong en die innerlike mens is onsigbaar verbind. Hulle beweeg saam. Die innerlike mens is die fontein van waaruit die soet water EN die brak water gelyktydiglik kom. Eintlik is die brak water nie die probleem nie, maar wel die fontein van waaruit dit kom. Dit veroorsaak die dubbelslagtigheid/inkonsekwentheid. Dan seën jy. Dan vervloek jy. Só maak die tong. Dis soos ‘n fontein wat vars én bitter water borrel. Is so iets dan moontlik? Nee. En tog doen die tong dit. Die tong prys & loof die Here én vloek die medemens wat na Gods beeld geskape is. Gesplete persoonlikheid. Kan niks self doen om verlos te word nie. Bonatuurlike bevryding op die vlak van die innerlike mens broodnodig. Dit is juis hier waar die eintlike oorwinning lê: in die innerlike mens/ bron/ fontein. “My seun, gee my jou hart” (Spr 23:26).
Groot vraag: Hoe gemaak? Praktiese evangeliese raad? Ons moet eers iets anders goed raaksien. Indien ons goed luister na Jakobus 3, hoor ons iets baie belangrik. Dit is dat hierdie stryd voortduur gedurende die hele aardse lewe van ‘n gelowige. Dit is nie moontlik om op ‘n punt te kom waar jy eensklaps oorwinning oor die tong kry en waar jy die probleem vir die res van jou lewe agterlaat nie. Inteendeel, dit is iets wat altyd wéér na vore kan kom – al ken jy die Here reeds 80 jaar. Dit kán altyd weer soos ‘n luiperd uit die hok kom. Let op: Jakobus sluit homself die heeltyd ín by alles wat hy sê: ONS struikel en val dikwels. ONS loof die Here en verag die naaste. Hy sê nie: dis iets waarvan ék (die wonderlike geestelik-gevorderde Jakobus)al 20 jaar gelede ontslae is nie (en nou moet júlle nog op standaard kom)!
Wat is dus die enigste praktiese oplossing? Die oplossing moet ‘n daaglikse oplossing wees: van dag tot dag. Iemand wat sterker is, moet die tong (wat hoorbaar buitentoe praat én onhoorbaar binnetoe praat) vasvat – op ‘n daaglikse basis. Besef wat het gebeur by die wedergeboorte: jy het ‘n nuwe natuur ontvang. Jy is beset deur die Persoon van die Heilige Gees. Jy hét die verlossing IN jou omdat Christus deur Sy Gees deur die geloof in jou woon. Daarom: gee oor, en moenie vir een oomblik twyfel nie! Een wat sterker is, staan (simpatiek) aan jou kant!