JAKOBUS-REEKS NR 4 Jakobus 2: 1-13
Tema: Die diepere oordeel

Dit is dalk een van die Skrifgedeeltes wat die meeste teen ons menslike gryn insny. Die absolute radikale afkeur van diskriminasie: om ‘n medemens te beoordeel o.g.v. die uiterlike. Dit is ‘n giftige adder wat in ons binneste verskuil lê en ons geestelik lamlê. Ons besef dikwels nie eens dis daar nie. En die Gees word bedroef. Dit gaan oor die sonde wat ons teenoor ons medemens in ons harte pleeg. Ons sê dit dikwels nie, maar dink dit, naamlik om mense te veroordeel & te beoordeel o.g.v. uiterlike maatstawwe sodat ons op ander neersien wat “nie op standaard” is nie. Dit is waarom Jak 2: 1-14 ons steeds so vars & aktueel aanspreek. Daarby is verse 1-14 ook ‘n reddingsmiddel: om ons oë oop te maak vir dit wat in die hart skuil. Wanneer ons oë oopgegaan het, kan ons besef dat Gods genade groter is en dat ons uit die radikale kruisverlossing mag leef.

Onthou die oorhoofse doel waarom Jakobus sy brief skryf. Onthou die probleem wat hy aanspeek: die dubbelslagtigheid by sy lesers: aan die een kant ortodokse gelowiges wat die Here liefhet en aan die ander kant weerspreek hul optrede hul geloofsbelydenis. Dubbelhartigheid. Een van die metodes wat Jakobus gebruik om dit aan die kaak te stel: hy wys daarop dat ‘n mens se verhouding tot ander mense jou verhouding tot God reflekteer. Jou gesindheid jeens jou medemens reflekteer presies jou gesindheid jeens God. Hoofstuk 2 toon dit op ‘n baie persoonlike praktiese vlak.

Kyk na die koppeling wat in vers 1 gemaak word: indien jy in Jesus Christus – wat die heerlikheid van God is – glo, sal jy nie ander mense volgens die uiterlike oordeel nie. “En tog doen júlle dit!” sê Jakobus. Die onmoontlike gebeur by julle: dit is tog onmoontlik dat ons Here Jesus die heerlikheid van God is en julle in Hóm glo, en dan diskrimineer julle teenoor ander. Dit is ‘n stuk dubbelslagtigheid. Die feit dat Jesus die heerlikheid van God vergestalt beteken tog dat Hy God se teenwoordigheid (in Sy goedheid) in alle volheid is, dat Hy ryk was en ter wille van ons arm geword het (2 Kor 8:9). Sy heerlikheid behoort tog die deurslag te gee in hoe ons ander mense beoordeel. Hoe sal Sý heerlikheid ander mense se waarde beoordeel? Hoe het Hy met mý gemaak? Hoe is Hý gesteld teenoor armes & minderbevoorregtes en uitgestotenes? Omdat ons in Hom glo behoort dít tog die deurslag te gee in hoe ons ander oordeel!

Gelowiges moet dieper oordeel as die uiterlike. Hoe weet ons wat régtig in ander se harte leef? Omdat ons die hart nie kan beoordeel nie, moet ons versigtig wees. By ons Here Jesus gaan dit nie om uiterlike posisie, afkoms, voorkoms, IK, rykdom, stand of velkleur nie. Dink maar aan die fout wat Samuel gemaak het toe hy een van Isai se seuns tot koning moes salf (1 Sam 16). Verder: die mense wat die Here gebruik het was, volgens die uiterlike, patetiese kandidate: Moses die hakelaar, Levi die tollenaar, Paulus die vervolger van die gelowiges. Vir óns is dit net vanselfsprekend om vir ‘n man-van-aansien te sê: “kom sit hier voor” en vir ‘n man-sonder-aansien: “staan daar agter.” ‘n Mens kom nie eens agter dat jy hier op die terrein van die bose beweeg nie.

In die Here se oë is armes & minderbevoorregtes baie belangrik & baie ryk. Lees vers 5. Dis juis diegene wat in die oë van mense arm is, wie die Here uitkies om ryk te wees in die geloof. Jesus se hele aardse lewe was só. Die feit dat Hy in die voerplek van diere neergelê moes word, tipeer Sy hele lewe. Hy het ‘n baie sagte hart vir uitgestotenes/diegene-sonder-aansien. ‘n Vurige passie! Ons sal nie by Hom diskriminasie aantref nie. Want diskriminasie is ‘n baie onnosele ding om te doen. Want jy is byna altyd verkeerd in jou oordeel. Jy beoordeel immers o.g.v. verkeerde meriete. Die woord “diskriminasie” beteken: “om iemand se voorkoms te ontvang.” Om omgekoop te word deur iemand se uiterlike. En wíé is altyd aan die wenkant? Ekself! Die ander persoon kom tweede. Die Gees lei ‘n mens nooit op hierdie pad nie. Die Heiland was so oop vir alle mense, dat Hy selfs by tollenaars & sondaars geëet het. Hy was bereid om ‘n Judas in die binnekring van Sy dissipels toe te laat vir 3,5 jaar. Hy was nie ‘n regter oor mense nie. Dis wat Jak 2:4 sê van diskriminasie: jy verhef jouself tot regter oor ander. Volgens vv 5-7 mislei ons sodoende onsself, want dis baie keer die mense wat ons hoog ag, wat die meeste korrup is. Die waarheid is baie maal net mooi andersom as wat ons dink. Ons skiet onsself in die voet wanneer ons mense beoordeel terwyl die Here dit nie met hulle doen nie. Veral die armes & minderbevoorregtes. Die Here se definisie van ryk & arm is totaal anders as ons s’n.

Job was materieël ryk, maar hy was baie arm van gees. Abraham was materieël baie ryk, maar hy was arm van gees. Hulle het so geword d.m.v. ‘n breekproses/ ‘n goddelike woestynervaring. Daarom word ‘n gelowige nie beïndruk deur goue ringe en deftige klere nie. Want werklike liefde takseer nie iemand op sy baadjie nie. Ware liefde soek nie eie voordeel nie. Dit bevoordeel die ander. En wie is ons naaste? Dink maar aan die gelykenis van die Samaritaan (Luk 10). Dáár draai Jesus die vraag om: “Wie se naaste is ek?” Ek is die naaste van elke mens wat my pad kruis. Al sien ek net die gesig op TV.

Dit is egter nogal ‘n goeie vraag hóé presies ‘n mens Jakobus se woorde moet verstaan. Bedoel Hy dat God onvoorwaardelik áltyd aan die armes se kant staan en téén die rykes en dat óns ook só moet kant kies? Wat dan van Abraham & Job & Saggeus wat baie ryk was? Wat bedoel hy as hy sê dat God júís die armes aanneem?

‘n Mens verstaan dit beter wanneer jy na ánder bybelse voorbeelde van sulke eensydige tipe vergelykings kyk, byvoorbeeld Lukas 14:26, waar Jesus sê: “julle kan nie My dissipels wees indien julle nie bereid is om julle ouers te haat nie.” Dit beteken verseker nie dat die Heiland ons wil voorsê om ons ouers te haat nie! Wat Hy wél beklemtoon is die erns van ons toewyding aan Hóm! Dit is die soort taal wat Jakobus ook praat. Hy beklemtoon dit dat dit so oorweldigend wáár is dát God ‘n hartklop het vir mense wat agter in die ry staan. Daarvan getuig die hele Bybel in alle tale. Toe Hy byvoorbeeld vir Hom ‘n volk kies uit wie Sy Messias gebore kon word, kies Hy ‘n slawevolkie. Sy hart gaan uit na die hulpeloses, verstotenes, verdruktes & diegene wat min bevoordeeld is. Jakobus sê in glashelder duidelike taal: indien jy ‘n kind van hierdie God is, sal jou hart ook só klop. Jy sal kyk & soek na die ware rykdomme en weelde: rykheid in geloof & liefde, erfgenaam wees van God se ewige koninkryk en verruklike voorreg om by Sý Naam genoem te word!

‘n Mens voel lus om vir Jakobus te sê: “man, is jy nie bietjie kras nie? Oordryf jy nie so effe die saak nie? Is ek régtig ‘n Wetsoortreder (v 9) as ek in my hart diskrimineer? Ek is tog ‘n Christen. Ek leef tog die Wet uit. Is hierdie saak regtig só ernstig?” Jakobus se antwoord is eenvoudig (v 10): “jy vergeet die Wet is soos ‘n ketting met 10 skakels: breek één, dan is almal gebreek. Jy kan nie “pick & choose” wat vir jou gerieflik & aanvaarbaar is nie. En bowendien mag ons nie vergeet nie dat – al ís jy ‘n Christen, al ís jy gered deur Christus se verdienste alleen, al sal jy daarom nooit verlore gaan nie, sal jy steeds voor die regterstoel staan. Nie om veroordeel te word nie (dit kan & sal nooit weer met jou gebeur nie), maar om beoordeel te word (v 12) en (genade)loon te ontvang. Geen Christen kan sê: “Aangesien Christus my skuld betaal het en ek sodoende van die ewige oordeel verlos is, kan ek maar gaan leef soos ek wil” nie. Die gelowige sal steeds loon ontvang óf verbeur. Daarom: indien jy uit vrye genade gered en verlos is, sál jy gehoorsaam aan die Wet wil lewe, want juis daarin ontdek jy ‘n lewe van totale vryheid!! Hoe wonderlik dat Jakobus in vers 12 van die Wet praat as “die Wet wat vrymaak”! Óns dink: die Wet BIND jou! Ons dink ons is ontslae van die Wet noudat ons deur Jesus se bloed bevry is! Jakobus sê: “Nee my vriend. In gehoorsaamheid lê jou vryheid. Net soos ‘n vis radikaal vry is, mits hy in die water bly. En soos ‘n trein mateloos vry is – op die spoorlyn. Want jy sien: die mens is Gods beeld en God se volmaakte natuur & wese word in Sy Wet weerspieël. Jy vind jouself daarin. Wanneer jy ontdek hoe jy uiting kan gee aan jou ware menswees, vind jy blydskap en vryheid.”

Hoe dom is die arme mensies tog wat “hulleself wil wees” en “vry wil wees” d.m.v. ‘n gees van rebellie & opstandigheid en sê: “wat sal ek my steur aan hierdie oudtydse sieninge van die huwelik en seksualteit?! Ek leef nóú, nie 20 jaar gelede nie! Daardie oudtydse sienswyses is in 1994 saam met apartheid tot niet. Ek wil my nie laat inhibeer nie. Ek wil vry wees en myself wees.” Hoe dom tog! Duisende mense word deur hierdie gewaande vryheid van voor af slawe & gebind met kettings. Daar is net een soort ware vryheid: vryheid van gehoorsaamheid en ‘n léwe binne God se volmaakte wil.

En dan sluit Jakobus hierdie paragraaf af met ‘n verrassende sinnetjie waarin hy soveel hoop & vertroosting gee: “Die oordeel sal onbarmhartig wees wees oor díé wat nie barmhartigheid betoon nie. (Geen “maar” in Grieks). Barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.” Wat ‘n manjifieke sinnetjie!

Hoe wonderlik dat sondaars kan triomfeer oor die oordeel! Ja, waar ‘n mens se gees ónbarmhartig is, ontvang jy ook nie God se barmhartigheid nie – nie omdat ‘n mens God se guns kan koop/verdien met jou barmhartigheid nie, maar gewoon omdat ‘n onbarmhartige gees & gesindheid ‘n blokkasie in jou binneste veroorsaak sodat jy glad nie in staat is om Sy genade te ontvang nie. Daardie blokkasie veroorsaak dat jy nie God se genade begeer óf in staat is om dit te ontvang nie!

Daarteenoor egter: Kyk na die wonderlike beloning vir mense wat barmhartig is teenoor ander mensies. Daardie liefde & barmhartigheid wat die Heilige Gees in ons bewerk, maak die oordeel tot niet. Dit blus die oordeel uit soos ‘n kers wat doodgeblaas word. Christus Jesus maak die oordeel dood wanneer Hy met Sý barmhartige hart doodgewoon heers in ons lewens en in ons gesindhede. En omdat Hy heers, veroorsaak Hy barmhartigheid in ons lewens. En daardie barmhartigheid triomfeer oor die oordeel! Ten diepste natuurlik omdat Jesus se barmhartigheid op Golgota finaal oor die oordeel getriomfeer het! Waarom sal dit dan nie so wees dat – in die geval van óns wat in Hóm glo – ‘n barmhartige hart en gees nie die laaste lag in elke stukkie optrede teenoor ander nie? 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00