JAKOBUS-REEKS NR 3 Jakobus 1: 19-27
Tema: Hoor en doen
Die kern van die Bybel se boodskap is redding/verlossing slégs deur geloof in Jesus se kruisverlossing, sónder eie werke. Die gevaar is dat ‘n mens in ‘n valse gerustheid kan verval en jou praktiese lewe nie omgekeer word nie. Volgens Jakobus is die toets vir die egtheid van ‘n mens se redding juis geleë in die uitwerking daarvan in die praktyk. In die slotsin van die vorige perikoop het hy juis gepraat van hoe God die Vader – o.g.v. Sý besluit – die mens tot nuwe lewe/wedergeboorte bring d.m.v. Sy Waarheidswoord. Jy word ‘n weergebore mens omdat die Here Sy Bybelwoord-van-verlossing in jou hart & verstand inplant en jy daarop reageer, dit glo en omdraai na Hom toe. Goddelike hemelse lewe/energie neem van jou besit, wat só sterk & kragtig is, dat dit jou verander – dit kan nie weggesteek word nie. Om die lewe van God in jou te hê en tegelyk prakties onveranderd te bly, is onmoontlik & ondenkbaar. Jou lewe-van-elke-dag, jou denkpatrone, jou praat en doen, word omgekeer. Geestelike groei begin plaasvind. Die nuwe geboorte begin sy pad vind in jou praktiese lewe. Die vraag is egter hoe dit werk. En dit is waaroor verse 19-27 asook die res van die brief handel. Opgesom in een sinnetjie: die groei vind plaas d.m.v. dieselfde Woord waardeur die geboorte plaasgevind het! Saamgevat in nóg ‘n sinnetjie: Namate jy daagliks omgaan met die Woord en tegelyk ontslae raak van alles wat daardie omgang kan belemmer, na daardie mate begin “kind almeer soos pa lyk & doen”.
Kyk mooi en u sal sien dat – vir Jakobus – die kind vd Here se omgang met die Woord die kern van alles is. Voorheen het ek altyd gedink dat die “haastig wees om te luister” (in v 19) beteken dat ‘n mens goed na ander mense moet kan luister en nie so haastig wees om self te praat nie. Tot my verbasing sien ek toe – met die voorbereiding vir hierdie preek – dat die “haastig luister” verwys na die Here se Woord! Dís waarna ons oorgewillig (Grieks: haastig) moet wees om te luister. Onthou vers 19 volg op vers 18 waar hy praat van die Woord waardeur ons weergebore is. Dáár moet dit egter nie stop nie! Hou aan om haastig te wees om na die Woord te luister! Want dit is waardeur die groei gaan kom! En wees daarby gewillig om die Woord- wat reeds in jou ingeplant is- aan te neem (v 21). Dit beteken om nie net te luister nie, maar te doen/tot aksie oor te gaan. Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk en ‘n streep op die wang sien, maar wegloop en niks daaraan gaan doen nie. Hy kýk wel goed in die spieël, maar daarná gebeur daar niks. Wel, so ‘n mens bedrieg hom/haarself, sê Jakobus. Jou kyk in die Bybel, moet tot iets verder lei – aksie/gehoorsaamheid. Dit help nie jou daaglikse Bybellees laat net die boekmerk verder en verder aanskuif nie! Jy moet hóór wat jy daar lees.
Dis interessant dat Jakobus in vers 25 die Woord noem die “volmaakte Wet wat vrymaak”. Hy bedoel daarmee die hele Woord, nie net die Tien Gebooie (Wet) nie. Ons dink: die Wet/Woord beperk tog net ‘n mens! Die Wet maak jou juis mínder vry! Dit wys hoe absoluut verkeerd ons oor die Woord dink. Teendeel is waar: Indien ‘n mens jouself dáárin verdiep/verbly en daarmee besig bly, word jy ‘n volkome mens. Jy word al meer hoe die Here bedoel het dat jy moet wees. Jy word verander. Jy word bevry. Ongelooflik dat ons met ‘n “Godsgeskrif” sit, en so min aandag daaraan gee! Blind vir die Bonatuurlike. Ons gee soveel tyd en aandag aan menslike opinies/spekulasies. Elke TV storie is absolute fiksie/ uit die duim gesuig/ gefabriseer. Menslike uitdinksels. Fabels. Koerante. Tydskrifte. Menslike toesprake en opinies/menings. Ons spandeer URE kosbare lewenstyd dááraan. Ons kennis van wat dáár aangaan is fenominaal. Terwyl ons in ons skoot Goddelike bonatuurlike woorde het! Is dit nie waarom ons so lam/pap/ geestelik bloedarmoedig is nie? Onbeholpe met die Woord van God. Onbeholpe met geestelike onderwerpe en gesprekke. Na 15 jaar nóg so. Na 25 jaar nóg so. Na 35 jaar nóg so. Na 45 jaar nóg so. Na 55/65/75 jaar nóg so. Sovele Christene smag daarna om Geesvervuld te wees en werklik met die Here te lewe, maar besef nie dat Geesvervuld = Woordvervuld! Ons wil Geesvervuld wees en wil hê iemand moet vir ons bid/ daar moet iets gebeur/ sensasie en ervaring hê. Maar volgens Jakobus kry ‘n Geesvervulde lewe en ‘n lewe-met-die-Here sy energie uit jou gesindheid teenoor- en jou omgang met die Woord van die Waarheid. Dit is verse 19-27 se boodskap.
Hierdie omgang met die Woord moet voortkom vanuit ‘n hart wat ‘n sekere gesindheid openbaar: Ootmoed, afhanklikheid, besef van eie onvermoë (v 21). Die Here haat alle selfgerigtheid/trots/hardheid/kritiese gees. Dit is baie moeilik vir die moderne 21ste eeuse mens om só te buig voor die Woord. Ons hele lewe word geïndoktrineer met: elkeen vir homself, die sterkste oorleef, moet bó wees, moet self sien en kom klaar. Waar bring dit alles ons? Nie werklik gelukkig/ skuldgevoelens/ doodsheid. Daarom moet ons altyd bid om ‘n sagmoedige & leerbare gees. Om na die Woord te luister sonder ‘n ootmoedige, nederige, leerbare gees, is eintlik tydmors. Jy moet geboë na die Woord kom. Gebuig voor die Here. Ootmoedige ontvanklike gees en gesindheid.
Moet egter nie dink jy kan erns maak met die Bybel as Woord van God sonder dat ‘n hele klomp onkruid sal opkom wat die goeie saad wil versmoor nie! Jakobus is so realisties, hy ken hierdie stryd. Hy weet dat ‘n gelowige nog met baie goed sukkel. Daarom laat hy nie na om te beveel dat ons daardie onkruid moet uittrek nie! Jy mag nie goed in jou lewe toelaat wat jou geestelike ore doof maak nie. Hy noem drie goed wat proppe in ‘n mens se geestelike ore druk: woede, sedelike vuilheid en boosheid. U sien, jou lewe-met-die-Here is nie iets apart van jou alledaagse lewe tussen ander mense nie. Indien jy in jou alledaagse lewe nie bereid is om na ander mense te luister nie en jy raak gou op jou perdjie en jy vertroetel sedelike vuilheid – sal jy in jou lewe met die Here presies dieselfde wees. Dit wat jy van ander mense dink, is presies dit wat jy van God dink. Jy word nie ewe skielik ‘n ánder mens wanneer jy op jou knieë gaan of wanneer jy die Bybel oopmaak nie. Ons moet as’t ware die alledaagse lewe en verhoudings met mense as ‘n oefenskool gebruik om ons geestelike spiere te oefen sodat ons – wanneer ons met die Woord omgaan – oop ore kan hê. Maar indien jy ‘n woedende/kwade gees in jou ronddra in die alledaagse lewe, sal jou ore bot toe wees. Wanneer woede eenkant inkom, vlieg LUISTER anderkant uit! Nie dat kwaadword opsigself verkeerd is nie. Sien Efes 4:26. Jesus het ook kwaad geword, byvoorbeeld toe hy sien hoe die mense handeldryf in die tempel. Maar Sy woede het oor die eer van God gegaan. Kwaadword is ‘n emosie deur God geskape net soos enige ander emosie, maar dit word sondig wanneer dit oor eie eer gaan en téénoor ander mense staan. Dit word ‘n prop in die ore. Dieselfde geld vir die sedelike vuilheid en boosheid wat Jakobus verder noem. In die oorspronklike Grieks verwys dit nie net na sedeloosheid van ‘n seksuele aard nie, maar na enigiets wat die waarde van ‘n mens se lewe afbreek & degradeer. Dié goed veroorsaak buffers wat jou blind & doof maak vir die Woord. Persoonlik is ek van mening dat ons onsself met hierdie goed besoedel al doen ons dit nie self nie, maar deur daarna op TV te kyk of die media in die algemeen. Die skade wat dit berokken is onberekenbaar groot. Eintlik is die oplossing eenvoudig – onthou verlede Sondag se illustrasie met die glas water – sorg dat jou lewensglas tot bo gevul is met lewende water, en daar sal nie plek wees vir iets anders om in te kom nie. Vul egter die glas met sand en klippe en daar sal nie plek wees vir water nie!
Dis egter nie al nie. Die gevólg van hierdie omgang met die Woord en groeiproses is dat die gelowige al hoe meer soos Sy vader begin lyk in die alledaagse praktiese lewe. Verse 26 & 27 is twee uiters kragtige verse. Ja, dit lýk asof hulle sommer so uit die lug val en niks met die voorafgaande te make het nie. Dit lýk asof Jakobus sommer so willekeuriglik – van nêrens af- drie goeters gryp en voor sy lesers kom neerplak – goed soos: die in-toom-gehoude tong, die omgee vir minderbevoorregtes en die skoonbly van die wêreld se besoedeling. ‘n Mens wil vra: “Jakobus, waarom nou juis hierdie drie sake? Wat het dit te doen met die prys van eiers?”
Totdat ‘n mens bietjie dieper kyk. Dan sien jy dat wát Jakobus eintlik sê is dat ‘n gelowige wat besig is om deur die Woord geestelik te groei, al hoe meer na sy/haar hemelse Vader begin lyk. Want God se eie Wese sentreer rondom daardie einste drie dinge: 1) Wat Hy sê (Waarheid) 2) Hoe Hy omgee & uitreik na onverdiende mensies 3) Hoe Hy heiliglik apart staan van die sondige wêreld. Vers 18: Hy praat die Waarheid, gee om vir mense in verlorenheid en wil hê dat hulle afgesonder en nét sýne moet wees. Nee, Jakobus gryp niks uit die lug nie. Inteendeel: hy praat diep dinge. En hy praat baie reguit en selfs kras. Vir hom is dit swart of wit. Daar is geen grys area nie. Niks van ‘n gebalanseerde gematigde godsdiens by Jakobus nie! Hy sê vlymskerpreguit: Namate jy geestelik groei SAL jy soos die Vader begin lyk – en wel in drie opsigte: 1) Jou tong sal beheersd gebruik word, 2) Jy sal jou ontferm oor mense wat jou nie kan terug-vergoed nie en 3) Jy sal vry kom van die besoedeling van die wêreld. Daar is nie twee stories daaroor nie. Dit SAL. Hiersonder het jou godsdiens geen waarde nie. Nie “min” waarde nie, maar GEEN waarde nie (vers 26). Godsdienstige selfbedrog (vers 26).
Hoe kan Jakobus so seker wees van sy saak? Wel, hy weet watter tipe energie die Woord in ‘n mens se lewe loslaat wanneer jy jou daarin begin verdiep! Jy begin letterlik al hoe meer soos jou Vader lyk. Jou daaglikse lewe weerspieël dít wat jy van God dink! Hoe meer jou hart regkom voor God, hoe meer kom jou tong onder beheer, want jou praat is ‘n indeks van wat in jou hart aangaan (Mat 12:34). Indien die hart skoon is, sal die tong dit wys. Verder draai jou lewensuitkyk 180 grade wég van hoe die ongeredde mens s’n is. Jy ontwikkel ‘n hart vir mense wat behoeftig is en wat jou nooit sal kan terugbetaal nie (weduwees en wese). Want só is jou Vader. Daarby raak jy meer & meer allergies vir die stemme/invloede/lewensuitkyk van die wêreldsisteem wat haaks staan teenoor Jesus se heerskappy. Dit is wat die Bybel met “wêreld” bedoel. Die “wêreld” is die anti-christelike sisteem waarin ons almal elke dag leef, waar die méns god & koning is. Terwyl jy nog ‘n ongeredde verloregaande mens is, besef jy nie eens dát jy binne hierdie sisteem leef en dat jy 100% inlyn daarmee leef & dink nie. Jy ervaar glad nie dat dit jou besoedel nie, want jy is pens en pootjies deel daarvan. Maar die radikale ommeswaai wat die nuwe lewe in Jesus Christus in jou lewe bring, maak jou oë oop. Jy begin haat dít wat jy vroeër liefgehad het. Jou lewensuitkyk verander. Dit wat jy vroeër op TV gekyk het, stoot jou af. Die wêreldse musiek wat jy vroeër verslind het, irriteer jou grensloos. Hoe meer jy omgaan met die Here se Woord, hoe meer raak jy spontaan ontslae van wêreldse besoedeling. Geestelike groei maak van jou ‘n totaal nuwe mens wat soos die Vader begin lyk/dink/doen/praat.
Dít is die betekenis en boodskap van Jakobus 1: 18-27.