JAKOBUS-REEKS NR 1 Jakobus 1: 1-11
Tema: Pad na geestelike volwassenheid

Deur die eeue het die kerk aanvaar dat die skrywer van die Jakobusbrief, Jakobus die broer van Jesus (na die vlees) is. Daarom is hierdie brief een van die kragtigste bewyse van die werklikheid van Jesus se opstanding, want vóór die opstanding was Jesus se eie broers – Josef en Maria se seuns – totaal onverskillig teenoor Hom (Joh 7:5, Mark 3:21). Hulle het Hom verwerp. Iets enorm het egter gebeur wat Jakobus se lewe verander het: Jesus het uit die dood opgestaan en aan Jakobus verskyn (1 Kor 15:7). Meteens het hy besef: my fisiese broer Jesus IS die Here! Al wat só ‘n verandering by Jakobus kon bring, was die opgestane Jesus. Hoe onbeskryflik dat hy homself nou ‘n “slaaf/dienaar/kneg” van Jesus noem. Dít is die tipe verandering wat Christus se opstanding in ‘n mens se lewe veroorsaak. Om jou broer, wat saam met jou grootgeword het, vir wie jy van kleins af ken, “God & Here” te noem, Hom te aanbid, Sy volgeling te wees – wel, slegs Jesus se werklike fisiese opstanding uit die dood kon só iets te weeg bring. Jesus leef!

Dit lyk asof Jakobus aan Jode – wat wêreldwyd verspreid is – skryf. Al 12 stamme. Tog weet ons dat slegs 2 van die 12 stamme sedert 700vC oor was en álmal was beslis nie wêreldwyd verspreid nie. Nee, Jakobus skryf vir Christene (uit alle nasies) want dikwels in die NT word van die NT-gelowiges gepraat as “Israel” (vgl Gal 6:16, 3:7, Rom 4: 11,16). En hierdie Christene vir wie Jakobus skryf, leef midde-in die wêreld van elke dag- met sy stryde en beproewinge. Die mense vir wie hy skryf leef pens en pootjies binne-in die realiteite van die daaglikse lewe. Maar hulle woon ook verspreid oor die wêreld, nie beperk tot ‘n sekere plek of kultuur of bevolkingsgroep nie. Eintlik skryf Jakobus dus vir óns.

Hy skryf ook nie die brief om dowe neute nie. Bolangs gesien lýk dit of dit sommer so oor ‘n klompie praktiese goedjies gaan, maar dieper gekyk, sien ‘n mens dat hy erg besorg is oor ‘n probleem wat algemeen onder Christene voorkom: Dubbelslagtigheid. Verdeelde hart. Aan die een kant: gelowig vasgesement aan die suiwere Waarheid, aan die ander kant: léwe nie volgens die Waarheid nie. Enorme gevaar: Kén die waarheid so goed, maar weet nie hoe om dit na die alledaagse lewe om te skakel nie. Hoe moet waarheid tot aksie oorgaan? Waarheid-in-aksie = praktiese Christenwees. Hierdie probleem van dubbelhartigheid, het uitgemond in probleme in hul onderlinge verhoudinge met mekaar. Dis mos onvermydelik so: wanneer jou sig op God & Sy Woord krom trek, loop jou menseverhoudinge skeef. Dít is waar jy kan sien dat jy geestelik bankrot is. En dít is wat Jakobus aanspreek. Hy is soos ‘n goeie chirurg: sny diep en haal die kwaad uit.

In hoofstuk 1 begin hy egter by die begin: die pad na geestelike volwassenheid, want dit is die gebrek dááraan wat lei tot dubbelhartigheid. “Volle geestelike rypheid” noem hy dit in 1:4. Geen Christen kom egter oornag by geestelike rypheid uit nie. Ja, daar ís deesdae baie boeke op die mark wat ‘n kortpad-na-heiligmaking voorskryf: sekere tegnieke om oombliklik ‘n lewe van oorwinning te kan smaak. “Vyf stappe na volheid in Christus”. “Vier beginsels om selfvervulling te vind.” Maar, volgens Jakobus, gaan geestelike rypheid gepaard met ‘n taai stryd. Onaangename verrassing op watter wyse Jakobus, o.l.v. die Gees, die kernpunt van die pad van geestelike groei sien: beproewings. Wie sou dit ooit kon dink! Indien jy regtig geestelik wil vorder & groei & in diepte wil toeneem, is beproewings belangrik. Beproewings = alles wat die mens onaangenaam ervaar en wat deel is van die lewe van elke dag.

Jakobus sê reguit: ‘n mens moet jou verbly oor beproewings. Dit beteken nie om te maak of dit nie erg is nie. Dit beteken ook nie dat beproewings opsigself iets is om oor bly te wees nie. Dit beteken ‘n wel innerlike blydskap te midde van pyn en beproewing, omdat daar met geloofsoë gekyk word hoe die pottebakker die klei vorm en omdat jy weet daar sal goeie vrug uit voortkom. Jy weet dis God se pad. Hoe anders kon die profeet Habbakuk sê: “Al sou die vyeboom nie bot nie en al die oeste misluk, nogtans sal ek in die Here jubel.” Dink aan die geweldige woorde wat van ons Here Jesus gesê word in Hebr 12:2! Die pad van die kruis het uiteindelik vir Hom heerlikheid gebring en Hy het dit vooruit gesien en was daaroor bly. U sien, dit is eers wanneer ons geloofsvertroue & oortuigings getoets en beproef word, dat dit regtig standvastig word en jy begin om konsekwent te raak in jou lewe met die Here en minder fluktueer in jou lojaliteit aan Hom.

‘n Mens kan dit vergelyk met ‘n man & vrou wat mekaar ontmoet en later oortuig raak dat hulle vir mekaar bedoel is. Maar, soos die tyd aanstap, word hulle oortuiging beproef. Hulle gaan al meer dinge in mekaar ontdek wat minder wonderlik is. Daar sal versoekings kom en moontlikhede om met iemand anders bevriend te raak. Iemand wat dalk beter is. Wanneer al hierdie toetse geslaag is, is die verhouding sterker en die oortuiging om te trou nóg sterker. Daar groei ‘n stuk standvastigheid.

So werk dit ook in die verhouding tussen God en die geredde mens. Jy kan die Here opreg liefhê, maar dis eers wanneer daardie verhouding in die vuuroond getoets & beproef word, wat jy groei na volwassenheid in Christus. Watter Christen is daar nie wat nie ‘n opregte dors en honger na geestelike groei het nie!? Om minder te beleef van ‘n “val & opstaan” lewe. Om meer oorwinning te mag beleef. Om nader te groei na ‘n in-diepte verhouding met die lewende God. Dit is juis ‘n kenmerk van die teenwoordigheid van die Gees in ‘n mens se lewe: hierdie dors & honger waarvan ons vroeër in Psalm 42 gesing het. Weet u hoe antwoord die Here dikwels hierdie verlange? Deur die beproewinge van die lewe oor jou lewenspad te stuur. Namate ons getoets & beproef word, vorder ons geestelik. Jy bereik geestelike volwassenheid te midde van die lewe soos die lewe in werklikheid ís. Dit is die leidraad om die lewe te kan verstaan.

Ongelukkig sien ‘n mens dit nie altyd só nie. Ons verstaan dit nie omdat ons nie deur die bril van die Skrif na sake kyk nie. Dít is wat Jakobus met ‘n “gebrek aan wysheid” bedoel. Hierdie “wysheid” het niks te make met kennis of slimheid nie. Dit gaan nie oor die IK nie. Maar dit gaan oor insig in die manier hoe God deur beproewings werk om jou geestelik ryp te maak. Insig dat die Here – d.m.v. lewensbeproewinge Sý oogmerke verwesenlik. Dink net hoe het iemand soos Job geworstel om hierdie insig/wysheid te ontvang.

U sien, ‘n mens se geloofsoortuiging word eers standvastig, wanneer dit aangeveg en getoets word. Maar jy het wysheid/insig van Bo nodig om dit te verstaan, sê Jakobus. Andersins sal jou vertroue in Jesus Christus meegee voor die storm van teleurstellings/hartseer/pyn wat oor jou pad kom. Daar kom dae wanneer sekere omstandighede jou geloofsbelydenis uittart en van alle kante toets, wanneer die wreedhede van die lewe God se Vaderskap en Sy liefde bespotlik maak. Wanneer Sy stilswye jou laat wonder of Hy ooit leef. Jy kan só vasgedraai raak dat die hele lewe vir jou voel soos ‘n doellose maalkolk. As jy nie dán wysheid van Bo het nie, is alle standvastigheid daarmee heen. Ek lees van iemand wat sê: “Ek was gewoond daaraan om elke Sondag na die eredienste te gaan. Ek was toegewyd. Maar toe sterf my vrou vyf jaar gelede en ses maande daarna my enigste kind. Daarná het dit net vir my gevoel of dit nie die moeite werd is om verder die Here te dien nie.” U sien, ons is innerlik so breekbaar soos papier. Daar is ‘n Goddelike innerlike greep in ons lewe nodig. En daardie greep, is wysheid, sê Jakobus. Wysheid om na die aarde te kan kyk vanuit ‘n hemelse perspektief. Om die heerlikheid te sien wat ná die kruispad volg. Om al hoe meer aan die Here vasgegom te raak namate daar beproewings kom.

Wanneer Jakobus só praat, voel dit vir ‘n mens asof dit bitter moeilik sal wees om hierdie hemelse wysheid te bekom. Tog sê Jakobus: Nee, dit is baie eenvoudig: Jy bid daarom. Jy VRA dit. Want die Here God se gesindheid jeens ons is só positief: Hy wil/sal dit gee. Hy is die gewende God. Hy gee aan almal sonder verwyte/ sonder om dit-of-dat teen ons te hou. Hy is absoluut vrygewig. Beproewinge laat dit voel asof die Here allermins vrygewig is. Jy voel jy kan juis nie bid nie. Net die teenoorgestelde is waar. Dit is verrassend hoe Jakobus die Vaderhart van God teken: absoluut vrygewig. Sy natuur is om te GEE. Jakobus beroep hom op wie/hoe God is as hy so radikaal belowe: “bid die wysheid van God en Hy sál dit gee.”

As ons net kan leer om ook teenoor Hom so oop van gesindheid te wees. En Hom nie te wantrou nie. Nie te bid met ‘n hart vol wantroue nie. Nie te leef met ‘n gesplete pesoonlikheid nie: a) Bid opreg. b) Wantroue in die hart. Dan het ‘n mens ook nie stabiliteit in jou daaglikse lewe nie. Jou hele lewe word so onstabiel soos jou houding teenoor die Here is. Jy word heen en weer geslinger soos die golwe van die see. Terwyl dit so onnodig is, want die Here se hartklop ís positief jeens Sy kind. Ons kan net vra vir wysheid. Begin by gebed, moenie daar eindig nadat jy éérs 20 ander paaie probeer loop het nie.

Dit help egter nie om net teoreties oor hierdie dinge (beproewinge) te praat nie. Jakobus is ‘n man vir die praktyk. Hy noem een praktiese voorbeeld van ‘n lewensituasie waar wysheid bitter nodig is & waar beproewinge hoogty vier: geld: armoede & rykdom. Albei het die potensiaal om ‘n Christen se lewensbootjie behoorlik te skud. Armoede kan ‘n Christen se onverdeelde toewyding aan die Here skud, bloot omdat armoede die lewe so moeilik maak. Rykdom kan ‘n Christen skud omdat dit die aandag weglok na die god van hierdie wêreld. Die mag van die gees van materialisme. Wie sou ooit kon dink dat rykdom/geld ‘n beproewing is. Vir die meeste van ons sou ‘n paar ekstra rand ons uit die beproewing help! Nie volgens Jakobus nie. BEIDE is voorbeelde van beproewinge vir ‘n mens se verhouding tot die Here. Indien jy wysheid het en vanuit die Skrif na hierdie dinge kyk, kan jy oorwin. Wysheid help jou om na armoede en rykdom te kyk vanuit die regte perspektief. Wanneer jy goddelike wysheid het, kyk jy na die lewe vanuit die perspektief van die naderende wederkoms. Jy kyk van die hemel af aarde toe. Dan besef die Christen wat finansieël sukkel wat ‘n heerlike rykdom en erfenis hy/sy in Christus het. Hy besef hoe ryk hy is. Die Christen wat ryk is, besef hoe verganklik aardse goed is: soos ‘n veldblom. Hy besef hoe arm hy eintlik is. Jou oë gaan oop vir die realiteit van die skatte in Christus en die leegheid van die wêreldse dinge.

Om saam te vat: ‘n Weergebore mens groei tot geestelike volwassenheid/rypheid d.m.v. die beproewings van die lewe (waarvan GELD ‘n belangrike beproewing is) asook goddelike wysheid om die lewe in die regte geestelike perspektief te sien. Hierdie wysheid ontvang jy deurdat jy ‘n gebedsmens is en op grond van wie/wat die Here in Sy wese is, naamlik ‘n vrygewige en gewende God. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00