TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 7
Skrif: Handelinge 6: 1-7
Tema: Die dodelike struikelblok
Ons het die afgelope weke gesien hoedat Handelinge 1-5 stap-vir-stap ontvou. Eintlik is dit ‘n dramatiese verhaal wat vertel op watter wyse Jesus se belofte in 1:8 vervul word: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem, sowel as Judea en Samaria tot in die uithoeke van die wêreld.” Wel, nadat die Gees van omhoog gegee is, hét die gelowiges begin getuig, die Woord verkondig en meer & meer mense het tot geloof & bekering gekom. Tussendeur, egter, bedink die satan plan-na-plan om die Woordverkondiging te vernietig & die groei van die kerk te stuit. Plan A: geweld & vervolging. Plan B: probeer kerk van binne af rysmier d.m.v. sonde in die binnekring. Toe dít nie werk nie, terug na Plan A: geweld & vervolging. Ook dít werk egter nie – soos ons verlede week gesien het. Ten spyte van die aanslae, groei die kerk steeds meer & meer. Hoofstuk 6 begin juis met die positiewe opmerking: “die getal gelowiges het steeds toegeneem.”
En nou kom die sielevyand met ‘n verrassende Plan C – wat ‘n briljante plan is. Tot vandag toe berokken hierdie “Plan C” die Here se kerk meer skade as enige vervolging of binnekringsondes. Weet u wat behels die sataniese Plan C? “Gebruik iets goeds om die apostels se aandag weg te lei van hulle éíntlik taak.” Die Here het die apostels geroep en hulle opsygesit om hulle aandag voltyds aan twee goed te wy: die Woord te bestudeer en te verkondig asook te bid. Dit was hieraan te danke dat duisende mense tot geloof gekom het. Dit was juis die lering & onderrig van die Woord wat die gemeente laat groei het. Geweld & vervolging kon nie die apostels van die preekstoel wegkry nie. Wát sal hulle dan tog daar wegkry? Wat sal hulle stop? Natuurlik! Lei hulle aandag af! Hou hulle besig met ánder mooi & goeie take sodat hulle nie tyd vind om die Woord te bestudeer en dit te verkondig nie! Vul hulle dagprogram met diens van barmhartigheid! Dit is tog ook bediening! Dis tog ook die Here se werk! En tog gebruik die duiwel hierdie goeie dinge om kwaad te doen en die prediking/lering/Woordbediening in die wiele te ry.
U sien, wat gebeur het, is dat daar spanninge in die eerste gemeente ontstaan het. Daar het klagtes ingekom. Daar was ontevredenheid. Ja, reeds in die eerste gemeente het dit só gegaan! Die spanninge en klagtes het voortgespruit uit die feit dat daar verskillende tale & kulture in die gemeente opgeneem was. Ja, op daardie stadium was dit nog slegs Jode. Maar onthou, daar was destyds twee groepe Jode in Palestina woonagtig. Daar was die Hebreeuse Jode wat nog nooit buite die land Palestina gewoon het nie. Hulle was Hebreeus-sprekend en het die Hebreeuse kultuur aangehang. Maar daar was ook die Grieks-sprekende Jode wat die Griekse kultuur aangehang het. Hulle & hul voorsate het vantevore in die Griekse wêreld gewoon en het Grieks gepraat. Hulle kultuur was totaal anders. Die geloof in Jesus het egter hierdie twee groepe saamgevoeg in één gemeente. Christus het die muur van skeiding afgebreek: die muur van verskillende taal & kultuur. Tog was daar nie volmaaktheid nie. Iets van die spanning tussen die twee groepe het deurgesyfer na die gemeente. Die Griekssprekende Joodse weduwees het gevoel die Hebreeussprekende weduwees word voorgetrek in hulle versorging. U sien, in daardie tyd, was ouer mense (ook ouer weduwees wat nie meer kon werk nie) – wat minder gegoed was – afhanklik van liefdadigheid. Daar was nie staatspensioene nie. En in die geval van die gemeente, het die meer gegoede lidmate vir hulle gesorg. Ons het in vorige hoofstukke gesien hoe die gegoede lidmate van hul eiendomme verkoop het en die geld na die apostels gebring en húlle het sorg gedra dat almal genoeg het. Maar nou het die Griekssprekendes gevoel die Hebreeussprekendes word voorgetrek met die uitdeel van geld & kos. Niemand weet of dit ‘n geldige klagte was nie. Feit is: dit was ‘n groot probleem vir die apostels, want hulle aandag & tyd is hierdeur in beslag geneem en hoe groter die gemeente geword het, hoe erger het dit geword. Daarby was dit inderdaad baie belangrike sake! Dit is uiters belangrik dat daar geen onderlinge diskriminasie binne die gemeente (onder gelowiges) tussen kultuurgroepe mag wees nie. Die apostels moes daaraan aandag gee. Verder is dit uiters belangrik dat die behoeftiges se nood aangespreek moes word. Versorging en barmhartigheid is kardinaal belangrik tussen gelowiges. Die Apostels moes ook dááraan aandag gee. En tog gebruik die duiwel hierdie bedieninge om die apostels se aandag weg te lei van hul éíntlike taak: gebed & die prediking. Hy gebruik goeie goed om iets sleg te bewerk. Indien dít kon gebeur, sou die uitbreiding van die kerk gestuit word. Jesus se belofte in 1:8 sou nie vervul word nie. Indien die prediking & voorbidding afgewater sou word, sou die gemeente geestelik stagneer en daar sou nie meer bekerings wees en mense tot die gemeente toegevoeg word nie.
Weer eens word die vyand se planne gefnuik. Plan C werk ook nie. Want die Gees lei die gemeente tot ‘n baie eenvoudige oplossing: “kry ánder mense wat hierdie sake kan hanteer en sodoende die apostels se hande losmaak sodat hulle hul kan toewy aan gebed en die bediening van die Woord.” Maar moenie dink dit was ‘n tweedeklas sakie nie. Die 7 manne wat hulle gekies het, moes aan vereistes voldoen: hulle moes vol van geloof & wysheid wees én vervul deur die Heilige Gees. Dit beteken dat die versorging van die behoeftiges nie ‘n minder belangrike taak/saak as die Woordbediening is nie. Dit is ‘n geestelike bediening. Die punt is net: meer mense begin bedien en elkeen het sy/haar eie taak. Die hele vrag rus nie meer op die apostels se skouers nie. Die apostels spesialiseer slegs in die Woordbediening. Dit beteken nie dat die Apostels belangriker is as die ander of dat hul taak belangriker is nie. Almal is gelyk. Maar, almal het nie dieselfde taak nie. En, die bediening waardeur die kerk primêr opgebou en uitgebou word, is en bly die Woordbediening!
Wanneer ‘n mens soms in die Kerkbode na die advertensies vir leraarsposte kyk, sien jy ‘n ander storie. Gemeentes wil leraars hê wat spesialiste in letterlik alles onder die son moet wees. En, dan wil hulle op die koop toe ook goeie Woordbediening hê. Maar hoe is dit moontlik indien die predikante met honderde ander take belas word? Ek weet dit is in hierdie gemeente ánders, maar wanneer sal gemeentes tog wakkerskrik en besef dat die Woordbediening & gebed só deurslaggewend is in die opbou van die gemeente dat hulle iemand nodig het wat nét dit moet doen? En dat elke lidmaat ‘n onderneming moet maak om sorg te dra vir al die ander belangrike bedieninge. Terloops: “bediening” beteken in die Grieks “dienslewering.” In die Bybel funksioneer Christus se gemeente nie soos ‘n passiersboot, waar die meerderheid mense in die son lê & ontspan & deur ander bedien word, en slegs ‘n klein groepie al die werk doen nie. Nee, die gemeente funksioneer soos ‘n oorlogskip of vissersboot waar élkeen aanboord ‘n spesifieke taak het. Daar is geen passasiers nie. En dán gebeur dinge! Kyk maar na vers 7 van Hand 6. Kyk wat skryf Lukas daar. Nadat die apostels weer begin het om al hulle aandag aan gebed & Woordbediening te gee, en die sewe gekose manne begin het om die behoeftiges te versorg, en die klagtes bedaar en almal weer tevrede is, en die onderlinge diskriminasie tussen kultuurgroepe verwyder is, TOE het die Woord soos ‘n veldbrand versprei en die aantal gelowiges het vinnig vermeerder. Selfs ‘n klompie Joodse priesters het tot bekering gekom. Sien u? Toe die Hére se manier van gemeentebediening weer op koers is, toe gebeur dinge! En Hy seën dit geweldig. Laat ons daarvan deeglik kennis neem!
Kyk, bolangs gelees, lýk Handelinge 6: 1-7 maar net soos ‘n blote mededeling van iets wat gebeur het. ‘n Mens wonder watter boodskap daar nou eintlik in hierdie gedeelte is. En tog hoor ons hier twee belangrike sake wat die Heilige Gees aan ons wil meedeel. Kom ons luister goed daarna: 1) Die Here roep spesifieke mense. 2) Die Here roep almal. Klink soos ‘n weerspreking. Tog is dit nie. Kom ons kyk daarna.
1) Daar is ‘n ontsettende nood aan mense wat geroepe is om voltyds die Woord te bedien. Getroue arbeiders wat die onfeilbaarheid van die Skrif glo en wat dit suiwer bedien, is baie nodig. Mense wat bereid is om 7 dae per week te wy aan gebed, voorbidding, Woordstudie en Woordprediking. Indien daar sulke mense na vore kom, sal die Here se kerk weer gedy en floreer. Al die alternatiewe nuwe metodes en maniere wat gemeentes deesdae invoer, sal die kerk uiteindelik vernietig. Juis nóú roep die Here Woorddienaars. Ons moet bid daarvoor. Dalk is daar iemand wat nou luister vir wie die Here roep tot voltydse diens. Dalk hoor jy hierdie Woord van God en wéét: dis met mý wat die Gees praat. Reageer dan en gee jouself algeheel reserweloos oor.
2) Die Here roep almal tot dienswerk. Die fassette van bedienings in die Here se gemeente is só omvangryk, dat daar baie hande nodig is. Ons almal weet dit, maar dit is moeilik om uit jou gemaksone te kom, nie waar nie? En tog was daar dalk nog nooit ‘n tyd soos nóú wat ons “lay leadership” (soos dit in sommige Engelse kerke bekend staan) só nodig het nie. Mense, vol van geloof/wysheid en vervul deur die Gees wat hul gawes aanwend tot eer van die Here. Dit is die eintlike ruggraat van ‘n gemeente. Eintlik behoort ons ‘n erediens te hou waar álmal vorentoe kom en waar almal die hande opgelê word en georden word tot dienaars. Dan gaan almal die wêreld in as dienaars – wetende: “ék is groep en georden met handoplegging.” Sommige dien met die gawe van omgee & deernis. Sommige dien met die gawe van vriendelikheid. Sommige het die gawe om geld te genereer. Het u al daaraan gedink watter effek dit op ‘n besoeker in die erediens kan hê indien iemand (op ‘n baie eenvoudige manier) net vir so ‘n persoon omgee? So ‘n persoon kan dalk wéér kom en dalk met die Here ontmoet! Net omdat iemand uitgereik het. Net deur ons onderlinge bediening – met die vrug van die Gees – kan ons konflik en onmin in die gemeente voorkom of oplos. Onthou: “bediening” beteken “dien”.
Indien die Here vir u en my roep, laat ons soos Maria sê: “Ek is tot beskikking van die Here.” (Lukas 1:38).