TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 30 Skrif: Handelinge 27 Tema: Wonders deur storms
In Handelinge 27 beskryf Lukas in groot detail hoe Paulus na Rome geneem is. Hy het hom mos op die Keiser beroep om sy saak te besleg. Die Joodse godsdienstige leiers het mos ‘n klomp valse klagtes teen hom ingebring – waarvan hulle niks kon bewys nie. Nou word Paulus per skip (en onder bewaking) na Italië gestuur om voor die Keiser te verskyn. Hfst 27 is ‘n ooggetuieverslag aangesien Lukas self teenwoordig was – daarom praat hy heeltyd van “ons”. Iemand soos Thomas Walker reken dat daar nêrens in die antieke klassieke literatuur ‘n plek is waar die werking van ‘n antieke skip/ antieke skeepvaart só gedetailleerd beskryf word as in Hand 27 nie. ‘n Ander man met die naam van James Smith het gedurende die middel van die 19de eeu ‘n intensiewe studie gedoen oor die betroubaarheid van Lukas se beskrywinge in Hand 27. Smith het die Middelandse See klimaat en seetoestande bestudeer. Hy het selfs ‘n tyd lank op die eiland Malta gaan woon. Uiteindelik was sy konklusie: Hand 27 móét die werk van ‘n ooggetuie wees. Ander geleerdes meen weer dat Hand 27 die meeste detail bevat van énige gedeelte in die hele Bybel. Dus: ‘n uiters merkwaardige Skrifgedeelte wat voor ons ooplê vanoggend.
Die reis het eintlik op 2 skepe plaasgevind omdat daar aanvanklik nie ‘n skip gevind kon word wat direk na Italië gaan nie. Uiteindelik het die reis in ‘n katastrofe geëindig: die tweede skip vergaan vlak by die eiland Malta, suid van Italië – alhoewel sonder enige lewensverlies. In die lig van 2 Kor 11:25 was dit die derde skipbreuk wat die Apostel Paulus oorleef het. Hy het baie ondervinding van die Middelandse See gehad. Híérdie skipbreuk was hoofsaaklik die gevolg van die verraderlike weerstoestande gedurende die herfs – einde Oktober en verder. Dit was presies die tyd van hulle reis – ná die joodse Groot Versoendag (v 9), wat – volgens geleerdes se berekeninge – in die jaar 59nC op 5 Oktober plaasgevind het. Vanaf begin November was daar destyds geen skeepvaart op die Middelandse See nie. Alle skepe het iewers oorwinter. Hierdie skip sou ook oorwinter, maar wou net 40 myl verder vaar tot by ‘n meer geskikte hawe (as wat Mooi Hawens was) om in te oorwinter. En net toe, kom die moeilikheid met ‘n onverwagse stormwind. Dis egter baie duidelik Wie hier aan die werk is. Dieselfde Here wat wind & golwe binne sekondes kon laat bedaar (Mat 8:23), kon ook wind & golwe laat opvlam met die oog op Sy eie oogmerke.
As gevolg van die baie detail in hfst 27, is dit nie vanoggend moontlik om die gedeelte vers-vir-vers deur te preek nie. Ek vra egter u aandag vir die kernboodskap wat die Heilige Gees in hierdie hoofstuk, d.m.v. Lukas se vertelling, laat neerpen het. Oorsigtelik gesien, wát spreek tot ons? Wat moet ons daarin raakhoor? Ons moet sien hoe verruklik die lewende God in/deur storms werksaam is. Dit sien ‘n mens in ‘n paar dinge:
1) Die bo-menslike kragtige vermoëns wat God aan Sy kind gee te midde van ‘n lewenskrisis > Wat ‘n mens in hfst 27 lees, gaan letterlik jou verstand te bowe. Veral indien ‘n mens in gedagte hou wátter trauma Paulus alreeds deurgegaan het voordat hy aanboord gegaan het. Ons het reeds na alles gekyk: ontberings/lyfstrawwe/tronkstrawwe/honger/hofsake/moordkomplotte ens. Vanaf die oomblik wat die aggressiewe Jode hom by die tempel gegryp het (hfst 21), het hy sonder ophou gely. Dit het oor ‘n periode van jare aangehou. Die heeltyd is hy vals beskuldig. Nooit was hy ‘n vry man nie, maar ‘n gevangene – terwyl hy geen misdaad gepleeg het nie. En dan, om alles te kroon: die rampspoedige skeepsrit. En tydens die stormagtige rit, openbaar hy die grootste vrede. Die woord “moed opgee” bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy is vervul met die Here se vrede. Hy is in kontrole. Hy oefen invloed uit op die goddeloses. So iets is menslik onmoontlik. Die Christelike Geloof is inderdaad ‘n bonatuurlike godsdiens. Dit is die manier waarop die Here aan Sy kinders vermoëns gee. Veral Sy VREDE – te midde van vreesaanjaende omstandighede. Die Here Jesus Christus was vir Paulus ‘n absolute realiteit, al vergaan die skip ook. Filippense 4: 6-7. Die manier waarop Paulus die vrede behou het, te midde van die storm, was om met die Here in ‘n konstante verhouding/kommunikasie te leef. Verse 23-25 – hy het die Here se woorde gehoor. En onthou: Paulus het nie iewers ‘n snoesige kamertjie gehad waarheen hy gereeld kon terugtrek om Bybel te lees & te bid nie. Hy moes te midde van die chaos rondom hom, in verhouding bly met die Here omdat die Here in verhouding bly met hom. Dit is die wonder van die Christelike Geloof & die ware lewende God van die Bybel & die inwoning van die Heilige Gees: al is jy wáár en al is jou eksterne omstandighede hóé, die kommunikasie/verhouding/gemeenskap gaan onversteurd voort!
2) Die éíntlike kaptein van die skip was Paulus! > Hou verband met vorige punt. ‘n Mens kan dit nie mislees nie: Die ervare skeepspersoneel speel heeltemal tweede viool en die éíntlike kaptein is Paulus, die geestelike leier! Hou hom net dop, want daarin sien ons ook hoe verruklik die Here in storms werk. Verse 21-26: Nadat niemand vir ‘n lang tyd meer enigiets wou eet nie (wat te verstane is) was dit Paulus wat hulle opbeur en vertel wat die Here vir hom gesê het. So laat hy hulle moed skep deur die Here se Woord aan hulle deur te gee. Verse 27-32: Toe ‘n klompie matrose stilletjies probeer wegkom van die skip af, was dit Paulus wat waarsku: “Indien hulle nie aanboord bly nie, sal niemand gered word nie.” En wat doen die soldate? Hulle gehoorsaam – vir wie? – vir Paulus, en kap die reddingsbote se toue af. Verse 33-38: Toe dit die volgende oggend begin lig word, is dit Paulus wat almal aanmoedig om iets te eet omdat niemand ‘n haar van sy kop sal verloor nie. Toe neem hy brood, dank die Here in almal se teenwoordigheid daarvoor, breek dit en eet dit. En toe? Vers 36: Álmal het moed geskep en self begin eet. Die Here se kind is in beheer van die skip en almal kyk na hóm vir instruksies. Sien u die wonder wat in die storm gebeur? Die Here plaas Sy kinders binne-in die storm en húlle gee die pas aan. Die ongeredde mense wie se monde so groot is búíte die storm, is ‘n nul werd IN die storm. Dáár gee die Here se kinders die pas aan. Hulle staan op die Woord. Hulle praat met outoriteit. Hulle lei d.m.v. hulle eie voorbeeld & entoesiasme.
3) Die Here is so betroubaar soos wat Sy Woord is > Vers 25: “Hou moed, manne, ek vertrou God dat alles net so sal gebeur soos Hy gesê het.” God se Woord móét vervul word omdat Hy getrou is. Onthou wat was God se Woord: Paulus moes in Rome voor die Keiser gaan getuig. Maar is dit nie ‘n belaglike ding om vir mense te sê onder súlke omstandighede nie?! “Daar sal geen lewensverlies wees nie, nét die skip sal vergaan.” Hoe absurd!! Die bemanning het sekerlik spottende gedink: “Briljant! Ons sal seker almal op die water uitloop land toe.” Vanuit ‘n wiskundige hoek gesien, was die kans dat so ‘n skip by die enigste eiland in die omgewing sou strand en al 276 mense veilig aanland kom, nie baie goed nie. Maar let op wat Paulus doen: hy neem homsélf uit die prentjie en plaas die lewende God in die sentrum. Hy sê: “Ek glo God dat alles net so sal gebeur soos Hy dit vir my gesê het.” Paulus se troos was die Here se Woord. Hy gee inderdaad groot troos te midde van moeilikhede. Let weer op Romeine 8: 38-39. Sien ook: Josua 23:14.God sal áltyd Sy beloftes in Sy trou vervul, maak nie saak wát die omstandighede is nie! Jesaja 40:8, Jesaja 55: 10-11.
4) Die teenwoordigheid van gelowiges maak van die wêreld ‘n beter plek > Die wêreld is ‘n beter plek vanweë die ware gelowiges wat daar woon. 276 Lewens word gered a.g.v. één gelowige wat in hul midde is. Vers 23-24: Die Here het die 276 mense op die skip aan Paulus gegee, sodat hy na Rome kon gaan! Die Here het 276 mense se veiligheid aan Paulus toevertrou. Hy het op daardie skip gefunksioneer soos sout wat bederf teëwerk. Indien die toegewyde kinders van die Here van ‘n plek (familie/kantoor/klaskamer) verwyder word, sal die resultaat katastrofies wees. Plekke en mense word geseën a.g.v. die Here se mense wat teenwoordig is. Indien hulle nie daar sou wees nie, sou die wêreld op ‘n ramp afstuur. Vergelyk Lot & Sodom. Wánneer het die vuur geval? Eers nadat Lot en sy gesin verwyder is (sien Gen 19:22). Ongeredde mense besef nie hóéveel dank hulle aan die Here verskuldig behoort te wees, vir die teenwoordigheid van Sy kinders in hul midde nie! Jy as Christen, is nie sonder rede juis dáár geplaas waar jy is nie. Jou teenwoordigheid op ‘n plek bring ‘n seën vir ander en kan lewens red. Sien verder: Genesis 18:32, Genesis 30:27, Genesis 39:5.
Is dit nie wonderbaarlik hoe die Here in Sy weergebore kinders se lewens werk te midde van lewenstorms nie? En dit is alles hier in Handelinge 27 opgeteken. In die destydse kommunistiese USSR, was daar in Romenië ‘n Baptiste leraar met die naam van Nicolae Gheorghita. Hy was dikwels in kommunistiese tronke vanweë sy trou aan die Here. Op ‘n dag moes hy voor ‘n baie slegte man, ‘n vurige ateïstiese kommunis verskyn. Sy vrou het gesê: “My man, dit sal ‘n wonder van God wees indien jy behoue terugkom.” Nicolae vertel toe hy in die man se kantoor kom, het die man hom begin dreig omdat hy sonder toestemming by ‘n universiteit gepreek het. Hoe meer die kommunis hom dreig, hoe meer is sy hart gevul met die vrede van die Here. Tewens, ‘n groot blydskap het hom vervul – vreugde oor die wonderlike voorreg om bedreig te mag word t.w.v. sy geloof in Jesus Christus. Skielik vra die kommunis: “Is jy nie bang nie?” “Nee” kom die antwoord. “Het jy nog iets om te sê”? “Ja”. En toe gee Nicolae vir hom sy getuienis en vertel hom hoe lief God hom het. Die man sink letterlik agter sy lessenaar weg. Toe vra hy: “Bid asseblief ook vir my siel.” Hoe wonderlik werk die Here in storms!